Braai is ‘n Suid Afrikaanse tradisie

Braai is ‘n Suid Afrikaanse tradisie

Die liefde vir braai is een van die min dinge wat alle Suid Afrikaners ongeag ras, taal of kultuur, deel. Braai is ʼn Suid Afrikaanse tradisie. Daarom staan Erfenisdag in Suid Afrika ook bekend as Braaidag.

Braai en BBQ is nie dieselfde nie

As ek braai aan my nie-Suid Afrikaanse vriende moet verduidelik, sal ek dit as volg doen. Alhoewel braai losweg beteken dat kos oor die kole gaargemaak word, is braai nie sinoniem met barbeque (BBQ) nie.  Braai kan enige tyd van die dag en seisoen plaasvind.  Suid Afrikaners maak selfs koffie en ontbyt op kole as ons kamp.  Daar kan gebraai word vir weeksaand-etes en daar word selfs soms na ʼn aand uit gebraai.

Switserland het ʼn BBQ seisoen

In Switserland is daar ʼn definitiewe BBQ seisoen gedurende die somer.  Gedurende Mei-maand begin die winkels toebehore en voedsel items wat duidelik BBQ gemerk is, uitpak.  BBQ items is net tot na die somervakansie beskikbaar.  Gedurende September maak al die BBQ-items weer plek vir Fondue en Raclette kaas wat die Switsers se tradisionele manier is om gesellig saam te kuier. 

Hier in die buiteland, kyk ons met nuwe oë na braai. Dit is soos ʼn naelstring wat jou aan jou mense, kultuur en tradisie vasbind. Met Charl as vegetariër, het ons nie in Suid Afrika so gereeld soos die meeste ander mense gebraai nie. In Switserland het ons die situasie reggestel en braai is nou hoog op ons agenda.

BBQ opsies in Switserland

In vergelyking met Suid Afrika is die vleisopsies vir braai baie beperk en ongelooflik duur.  Opsies bestaan hoofsaaklik uit varkwors, gemarineerde varkvleis, hoender en hamburger patties.  Daar is gelukkig ʼn groot verskeidenheid vegetariese braai opsies.  Daar is verskillende soorte kase asook ander vegetariese plaasvervangers vir vleis.  Ons probeer nou stelselmatig die interessante produkte uit.

Ons het ons braaitradisie in Switserland ingewy met ʼn weggooibare braai, wat ʼn gewilde vorm van braai in die somer langs die meer is.  Ons woon op die eerste vloer van ʼn woonstel kompleks en het die weggooibare braai op die tafel op ons stoep uit probeer.  Die reuk en smaak saam met Zander se opgewondenheid was genoeg motivering om ʼn weber braai, wat met charcoal werk, te gaan koop.

Dit het ons ʼn rukkie geneem om op spoed te kom. Hier is byvoorbeeld nie vuuraanstekers nie, maar ons het plaasvervangers gekry en in die proses nuwe Weber verwante produkte ontdek.

Ons braaiery het probleme veroorsaak

Een Sondagmiddag het iemand ons voordeurklokkie gelui. Dit was ons Switserse buurvrou in haar rolstoel. Gelukkig het Charl die deur oopgemaak, en ek het vanuit die kamer geluister. Toe sy haar sin begin met: “Ek hou nie daarvan om te kla nie, maar …” het ek my asem opgehou. Sy het gekla oor die braai en die rook wat by haar huis inkom. Sy het ook die woonstelkompleks se huurooreenkoms saamgebring om te wys dat net gasbraaiers toegelaat word. Ons het nog nooit die fynskrif in Duits gelees nie.

Ons het maar weer die huurkontrak op die rekenaar gesoek, die reëls vertaal vanuit Duits net om te sien dat sy reg is.  Dit was ʼn bitter pil, maar ons was verplig om met ons hoed in ons hand terug te gaan.  ʼn Jammer briefie en ʼn pakkie rooibostee moes help om die krapperige situasie agter ons te sit.

Gasbraai tel nie as braai in Suid Afrika nie

In Suid Afrika word gas-braai nie eintlik as braai getel nie.  Die Engelse uitdrukking lui “beggars can’t be choosers” en Charl het ‘n gasbraaier bestel.  Om die Weber gasbraaier aanmekaar te sit was ʼn hele Saterdagprojek op sy eie.  Gelukkig het Charl nou al goeie ervaring met hierdie tipe van bouprojekte. 

Ons het nou al ʼn paar maal ons nuwe gasbraaier uit probeer. Dit werk heel goed en bied ons geleentheid om met verskillende items te eksperimenteer. Ons het al tuisgemaakte pizzas probeer, maar die proses het nog ruimte vir verbetering.

Groete

Emsia

My man geniet sy e-fiets meer as stap

My man geniet sy e-fiets meer as stap

My man hou nie van stap nie. Hy het hierdie feit baie duidelik aan my gemaak terwyl ons nog uitgegaan het. Hy het ‘n paar punte in my boeke verloor omdat ek daarvan hou om te stap. Charl se onlangse elektriese fietsvoorstel het hom egter ’n paar bonuspunte besorg.

