Die krag van onverwagse deernis en omgee

Die krag van onverwagse deernis en omgee

Met my onlangse besoek aan Suid Afrika het ek ‘n paar spesifieke doelwitte gehad. Bowenal wou ek tyd saam met my ma en seuns spandeer. Ek het egter ook administratiewe take gehad, soos om my bestuurslisensie en bankkaarte wat op die punt was om te verval, te hernu. Boonop moes ons ook ‘n paar aksies voltooi voordat Christo die wettige eienaar kon wees van ‘n tweedehandse motor wat ons vir hom gekoop het.

Met beurtkrag weens die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika, het ek lang toue en gefrustreerde mense verwag. Ek het egter nuwe respek vir die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van die mense van Suid-Afrika gekry. Die deernis en omgee wat ek ervaar het in my interaksies met mede-Suid-Afrikaners, het my met trots en hoop vir die toekoms gevul.  Ek het na `n vorige besoek ook geskryf oor hoe ek met nuwe oë na Suid Afrika kyk.

Ons het op die D’Aria-wynplaas in Durbanville gebly. D’Aria het hul huisies toegerus met beurtkraglampe en ons elke dag met tuisgebakte beskuit en ‘n bottel wyn bederf. My ma het tussen wingerde grootgeword, en ons oggendkoffie en beskuitjies in die herfskleurige wynlande het vir haar goeie herinneringe en rustigheid vir ons gebring.

Met my aankoms het Jacques die beurtkrag-app op my foon gelaai. Hy het beurtkrag benut om vir ons te kom kuier en vir ‘n wandeling tussen die wingerde te gaan Hy het ook vir ons van sy koeke gebring om na die tyd te geniet.

Onverwagte deernis en omgee

Tydens my besoek het ek deernis en omgee op onverwagte plekke ervaar.

Terwyl ek in ‘n ry gewag het

Ek het die beurtkragskedule geraadpleeg en vroegoggend in die ry geval vir die hernuwing van my rybewys. Ek en die vrou agter my het ‘n gesprek begin oor ons vrees vir die oogtoets. Later het ons so lekker gesels dat ons nie eers agtergekom het hoe vinnig die ry korter word nie. Ek was verbaas toe sy my agterna by die uitgang inwag om my “net behoorlik te groet en my voorspoed op my pad toe te wens”.

Tydens ‘n installasie

Ons moes vir versekeringsdoeleindes ‘n alarmstelsel in Christo se motor installeer. Die tegnikus het verduidelik dat die installasie ‘n paar uur sou neem en toe hy ma sien, het hy aangebied om ons na die naaste winkelsentrum te neem en ons weer op te laai. Hy het Afrikaans gepraat ter wille van my ma nadat sy hom ingelig het Engels in die Kalahari as ‘n vreemde taal beskou word. Ons kon rustig ‘n Spur-ontbyt geniet en lekker gesels terwyl hy my gereeld op hoogte van hul vordering gehou het.

Opsoek na parkering

Ek het altyd gedroom oor my seuns as studente aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek het uitgesien na my middagetes saam met hulle by die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit se Botaniese Tuin en het vir my ‘n besoekerskaart gekoop. Jacques het egter by ‘n ander Universiteit beland en tydens Christo se studentejare op Stellenbosch, het ons in Zürich gewoon en Covid het die wêreld besoek.

Gelukkig het my Botaniese Tuin geleentheid tydens my onlangse besoek gekom en my ma kon saam met ons kuier. Ek wou ter wille van my ma naby die hek parkeer, maar soos op enige kampus was parkering ’n probleem. ’n US-sekuriteitsbeampte het my dilemma waargeneem, deernis gehad en onverwags ’n privaat parkeerplek naby die hek vir my beskikbaar gestel. Met sy positiewe ingesteldheid het hy my gehelp om na sewe jaar uiteindelik my Botaniese Tuin-besoekerskaart saam met my gesin te gebruik!

Toe ek ‘n fout gemaak het

’n Dag voor my terugkeer moes ek my nuwe bankkaart gaan haal en die pin by die OTM verander. Ek het egter ‘n fout gemaak, en my nuwe kaart is geblok! Verleë en hoed in die hand het ek teruggekeer na die toonbank en om verskoning gevra. Die dame het deernisvol geglimlag.

“O mevrou, ons maak almal soms foute. Ek kan net dink jou kop is seker op ‘n ander plek met die vlug na Switserland môre.”

Op die vlug het ek die volgende stelling gelees wat bevestig het dat die mense van Suid-Afrika die regte harte het om die verandering wat in ons land vereis word, teweeg te bring.

Groete

Emsia

My gebed vir my land Suid Afrika

My gebed vir my land Suid Afrika

Die woorde uit die Stem van Suid-Afrika, die volkslied voor 1997, het onlangs weer my pad gekruis.

Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe –
Ons vir jou, Suid-Afrika.

Ek het diep besin oor die implikasie van daardie woorde vir Suid-Afrika in 2023.

Vandat ek kan onthou, het Suid-Afrikaners met baie uitdagings geworstel. Gedurende my skooljare is alle manlike skoolverlaters vir militêre diens opgeroep en moes hulle ons land teen die “Kommunistiese Gevaar” beskerm. Baie jong manne wat op die grens geveg het, het nooit teruggekeer huis toe nie en diegene wat dit wel terug gemaak het, was nooit dieselfde nie. Was dit wat die woorde van die Stem beteken het?

In 1997 het die “nuwe” Suid-Afrika ‘n nuwe volkslied gekry. Nkosi Sikelel’ iAfrika bestaan uit 5 van die 11 amptelike tale. Ons vra God om Afrika en ons as haar kinders te seën en om oorloë en onderdrukking te beëindig. Dit versoek alle Suid-Afrikaners om verenig te staan en na vryheid te streef. Dit is ‘n edele strewe, maar so ‘n moeilike pad om om te loop.

Verandering is ‘n pynlike proses.

As ek terugkyk oor die afgelope 30 jaar, is ek verstom oor die omvang van die veranderinge wat geïmplementeer is. Nuwe regulasies moes transformasie in die werkplek verseker. Die doel was om die rasse-, geslags- en ekonomiese status van die werkplek te verander ten einde die Suid-Afrikaanse bevolkings demografie te weerspieël.

