Vakansie bied tyd vir konneksie en refleksie
Ons somervakansie het my weer opnuut laat besef hoe nodig vakansies en wegbreek naweke is. Soos die jaar vorder, neem die druk en verpligtinge toe, maar ons energie en vreugde raak al hoe minder. In ons huis raak meer van ons gesprekke gefokus op take wat afgehandel moet word, uitdagings wat ons moet aanspreek en oplossings vir probleme.
Vakansies en wegbreek naweke het ʼn baie belangriker rol as bloot net ontspanning. Hulle help met balans in ons lewens.
Verhoudings word versterk
Weg van werk, huispligte en skerms, kry ons weer volle aandag vir mekaar. Sonder die gejaagdheid van alledaagse lewe, kan ons langer en ongedwonge sommer maar net gesels. In ’n ontspanne omgewing is dit makliker om selfs moeilike onderwerpe te bespreek. Dit breek die siklus van gejaagde dae en herinner ons weer aan die redes hoekom ons mekaar as lewensmaats gekies het.
Ons sien ook die groei van ons kinders raak, leer hulle beter ken en ervaar saam nuwe avonture.

Nuwe plekke en avonture skep gesamentlike stories wat ons later kan onthou en oor kan lag. Sulke ervarings word later dié dinge waarna ons terugverwys as spesiale oomblikke. Dit wys ook soms nuwe kante van mekaar soos avontuurlustigheid, humor, of geduld.
Stimulering vir nuwe idees
Nuwe plekke, kosse en mense help met perspektief en dien as stimulering vir nuwe idees. Ons sintuie word wakker gemaak en ons kyk met vars oë na die wêreld. Dit help ons om buigsaam en oop te bly vir verandering en maniere van doen.
Miskien is die grootste geskenk van vakansies die mense wat ons ontmoet. Nuwe vriendskappe, spontane geselsies met vreemdelinge, of selfs die manier waarop plaaslike inwoners hul kultuur en leefstyl deel, kan ons diep inspireer.

Vakansies en kort wegbreke is soos ’n knoppie wat ons brein en liggaam uit “outo-pilot” haal en ons daaraan herinner dat daar meer kleure in die lewe is as net dié wat jy elke dag sien.
Perspektief en insigte
Afstand (fisies en geestelik) laat ons daaglikse probleme kleiner lyk, help met perspektief op uitdagende situasies en bring nuwe insigte. Dit gee ook waardevolle tyd vir refleksie. Is ek waar ek wil wees en doen ek wat ek graag wil doen? Is ek tevrede met die verloop van my lewe? Hoe sien ek my toekoms en wat hoop ek vir myself?
Vakansies herinner ons daaraan dat die lewe vol moontlikhede is en moedig ons aan om buite ons gewone grense te dink en te groei. Mense kom dikwels terug van vakansies met vars insigte, ’n nuwe passie of selfs ’n nuwe rigting in die lewe.

As ek terugkyk op my lewe, besef ek hoe ek van my grootste lewensbesluite tydens vakansies geneem het. Ek deel ’n paar van ons vakanse ervarings en insigte.
Ouderdom en aftrede
Ons afgelope vakansie se bootvaart na Ysland is ideaal vir mense wat weens ouderdom of gesondheid nie baie beweeglik is nie. Die boot vaar in pragtige fjorde en jy kan al die skoonheid van die dek geniet. Die meeste passassiers was ouer. Heelwat persone het looprame of mobility scooters, wat sommer gedurende die nag in die gange se elektriese punte herlaai is, gebruik.
Op die boonste vloer, aan die voorkant van die boot was die Crows Nest met groot klasvensters. Passasiers het van vroegoggend af met ʼn lekker koppie koffie die asemrowende landskappe geniet. In hierdie vetrek was daar ook ʼn groot verskeidenheid bordspeletjies en legkaarte beskikbaar. Passasiers het dit as geleentheid gebruik om nuwe mense te leer ken en mekaar se samesyn op ʼn ontspanne manier te geniet.