Zander is nou op daardie ouderdom waar hy sy vriende se geselskap en aktiwiteite bo sy ouers verkies. Sy ouers moes dus iets kry om hulself besig oor naweke mee besig te hou.

E-fietse is gewild in Switserland

E-fietse word al hoe meer gewild in Switserland, met een uit elke sewe fietse wat elektriese fietse is. Die e-fiets stel fietsryers in staat om meer veeleisende roetes en groter afstande op hul fietse aan te pak as wat hulle op ‘n padfiets sou kon doen.

Dit is ‘n bonus wanneer die fiets se elektriese motor inskop en jy hulp het om ‘n heuwel uit te klim. Die fietsryers wat gewone fietse ry raak geïrriteerd wanneer ’n e-fiets by hulle verbyry. Ons het geleer om meer respekvol te wees en agter hulle te bly op die opdraande gedeeltes.

Switserland is goed ingerig vir fietsry

Switserland maak baie goed voorsiening vir fietsryers. Daar is toegewyde fietspaadjies, asook fietsstaanders oral beskikbaar. Die Kamoot App op my selfoon wys al die fietsry- en staproetes. Hierdie fietsroetes neem fietsryers deur die mooiste landelike dele en verseker dat hulle van die hoofpaaie af bly.

Charl ry werk toe met sy fiets

Die verkeer in Zürich is swaar, soos in die meeste stede. Fietsry is een van die beste maniere om deur die stad te kom. Charl het begin om met die fiets werk toe te ry en vorm deel van ‘n weeklikse oefenroetine. Fietsry is ‘n goeie manier om in ‘n omgewingsbewuste land te reis.

Ons verken die omgewing op ons fietse

Fietsry is ‘n lekker manier om Switserland se pragtige landskappe te ervaar en die rustigheid van die platteland te geniet. Ons gunsteling is die pad na Rapperswil, ‘n Middeleeuse dorpie aan die onderkant van die Zürich meer. Ons geniet dit om deur die woud al langs die meer te ry om daar te kom. Op ons reis sien en ruik ons die perde, beeste en geel kanolalande. In Rapperswil geniet ons ʼn Egg Mcmuffen en koffie langs die meer, voor ons die opdraand terug huis toe aanpak.

Fietsrytoerisme

Fiets-toerisme is deesdae ʼn gewilde manier om vakansie te hou.  Dit behels dat jy die omgewing verken deur met jou fiets van een dorp na ʼn volgende te ry.  As alternatief kan jy op een plek bly en daguitstappies met jou fiets maak.  Daar is ʼn fietsryroete rondom die Bodenmeer wat ons baie graag wil doen.  Die pad neem jou deur Duitsland, Oostenryk en Switserland met asemrowende uitsigte oor die meer en die Alpe.

Ek is mal oor spoed en het al 60km/h op my fiets bereik. Charl het my egter gewaarsku dat as ek val of ‘n spoedboete kry, ek ‘n paar punte in sy boeke sal verloor!

Groete

Emsia

Zug verras ons met kersies en ‘n scooter

Zug verras ons met kersies en ‘n scooter

Groot was my vreugde toe ek kersies in die Switserse winkels begin sien.  Ek vind uit dat Zug, wat naby aan ons geleë is, bekend staan as ʼn kersiestad. Kersies is meer as 1800 jaar gelede deur die Romeine in Switserland gevestig. Daar word al die afgelope 400 jaar, jaarliks ʼn kersiemark in Zug gehou. Zug is ook bekend vir sy kersietert en sy kersiebrandewyn (Kirsch).

Ons uitstappie na Zug het ons verwagtinge oortref. By die mark was daar baie soorte kersies, ander rooi vrugte en verwante produkte. Ons het met ‘n hele boks vol soet kersies en kersiekonfyt weggestap.

Kersies herroep kosbare herinneringe

Helderrooi, sonryp kersies verlei my. Ek is mal oor hul vorm, kleur en tekstuur en die smaak is hemels. In Suid-Afrika het hul skaarsheid bygedra tot die aanloklikheid. Ek het kosbare herinneringe gehad aan die pluk van kersies in Ceres saam met die familie tydens ‘n Kersvakansie. Ons is huis toe met moeë kinders en sakke vol kersies.

Kersies was daardie jaar se Kersete-tema. Met almal se kreatiewe voorstelle het al die disse op die Kersspyskaart kersies bevat. Daar was kersiekonfyt by die potbrood, ‘n kersie-en-brandewynsous by die steak en ‘n vrugteslaai met kersies. Die ete is afgerond met ‘n sneeuwit pavlova met helderrooi kersies as nagereg. Na Kersfees is ons almal vir ‘n jaar van kersies genees!

Baie buitelanders woon in Zug

Zug is ‘n pragtige dorpie langs ‘n turkoois meer. In Switserland het elke kanton sy eie belastingkoerse. Zug is die kanton met die laagste belastingkoers. Dit is dus gewild onder buitelanders en het ‘n internasionale skool. Zug het ’n Switserse atmosfeer, maar meer mense praat Engels as in die ander dorpe.