Verandering is ’n pynlike proses, en elke Suid-Afrikaner het op een of ander manier pyn ervaar. Ek het gehelp om transformasie in die werkplek te bestuur en het met deernis geluister na emosionele stories oor onreg in die verlede.

Beroepsgeleenthede in Suid-Afrika het egter aansienlik verander. Baie mense moes oorsee trek om kos op die tafel te sit. Om in ‘n ander land te werk en te woon is ‘n geleentheid en ‘n avontuur, maar dit verg baie leefstylveranderinge. Jy sal altyd ‘n buitestander wees en jou mense, taal en kultuur mis. Die weerstoestande verskil en die lang koue winters in die noordelike halfrond is uitdagend.

Mense in Suid-Afrika moet met baie uitdagings en frustrasies worstel. Die infrastruktuur gaan vinnig agteruit. Hulle moet rondom beurtkrag beplan en die slaggate in die paaie probeer vermy. Korrupsie vier hoogty, sekuriteit is ‘n probleem, en openbare dienslewering is dikwels swak en onbetroubaar.

Verandering neem tyd

Ek leef lank genoeg om uit ondervinding te weet dat verandering pynlik is en tyd neem. Ons is gewoonlik bereid om geduldig te wag vir dit wat vir ons kosbaar is. Suid-Afrika het pragtige, diverse landskappe, warm en vriendelike mense, en ryk tradisies. Ons is lief vir ons land en is bereid om al die pyn te verduur om dit ‘n plek te maak wat ons met trots huis noem.

Ek glo in God se plan vir Suid Afrika

Suid Afrikaners is oor die algemeen baie gelowig, omdat ons ons afhanklikheid van God so goed verstaan. Ten spyte van verskille in godsdiens beoefening, het ons die gemaklikheid om vir mekaar te vra om vir ons te bid as dit moeilik gaan.  Solank ons in God glo, kan Hy in ons harte werk.

Ek huil vir my geliefde land, maar ek het ‘n onwrikbare geloof dat God ‘n groter plan met Suid-Afrika het. Hierdie plan sal egter geduld, verdraagsaamheid en samewerking verg van elke Suid-Afrikaner wat in of buite Suid-Afrika woon. Al lyk dit vir elke burger anders, sal ons antwoord op Suid-Afrika se roepstem en opoffering wat sy vra.

My gebed vir Suid Afrika – Nkosi Sikelel’ iAfrika

Ek bid die woorde van ons veeltalige volkslied – Nkosi Sikelel’ iAfrika, waarin ons God vra om ons te beskerm en ons help om saam te staan.

https://youtu.be/MkyHN1_28q0
Language: isiXhosa and isiZulu
Nkosi Sikelel' iAfrika (God Bless Africa)
Maluphakanyisw' uphondo lwayo, (Raise high Her glory)
Yizwa imithandazo yethu, (Hear our Prayers)
Nkosi sikelela, thina lusapho lwayo (God bless us, we her children)
Language: Sesotho
Morena boloka setjhaba sa heso, (God protect our nation)
O fedise dintwa le matshwenyeho, (End all wars and tribulations)
O se boloke, O se boloke setjhaba sa heso, (Protect us, protect our nation)
Setjhaba sa South Afrika - South Afrika. (Our nation South Africa - South Africa)
Language: Afrikaans
Uit die blou van onse hemel, (Ringing out from our blue heavens)
Uit die diepte van ons see, (From the depth of our seas)
Oor ons ewige gebergtes, (Over our everlasting mountains)
Waar die kranse antwoord gee, (Where the echoing crags resound)
Language: English
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom,
In South Africa our land.

Groete

Emsia

Zürich bloeisels en lente blomme

Zürich bloeisels en lente blomme

Ons is amper deur ons vierde winter in Switserland en ek moet bieg dat ek sukkel om deur die laaste paar weke van die winter te kom. Gelukkig begin die eerste tekens van lente hul verskyning maak. Die lente in Zürich het mylpale in die vorm van bloeisels en blomme wat my opgewonde maak en my verseker dat die son, warmte en kleur op pad is.

Ek deel meer oor die soorte bloeisels en lenteblomme in Zürich.

Sneeuklokkies en Krokusse

Die heel eerste blomme wat hul verskyning maak, is sneeuklokkies. Hulle verskyn reeds gedurende Februarie en Maart en in baie gevalle, terwyl daar nog sneeu op die grond is. Hulle is spierwit en lyk delikaat en broos maar is baie geharde blommetjies.

Gedurende Maart kleur die krokusse die grasperke in. Die krokusse behoort aan die iris familie en is inheems aan die Alpe. Hulle kom in tipiese paaseier kleure van pers, geel, room en wit voor.

Affodille

Die goudgeel affodille begin gewoonlik teen middel Maart hul verskyning maak. In die Duitse lande word hulle Osterglocke (Paasklokke) genoem omdat hulle gedurende Paasfees blom. Ek het hier eers besef hoe baie verskillende soorte affodilvariëteite daar is.

Magnolias

Die Magnolia-bloeisels verstom my elke jaar. Hulle lyk soos skoenlappers wat uit hul papies ontvou. Hulle begin ook in die middel van Maart blom. Danksy die soet, romerige en ligte blommegeur word magnolias al eeue lank in parfuum gebruik.

Kersiebloeisels

Die kersiebloeisels tussen middel April en vroeg in Mei is vir my ’n hoogtepunt. Naby Frick en Zug is daar kersiebloeisel-staproetes wat die geleentheid bied om deur die kersieboorde te stap.

Tulpe

Vanaf middel April begin die Tulpe ook in mense se tuine verskyn. Een jaar was ons gelukkig genoeg om die tulpefees by Morges, ‘n dorpie langs die Genevemeer, by te woon. Die beste plek om tulpe te geniet is Mainau blomme eiland, net oor die grens in Konstanz, Duitsland, sowat ‘n uur se ry vanaf Zürich.

