Hoe raak jy gereed vir die volgende hoofstuk?
Toe ons met die bekende paadjie deur die hekke ry en voor die groot wit huis stop, het ek geweet dit sou my laaste besoek wees. Nadat my familie my by die Upington-lughawe opgelaai het, het ons die pragtige aftreeoord, Belle Rio besoek. Dit is langs die oewer van die Oranjerivier, naby Kanoneiland, waar my ma grootgeword het.
Ek het daarna uitgesien om ‘n paar dae alleen saam met my ma deur te bring. Dit het ook ‘n geleentheid geskep om die planne vir haar volgende hoofstuk met haar te bespreek. Nadat my suster en haar gesin na hul plaas vertrek het, het my ma my ernstig aangekyk en gesê: “Ek wil nie hieroor praat nie.”
Kathu
Ons het die jaar voor ek met skool begin het na Kathu verhuis. Die myn het hierdie nuwe dorp ontwikkel, en almal het in nuwe mynhuise ingetrek. Soos die nuwe dorp ontwikkel het, het sommige mense wat nie vir die myn gewerk het nie, begin om privaat huise tussen die mynhuise te bou. Een van die nuwe privaat huise naby ons mynhuis het ‘n moderne argitektoniese ontwerp en ‘n pragtige kameeldoringboom in die erf gehad. My ma was mal oor hierdie huis en ons het gereeld gaan kyk hoe die bouwerk vorder.
Ons eie huis
Op ‘n dag het ‘n “Te Koop”-bordjie voor die wit huis met blou geute verskyn. My ouers het daarna dikwels lang en ernstige gesprekke gehad. Dit was tyd vir hulle om huiseienaars te word. Kort voor my elfde verjaardag het ons na die nuwe huis getrek en alles oor die straat gedra. Vir die eerste keer het ek en my suster elkeen ons eie kamers gehad. Die swaai wat my pa gebou het toe ons kleuters was, het ook saam met ons getrek.
My pa, altyd ‘n projekman, het hierdie nuwe huis in sy speelgrond verander. Hy het nuwe strukture gebou en alles om die huis prakties en doeltreffend ingerig. Hy het die tuin noukeuring vir my ma, wie se passie tuinmaak was, uitgelê. Mense het dikwels na ons woning verwys as die huis met die pragtige tuin. Elke Vrydag na werk het my pa die gras gesny. Ek het hom soms op Vrydae verras deur die gras te sny voordat hy ná werk terug huis toe gekom het. Die reuk van vars gesnyde gras neem my steeds terug na my kinderdae.
Tuin vol kosmos
Ek het altyd van ’n kosmos troue gedroom. My ouers het gehelp om die droom te verwesenlik deur die hele tuin vol kosmosblomme, maande voor my troue te plant. Gereelde kunsmis het gehelp om die plek in `n pienk en pers paradys te omskep. Die Vrydag voor my troue het ek aangebied om die gras te sny, maar my pa het my aanbod van die hand gewys. Ek was effens seergemaak toe hy heel opreg probeer verduidelik: “Dankie my kind, maar ek wil dit graag ordentlik gedoen hê.”
Ons verloor my pa vroeg
Ons het my pa kort ná my dertigste verjaardag aan ’n hartaanval verloor. Hy was maar 57 jaar oud en nog besig om ’n afdak te bou. Ons het probeer om vrede te vind in die feit dat hy gesterf het terwyl hy besig was met projekte waarin hy groot vreugde gevind het.
My ma was dieselfde ouderdom as ek nou en sy dood het haar hele lewe verander. Sy het dapper al die verantwoordelikhede aanvaar om die groot huis en tuin in stand te hou. Sy het die huis met die mooiste skilderye versier om haar te help om weer mooi ten spyte van die pyn te sien.
Soos sy ouer geword het, het dit moeiliker geword om alles te bestuur. Ons is dankbaar vir almal om haar wat nog deernisvol bereid is om te help met instandhouding en herstelwerk.
Ons ma sal volgende jaar haar 80ste vier
Soos my ma se energie met ouderdom afneem, het die instandhouding van die huis en tuin vir haar oorweldigend geword. Die meeste van haar vriende is die afgelope jare oorlede, wat ‘n aansienlike verlies was. Sy was nog altyd liefdevol en diep betrokke by die skool, gemeenskap en kerk.
Ons is bekommerd oor haar welstand en veiligheid in Kathu, wat uitgebrei het weens die mynbedrywighede. As haar kinders dink ons dit is tyd dat my ma haar volgende hoofstuk begin. Ons glo sy gaan floreer in ‘n gemeenskap met aangename mense, stimulerende aktiwiteite en minder verantwoordelikhede.
Besluite oor die laaste hoofstuk
Sy het tyd nodig om hierdie hoofstuk af te sluit en die groot wit huis te groet en haar herinneringe in vrede te koester. Alhoewel ons met baie dinge kan help, is dit ‘n taak wat sy op haar eie moet doen, net soos sy moes leer om sonder my pa te leef.
Aangesien ons nie in haar skoene is nie, sal ons haar die tyd en ruimte gee om haar antwoord te vind. Ek en my suster het ooreengekom om ons ma se versoek te eerbiedig om nie die aftreeoord te bespreek nie. Ons vertrou sy sal weet wanneer sy vir die volgende hoofstuk gereed is.
Groete
Emsia