Zug, wat al 800 jaar bestaan, het ‘n pragtige ou stad met paaie uit klip en historiese geboue. Musikante met ‘n trekklavier voor ‘n restaurant het bygedra tot die atmosfeer. Hulle het hul gaste met musiek en drankies verwelkom. Ons het die dag met bier en pizza by ‘n Italiaanse restaurant langs die meer gevier. Uiteet in Switserland is ‘n luukse.

Zugersee verras vir Zander met ʼn scooter

Zander het voorbereid in sy swembroek gegaan. Met ons aankoms het ons op die rotse langs die meer gaan sit om al die eende en hul donsige baba eendjies dop te hou. Zander het die ysige water aangedurf en genoeg aangepas om te kon rondswem.

Die volgende oomblik sien hy iets wat hom opgewonde maak – ’n scooter wat net soos sy scooter gelyk het. Nadat hy ingeduik het, het hy die scooter, bedek met groen mos, langs die meer neergesit. Hy was van plan om die scooter skoon te maak en huis toe te neem.

Zug het baie meer opgelewer as waarvoor ons gehoop.  Die pragtige dorp het al ons verwagting oortref.

Kersiegroete

Emsia

Pret in die golwende heuwels van Heidiland

Pret in die golwende heuwels van Heidiland

Verskillende tale, kulture en landskappe in Switserland bied ‘n verskeidenheid ervarings. Ons besoek aan die oostelike deel van Switserland was besonders. Die besoek het die bykomende voordeel gehad dat ons die naburige Oostenryk, Duitsland en Liechtenstein in een dag besoek het.

Appenzell

Groen golwende heuwels kenmerk die Appenzell-landskap. Ons kon ons voorstel hoe Heidi en Peter tussen die bokke lag. Ons het ‘n kabelkar gevat tot by Ebenalp, die noordelikste piek van die Appenzeller Alpe. Baie mense valskermsweef vanaf die top van die berg. Hulle het ons senuwees getoets met hul opgewonde en senuweeagtige gille toe hulle van die rand af gespring het om die 770m af te vlieg.

Ons eet soos Heidi kaas in ‘n houthuisie

Ons besoek aan die bekende Appenzeller-kaasfabriek was ‘n aangename ervaring. Ons was verstom deur die verskeidenheid kase wat gemaak is met verskeie kombinasies van gemengde kruie. Ons het onsself bederf met fondue en ‘n kaasbord vergesel van tuisgebakte brood en vrugteblatjang vir middagete. Die restaurant het soos ‘n Heidi-huisie in die berge gelyk, met alles van hout.

Ons het Appenzeller kruielikeur gekoop. Dit word steeds volgens ’n ou familieresep gemaak en bevat 42 soorte kruie.

Heidiland

Die Heidiland-streek het die Heidi-tema vir toerismedoeleindes benut met ‘n Heidi-huis in Maienfeld en Heidi-staproetes. Een van Switserland se bekende natuurlike warmwaterbronne, Bad Ragaz, is ook in die streek. Ons het die Tamina-fonteine besoek wat Bad Ragaz voed.

Die stoom van die warm water het ‘n mistieke atmosfeer geskep. Ons het betyds so klein gevoel toe ons lees dat mense hierdie fonteine al in 1240 ontdek het. Mense het ver gereis en tot tien dae lank in die water gesit met groot geloof in die genesende krag van die water. Die sketse van die baddens wat van klip gebou is, het my laat dink aan die baddens in die Bybelse tyd wat die siekes gereeld besoek het.

Oostenryk en Duitsland

Ons was baie naby aan die grens en kon nie die versoeking weerstaan om deur Oostenryk en Duitsland te ry nie. In Oostenryk het ons ‘n pragtige natuurreservaat verken. Die watervalle tussen die herfskleurige bome het ons asem weggeslaan.

In Duitsland het ons gaan inkopies doen. Baie items is baie goedkoper in Duitsland as in Switserland. Naweke oorstroom die Switsers die Duitse dorpe naby die grens. Hulle trek voordeel uit die laer pryse en die 19% BTW-vrystelling.

Lichtenstein

Op pad huis toe het ons Vaduz, Lichtenstein se hoofstad, besoek om na die kasteel te kyk. Dit is in die 12de eeu gebou en is die amptelike woning van die Prins van Liechtenstein. Lichtenstein is die sesde kleinste land ter wêreld en ‘n monargie.

Liechtenstein het ekonomies een van die hoogste BBP per capita ter wêreld. Dit het ‘n beduidende finansiële sektor in Vaduz. Terwyl ons by die kasteel gestaan het, het ‘n blink swart motor deur die hekke gery en ons verbeelding aan die raai gehou.

Dit is ‘n groot voorreg om Switserland beter te leer ken. Ons gebruik ons geleentheid om die verskillende dinge te ontdek wat elke area en elke seisoen bied. Ek deel in ‘n vorige brief meer oor ons ervaring van die Franse en Italiaanse dele van Switserland in die somer.

Groete

Emsia

Switserland se Franse en Italiaanse streke

Switserland se Franse en Italiaanse streke

Nadat ons ‘n paar waarskuwingsligte by ons almal sien brand het na ‘n uitdagende jaar, het ons besef dat ons ‘n doeltreffende pitstop-vakansie nodig het ondanks maskers, reëls en verblyf- en vervoerkansellasies wat ingestroom het weens Covid-19-beperkings.