In Switserland kan die publiek hul blomme by uitgesoekte blomplase pluk. Ek het die foto in Forch geneem, stapafstand van ons huis af. Charl het my bederf en vir ons huweliksherdenking kon ek my gunsteling tulpe kies.

Canola

Gedurende April begin die Canola-lande die wêreld goudgeel inkleur. Die reuk van Canola hang in die lug. Ons ry graag met ons fietse tussen hierdie Canola-lande. Hulle beoefen wisselbou en aan die begin van die seisoen sien ek nuuskierig om te sien watter areas geel gaan word.

Wisteria en Irisse in Belvoir Park

Vroeg in Mei begin die Wisteria blom. Ek sien dit in mense se tuine, maar die mooiste voorbeeld is in Belvoir Park, waar daar koepels is waarteen hulle oprank. Hulle kom in wit en pers voor.

Middel Mei begin die mooiste iris variëteite en kleurkombinasies in Belvoir Park blom.

Rhododendrons

Gedurende Mei blom die Rhododendrons.  Dit is groot struikagtige plante en familie van die kleiner Azalia plante. So 30 minute buite Zürich is die Seleger Moor Park waar baie van hulle groei.  Ek het verlede jaar die park besoek en dit was verseker die moeite werd want ek kon Peonies in blom ook te siene kry.

Gedurende lente is daar `n vrolikheid in die lug. Ek hoop jy het die vreugde van lente in Zürich deur my lens geniet.

Groete

Emsia

Vegan en glutenvrye uitdagings aanvaar

Vegan en glutenvrye uitdagings aanvaar

Toe my oudste seun Jacques in sy tienerjare onder my dak in Kaapstad gewoon het, kon ek nie byhou met die eiers en vleisaankope nie. Baie dinge het egter verander. Ek woon in Zürich, en hy volg ‘n plant-gebaseerde en glutenvrye dieet. Gevolglik het ons verskeie ontdekkings gehad om te deel tydens sy onlangse besoek.

Covid het tot Jacques se dieet kennis en fokus bygedra

Jacques is ’n gebore entrepreneur en het ná skool ’n graad in besigheidsbestuur verwerf. Covid het ‘n totale wending in sy aanvanklike loopbaan planne veroorsaak. Tydens Covid het hy as student in die Kruger-huishouding gewoon. Sy bydrae was om gebalanseerde etes voor te berei vir die gesin en dit moes vir verskeie voedsel allergieë voorsiening maak. Hy het sy voedselkennis verbreed en vinnig besef dat ‘n plantgebaseerde dieet baie gesondheids- en omgewingsdoelwitte bereik.

Jacques het ‘n bakkery, The Cinnamon Club, in Februarie 2021 begin. Sy gebak is plantaardig (vegan) en maak voorsiening vir voedselintoleransies soos gluten, laktose of suiker. Ek was verstom oor die kreatiewe aanbieding van sy gebak en sy besigheid se bemarking en dienslewering. Die Cinnamon Club groei en dit is hartverblydend om die terugvoer en boodskappe van waardering van bestaande en nuwe kliënte te lees.

Plantgebasseerde dieet

Wêreldwyd groei die aantal mense wat kies om ‘n plantgebaseerde dieet te volg. Sommige mense doen dit om gesondheidsredes en ander om die omgewing of dierewelsyn te beskerm. Hierdie tendens het ‘n beduidende impak op die voedselbedryf. Daar is baie nuwe veganistiese produkte op die mark. Restaurante en die kitskos bedryf stel ook meer plantgebaseerde opsies beskikbaar.

Veganuary is ’n inisiatief wat bewusmaking skep en mense aanmoedig om gedurende Januarie ’n plantgebaseerde dieet te volg. In Zürich was daar baie bemarking en bewusmaking vir Veganuary. Jacques was ‘n uitstekende ambassadeur en het my gehelp om my kennis oor die onderwerp uit te brei.

Ek het eers gedink dit is hoofsaaklik jong mense wat veganistiese diëte volg. Na baie gaste by ons huis die afgelope tyd, kan ek aflei dat baie mense van alle generasies hul dieet om verskillende redes aanpas.

Glutenvrye dieet

Baie mense ontwikkel mettertyd ‘n gluten intoleransie en moet gevolglik om gesondheidsredes gluten uit hul dieet sny. Hulle vermy dus voedsel wat van meel gemaak is. Gluten is ‘n familie van proteïene wat in koring, gars en rog voorkom. Dit gee die meel ’n taai tekstuur wanneer dit met water gemeng word en gee brood die vermoë om te rys wanneer dit gebak word.

My nuwe koskennis en -ontdekkings

As gevolg van Jacques se besoek het ek ‘n paar waardevolle ontdekkings gemaak. Ek deel meer oor die bestanddele wat ons gebruik het in die voorbereiding van glutenvrye en vegan maaltye.

Kekerertjiemeel (grammeel) en Aquafaba

Ek bak elke week `n saadbroodjie wat proteïenryk en vullend is en het die broodjie aangepas deur die broodmeel met `n glutenvrye mengsel van kekerertjiemeel, amandelmeel en hawermout, te vervang.  Ek het die jogurt en melk met soja opsies vervang en selfs Jacques het gedink die vegan en glutenvrye broodjie is heerlik.

Ons het ook die grammeel saam met maizena gebruik om glutenvrye tortillas te maak.

Die water van geblikte kekerertjies (Aquafaba) word ook as plaasvervanger vir eierwit in vegan geregte gebruik.  Ek was verstom toe Jacques my vertel hoe hy sy meringue vir sy pragtig versierde koeke hiervan maak. Aquafaba word ook gebruik om vegan mayonaise te maak.

Lensies

`n Paar van my maklike en vinnige aandetes bevat maalvleis.  Ek het geleer om eerder lensies te gebruik wat ook ʼn redelike hoë proteïeninhoud het.  Ek gebruik ook al hoe meer verskillende kleure lensies in groentesoppe om dit meer vullend te maak vir die groeiende tiener in my huis wat gedurig honger is.