Ek en Charl het die vele interaktiewe speletjies geniet. Ons het baie sleg gevaar in die vasvrae wat gerig was op musiek uit verskeie dekades. Ons het dadelik die liedjies herken maar kon glad nie die name onthou nie!! Die vasvrae oor sport, wetenskap en kos het ons effens beter oor onsself laat voel.
In die aande was daar geleentheid vir mense om ballroom dancing te doen. Ek het my verstom aan die grasiuse bewegings en vaardigheid van baie van die ouer paartjies. Hulle was so “in tune” met mekaar en dit was duidelik dat hulle al lank ʼn lewenspad met mekaar stap.
Ons begin nou die aftreehoofstuk nader en het baie gewonder oor wat die toekoms mag inhou. Die mense op die boot was ’n inspirasie en het ons laat opgewonde voel oor wat voorlê.
Taal
Op vakansie bote is die voertaal van die passassiers asook die afkondigings gewoonlik die taal van die omgewing. In Europa en selfs op die vakansiebote is ons verstaan van gesprekke en situasies maar min. Op die Holland America boot was al die afkondigings in Hollands en Engels gedoen. Die Cruise Direktor was van Belgie en met sy Flaamse agtergrond het sy Hollands vir ons net soos Afrikaans geklink.

Dit was wonderlik om sommer alles te kon verstaan. Dit het selfs vir ons dit moontlik gemaak om met van die ander passasiers te kon gesels en kon beter die inligting oor die verskeie bestemmings verstaan. Om ons eie tale te hoor en te praat het ons baie meer ontspanne laat voel. Dit was ’n bietjie soos om jou mees gemaklike skoene te dra terwyl jy êrens nuut gaan stap. Jy ervaar steeds die opwinding van ontdekking, maar sonder die ongemak van onsekerheid met elke tree.
Wonderwerke en geloof
Die Cruise Director het moeite gedoen om inligting en stories oor die plekke wat ons besoek het, te deel. Iets in die vissersdorpie Ålesund in Noorweë se geskiedenis het my diep aangegryp.
Toe die groot brand van 1904 deur Ålesund vee, het dit 850 houtgeboue vernietig en 10 000 mense dakloos gelaat. Tog, op ’n heuwel in die oostelike distrik, het een klein houthuis ongedeerd gebly — Waldehuset, die “huis wat nie gebrand het nie.”
Volgens plaaslike oorlewering het die eienaar, prediker Waldemar Anderssen, die dag van die brand besoek van ’n engel ontvang. Die engel het beloof dat sy huis gespaar sou word, en die prediker het tydens die brand in sy huis gebly. Toe die vlamme uiteindelik bedaar, het sy huis ongeskonde gestaan terwyl die hele dorpie in puin gelê het.

Slegs drie jaar later is die stad heeltemaal in die pragtige Art Nouveau-styl herbou, en was dit een van die modernste dorpe ter wêreld. Vandag is Waldehuset ’n klein museum en kafee waar besoekers kan instap. Dit het ʼn simbool van geloof en genade geword. Ek wil die komende jaar meer gefokus wees op die wonderwerke en genade in my lewe.
Ten slotte
As ons aan die lewe soos ’n lang staptog dink, is vakansies en naweke weg die rusplekke. Hulle gee ons water, skaduwee, en ’n kans om rond te kyk. Dit help dat ons met hernude energie kan aanhou stap en die lewensreis meer geniet.

Die rusplekke is meer as net pouses – dit is ook plekke waar ons herinner word waarom ons stap. Daar, ver van die gejaag, hoor ons weer ons eie gedagtes en sien ons die klein wonders langs die pad raak. Só word die reis ’n ryk ervaring vol stories, mense en oomblikke wat ons siel voed. Wanneer ons weer opstaan om die res van die pad aan te pak, dra ons iets van daardie rus saam. Dit word ’n stille krag wat ons help om elke tree met dankbaarheid te neem.
Groete
Emsia