Ons het die geleentheid gehad om die verskillende streke van Switserland te verken en te ervaar. Zürich, waar ons woon, is in die oostelike Duitssprekende streek. Ons wou die Wes-Franse kantons en die Suid-Italiaanse kanton Switserland sien en besoek. Elke area het sy skoonheid en bekoring.

Die Franse streek van Switserland

Die Franse deel van Switserland staan bekend as Romandy. Valais, Vaud en Geneva is drie van die grootste wynproduserende streke in Switserland. Die groen wingerde langs die oewer van die blou waters van die Genèvemeer skep ‘n pragtige prentjie. Ons het baie ooreenkomste tussen die Franse en Suid-Afrikaners ervaar, soos passie en sterk wil. Charl werk saam met die Franse. Hy sê al kan hy nie hul taal verstaan nie, is daar iets in hul wese wat hy mee kan identifiseer.

Ons het in die Rhônevallei gebly. Die Rhône-gletser het hierdie vallei gevorm, maar het weens klimaatsverandering gesmelt. Die Rhônerivier is ‘n melkerige groen kleur, en die wingerde is in rye wat hoog op die berg strek. Ons het een oggend oor ‘n brug gestap wat oor ‘n 950m hoë rotsskeur gebou is. Ons het op ‘n staproete tussen die wingerde af na ‘n Middeleeuse dorpie gestap en yskoue appelsap as ‘n verversing in die hitte geniet.

Die Italiaanse streek van Switserland

Ticino is die Italiaanssprekende streek in die suide van Switserland. Die naburige Italië het die argitektuur, kos en kultuur geïnspireer. In Bellinzona, die hoofstad van Ticino, het ons pragtige Middeleeuse kastele besoek. Ons het in Lugano gebly, wat ‘n vakansiedorp-atmosfeer het. Dit is reg langs ‘n blougroen gletsermeer met ‘n lieflike waterfront-promenade.

Ons het in die meer geswem, trapbote gehuur en op Zander se versoek probeer Stand Up Paddling (SUP) doen. Ons het die berg met die kabelbaan opgeklim om die wêreld van bo af te sien. Op my aanbeveling het ons afgestap. Met die hitte en al die klagtes was dit duidelik dat ek nie in aanmerking kom vir die spanlid van die week-toekenning nie. Ek het gevolglik pizza en gelato roomys as ‘n vredeoffer voorgestel. Covid-19-beperkings het gelei tot minder toeriste en kort toue.

Como in Italië

Ons het ʼn kans gewaag in Covid tye en met die trein oor die grens gery na Como in Italië. ‘n Hittegolf het saam met ons in Italië arriveer. Die Italianers is passievolle en gasvrye mense wat die mooi en lekker dinge in die lewe geniet en waardeer.  Ek kon nie ophou kyk na al die mooi ou geboue en villas met kleurvolle en goedversorgde tuine nie.  Hulle is deur die rykes in die Romeinse tyd gebou en dien deesdae as toeristeverblyf.

Vroegaand as die son begin sak en die lug koeler word, kom almal uit hulle leefareas met die mooiste klere en geure.  Die meisies is pragtig in hulle kleurvolle en vroulike rokke en rooi lippe. Die jong mans vertoon hulle mooi bruingebrande en geoefende lywe in hulle wit katoenhempde.  Hulle kuier gesellig tot laataand met mooi musiek verskaf deur straatmusikante. Vroegoggend hang die reuk van varsgemaalde koffie by al die straatkafeetjies en die mossies staan astrant nader vir hulle daaglikse brood.

My vergelyking tussen Switserland en Italie

Op pad terug huis toe het ek probeer om die verskil in ervaring tussen Switserland en Italië uit te klaar. Switserland is soos daardie baie georganiseerde gesinne of vriende wat jy besoek. Alles is ordelik en gestruktureerd. Die tuin word goed onderhou, en die meubels is duursaam. Etenstye is op ‘n vasgestelde tyd. Die etes is gesond en gebalanseerd.

Italië is soos spontane familie of vriende. Daar is baie vryheid om te kom en gaan soos jy wil. Die huis is vol kunswerke en detail. Die besoek is vermaaklik, en etes word gemaak met beskikbare bestanddele wanneer almal honger is.

Die een besoek is nie noodwendig beter as die ander nie. Dit is net anders.

Ciao

Emsia

Mense wat liefhet en omgee soos familie

Mense wat liefhet en omgee soos familie

Familie is nie altyd bloed nie. Familie verteenwoordig daardie mense wat kies om jou in hul lewens te hê. Hulle aanvaar jou net soos jy is. Hierdie mense sal enigiets doen om jou te sien glimlag en deur dik en dun by jou te staan. Soms kruis hulle ons paaie op onverwagte maniere. Hulle is geskenke van Bo.

Bettie wie my tradisionele Kaapse kos leer kook het

As jong getroude vrou met beperkte kookvaardighede en tyd het Bettie my pad as huishulp gekruis. Bettie het vir ons huishouding gesorg en die heerlikste etes gekook. Paasnaweke het Bettie ons bederf met ‘n tradisionele Kaapse Paasfees spesialiteit, ingelegte kerrievis afkomstig van die Kaapse Maleise kookkuns. Sy en Abraham het hul lewe lank op ‘n wynplaas gewerk, en Abraham het later ons tuinier geword.

Ons gesinne het mekaar goed leer ken en het baie wedersydse respek gehad. Ons het Bettie ondersteun ná Abraham se dood en tydens die dwelmverslawing van ‘n familielid. Sy het my deur my egskeiding gehelp en by Charl en my troue by die hooftafel gesit. Toe sy aan kanker dood is, was my hartseer dieselfde as dié van ’n familielid. Sy was soos ‘n ma vir my en ‘n inspirasie in baie opsigte.

Au pairs wat my kinders se lewens verryk het

Met Zander se geboorte kon ek nie meer al die balle in die lug hou nie. Ek het besluit om die hulp van ‘n au pair in te roep. Inspirerende jong vroue het my pad gekruis. Elkeen van hulle was uniek met unieke belangstellings en het op verskillende maniere tot ons gesin bygedra. Hulle vaardighede het ook my vaardighede en kreatiwiteit aangevul waar dit ontbreek het, soos met koek en partytjieversierings. Baie van hulle is nou mammas wat met hul kinders geseën is.

Hulle afskeidsbriewe het bevestig dat die gedeelde tyd saam met ons ook vir hulle betekenisvol was. Binne ‘n week nadat ons laaste au pair by ons aangesluit het, het haar jarelange liefdesverhouding met haar kêrel, ook met die naam Zander, geëindig. Sy het haar passie vir tegnologie gebruik om haar seer met videospeletjies saam met klein Zander weg te speel . Sy was sy computer gamer vriendin. Sy het in haar afskeidsbrief geskryf, “Een Zander het my hart gebreek, maar nog ‘n klein Zander is oor my pad gestuur om dit te genees.”

Oupa Frikkie, my man se eks-skoonpa

Oupa Frikkie het my pad deur Charl gekruis. Hy is Charl se skoonpa uit sy eerste huwelik. Hul band was buitengewoon, en albei het besluit dat hul verhouding ná Charl se egskeiding sou voortduur. Oupa Frikkie het ons troue bygewoon ten spyte van sy eie emosies.

Sy rol in ons lewens het stadig maar seker vorm aangeneem.  Dit het ʼn permanente plek gekry met Zander se geboorte, want ons het ooreengekom dat hy Zander se Oupa Frikkie kan wees.  Oupa Frikkie was by Zander se doop en het elke verjaarsdagpartytjie bygewoon.  Een keer ʼn maand het hy op ʼn Saterdagoggend by Zander kom speel sodat ek en Charl saam kon gaan ontbyt eet. Ons was verstom oor die projekte wat hulle aangepak het en speletjies wat hulle gespeel het.

Die afskeid van Oupa Frikkie met ons trek Switserland toe was baie swaar.  Hy hou kontak met elkeen van ons en deel nuus vanuit Suid Afrika. 

Oupa Frikkie is op hoogte van tegnologie. Hulle woon in ‘n aftreeoord, en hy gebruik al sy kennis en vaardighede om ander te help. Hy het ‘n kardinale rol gespeel om die inwoners by te staan met aanlyn Covid-inenting registrasies. Hy het my genooi om by ‘n aanlyn Bybelstudie aan te sluit, wat ek as positief en leersaam ervaar het. Ek geniet die wysheid en stories wat hy deel.

My pa is kort ná my dertigste verjaarsdag hemel toe. Oupa Frikkie is die naaste aan ‘n aardse pa wat ek het. Ek is dankbaar dat ek iemand het wat soos ’n pa voel, al is hy my man se eks-skoonpa.

Engele hier op aarde

Mense wat soos familie voel, is daardie mense wat ons ondersteun, help groei, aanmoedig en daar vir ons sal wees wanneer ons dit nodig het. God het hulle versigtig gekies om ons engele hier op aarde te wees.

Groete

Emsia

Grootword in ‘n ander land

Grootword in ‘n ander land

Die skooljaar in Europa kom tot ʼn einde en mense begin opgewonde raak oor die somervakansie.  Hierdie tyd van die jaar is daar ʼn groot groep mense wat afskeid van vriende moet neem en vir ʼn nuwe begin in ʼn ander land voorberei.

Foto deur: Petra Salesny

Aanpassing in ‘n nuwe skool en land

Zander se internasionale skool ervaring het Augustus 2019 begin. Sy aanpassing was goed. Hy het oulike vriende afkomstig van reg oor die wêreld en hulle pas saam aan in ʼn nuwe land. Alhoewel ons die avontuur geniet, het ons steeds baie uitdagings.  Die taal en kultuur van ʼn ander land veroorsaak dat ons baie dinge nie verstaan nie. Die lang donker winters en die gemis van familie en vriende is moeilik. Covid-19 het beslis ook sy bydrae gelewer ten opsigte van die lysie van uitdagings.

Die realiteit van ʼn internasionale skool soos die Inter-Community School (ICS) Zürich, is dat mense konstant kom en gaan. Die meeste gesinne by die skool woon gemiddeld drie jaar in ʼn land en beweeg dan weer aan na ʼn volgende land. Verandering en aanpassing is gevolglik deel van hulle lewe. ʼn Reaksie op my semi Afrikaanse afskeidsbriefie, is ‘n goeie voorbeeld van so ‘n situasie. 

‘n Hollandse ma se reaksie op my afskeidsbrief

Thank you for the note. We are not returning home. Almost 22 years ago, we left the Netherland (NL) and hardly ever went back. We were always joking that we went back only for weddings and funerals. Of course, the kids are Dutch but never lived in NL and see Switzerland as their home. Out of 22 years abroad, we lived 11 years in Switzerland (in 3 entries). When living in Dubai or Germany, we went to Switzerland for home leave. So there are mixed emotions in the family. 

It will be good for the kids to live in their ‘native’ country for some years. It’s a good career opportunity for my husband, but we’re not all happy to be moving to the NL. My son just doesn’t want to go. His first reaction was that he is going to try and find another family to live with. He got some offers! It is funny to read and understand Afrikaans!

Al die tale

ICS Parent Association Facebook group profile picture

Die internasionale skool het baie prosesse in plek om hierdie ouers en kinders wat kom en gaan te help om die verandering te hanteer. Baie van die kinders wat by die skool aankom kan nie eers behoorlik Engels praat nie. Daar is spesifieke Engelse onderwysers om hulle te help. Die kinders moet Duits as tweede taal leer en vanaf graad 6 ook Frans of Spaans. Zander vorder goed met die Duits, maar vind die Spaanse baie uitdagend. Na-ure moet hy nog daaraan werk om sy Afrikaans ook in stand te hou.

Third Culture Kids

As gevolg van globalisering is daar ʼn hele groep kinders wat grootword in ander lande as waarin hulle gebore is. Daar word na hierdie kinders as “Third Culture Kids (TCK)” verwys. Hierdie kinders leer nie die kultuur van hulle ouers se geboorteland nie, maar omdat hulle rondskuif leer hulle ook nie die kultuur van die land waar hulle leef nie. Hulle leer die gemengde kultuur van die kinders en families van die internasionale skool waar hulle skoolgaan. Dit is die rede waarom dit ʼn Derde Kultuur genoem word.

Die voordeel van die situasie vir die kinders is dat hulle baie aanpasbaar is en baie kontakte en kennis van verskillende lande en kulture het. Die nadeel van die situasie vir die kinders is dat hulle sukkel met identiteit. Kultuur is krities vir die ontwikkeling van jou identiteit en om behoorlik die vrae te antwoord van “Wie is ek” en “Waar kom ek vandaan?”

Verandering is deel van die lewe

Verandering is deel van die ritme en aard van lewe.  Dit is gevolglik belangrik dat ons verandering in ʼn positiewe lig sien en dit sonder vrees in ons lewe integreer.  Verandering help ons om van nuwe dinge bewus te word, nuwe vaardighede aan te leer en in die proses ons self beter te leer ken.

Groete

Emsia

Kaas is deel van die Switserse kultuur

Kaas is deel van die Switserse kultuur

Kos en drank vorm ‘n kritieke deel van enige kultuur en erfenis. Wanneer mense hul kos met jou deel, deel hulle hul kultuur en ‘n stukkie van hul hart.

Wes-Kaap, Suid Afrika

Toe ek na die Wes-Kaap verhuis het, het my Stellenbosse vriende my aan wyn voorgestel. Wynkennis vorm ‘n noodsaaklike deel van enige student se informele opleiding. Die verskeie wynlandgoedere in die Wes-Kaap bied baie wynproe-geleenthede. Die Wes-Kaap het seekos en Kaaps-Maleise kos by my lys van gunsteling geregte gevoeg. Ons het die Kaapse Maleise spesiale styl van kook geërf van die slawe van Maleisië, Indonesië en Oos-Afrika wat gedurende die 17de en 18de eeu na Kaapstad gebring is.

Switserse Kaas

Ons brei ons kennis van Switserse kaas uit. Daar is talle Switserse kaasvariëteite en verskillende streekspesialiteite. Net soos wyn is die maak van kaas ‘n kunsvorm. Die Switserse is trots op hul kaas gemaak met plaaslike melk en uitstekende vakmanskap.

Daar is meer as 450 verskillende kaassoorte in Switserland. Die maak van kaas verbruik byna die helfte van die melk wat in Switserland geproduseer word. Die top-geproduseerde Switserse kaas is Le Gruyère. Emmentaler kaas, met sy kenmerkende gate, is die kaassoort wat die meeste uitgevoer word.

Beide Gruyère- en Emmentaller-kaas is gemerk as fromage d’alpage / Alpkäse. Hierdie kenteken beteken dat die kaasmakers die kase gedurende die somer produseer wanneer die koeie in die berge wei. Baie Switserse boere neem hul koeie in die lente na die weivelde en bring hulle terug in die herfs. Die kruie en blomme wat die koeie eet waar hulle wei, gee die kaas ‘n spesifieke karakter en geur.

