My tweede tameletjie met taal
As ek terugkyk op my lewe, dan besef ek daar is heelwat geleenthede en mense oor my pad gestuur wat wonderlike leermeesters kon wees as ek net die geleenthede aangegryp het. My pa was ʼn meester op tegniese gebied en uitstekend met herstelwerk. As ek meer opgelet het, sou ek baie beter planne kon maak om my instandhoudingsprobleme aan te spreek. Ek sou ook heelwat minder flopse en brandoffers as jong getroude vroutjie gehad het, as ek my ma meer in die kombuis gehelp het.
As Kalahari kind het ek nooit behoorlik leer Engels praat nie!
Ek kan baie voorbeelde noem, maar een ding wat my nou weer vir ʼn tweede maal kom besoek, is my taalvaardigheid. As Kalahari-kind het ek nooit moeite gedoen om behoorlik Engels te leer praat nie. Engelse boeke lees is gesien as ʼn lastigheid wat met my kosbare sosiale tyd ingemeng het. Ons het doerie-tyd in elk geval selfs in die Engelse klas Afrikaans gepraat, so waarom sou ek moeite doen? As ek toe maar net ʼn vinnige toekomsblik kon hê, sou ek beslis my ingesteldheid verander het!
Dinge op die taalfront het vir ʼn tyd lank seepglad geloop. Na skool is ek na ʼn Afrikaanse universiteit en het daarna by ʼn Afrikaanse kantoor met Afrikaanse kliënte begin werk. Soos ʼn dief in die nag kom die Londen geleentheid my bekruip. Manlief wil sy Meestersgraad by die London Business School voltooi en ek doen by die PwC kantoor in Londen aansoek vir werk.
My eerste internasionale vlug
Volgens ons is alles gereël en ons klim op die vliegtuig vir my eerste internasionale vlug. Ons reis baie lig met net ʼn handjievol besittings vir twee jaar se studeer en werk in Londen. Met ons aankoms maak ons ʼn draai by die Londen kantoor om dinge vir my inval te finaliseer. Ek kry die skok van my lewe toe hulle my op ʼn baie professionele Britse wyse meedeel dat daar nie ʼn manier is dat hulle my aan hulle kliënte kan blootstel met sulke swak Engels nie!
Sonder werk in Londen
Hier sit ons in Londen, manlief moet begin studeer en ek het nie werk nie! Ek kry nou nog nagmerrie terugflitse van myself sopnat in ʼn tipiese rooi Londense telefoonhokkie gesweet. Ek hoor nog die ponde en pennies soos water deur die betaalfoon stroom, terwyl ek die een na die ander personeelagentskap, in my beperkte Engels en erg Afrikaanse aksent, van my finansiële kennis en vaardighede probeer oortuig.
Die Liewe Vader daar Bo het my sekerlik jammer gekry en ʼn span engele gestuur om te help. Met my selfbeeld aan flarde, het ʼn onverwagse boodskap van PwC laat weet dat hulle my weer ʼn onderhoud, maar hierdie keer vir ʼn interne rol, sal toestaan. Intern kan hulle dalk nog ʼn plan maak, solank ek net nie naam by hulle hoog Britse kliënte weggooi nie.
My onderhoudvoerder was genadiglik ʼn Suid Afrikaner wat jammer vir my gevoel het. Ek het opgeëindig in ʼn span wat ouditsagteware, wat ons alreeds in Suid Afrika gebruik het, uitrol. Die span het uit heelwat mense van ander lande soos Kanada, Australië en Nieu Seeland bestaan.
Taal is ‘n stryd
Ek en my kollegas het aanvanklik vreeslik gesukkel om mekaar te verstaan. Vir al my sondes eindig ek op in ʼn rol waar ek klaskameropleiding oor die gebruik van die ouditsagteware moet gee. As deel van die rol moet ek ook mense oor die telefoon as deel van ʼn hulplyn met hulle sagtewareprobleme help.
My eerste opleidingsessie het maar beroerd gegaan en die evalueringsterugvoer het my reeds gekneusde ego geknak. Die mense wat inbel hulplyn toe, het later “for the French girl” gevra, omdat my Engels so onverstaanbaar is. Daar is geen kans vir tou opgooi nie en my Engels het stadig maar seker verbeter. Ek het geweet dinge het omgedraai toe ek een aand voor ek gaan slaap skielik in Engels begin bid.
Ek is dankbaar vir die pynlike leerervaring
Met my eerste Engelse aanbieding terug in Suid Afrika, het die verbasing op my baas se gesig my ego goed gedoen. Ek is agterna al baie dankbaar vir hierdie pynlike leerervaring waarin ek gedwing is. Die wêreld het vinnig verander sedert my skooldae en ek sou nie vordering in my loopbaan sonder dié Engelse taalvaardigheid kon maak nie. Ek het só gehoop en bid ek tel sommer die Britse aksent op, maar ongelukkig is die Kalahari te veel in my bloed.
Charl het nou uiteindelik sy visa gekry, en ek en Zander kon aansoek vir die Switserse verblyfvisa doen. Daar kom loer die dief in die nag so wraggies weer vir my toe ek op die visa aansoek lees dat Duitse, Franse of Italiaanse taalvaardigheid ʼn voorvereiste vir die Switserse visa is. Aangesien die voorvereiste eers Januarie 2019 ingestel is, sal hulle nuwe aansoekers ʼn jaar kans gee, maar daarna moet hulle ʼn A1-taaltoets slaag ten einde die visa te verleng. Ag vrek, dit voel soos déjà vu!
My nuwe stryd met Duits
Hoe kan ek aan hulle verduidelik dat my taal-brein van die heel begin af onderontwikkeld is! Ek sit nou daagliks en Duits leer. My graad 8 Duitse juffrou, Mev. Saaiman sal lekker in haar binneste lag as sy van my dilemma sou verneem. Ek het vir my Duitse kinderboekies van die internet afgelaai en lees van die “Osterhase Harry” (Paashasie Harry) en “Wenn es Sterne regnet” (Wanneer dit sterre reën).
Ek gaan my toegegroeide taal-breinpaadjies moet skoonmaak. Dit is seker die rede vir my hoofpyne na ‘n Duitse leersessie. Ek kies maar om dit te sien as een van vele uitdagings wat my nie gaan onderkry nie. As julle my weer sien, “dann werde ich sehr gut deutsch sprechen”!
Groete
Emsia
4 thoughts on “My tweede tameletjie met taal”
Emsia!!!! Ek het so lank saam met jou gewerk en nooit geweet jy het so met Engels gesukkel nie! Jy het beslis baie gou in Londen geleer want volgens my was jou Engels nog altyd uitstekend. Ons het dan sulke mooi verslae geskryf op die Metropolitan oudit :-). Baie mooi storie wat ek so geniet het. Sterkte met die Duits. Ek het baie respek vir jou. Beste groete.
John, so lekker om van jou te hoor! Genade, ek is dankbaar ek is op ‘n stadium van my lewe dat ek kan terugkyk met n glimlag as ek aan die Metropolitan verslae dink😀. Dankie vir jou mooi woorde!
Dankie vir die lekker lees. Hoe lê en giggel ek nou, want toe ek by die SABS begin werk het, het my baas my vir “English Conversation Classes” by UNISA gestuur nadat hy my oor die telefoon hoor praat het met ‘n Engelse kliënt.
Ek is bly om te hoor ek is nie die enigste wat vir Engelse klasse moes gaan nie. Gelukkig kan ons nou terug kyk en lag daaroor!
Comments are closed.