Terug skool toe na ‘n internasionale skool
Hierdie dag is met angstigheid en opgewondenheid ingewag. Die skole het vir die nuwe skooljaar begin na die Europese somervakansie wat vir ons ʼn winter- en somervakansie kombo was. Hope vryheid om jou tyd te spandeer net soos jy wil, klink soos utopie totdat jy dit het en so stilletjies begin verlang na orde en struktuur en om weer in ʼn roetine te kom.
Oriënteringsdag
Die aand voor die Inter-Community School (ICS) se oriënteringsdag, het Zander se opgewondenheid geen keer gehad nie. Ek vermoed sy fokus was meer op die maats, want na ʼn ruk begin mens sosiale kontak mis, al is dit dan in jou tweede taal. Die oggend toe ons by ICS se groot glasdeure inloop, sê Zander: “Ma, dink jy dit is okay om gestres te voel, want ek is nou uitgefreak!”. Aan die agterkant van my opgeplakte kalmgesiggie het ek presies dieselfde gevoel.
Al die nuwe kinders van graad 1 tot Graad 10 en hulle ouers, met dieselfde opgeplakte kalmgesiggies as myne, het die saal vol gesit. Die diploma studente (graad 11 en 12) was afsonderlik in hulle eie gebou hanteer. Ek het my oë oor die volgepakte saal laat gaan. Tussen die familie voor met hulle goties geklede tienerseun en ʼn jonger ma wat ʼn baba probeer borsvoed het agter in die saal, was ek baie dankbaar vir my 10-jarige. Hy is net oud en net jonk genoeg!
Zander se graad-5 klas
Zander is in een van drie graad-5 klasse, by Mrs. Hill van Britse afkoms. Hulle is sestien kinders in die klas, waarvan vyf nuwelinge is. Die hele skool is daarop ingestel en ingerig om hierdie strome nuwe kinders wat aanland en bestaande leerders wat groet en weer wegtrek te hanteer.
Ek kon dadelik agterkom dat die skool heelwat prosesse in plek het om die leerders en die ouers te help die verandering hanteer en inskakel. ʼn Groot groep mense is van Britse of Amerikaanse afkoms, maar baie van hulle het nou pas van ʼn ander land soos Singapoer of Dubai verhuis waar hulle ook net drie of vier jaar gewoon het.
ICS Parent Association
Die skool het ʼn baie aktiewe ouervereniging en een van hulle hoofdoelwitte is om die nuwe families te help integreer. Daar word veral op die mammas gefokus, want pappa gaan werk toe en het so baie aanpassing om te doen dat hy maar min tuis is. Boetie en sussie gaan skool toe en fokus in die middae op sosialisering met hulle nuwe vriende. Na duisende bokse eers in en na die trek weer uitpak is en almal se verlore goed gevind is, bereik die mammas ʼn punt waar die gesinslede hulle goed en roetine het en die mammas hulself dan afvra: “Wat nou?”
Dit is dan wat enige mamma wat graag ʼn voorsitter van ʼn klub wil wees, een stig by ICS en ouers nooi om deel van die klub te wees. Die wat net deel wil wees om te sien hoe alles werk, skryf dadelik hulle naam op ʼn Google Form lys om iewers in te skakel en mense te leer ken. Daar is hope klubs. Vir diegene wat aktief wil wees, is daar tennis, stap, ski, hardloop, joga en vir die wat sosiaal wil wees, is daar sing, borrels, boekklub ens.
Eerste nuwe vriend
Aan die einde van die eerste skooldag het ek met groot afwagting vir Zander net buite die skool gewag om al die eerste-skooldag stories te hoor. Sy eerste woorde was: “Hallo Ma, is dit reg as ek en my nuwe vriend vanmiddag met ons fietse na Badi Juch (die dorp se swembad) gaan?” Wat kan ‘n ma nou sê, want mens moet besluit waarvoor jy nou eintlik wens.
Ek het die vriend wat net so lank soos Zander is en ook pas 11 geword het met sy erg Amerikaanse uitrusting, skaatsplank en aksent net so gekyk en met ʼn oop gemoed gehoop en bid vir die beste. Hy het ʼn paar punte by my gewen toe hy na die swem op die ooreengekome tyd eers saam met Zander huis toe kom en verduidelik dat hy ongelukkig nie kan inkom nie aangesien sy ma kook en hom verwag vir ete. Ek het intussen Nate se ma, Ellen, ook ontmoet en het haar sommer volgende week vir koffie genooi.
My bokse is almal uitgepak, en ek is opgewonde om te sien wat die klubs behels. Ek het ingeskryf vir die Tennis en “Community Impact” klub. Ek het al twaalf jaar laas tennis gespeel en hoop ek maak nie my naam krater nie.
Groete
Emsia
4 thoughts on “Terug skool toe na ‘n internasionale skool”
Baie nice Emsia! Sterkte vir die tennis, maar ek is seker jy is onnodig nederig, soos altyd. Beste groete.
Dankie John! Ek het nooit gedink ek gaan die tennis so baie geniet nie. Ons lag lekker baie vir onsself en vir mekaar, so dis wonderlike ontvlugting. Dis n lekker klomp mense van oral oor wat dit interessant maak.
16 kinders in ‘n klas is elke Suid-Afrikaanse onderwyser se droom. Dit was die enkele een voordeel van COVID-19: Klein klassies met geen dissipline probleme nie.
Ek kan dink dat kleiner klassies makliker werk met geen dissipline probleme nie. Toe my kinders klein was toe wen ek ‘n Sondagskoolklassie met 10 8 jarige seuntjies. Ek was meer gestres oor dit as oor n Ouditkomiteevergadering🤣
Comments are closed.