Quinua

Quinua was ‘n veelsydige ontdekking en ‘n opsie wat ek nog nooit voorheen in my geregte gebruik het nie. Dit is beskikbaar in swart, rooi en wit of ‘n mengsel van die drie. Quinoa is ryk aan proteïene en ‘n goeie bron van voedingstowwe soos mangaan, magnesium en koper. Ons het die heerlikste Vegan Burrito Bowl met Quinoa en `n proteïenryke en veelkleurige Groente Quinoa Slaai gemaak.

Sojajogurt, Sojamelk en Kokosmelk

Baie van my resepte vra vir room, melk of jogurt om dit romeriger te maak. Ek het nou sojajogurt, sojamelk, klappermelk en -room ontdek, wat plantgebaseerde maniere is om dieselfde doel te bereik.

Dit was wonderlik om my kinders weer onder my dak te hê. Ek is ook dankbaar dat Jacques se besoek my geïnspireer het om die veganistiese en glutenvrye uitdaging in Januarie te aanvaar, meer oor plantgebaseerde kos te leer en anders daaroor te begin dink.

Groete

Emsia

Al my kinders weer onder my dak

Al my kinders weer onder my dak

Ek was so opgewonde om al my kinders weer onder my dak te hê. Januarie was gevolglik ‘n vreugdevolle manier om 2023 af te skop. Hulle moes binne een dag van uiterste somertemperature in Suid-Afrika na uiterste wintertemperature in Switserland aanpas. ’n Sprokiesagtige sneeu-ervaring het die ysige weer egter die moeite werd gemaak.

Jacques

Jacques het vroeg in Januarie aangekom. Sy bakkery, The Cinnamon Club, het ‘n besige groeijaar beleef en hy het gevolglik uitgesien na ontspanningstyd in die natuur en inspirasie vir nuwe idees en kreatiwiteit. Net soos die Switsers glo Jacques ook in die positiewe uitwerking van koue winterbaddens op liggaam, siel en gees. Hy het die pragtige natuurlike plekke in die woud geniet waar hy sy winterbad kon neem.

Hy volg ‘n plantgebasseerde en glutenvrye dieet. Die situasie het my aangemoedig om my dieetkennis uit te brei. Sy besoek het mooi saamgeval met Veganuary, wat daarop gemik is om bewustheid te skep oor die gesondheids- en omgewingsvoordele van plantgebaseerde diëte. Ons het lekker saam gekook en kos idees uitgeruil. Ek het in ‘n vorige brief meer gedeel oor hoe Jacques my kosmaak met liefde geïnspireer het.

Al my kinders saam

Christo en sy meisie Simone het ‘n week later opgedaag. Die tienermanewales van my volwasse seuns het uitgekom die oomblik toe hulle saam was. Zander het sy simpel broers geniet. Ek kon net glimlag vir die plaaslike inwoners se vraende kyke na die jong mans se kaalvoete en Crocks in temperature onder vriespunt.

Dit was kosbaar om weer familietyd om ons houttafel deur te bring. Ons het hulle blootgestel aan die Switserse winterkosspesialiteite, Raclette en Fondue. Die verskillende vorme van Switserse kaas skep ‘n aangename geselligheid om die tafel in die ysige wintermaande.

House of Lindt was eerste op ons Zürich-reisplan en ons het ons bestemming per boot op die Zürichmeer bereik. Jacques maak self sy vegan sjokolade en het die inligting oor die kakaoproduksieproses en geskiedenis van sjokoladeverbruik baie interessant gevind. Die res van ons het meer gefokus op Lindt se vele geleenthede om die verskillende soorte sjokolade te proe. Dit was ook die perfekte plek vir geskenke vir Simone se familie in Suid-Afrika.

Die sneeu het ‘n dag voor Jacques se vertrek begin val, en ek was dankbaar om die wonder van die eerste sneeu met hulle te kon deel.

Christo en Simone

Terwyl die sneeu liggies geval het, het ons saam met Christo en Simone Flumserberg toe gery. Dit is ons naaste ski-oord, wat ook verskeie geleenthede bied om in die sneeu te stap. Met ons aankoms was dit -9 grade. Ons het met ‘n skilift hoër op teen die berg gegaan en in die sagte wit sneeu afgestap terwyl ons gekyk het hoe gesinne ski, snowboard en in slees ry.

Weens die erge koue het ons vir die res van die week binnenshuise aktiwiteite gekies. Ons het Zürich se kunsmuseum besoek en oorspronklike werke deur Van Gogh, Monet en Picasso bewonder. Ek het ‘n moderne uitstalling deur Pipilotti Rist geniet. Dit is ‘n pixelwoud wat van kleur verander met die mooiste dromerige musiek as agtergrond. Die kreatiwiteit het ons geïnspireer om vir ‘n dag tuis te bly en te verf terwyl ons na ontspannende musiek luister.

Op die laaste dag voor hul vertrek terug na Suid-Afrika het ons na Konstanz, net anderkant die Duitse grens, gery. Ek wou ‘n Europese spa-ervaring met hulle deel. Ons het na Konstanz Therme gegaan en met ‘n uitsig oor die Bodenmeer in die warm water ontspan. Simone se wens om ‘n Duitse Bratwurst te eet, het ons middagete in die hawe geïnspireer.

My hart was seer maar tevrede toe ek hulle by die lughawe moes afsien. Almal het nuwe energie vir die jaar wat voorlê. Jacques het baie idees vir sy bakkery en Christo moet fokus op die finale jaar en tesis vir sy ingenieurstudies en besluite oor die toekoms.

Ek is dankbaar vir kosbare herinneringe.

Groete

Emsia

In die middel van die vuur

In die middel van die vuur

Familielede is ondersteuners en getuies van ons unieke lewensreise.  Dit is egter pynlik om as ondersteuner en getuie die mense vir wie jy lief is te sien swaarkry. Januarie was ʼn swaarkry maand vir my familie in die Kalahari.  Hulle het in die middel van die vuur gestaan.

Foto deur Altus van Zyl

Januarie 2023

My enigste suster en beste vriendin, Ansa, het Januarie met gemengde emosies ingewag. Vanjaar is die laaste skooljaar vir Marga voordat sy die nes verlaat. Vir Altus is dit egter sy eerste jaar van hoërskool en koshuis in Upington, sowat twee ure weg van hul plaas in die Kalahari. Dit is dus ‘n jaar van verandering vir hul gesin.

Ansa het in die week wat die skole geopen het, in Upington oorgebly om haar kinders te ondersteun waar nodig. Met temperature vêr bo 40 grade, is Upington bekend vir sy uiterste hitte. Sonder lugversorging as gevolg van beurtkrag in Suid-Afrika, is Upington se hitte byna ondraaglik. Tydens Hoërskool Upington se inlywingsprogram vir die graad 8-“botsels”, het die leerlingraad verseker dat die nuwe leerders elke uur water drink om dehidrasie te voorkom.

Wanneer die vuur om jou brand

’n Benoude telefoonoproep het Ansa ingelig dat Andre haar ondersteuning op die plaas ook nodig het. Veldbrande in die omgewing was besig om hul plaas te vernietig. Andre moes die paniek in sy beeste en wild aanskou terwyl hulle verward tussen die swart rookwolke hardloop.

Boere en mense in die omgewing het deur die nag saamgestaan om die brande onder beheer te probeer kry. Meer as die helfte van hul plaas het afgebrand. Ansa het aanvanklik besluit om haar kinders teen die ontstellende nuus te beskerm, maar met sosiale media was dit onmoontlik.

Foto deur Andre van Zyl

Al wat hulle kon doen, was om vir reën te bid. Verlig na `n uitdagende week maar ook met hartseer het hulle die naweek huis toe gekom. Teen die agtergrond van die velde bedek met as, het pragtige wolke in die lug gevorm met tekens van weerlig. Die volgende oomblik het hulle weer rook gesien en besef dat ‘n weerligstraal die veld weer aan die brand gesteek het. Andre en Altus het die hele Saterdagaand probeer om die brand onder beheer te kry. Die 13-jarige “botsel” moes oornag die realiteite van ‘n man in die gesig staar.

Hulp en ondersteuning

’n Plaas met beeste sonder weiding was skielik ’n groot probleem. Gelukkig werk ons Hemelse Vader in ander mense se harte om ons te help en by te staan wanneer ons nie meer kan nie. Andre het uit die bloute ‘n paar oproepe ontvang van mense wat sy nood verstaan het. Een boer het aangebied om beeste met kalwers by hom te koop en ‘n ander boer het gratis weiding op sy plaas aangebied. Daar was ook voerskenkings.

Instansies soos Droogtehulp en Hendrik van Wyk Vervoer het saamgestaan om voer vir boere in nood aan te ry. My trane het sommer geloop toe Ansa die aangehegte video op Facebook met my deel.  https://fb.watch/inskAVmOGC/

Foto deur Hendrik van Wyk Vervoer

`n Gesin wat saamstaan

Ons het nie beheer oor wat met ons gebeur nie, maar ons het ‘n keuse oor hoe ons dit hanteer. Andre se positiewe hantering van die situasie het my verstom. Die kalmte in sy stem tydens sy terugvoerboodskappe het ons ook rustiger laat voel. Hy het vertel hoe warrelwinde soms rook na die lug gestuur het en dat dit pragtig was om te sien. Die swart polle gebrande gras wys weer tekens van lewe en die nuwe groen gee hom hoop.

Ansa en haar kinders het alles moontlik gedoen om hom te help en te ondersteun, want hulle is ‘n gesin wat altyd saamstaan, ook wanneer die uitdagings kom. Hulle help, bemoedig en motiveer mekaar.

Ek het twee jaar gelede `n brief geskryf met die titel  Simbool van hoop in die natuur of in mense nadat die Kalahari gebukkend gegaan het onder `n langdurige droogte. Die sluise van die hemel het oopgegaan en die Kalahari was lowergroen.  Ek bid vir nog so `n wonderwerk.

Dit is gewoonlik wanneer ons in die middel van die vuur staan, wat ons God se stem en liefde die duidelikste kan sien, hoor en ervaar.

Groete

Emsia

Toevoegings tot my Londen herinneringe

Toevoegings tot my Londen herinneringe

Ek het gemengde gevoelens gehad oor Charl se voorstel om Londen gedurende die Kersvakansie te besoek. Daar is soveel plekke wat ek graag vir Zander wil wys. Dit sou egter beteken dat ek die Londen-herinnering boksie wat ek die afgelope 25 jaar baie diep weggebêre het, moes oopmaak. Dit was tyd.

Londen was vir my ʼn groei-tydperk (1995 – 1997)

My twee jaar in Londen in my vroeë twintigs was ‘n tydperk van groei. Hierdie Afrikaanssprekende Kalahari-meisie moes leer om behoorlik Engels te praat en aan te pas by ‘n globale stad met grys en koue weer. Soms het ek onder die SA vlag op Trafalgar square gestaan en bid vir krag vir die dag terwyl die trane oor my wange loop. Ek het vertroosting gevind in die Kiosk-eienaar oorkant die kantoor se “Good morning my, Love.”

Dit is duidelik hoe my Londen-ervaring ‘n voorbereiding vir my lewenspad was. In Londen het ek eers regtig myself en my Skepper leer ken. Ek het geleer dat ons baie meer innerlike krag en deursettingsvermoë het as wat ons dink. Die ervaring het die vlam aangesteek vir my reis, belangstelling in ander kulture en skryf passies. Ek het die noodsaaklikheid geleer om betrokke te raak en oop te wees vir nuwe dinge ten einde in ‘n nuwe omgewing te integreer. Die ervaring het my die geleentheid gebied om in ‘n Londense teater op te tree as deel van ‘n liefdadigheid Pantomime produksie.

Terugkeer na Suid-Afrika (1997)

Ons tydperk in Londen het in September 1997 afgesluit, kort ná Lady Diana se tragiese dood. Vol hoop en drome het ons op die vliegtuig terug na Suid-Afrika geklim. Die aanpassing terug in Suid-Afrika was egter baie meer ingewikkeld as wat ons verwag het. Ons, en baie dinge in Suid-Afrika, het in hierdie twee jaar aansienlik verander. Ons het twee pragtige seuntjies gekry, maar ons huwelik het aansienlike krake begin toon en in 2005 geëindig.

God het my geseën met ‘n nuwe lewensmaat en ‘n derde seun Zander. Zander geniet dit ook om nuwe plekke en kulture te verken, en die vooruitsig van ‘n besoek aan Londen tydens Kersfees en Nuwejaar vieringe in Skotland het hom opgewonde gemaak.

Londen 2022 Kersvakansie

In Switserland kyk ons Britse televisie en die taal, kultuur en humor is gevolglik bekend. Ons het die hele Crown en ander Britse Netflix-reekse soos Outlander gekyk. Brittanje het ‘n aansienlike groot impak en invloed op Suid-Afrika gehad en voel gevolglik soos ‘n familielid.

Ek en Londen het baie verander in die afgelope 25 jaar, maar daar was ‘n bekendheid in ons weersiens. Die somber en koue weer en bekende historiese landmerke het goeie herinneringe gebring. Al die Kersliggies in Oxfordstraat en Covent Garden het vir opwinding gesorg. Ons het ‘n Engelse Scrabble in Hamley se speelgoedwinkel gekoop, waarmee Zander vir my en Charl ore aangesit het.

Ons het ‘n tipiese Britse komedie-teater produksie in die West End beleef en tradisionele vis en skyfies met baie sout, asyn en tamatiesous geëet. Die Winter Wonderland in Hyde Park was ‘n skouspel. Ons het Buckingham-paleis besoek om die Changing of the Guards te sien. Amptenare het dit egter ongelukkig gekanselleer weens die reën. Ons het ook ‘n dag saam met vriende van Charl deurgebring wat ons twintig jaar laas in Suid-Afrika gesien het.

Charl het egter die dag ná Kersfees griepsimptome gehad. Na ernstige oorweging het ons besluit om huis toe te kom. Ek en Zander was siek met griep voor ons vakansie, en ons het verstaan hoe sleg en broos ‘n mens voel. Ons was teleurgesteld om die ABBA-konsert en die Edinburgh Hogmanay te mis, maar het deernis met Charl gehad.

Ons het Britse tradisies saam huis toe gebring

Toe ons by die huis kom, het Zander voorgestel ons maak die High Afternoon Tea Engelse tradisie deel van ons vakansie roetine. Ek het besluit dis tyd dat hy kook- en bak vaardighede aanleer, veral omdat hy permanent honger is. Gevolglik het ons die res van die vakansie spandeer om tee en skons te eet terwyl ons Scrabble gespeel het.

Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my genoop het om my Londen-herinnering boksie weer oop te maak en nuwe herinneringe saam met Charl en Zander te bou.

Groete

Emsia

Kies om moontlikheid en potensiaal te sien

Kies om moontlikheid en potensiaal te sien

Ek het onlangs ‘n onverwagse boodskap van ‘n joernalis van die Suid-Afrikaanse tydskrif Rooi Rose ontvang. Sy was besig om ‘n artikel te beplan oor maniere om die vele fasette van die lewe te vier.

Sy het ‘n paar woorde van my nodig gehad oor die viering van familie. Haar versoek het tot verskeie van my passies gespreek.

Dewitt Jones, ʼn National Geographic fotograaf

Haar inspirasie vir die artikel was ‘n video deur Dewitt Jones, ‘n National Geographic fotograaf met die titel, Celebrate what is right with the world. Ek het tien jaar gelede my eerste Dewitt Jones video gesien met die titel, There is more than one right answer. Ek het dit sedertdien seker al vyftig maal gekyk en tydens die fasilitering van strategiese beplanningsessies vir organisasies gebruik. Op ʼn persoonlike vlak was Dewitt soos ʼn mentor vir my en sy wysheid en insig het tot my gespreek.

As ‘n klein seuntjie het Dewitt Jones inspirasie gevind in National Geographic tydskrifte. Pragtige foto’s het vir hom die moontlikhede gewys wat die wêreld bied. In sy rol as fotograaf het hy geleer dat ‘n mens kreatiwiteit moet gebruik en lense en perspektiewe moet verander totdat jy potensiaal in ‘n situasie raaksien. Sy woorde was:

Through that lens of Celebration, I saw that there is far more right with the world than wrong with it. Always something to celebrate and be grateful for.

Ek deel van Dewitt se wysheid wat tot my spreek.

Ons moet leer om moontlikhede en potensiaal in situasies raak te sien

As mense is ons geneig om vinnig te wees om fout te vind. Boonop konfronteer die media ons ook voortdurend met vrees, skaarste en mededinging. Hierdie neiging beïnvloed later die gesindheid en manier waarop ons na die wêreld om ons kyk.

Ons moet kies om moontlikhede en potensiaal raak te sien en glo dat dit daar is. As ons glo dat die regte dinge en mense op die regte tyd daar sal wees, sal ons dit begin raaksien. Sodra ons moontlikhede begin sien, gee dit ons die energie om oplossings te vind en deur verandering te gaan.

Verandering skep momentum en geleenthede. Ons kan nie verandering beheer nie, maar moet die energie daarvan inspan om ons te neem waar ons wil wees.

Ons moet vreugde vind in ons dagtaak.

Dit is inspirerend om mense dop te hou wat met passie en vreugde werk. Sommige mense is gelukkig om werk te vind wat ooreenstem met hul liefde en belangstelling. Hulle kry hul energie uit wat hulle doen.

Baie ander verrig egter ‘n dagtaak wat hulle uit nood eerder as keuse geneem het. Sommige mense kry dit reg om hul dagtaak met ‘n positiewe gesindheid uit te voer omdat hulle deur ‘n lens van dankbaarheid kyk en fokus op die geleentheid om ‘n verskil te maak.

Om op die regte manier na situasies te kyk, is slegs moontlik as jy elke dag met die nodige energie en passie begin. Ons moet dus tyd maak vir daardie dinge wat ons vreugde en energie gee sodat dit kan oorspoel na ons dagtaak.

Geleenthede en uitdagings dans saam

Die versoek om iets te skryf oor hoe ons ons gesin en familie vier, het my genoop om te besin oor die afgelope vier jaar. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat geleenthede en uitdagings saam dans. ‘n Geleentheid het oor ons pad gekom, maar het ons as gesin en familie geweldig uitgedaag. As ek egter die regte lens gebruik, kan ek sien hoe die uitdagings geleenthede vir ons as individue en as familie geskep het. Ek deel hieronder my bydrae tot die artikel vir die Januarie 2023-uitgawe van die Rooi Rose tydskrif.

Ons vier mekaar as individue en familie

’n Uitsonderlike werksgeleentheid in Switserland het ons pad gedurende 2019, gekruis. Geleenthede en uitdagings dans egter saam. Charl moes in ʼn nuwe Duitssprekende werksomgewing en Zander by ‘n internasionale skool met Duits en Spaans as nuwe tale, aanpas. Ek moes my twee oudste seuns en familie in Suid Afrika agterlaat. Jacques, ’n tweedejaarstudent, en Christo, ’n matrikulant, moes vinnig op hulle eie voete staan.

Afstand en uitdagings het ons gehelp deur nuwe lense na mekaar kyk. Met nuwe perspektief sien ons nou innerlike krag en deursettingsvermoë, in plaas van tekortkominge, raak. Ek vertel my hartsmense hoe trots ek is as ek sien hoe hulle kreatiwiteit inspan om moontlikhede raak te sien en hulle talente aanwend om ʼn verskil te maak. My seuns sê meer gereeld: “Dankie Ma, ek waardeer dit. Ons mis Ma. Ek is lief vir Ma.”

Ek deel my hart in my briewe huis toe aan familie en vriende en geniet die gesprekke, boodskappe, foto’s en musiek wat ek in ruil ontvang. Ons het mekaar op ‘n dieper vlak leer ken en waardeer. Ek beskou my ma se warm stem vol liefde en om saam met haar na RSG se eredienste te luister, as ʼn voorreg. My suster se humorsin is medisyne vir my siel.

Met aanraking as liefdestaal het my hart gejubel toe ek my seuns na die Covid periode op die lughawe weer styf teen my kon vasdruk. Ons is Suid Afrika toe met tasse vol geskenke spesiaal vir elkeen uitgesoek. Ons vier mekaar deur kosbare tradisies, stories te deel en lekker saam te lag en kuier. Dit is pure genot om saam nuwe plekke en dinge te ontdek en so herinneringe te bou.

Familielede is ondersteuners en getuies van ons se unieke lewensreise. Ons is dankbaar vir en vier mekaar as individue en familie!

Groete

Emsia

Advent lig in die donkerte

Advent lig in die donkerte

Die wintermaande in Switserland is koud, lank en donker. Nuusberigte kleur die komende winter se prentjie selfs donkerder in vanweë Europa se afhanklikheid van Russiese energie en die afnemende reserwes.

Ek het egter geen beheer oor hierdie dinge nie en probeer eerder op die lig fokus. Deur die jare het die Switsers baie tradisies ontwikkel om lig en geselligheid gedurende die winter te skep. Ons maak ‘n punt daarvan om die lig en aktiwiteite wat energie skep, te soek.

Rabechilbi in Richterswil

In November vier die Switserse die Räbechilbi (raapfees). Ons het die grootste fees in Richterswil bygewoon. Inwoners het ontwerpe op die raapwande uitgekerf en hul balkonne en tuine met raaplanterns versier.

Aan die begin van die feesvieringe het ons glühwein en knoffelbrood geniet terwyl ons na die dorpsblaasorkes geluister het. Toe die organiseerders die dorp se ligte om 18h00 afskakel, het die raaplanterns die dorpie in ‘n wonderwêreld omskep. Die parade, waaraan die kinders ook met hul tuisgemaakte raaplanterns deelgeneem het, het ons asem weggeslaan.

Adventseisoen

Lucy Kersfeesliggies in Bahnhofstrasse

Die tradisie om “Lucy”-kersliggies in Bahnhofstrasse aan te skakel, skop die Adventseisoen in Zürich af. Op die laaste Donderdag in November kom baie mense bymekaar om te sien hoe hulle die 23 000 ligkristalle wat oor ’n kilometer versprei is, aanskakel. Sedert ons in Zürich woon, het ons hierdie geleentheid elke jaar bygewoon. Al die liggies, tesame met die vrolike atmosfeer, steek hoop en positiwiteit binne in my aan.

Kersmarkte en fondue

Die kersmarkte open op dieselfde aand as wat die kersliggies aangeskakel word. Daar is verskillende kersmarkte in Zurich, waarvan die grootste naby die Zürichmeer is. Sowat 100 markstalletjies vorm ‘n gesellige Kersdorpie teen die skouspelagtige agtergrond van die Operahuis.  Mense kuier om vure terwyl hulle glühwein drink en straatkos geniet.

Soos elke vorige jaar het ’n vriend vir Zander na ’n ysskaats verjaarsdagpartytjie die laaste Saterdag in November by die Dolder-opelug-ysskaatsbaan genooi. Dit is een van die grootstes in Europa, en hulle skaats om ‘n reuse Kersboom met pragtige liggies.

Ons het nou al ’n tradisie dat ek en Charl die Kersmark besoek terwyl ons vir Zander wag. Daarna gaan ons vir fondue na Chäsalp om Charl se verjaardag te vier. In die winter ontstaan tydelike houthutte vir mense om fondue en raclette te geniet. Kaas is deel van die Switserse kultuur.

Adventskrans

Die Adventskrans is ‘n belangrike deel van die Adventseisoen. Daar is ‘n verskeidenheid adventkranse te koop en baie geleenthede om jou eie te maak. Advenskranse en kerse is vol simboliek gekoppel aan die Kersseisoen.

Die krans, gemaak van verskeie immergroen plante, dui op voortdurende lewe. Die sirkel van die krans, wat geen begin of einde het nie, simboliseer die siel se onsterflikheid en die ewige lewe wat ons in Christus vind.

Elkeen van die vier kerse verteenwoordig die vier weke van Advent en het ‘n spesiale betekenis. Hulle simboliseer hoop, geloof, vreugde en vrede. Elke Sondag word een kers aangesteek. Hulle skyn helder ten spyte van die duisternis en herinner ons daaraan dat Jesus gekom het as die lig van die wêreld.

Lig in die duisternis

Ons ervaar almal iewers gedurende ons lewens duisternis en baie mense voel dat die donkerte in hul situasies en die wêreld hulle wil oorweldig. My wens vir die Kerstyd is dat ons sal bly soek na die lig in die donker. Verder wens ek ons kan lig aan ander bring sodat hulle geleenthede kan sien en elke dag hoop en positiwiteit kan vind ten spyte van die lewe se uitdagings.

Geseënde Kersseisoen vir jou! Mag dit ‘n tydperk vol lig wees.

Groete

Emsia

Fassinerende tegnologiese ontwikkelings

Fassinerende tegnologiese ontwikkelings

Dit is moeilik vir my kinders om te glo dat alledaagse items soos persoonlike rekenaars, selfone, videospeletjies en digitale polshorlosies eers in my leeftyd bekendgestel is.

Ek wonder watter huidige tegnologiese ontwikkelings verandering in my kinders se lewens sal bring.

Fassinerende tegnologies ondersteunde ontwikkelings het onlangs my pad gekruis.

Elektriese motors

In Switserland versnel die toename in elektriese voertuie teen ‘n hoë tempo. Tans is 26% van nuutgeregistreerde motors elektriese herlaaibare modelle. Die doelwit is om hierdie persentasie te verhoog tot 50% in 2025. Die regering se voorgestelde omgewingswetgewing om CO2 aansienlik te verminder, dryf hierdie doelwit.

Gevolglik sien ons al hoe meer Tesla-voertuie op die pad. Een van Charl se kollegas wat ‘n Tesla besit,  gebruik die opsie waar die voertuig self ry. Hy erken dat dit moeilik was om beheer oor te gee. Die geleentheid wat dit vir hom skep om op pad kantoor toe te kan werk, maak hierdie opsie egter die moeite werd.

Die jongste neiging is ook om voertuie te bruikhuur eerder as om dit te koop. Bruikhuur laat ‘n mens toe om ‘n splinternuwe model te bestuur wat deur die vervaardiger se waarborg gedek word. Dit skep ook die moontlikheid om in ‘n duurder, beter toegeruste voertuig te reis as wat jy andersins sou kon bekostig.

Gasvryheid industrie

’n Vriendin, Linda, het onlangs by die Zürich lughawe oornag om ’n vroeë aansluitingsvlug te haal. Sy het by die Alpine Garden – Capsule Hotel oorgebly. Die konsep het my verstom.

Gaste oornag in ‘n kapsule. Jou bed is vir jou privaatheid, maar die res van die pragtig versierde areas is vir gedeelde gebruik. Die badkamer het selfs ‘n jacuzzi. Hulle het alle prosesse geoutomatiseer, insluitend inklok, die ontsluiting van jou kapsule met ‘n kode en ontbyt.

Ons kan baie toekomstige veranderinge in die gasvryheidsbedryf verwag. Daar is ‘n baie groter fokus op outomatisering, sensitiwiteit vir omgewingsimpak en doeltreffendheid. Die Airbnb-konsep, wat in 2008 bekendgestel is, was reeds ‘n ander manier van dink. Ek vermoed ons kan baie meer veranderinge in hierdie ruimte verwag.

Cryptocurrency

Deesdae belê baie jong mense hul geld in cryptocurrency (crypto). Ons het eiendom, aandele of pensioenfondse as beleggingsgeleenthede gesien.

Crypto is ‘n digitale betaalstelsel wat nie op banke staatmaak om transaksies te verifieer nie. In plaas daarvan dat fisiese geld in die regte wêreld uitgeruil word, bestaan cryptocurrency-betalings bloot as digitale inskrywings tot ‘n aanlyn databasis wat spesifieke transaksies beskryf.

Bitcoin was die eerste gedesentraliseerde crypto-geldeenheid. Sedert Maart 2022 is meer as 9 000 ander crypto-geldeenhede in die mark. Crypto fluktueer baie en ek moet bieg dat my senuwees nie sterk genoeg is vir hierdie tipe beleggings nie.

Metaverse

Die Metaverse-konsep is een wat my regtig fassineer en ek het onlangs ’n voorbeeld daarvan te siene gekry.

Soos ek dit verstaan, is Metaverse ‘n gedeelde, aanlyn ruimte waar gebruikers met mekaar en rekenaargegenereerde voorwerpe en avatars interaksie het. Dit is ‘n virtuele wêreld wat langs die fisiese wêreld bestaan. Dit skep ‘n nuwe manier vir mense om die internet te gebruik en verander webinhoud van 2D na driedimensionele voorwerpe. Gebruikers sal ‘n visuele en fisiese ervaring hê deur virtuele realiteit-kopstukke te gebruik. Metaverse is dus ‘n plek waar virtuele 3D-wêrelde integreer.

Metaverse sal sy eie ekonomiese stelsel hê. Mense kan metaverse eiendom besit en ruimtes ontwerp op grond van kreatiwiteit en verbeelding. Die platform sal sy eie geldeenheid hê. In die Metaverse-wêreld sal die stelsel NFT’s gebruik as digitale voorstellings van tasbare items, soos kunswerke en ander tasbare bates. NFT’s sal die koop- en verkoopproses verbeter en bedrogrisiko verminder.

Ek en Zander het na ‘n uitstalling by die Zürich-lughawe gaan kyk, waar ons ‘n virtuele wêreld kon besoek en waar daar NFT’s uitgestal was.

Dit is vir my moeilik om my kop om hierdie futuristiese konsep te kry. Christo en Zander het graag rekenaarspeletjies soos Minecraft gespeel, waar spelers virtuele items bou vir hulle avatars se gebruik. Vir my is dit die naaste voorbeeld wat ek het om Metaverse te visualiseer.

Tegnologiese innovasie, net soos kuns, is ‘n produk van die menslike verbeelding en het ’n reuse impak op die samelewing. Al sukkel ek soms om by te bly met die tegnologie, fassineer die sosiale impak van hierdie veranderinge my geweldig.

Groete

Emsia