Gruyère

Ons het onlangs die voorreg gehad om ‘n kaasfabriek, La Maison du Gruyère, in die Middeleeuse dorpie Gruyère in die Alpe, naby die Franse grens, te besoek. Die boere in die dorpie maak hierdie kaas sedert die 12de eeu om die wintermaande te oorleef. Hulle het later van die kaas na Frankryk en Italië begin uitvoer, maar die wêreld het eers die naam amptelik gedurende die 17de eeu erken.

Ons het gesien hoe hulle die ongepasteuriseerde koeimelk in koperpotte verhit en ensieme byvoeg om dit te verdik. Die veroudering van Gruyèrekaas duur tussen 3 en 10 maande. Soos wyn word die kaas mettertyd beter. Ons het grootgeword met Heidi en Peter se stories. Ek besef nou dat hulle in die winter elke aand Fondue kaas saam met Oupa geëet het, net soos die mense nog steeds doen.

Ons het ook in Gruyère die ou kasteel op die heuwel wat in die 13de eeu gebou is, besoek.  Dit het die vorige aand gesneeu en ons kon in ons verbeelding probeer terug gaan na daardie tye.  Die mure is dik, die vensters min en in elke vertrek ʼn groot kaggel wat die mense moes warm hou. In die gesellige atmosfeer het hulle om lang tafels kuier en hul gesmelte Gruyère kaas en brood geeet saam met lekker wyn.  As dit in die winter saans vroeg donker word, het hulle in die musiekkamer saam musiek gemaak en gesing.

ICS skool se internasionale fees

Die gesinne by Zander se internasionale skool is van regoor die wêreld. Elke jaar reël die Inter Community Community School Zurich se Parents Association ‘n internasionale fees waartydens almal mekaar se tradisionele kos van hul land van herkoms kan sien en proe. Aangesien sosiale kontak steeds beperk is, sal hulle vanjaar ‘n ICS internasionale kookboek vrystel.

Ek het ons Kaaps-Maleise kerrie-en-rys resep as ‘n Suid-Afrikaanse bydrae tot die Kookboek ingedien.

Groete

Emsia

Is dandelions onkruid, veldblomme of kruie?

Is dandelions onkruid, veldblomme of kruie?

Gedurende die lente in Switserland, word die velde geel gekleur deur die massas dandelions wat oral sigbaar is. Na slegs ‘n paar dae verander die geel blomme in wit ronde saadkoppe wat maklik deur die wind versprei word. As ons na dandelions kyk, kan ons onkruid sien wat moeilik is om uit te roei, pragtige veldblomme of kosbare kruie.

Dandelions in die veld

In Afrikaans word dandelions, perdeblomme genoem.  Die perdeblomme wat ons in Suid-Afrika kry, is ‘n verskillende en meer harige weergawe van die Europese spesies.

Voordelige medisinale waarde

Ek het eers onlangs bewus geword dat dandelions baie voordelige medisinale eienskappe het en kruiedokters dit as kosbare kruie sien. Dandelions is ‘n ryk bron van vitamiene A, B-kompleks en C, minerale soos yster, kalium en sink.

In die noordelike halfrond het mense sedert die 10de eeu dandelions vir genesing gebruik. Die Indiese, tradisionele Chinese en Europese kruiedokters het dit gebruik vir lewer- en galblaasondersteuning en as ‘n teenvoeter vir ‘n ongestelde maag. Deesdae doen wetenskaplikes studies om hul doeltreffendheid in die voorkoming en behandeling van kanker en vermindering van cholesterol te toets.

Inspirasie vir gesonde drankies

Drankies van dandelions gemaak

Die plant is verwant aan sigorei, en mense rooster en gebruik sy wortels as ‘n kafeïenvrye plaasvervanger vir koffie. Hulle gebruik ook gedroogde of vars wortels om kruietee met baie gesondheidsvoordele te maak. Ek lees dat die Amerikaners dandelions gebruik om wyn te maak en die Britte om bier te maak. Ek het geglimlag vir die opmerkings dat mense dit meer drink vir die gesondheidsvoordele as die smaak.

Dit lok bye en ander insekte

By op 'n dandelion

Dandelions is ryk aan stuifmeel en nektar en is ‘n groot aantrekkingskrag vir bye en insekte wat na hulle toe stroom en in die kelke van die geel blomme verdwyn. Wanneer jy op ‘n warm somersdag deur ‘n veld vol geel blomme stap, hoor jy die dreuning van bye wat nektar versamel.

Gesonde voer vir diere

Dandelions deel van beeswyding

Die koeie in Switserland smul heerlik aan die geel blomme as jy na die kontras tussen hul weiding en die area langsaan kyk. Ideale beesweiding moet soos ‘n ‘slaaibak’ van grasse en peulgewasse vir die beeste wees. Gelukkig is plante wat mense as onkruid in hul grasperke beskou, soos dandelions of klawer, baie voedsaam vir beeste en hulle geniet dit.

