Ons eerste strandvakansie in Kroasië

Ons eerste strandvakansie in Kroasië

Suid-Afrika word deur oseane omring. Ons assosieer gevolglik somervakansies met wit strande en die klank van brekende golwe. Terwyl Switserland pragtige natuurskoon bied, verlang ons soms na die see. Ons mis dit om kaalvoet op die sand te loop, sandkastele te bou en in die branders te speel. Al die lede van die Goosen gesin is mal oor water en die strand is ons idee van ‘n Happy Place.

Ons het lank na ‘n strandvakansiebestemming in Europa gesoek. Beskikbaarheid en bekostigbaarheid van die pragtige liggings langs die Middellandse See het uitdagings gestel. Ná ’n lang en strawwe winter smag mense regoor Europa na son en see.

Toe Zander ‘n plek vir sy uitruilervaring moes kies, was sy topprioriteit ‘n land met ‘n kuslyn en golwe. Sy droom het waar geword toe hy ‘n uitruilgeleentheid in Perth gekry het. Hulle kon na skool strand toe gaan en ondanks die winter in Australië het hulle baie tyd in die see deurgebring en verskeie aktiwiteite geniet. Hy het selfs die kans gehad om te leer branderplankry.

Kampterrein in Kroasië

In ons soektog het ons op Kroasië gefokus en ‘n kampplek genaamd Mont Perin ontdek. Dit is by die see naby Rovinj in die Istrië-streek van Noord-Kroasië geleë. Dit het geblyk die perfekte keuse vir ons te wees. Die kampeerterrein bied verskeie soorte akkommodasie, insluitend kampeerplekke, mobiele huise, en ‘n verskeidenheid van villas.

Ons het in ‘n villa naby die see gebly en het elke oggend vroeg in die see geswem. Die strande was klipperig, so ons het waterskoene vir gemak gekry. Een voordeel van ‘n klippiestrand bo ‘n sanderige een, is dat die huis sandvry bly. ‘n Mens kon duidelik tot op die bodem deur die rustige en mooiste turkooisblou kleur water sien.

Vermaak

Die kampterrein het ‘n verskeidenheid vermaaklikheidsopsies vir gesinne gebied. Die baai-area het aangewese plekke vir swem, roei of roeiplankry (SUP’s). Ander gebiede was meer klipperig, perfek om die onderwaterwonderland met ‘n duikbril te verken. Bedags het die kinders die opblaas-speelarea in die see geniet. In die aand het hulle animasie films op `n grootskerm in die see gewys

Die kampterrein het ook tennis-, vlugbal- en sokkerbane en ‘n dinosourus-tema waterpark vir gesinne met jonger kinders gehad.

Vervoer

Die kampterrein is redelik groot. Om dit vir almal maklik te maak om rond te beweeg, is daar ‘n treintjie wat gereeld deur die terrein loop. Vir diegene wat nie hul eie saamgebring het nie, is fietse ook te huur. Ons was verheug om te ontdek dat elke villa ‘n klein elektriese of gholfkarretjie het.

Die villa se Twingo het Zander se eerste bestuursles in Kroasië moontlik gemaak. Ons het ‘n paar keer tennis gespeel en daarna het Zander ons terug huis toe gery. Charl het van voor instruksies gegee terwyl ek senuagtig agter gesit het. Gelukkig het hy baie goed reggekom. Dit is baie makliker om  met ‘n elektriese motor te leer bestuur as met `n handrat pertrol model soos wat sy ouer broers moes doen.

Bakkery en vars groente uit die tuin

Die kampterrein beskik oor ‘n bakkery, waar mense vroegoggend gretig in die ry staan ​​om ‘n vars broodjie of croissant saam met hul koffie te geniet. Elke oggend, nadat ek en Zander vinnig in die see geswem het, het Charl ons met warm, varsgebakte croissants bederf.

Ons was verheug om te ontdek dat Mont Perin groentetuine het. Die kampterrein bied gaste twee keer per week ‘n komplimentêre sak vars Mediterreense groente. Die sak het tamaties, komkommers, soetrissies, eiervrugte en murgpampoene ingesluit. Saam met die groente het ons ook ‘n spanspek en waatlemoen ontvang. Ons het die vrugte en groente in ons slaaie, pastasouse gebruik en ook gereeld ratatouille gemaak.

Vroegaand, was die kampterrein met heerlike kosreuke gevul. Kampeerders het hul maaltye op gasstowe voorberei aangesien oop vure nie toegelaat is nie.

Dinasours beendere in die Istrië area gevind

Ons het opgemerk dat baie waterparke in die Istrië-streek ‘n dinosourus-tema het. Dit het volkome sin gemaak toe ons uitvind dat Istrië die enigste streek in die Middellandse See is waar duikers dinosourusbene gevind het. In 1992 het ‘n duiker ‘n terrein met bene op die seebodem naby Bale-Valle ontdek, wat die eerste ontdekking van dinosourusoorblyfsels aandui.

Die bene het die bestaan ​​van ten minste tien groepe dinosourusse onthul, insluitend die plantvretende Brachiosaurus, een van die grootste en swaarste dinosourusse ooit. Hierdie massiewe wese was 20 tot 25 meter lank, met ‘n nek van ongeveer 10 meter lank.

Ons is dit almal eens dat hierdie een van ons lekkerste vakansies in Europa was. Ons het vergeet van tyd en net oorgegee, lekker en gesond geëet en baie goed geslaap. Moeder Natuur het mooi na ons gekyk.

Herinneringe in ‘n Fotovideo:

Groete

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui