Toe-val-lig in plaas van toevallig
Daar is so baie gevalle van waar ons dinge hoor, mense ontmoet of gebeurtenisse ervaar op tye wat ons dit die meeste nodig het. Ons weet in ons binneste dis nie toevallig nie, maar meer ʼn geval van toe-val-lig. Die psigoterapeut Jung het met die term synchronicity (syn = met, chronos = tyd) opgekom wat gebeure of toevallighede beskryf wat blykbaar geen duidelike oorsaak het nie, maar wel baie betekenisvol is.
In kort sien ek dit sommer as God se manier om met my te praat of antwoorde vir my te gee as ek dit regtig nodig het. Ek het al hoeveel maal radeloos met vertwyfeling, oor wat die regte stap of besluit in my lewe is, in ʼn boekwinkel ingestap met ʼn prewelgebedjie: “Ag Here, gee my asseblief ʼn teken of ʼn antwoord”. Sommer gou-gou sal ʼn boek my oog vang en het gewoonlik die antwoord om my uit my worsteling te red.
Dit het ook al heelwat kere met my gebeur dat ek onophoudelik aan iemand dink of ʼn behoefte het om vir iemand iets te sê, al voel dit ʼn bietjie ongemaklik. Die uiteinde is gewoonlik die persoon wat bevestig dat hulle nou my woorde of oproep baie nodig gehad het. Die omgekeerde gebeur natuurlik ook. Daar bel uit die bloute mense of hulle daag net met net die regte antwoord, hulp of advies op.
Charl se pad het myne op ‘n toe-val-lig(e) manier gekruis
Charl se pad het myne op een van die toe-val-lig(e) maniere gekruis. Na my egskeiding het ek myself een jaar gegee om in ʼn gat te wees en daardeur te werk. Aan die einde van die jaar het ek saam met my ma en seuns by Sedgefield gaan vakansie hou. Die dag met ons terugkeer Kaap toe het ek vir oulaas in ʼn kano op die meer gaan roei en sommer hardop gebid. Ek het vir God verduidelik ek is nou reg vir aanbeweeg. Ek het mooi vir hom gevra om vir my iemand te stuur wat lief is vir Hom, vir my, maar ook vir my kinders.
Die Sondagaand van daardie selfde naweek nog in April 2006, het Charl my gebel om te hoor of ek nie saam hom die musiekblyspel Mamma Mia wil gaan kyk nie. Hy het die kaartjies nog voor sy eie egskeiding gekoop en wou dit nie verlore laat gaan nie. Ek verstaan hy het die oproep ʼn paar maal uitgestel. Een ding het gelei tot ʼn volgende en is ons een jaar later in April 2007 getroud. Ek weet God het hom vir my gestuur en dat die oproep nie toevallig was nie.
Die nommer 11:11
Sedert twee jaar gelede sien ek aanmekaar die nommer 11 raak. As ek op die horlosie kyk dan sien ek dit is 11:11, soms sommer ʼn paar maal ʼn week. Ek het baie daaroor gewonder en toe ʼn bietjie gaan nalees. Die nommer 11, word na verwys as die meesternommer en is die Heelal of God se manier om ons bewus te maak om tussen die lyne te lees en raak te sien dat daar meer aan jou huidige situasie is as waarvoor jy voorsiening maak.
11 Oktober 2019 was Christo se Matriekuitstapdag. Dit was die laaste skooldag met ʼn eindeksamen wat tussen hom en sy toekoms staan. My gedagtes was die hele oggend by hom en hierdie laastes. Dit saam met ʼn hele paar ander onseker situasies waarvan ek nie die uitkoms kon sien of beheer nie, het swaar op my gedruk. Met die opstaan van agter my rekenaar vir ʼn koppie tee, kyk ek gou op my selfoon en raak bewus van die tyd en datum – 11 Oktober 11:11.
Liewenheersbesies
Ek het daarna huis skoongemaak en die vensters bietjie oopgemaak. Met die instap in die leefvertrek, let ek al die liewenheersbesies op. Daar was byna vyftig van hulle in my huis. As kinders het ons geglo hulle bring geluk as hulle op jou kom sit.
Die volgende oggend het ek alleen gaan stap om sommer net stil te raak. By die water het die mooiste wit swaan teen die oranje agtergrond van sonsopkoms geswem. ʼn Groot vrede het oor my gekom. Drie tekens dat ek maar kan glo, vertrou en rustig raak. Ek onthou my ma het al voorheen genoem dat haar teken van hoop ʼn veertjie op die grond by haar huis se agterdeur is.
Loopbaan
Wat my loopbaan aanbetref het ek altyd die visie gehad om my permanente rol in ʼn korporatiewe omgewing te verruil vir ʼn eie-besigheid konsultantrol waar ek op die dinge kan fokus waaroor ek passievol is en ook meer vryheid het. Die ideale tyd vir my sou wees rondom ag-en-veertig, omdat dit my met voldoende tyd sou laat om weer iets op die been te bring voor die risiko-aversie wat ouderdom meebring te erg inskop.
Dit is egter makliker gesê as gedaan om ʼn goeie maandelikse salaris te verruil vir ʼn van-vooraf-begin. Gelukkig is my pos toe toe-val-lig beëindig in dieselfde Oktober as my 48ste verjaarsdag. Wonderlike geleenthede het vanaf die vreemdste plekke oor my pad gekom en ek het elke oomblik van my nuwe rol geniet.
Nou het hier op vyftig ʼn vreemde wending gekom wat my effens onkant gevang het. Ek weet wel dat vandat ek vir Charl ken, Switserland een van sy geliefkoosde plekke op aarde is. Die natuurlike skoonheid, tegnologiese vooruitgang, presisie en die kos dra by tot sy liefde vir die plek. Alhoewel ek die avontuur en die leer en groei wat so ʼn verandering meebring geniet, is ek nog nie heeltemal seker hoe dit in my lewensplan inpas nie.
Ek weet egter dat ek tans nog na ʼn dowwe spieël staar, maar dat ek die nodige antwoorde en perspektief sal kry soos wat die storie geskryf word. Ek sien uit daarna!
Groete
Emsia