Venisië het my asem weggeslaan

Venisië het my asem weggeslaan

My geliefdes beskryf my as prakties en realisties. Ek bekyk plekke en situasies deur hierdie lens, wat dikwels tot baie hoe en waarom vrae lei. My kameralens help my om die mooi, die ou, die snaakse en die anderse te sien en te geniet. In Venesië was daar baie om te geniet, te waardeer, oor na te dink en wonder. Venisië, bekend as die “Stad van Kanale” of die “Drywende Stad,” is skilderagtig en fassinerend.

Toerisme in Venisië

Die kanale van Venesië se historiese kwartier maak dit een van die mees besoekte plekke in Europa. Verlede jaar het 20 miljoen reisigers Venesië, wat net 50 000 inwoners het, besoek. Om die impak van oortoerisme te versag, het stadsamptenare verskeie maatreëls ingestel. In 2021 het hulle plesierbote verbied om aan te dok, toergroepgroottes tot 25 mense beperk en ‘n fooi vir dagbesoekers ingestel.

Ons het ons vakansie met ‘n kort besoek aan hierdie pragtige historiese stad afgesluit. Ons het op ‘n warm Sondagmiddag by St. Lucia Venesië-treinstasie aangekom. Ons verblyf was so 2 kilometer weg en hoewel ek mal is oor stap, was hierdie stap amper te veel vir my. Toeriste het in die strate saamgedrom en ons moes met ons bagasie deur die massas navigeer, terwyl sweet teen my rug afstroom. Om my swaar tas en rugsak oor die baie kanaalbrûe met baie trappies te dra, was besonder uitdagend. Ek was dankbaar dat Charl die navigasie tussen al die nou en kronkelpaadjies behartig het.

Venesië berei reeds van vroegoggend af vir die toeriste voor

Om vroeg in die oggend wakker te word as ‘n stad ontwaak, maak my opgewonde. In Venesië het die inwoners baie vroeg begin met voorbereidings vir die nuwe dag. Die geur van varsgemaalde koffie en gebak het in die lug gehang. Seevoëls het opgewonde by die vismark geskree. Handelaars het voorrade uit hul mobiele stalletjies uitgepak. Bote op die kanale het goedere vir winkels en restaurante ingebring terwyl rommel verwyder is. Dit alles in die vroeë ure gebeur, want bedags vul toeriste op gondels die kanale.

Gondels op die kanale

Gondels is ‘n historiese en tradisionele deel van Venesië, wat ‘n ikoniese manier bied om die stad te verken. In die 17de en 18de eeue het gondels ‘n hoogtepunt bereik in gewildheid, met ‘n geskatte 10 000 in Venesië. Daarteenoor word slegs sowat 400 deesdae hoofsaaklik vir toerisme gebruik.

Vroegoggend het ons gesien hoe gondeliers die bote vir die dag voorberei het. Om ‘n gondelier te word vereis meer as 400 ure se opleiding oor ses maande. Benewens die bemeestering van gondelmaneuver- en lewensreddingsvaardighede, leer hulle ook vreemde tale en Venesiese geskiedenis en kultuur.

Basilica van San Marco

Die Basilica di San Marco (St. Mark’s Basilica) is die katedraalkerk van Venesië en is saam met sy plein die bekendste en mooiste landmerk in die stad.

Volgens oorlewering het Markus die kerk in Egipte gestig en is hy as biskop van Alexandrië aangestel nadat hy saam met Petrus in Rome gedien het. Mense het geglo dat hy daar as ‘n martelaar gesterf het. Agt eeue nadat hy in 68 nC gesterf het, het die Venesiërs sy liggaam na Venesië gebring. Die stad se regerende klas wou St. Markus as die beskermheilige van hul ekonomiese status hê, en daarom het hulle gereël om sy liggaam uit Egipte te smokkel.

Murano die glaseiland

Ons het Murano, die glaseieland, met `n taxibootbesoek. Glaswerk is `n ou en belangrike kunsvorm en was vir honderde jare een van die belangrikste kommersiële nywerhede van die Venesiese Republiek. Stadsowerhede het die glasoonde is gedurende 1291 na Murano verskuif om die stadsentrum teen die risiko van brand en die uitlaat van handelsgeheime oor die produksieproses te beskerm. Die glasmeesters kon ook vaardighede en tegnieke uitruil en so die kunsvorm tot nuwe hoogtes verhef.

Ons het `n demonstrasie bygewoon waar ons kon sien hoe kunstenaars werk en glas blaas met eeue-oue tegnieke om die mooiste ornamente na vore te bring.  Daarna het ons `n uitstalling van die mooiste kunswerke besoek.

Die Venisië Karnaval

Verkopers het maskers vir die Venesiese Karnaval by die meeste stalletjies en markte verkoop. Hierdie geleentheid is wêreldwyd bekend vir sy pragtige kostuums en maskers. Die viering duur tien dae in Februarie, waartydens mense pragtig aantrek en aan georganiseerde parades of eenvoudige optogte op straat deelneem.

Die Karnaval voer sy oorsprong na die Middeleeue terug en het vir etlike eeue voortgeduur. Mense het die tradisie in 1797 afgeskaf, maar dit in 1979 laat herleef. Dit lok jaarliks ​​ongeveer 3 miljoen besoekers.

Venisië is besonders en een van Italië se mooiste stede

Die drywende stad, met sy kronkelende kanale, treffende argitektuur en pragtige brûe, is ongetwyfeld een van Italië se wonderlikste stede. Die standbeeld van die wit hande in Venesië het my met ‘n boodskap gelaat. Hulle simboliseer die nodigheid om brûe te bou en verskille te oorkom. Elke stel hande verteenwoordig ‘n ander menslike waarde soos liefde of wysheid.

As jy van reis hou, is Venesië die moeite werd om te besoek en te ervaar. Ek beveel egter aan om die tyd van die jaar vir jou besoek met sorg te kies en so lig as moontlik te reis.

Groete

Emsia

6 thoughts on “Venisië het my asem weggeslaan

  1. Dankie dat ons kon saam toer! Venesië is ook nog op my emmerskop lysie.

    1. O ek hoop jy kry jou kans sommer gou! Dit is ‘n anderster reiservaring.

  2. Ek wens ons het nog tyd gehad vir Venesië !

  3. Lekker storie vol interessante feite – sowaar net 400 gondels oor!
    Die glas werk het my verstom gelaat, ek onthou die demonstrasie nog helder en duidelik, al was dit 20 jaar terug.

    1. Ja dit is ‘n anderster soort plek. Die hele glaskuns is besig om uit te sterf, want die jonger geslag wil nie meer glasblasers word nie. Dit is so vrek warm dat ek dit kan verstaan, maar dit is nogal hartseer.

Comments are closed.

Comments are closed.