Ontsag vir die natuur se grootheid en krag
As ek ‘n tema vir ons afgelope somervakansie moes kies , sou dit beslis “krag van die natuur” wees. Ons het plekke besoek wat hemelsbreed verskil van dit wat ons ken – van vuur en lawa tot sand- en seestorms. Elke bestemming het ons herinner hoe klein en magteloos ons eintlik teenoor Moeder Natuur is.
Ysland – Land van Vuur en Ys
Charl se droom om Ysland te sien het hierdie jaar waar geword. Ons hou van bootvakansies. Dit bied vir ons ’n sorgvrye vakansie en skep die geleentheid om baie plekke te sien sonder om gedurig in- en uit te pak.

Ons het met ’n Holland America-skip vanaf Rotterdam vertrek en koers gekies na Reykjavik, Ysland se hoofstad.
Ons eerste stop was die pragtige Ålesund in Noorweë. Vandaar het ons Ysland se asemrowende fjords, met hul klein vissersdorpe en stil natuurskoon, verken. Game of Thrones verfilming het in sommige van hierdie plekke plaasgevind.

Ons het lank uitgesien na ons besoek aan die Blue Lagoon, een van Ysland se grootste trekpleisters. Enkele dae voor ons aankoms, breek ’n vulkaan naby die lagoon uit! Die spa moes sluit omdat die lawa paaie onbegaanbaar gemaak het. Ek het die situasie op sosiale media dopgehou en gelees hoe owerhede deur die nag gewerk het om paaie weer vir besoekers toeganklik te maak.
Aktiewe vulkaan
Ons huurmotorrit na die lagoon was ’n ervaring op sy eie. Die landskap, gevorm deur ’n uitbarsting meer as 800 jaar gelede, was iets om te aanskou. Soos ons nader beweeg, kon ons sien waar die vars lawa oor paaie gespoel het. Dit het soos swart modder gelyk. Hulle het keerwalle gebou en nuwe paaie gemaak om verkeer toe te laat. Mense het langs die pad gestop om foto’s en drone-videos te neem. En ja, ons kon self die vulkaan sien uitbars – van ’n veilige afstand af natuurlik. Dit was ongelooflik! Ons het skielik so klein gevoel teen die grootheid van die skouspel wat ons kon aanskou

Ons het tydens ons vaart die arktiese sirkel oorgesteek en ook Ysland se Middernagson, met byna 24 uur se daglig ervaar. Hierdie unieke daglig-siklus is een van Ysland se vele wonders. Winter bring korter dae met net ’n paar ure sonlig. Dit maak dit dan weer moontlik vir besoekers om die Noorderligte te sien, want in die donker wintermaande is die nag lank genoeg sodat die aurora helder in die lug kan dans. Ek hoop ek het eendag die voorreg om dit ook te sien!
Geotermiese Blue Lagoon
Gelukkig kon ons darem steeds die Blue Lagoon besoek. Hierdie geotermiese spa is uniek – die warm, mineraalryke water het ’n sagte blou kleur en is bekend vir sy gesondheidsvoordele. Die water kom van 2000 meter diep in die aarde uit en bly lekker warm – tussen 37°C en 40°C – ongeag van die buitetemperatuur.
Die Blou Lagoon het toevallig ontstaan nadat stoom wat deur die geotermiese kragstasie by Svartsengi vrygestel is, gekondenseer het. Aanvanklik het hulle gedink die water sou in die lavaveld insypel, maar oor tyd het sediment die lava dig gemaak en die lagoon het bly groei.

By die spa is daar ’n masker-kroeg! Jy kon kies tussen silika-modder, alge, minerale of selfs ’n lavascrub. Ná die tyd het ons velle sag gevoel en ons was lekker ontspanne – reg vir die volgende avontuur.
Sandstorm in La Goulette, Tunisië
La Goulette, ‘n hawestad in Tunisie het dadelik soos Afrika gevoel. Die mense was gasvry, warm en verwelkomend en die markte vol speserye, lapwerk, keramiek en tradisionele kunswerk. Die dag met ons besoek was bloedig warm. Na ons rondloop in die ou stad en markte, is ons vroeg terug boot toe om in die swembad af te koel.
Terug in die kajuit kon ek aanvoel die lug verander. Ek het ons nat swemklere van die balkon af ingebring – net betyds! ’n Sandstorm het oor ons getrek, die lug het oranje geword en toe hoor ons iets breek. Dit was die swembadstort se glas. Swembad dekstoele en mense se klere het deur die lug die see in gewaai. Ons kajuit was op die 11de vloer en een van stoele het ’n merk op ons balkon se houtreëling gelaat.

Dit is blykbaar nie iets wat elke dag gebeur nie, maar dis deel van die lewe in ’n streek wat deur die Sahara beïnvloed word. Vir meeste inwoners is dit maar net ’n tydelike ongemak, maar vir ons was dit ’n skrikwekkende en unieke ervaring.
Seestorm en brand in Marseille, Frankryk
Toe ons Marseille se hawe nader, het ek gevoel die skip veg teen die elemente. Die see was onstuimig en vol wit skuimkoppe, amper soos die Kaapse Suid-Ooster op ’n dol dag! Die kaptein het dit reggekry om die skip veilig in die hawe te bring, met hulp van twee baggerbote wat die skip die hele dag in posisie moes hou. Ons stappie na die hawe shuttlebus toe was uitdagend en het ons windverwaaid gelaat.

Later die dag het ons rook opgemerk en gesien hoe ’n geel vliegtuigie kort-kort water skep en dit in die rigting van ’n bosbrand laat val. Skielik het almal op die skip se selfone begin vibreer en ’n onaardige geluid gemaak. In rooi letters kon ons sien dit is ’n Veiligheidswaarskuwing. Almal wat aan die Marseille selfoontoring gekoppel was, het dit ontvang. Die brand het veroorsaak dat sommige busse met passasiers op ’n daguistappie, nie betyds terug kon kom nie. Die skip het later as beplan vertrek, maar ons was veilig.
Dankbaarheid en Respek
Na elke seestorm, elke rookwolk, elke sandstorm en vulkaanuitbarsting, het ons met nuwe oë na die wêreld begin kyk. Hierdie vakansie het ons nie net verstom met natuurskoon nie, dit het ons ook gewys hoe ongelooflik kragtig die natuur is en hoe klein ons eintlik is.
Ons is dankbaar om weer veilig by die huis te wees, met herinneringe wat ons vir altyd sal dra en ‘n nuwe respek vir die aarde se kragte.
Groete
Emsia