Legendes en simboliese betekenis

Dandelion saadknop

Volgens legende, as jy al die sade van die dandelion knop met ‘n enkele asem kan afblaas, dan sal die persoon vir wie jy lief is, jou ook liefhê. As daar saadjies oor is, kan die persoon op wie jy verlief is bedenkinge hê oor hul gevoelens vir jou. Hierdie video deur Emmy-bekroonde Britse fotograaf Neil Bromhall wys die transformasie van die dandelion blom na die saadkop, wat my in verwondering laat.

Dandelions het vele positiewe simboliese betekenisse. Hulle verteenwoordig deursettingsvermoë en uithouvermoë om die uitdagings te oorkom wat die lewe ons bied. Dandelions pas baie goed by hul omgewings aan. Hulle is dikwels bestand teen baie onkruiddoders en groei in verskillende soorte grond.

Ek sal vashou aan die positiewe simboliese betekenis van die goudgeel blomme in die tye wanneer die lewe uitdagings op my pad gooi.

Groete

Emsia

Suid Afrika in die Switserse nuus

Suid Afrika in die Switserse nuus

Mense se reaksies is interessant wanneer ek myself as ‘n Suid-Afrikaner in Switserland voorstel. Diegene wat na Suid-Afrika gereis het, sal ʼn opmerking oor die pragtige natuurskoon of die vriendelike mense maak. Ander wie se indrukke van die nuus afhang, soek versigtig na woorde. Suid-Afrika was die afgelope paar maande om verskeie redes in die Switserse nuus.

Nuusberigte in Switserse koerante

Kruger munte

Een van die ligter onderwerpe wat die nuus gehaal het, was oor Suid-Afrikaanse verlore skatte. In ‘n Switserse kluis het hulle onlangs ‘n sak met goue Kruger-munte ontdek wat in die Tweede Wêreldoorlog daar geplaas is vir veilige bewaring. Ná baie dekades is die munte nou by die SA Munt beskikbaar. Charl is ‘n muntversamelaar en het begin om Switserse munte in te versamel om elke jaar wat ons hier in Switserland is, te herdenk.

Switserse muntversameling

Die Suid Afrikaanse biljoenêr, Johann Rupert

Die Suid-Afrikaanse biljoenêr Johann Rupert het opslae gemaak toe hy Switserland toe gevlieg het vir ‘n Covid-19-entstof. Johann Rupert is ‘n inwoner van Genève, waar sy Switserse maatskappy, Richemont, geleë is. Hy het egter na ‘n ander kanton gery om die inenting te kry by ‘n inentingsentrum wat deur Hirslanden bestuur word. Hirslanden is deel van die Suid-Afrikaanse Mediclinic-groep, waarvan die Rupert-familie se Remgro-maatskappy een van die grootste aandeelhouers is.

In ’n land soos Switserland, met baie reëls en regverdigheid, is sy optrede openlik in die koerante gekritiseer. Switserse inwoners het hom gekritiseer omdat hy na ‘n ander kanton gereis het as waar hy gewoon het. Boonop was hy nog nie 75 jaar oud nie, in ooreenstemming met die eerste groepering van inentings. Hy het sy optrede in die koerant geregverdig deur te sê: I’ve been in Switzerland for 31 years, and I pay my taxes and health insurance here”.

Nuusberig oor Johann Rupert

Daniel Liedtke, die CEO van die Hirslanden-groep, het sy woorde baie versigtig gekies in sy reaksie aan die koerante. Die artikel lui: “On 11 January, the Hirslanden Group carried out pilot vaccinations in the Münsterlingen Hospital with twelve test persons. In retrospect, we made errors in the considerations of the project: “We had underestimated the symbolic power of vaccinating a wealthy patient.” Even if Rupert was entitled to an immediate vaccination because of his severe heart disease, diabetes, high blood pressure, and obesity.  The deliberation is more serious as the billionaire is a co-owner of the group and “this inevitably gave the impression that we had treated him privileged,” continues Liedtke. 

Nuusberig in Tagblatt

Hirslanden is deel van die Suid Afrikaanse Mediclinic groep

Switserland het goeie staatsbefondsde gesondheidsorg met mediese dienste en infrastruktuur van hoë gehalte. Die situasie bied aansienlike uitdagings aan ‘n private hospitaalgroep, soos Hirslanden in Switserland, wat Suid-Afrikaanse eienaars het. Mense bevraagteken Hirslanden se pogings om met die staat saam te werk om die behoeftes van die hele gemeenskap tydens die pandemie te dien. Ons lees die volgende in die koerante:

“What drives the highly profitable and efficient hospital group to work together with inefficient and insufficiently financed public hospitals? Is there a pure pursuit of profit behind it? Do the unpopular South Africans want to make themselves indispensable or do they want to create goodwill and take the wind out of the critics’ sails? Probably all together.”

Lande wat deel vorm van die Mediclinic groep

Hirslanden speel ‘n kritieke rol in die ondersteuning van Covid-19-massatoetsing, wat nou gratis is vir almal in Switserland, ongeag simptome. Volgens die regering is dit ‘n belangrike stap in die bestuur van die pandemie. Lees gerus meer hieroor op die Hirslanden blog, waar daar ‘n foto van Charl is. Verskeie inentingsentrums is ook aan Hirslanden toegeken om namens die kantons te bestuur.

Groete

Emsia