Briewe Huis Toe is op Amazon Kindle

Briewe Huis Toe is op Amazon Kindle

My eBoek is nou op die Amazon Kindle-aanlynwinkel in beide Afrikaans en Engels beskikbaar. Dit is ‘n viering en besinning oor ons vyf jaar in Switserland. Die boek is saamgestel uit vyftig briewe. Hulle delf in ons interne en eksterne ervarings as ‘n Suid-Afrikaanse gesin terwyl ons aanpas by die lewe in ‘n vreemde land. Ek glo lesers wat soortgelyke ervarings ondergaan het, dit beplan, of familie of vriende het wat in die buiteland woon, sal aspekte in die boek vind waarmee hulle kan vereenselwig.

In die briewe poog ek om die ingewikkeldhede van ons reis te verwoord en die essensie van ons vreugdes, uitdagings en refleksies vas te lê. Die briewe is dus meer as net ‘n oorvertelling van gebeure. Ek het ons emosies, gedagtes en kulturele ervarings in ‘n storie saamweef om aan die leser ’n eerlike en gebalanseerde uitbeelding van ons proses van verandering en aanpassing in Switserland, te gee.

Dankie vir al die aanmoediging, hulp en ondersteuning

Ek is dankbaar teenoor familie en vriende wat my aangemoedig het om my briewe in ‘n boek te publiseer asook diegene wat as Beta-lesers opgtree het.  Hulle het my op ‘n positiewe en opbouende wyse gehelp het om meer waarde tot my stories toe te voeg en die konstruktiewe terugvoer het gehelp om die oordra van my stories te verbeter. Baie mense het voorgestel dat ek foto’s in die boek insluit, wat ek gelukkig toe wel met die Kindle Publishing kon regkry. Ek het amper honderd foto’s in die boek ingesluit.

Ek het uitreksels uit die terugvoer ontvang, hieronder in tema’s gegroepeer.

Dis eerlik, persoonlik en eg

“Die rou eerlikheid het my getref. Dis persoonlik en eg, maar terselfdertyd interessant, leersaam en gebalanseerd.”

“Dankie vir die eerlikheid en opregtheid waarmee jy alles uitbeeld. Jy lê jou hart bloot oor die onsekerheid oor die onbekende, die mooi, asook klein oorwinnings en groot uitdagings wat julle in die vreemde oorkom.”

“Emsia, Jy het dit goed reggekry om jou lewensreis en ervaringe in Switzerland baie interressant met ons die lesers te deel. Wat ek egter die meeste met my saamvat is jou innerlike reis wat jy ook gedeel het. Dit maak dit baie eg en outentiek en gee die leser baie stof to nadenke. My favourites is: Innerlike reis, Tyd, Lewensboek en SA deur nuwe oë wat my ʼn traan laat wegpik het.”

“’n Eerlike deel en goeie beskrywing van die aanpassing, uitdagings en ervaringe in ‘n vreemde land. Dit is ‘n samevoeging van interressante onderwerpe wat baie informasie aan die leser sal gee, maar ook mooi stilstaan by die dieper emosionele en geestelike dimensie van ekspat-bestaan.”

Steeds trots Suid-Afrikaans

“Dit was heerlik om saam op die reis te gaan en ook nuwe wêrelde te verken maar terselfdertyd ook te beleef hoe jou hart steeds in Afrika en jou familie bande hier, genestel is en dat daar geensins afbrekend of neerhalend van ons vasteland geskryf is nie.”

“Die platform word nie misbruik om ‘n politieke standpunt te maak nie, iets wat hier maklik sou kon gebeur en wat ek dikwels, tot my ergenis, op sosiale media vind. Die onderwerp is baie relevant in veral die SA omgewing. Hierdie bundel is nodig.”

Die grootste idee wat uitstaan is dat mense steeds trotse Suid-Afrikaners kan bly, en daarmee die geskenk van diversiteit en uitdagings kan geniet.”

“Ek het besef dat Suid-Afrika altyd ‘n deel van my wortels sal vorm. Ek is lief vir Suid-Afrika maar ek is ook opgewonde om nuwe dinge aan te pak, soos wat Emsia het. Met liefde, van die Vader en van familie, kan die lewe vol wees, maak nie saak waar jy kies om die pad te stap nie. Dit wat veral uitgestaan het, is dat dit ook okey is om te aanvaar dat so ‘n groot besluit net ‘n seisoen kan wees en dat ‘n mens (veral ons Suid-Afrikaners) altyd ‘n huis sal hê om na terug te keer.”

‘n Waardevolle hulpmiddel vir ‘n expat-reis

“Vir ‘n persoon wat moet aanpas in Switzerland is daar baie waardevolle inligting wat die ekspat-reis baie sal vergemaklik.”

“Dit is ook ‘n goeie en realistiese gids vir iemand wat oorweeg om hulself in die buiteland te gaan vestig.”

“Ek sal graag vir elke persoon wat die besluit moet maak om in ‘n vreemde land te gaan bly, maar veral in Switserland, hierdie boek in die hand wil stop. Dit sal ‘n waardevolle hulpmiddel wees om die nuutheid en vreemdheid van ‘n nuwe land en kultuur te bowe te kom.”

“Die lewe is ‘n uitdaging wat ons altyd kan bemeester as gevolg van die menslikheid om ons en vanweë ons aanpasbaarheid en veerkragtigheid. Verandering is skrikwekkend, maar het baie positiewe kante.”

Dit inspireer selfontwikkeling en groei

“Ek voel dit laat my dink aan die gawes wat ek het, en hoe ek myself kan ontwikkel. Dit herinner my daaraan dat elke mens uitdagings in die gesig staar en hoe ons moet leer op die mooi in veranderinge te fokus. Dit laat my ook dink aan die swaar tye in my lewe en hoe ek gegroei het en baat gevind het by die omstandighede. Die boek het n duidelike sosiologie en sielkunde ondertoon.”

“Die boek is vol emosie en ondervinding. Dit gee raad wat ek met aandagting na sal luister voor ek so ‘n groot besluit maak. In geheel moedig dit my uiteindelik aan om ‘n nuwe avontuur aan te durf en ander kulture te ontdek en beleef.

“Ek was al self in Europa vir verlengde tye. Alhoewel ek besef dat dit baie opofferinge verg, het die briewe my laat voel of ek meedeel in gevoel met iemand wat bereid is en geïnspireer is om ‘n nuwe begin aan te pak.

Hoe verhuising na die buiteland weg van jou tuisland af, alle aspekte van ‘n gesin se lewe beïnvloed, maar tog lei tot persoonlike groei.

“Ek dink mense wat al oorsee gewoon het sal so kan identifiseer en aanklank vind. Dit maak mens ook weer lus vir nuwe avonture en belewenisse. Dit het my verryk.”

“Jou boek gaan eintlik oor self ontwikkeling. Ek hou daarvan want ek dink gereeld terug aan hoe ek n onderwerp uit n ander oogpunt kan sien.”

Kosbaarhede en lewenslesse om oor na te dink

“Moet dit egter nie te vinnig probeer lees nie, want daar is baie kosbaarhede en diep lewenslesse in, wat jy eers bietjie moet oordink voor jy omblaai na die volgende brief.”

“Die boek is stimulerend en moenie te vinnig gelees word nie. Mens moet ‘n ruskans tussen hoofstukke neem om te dink en reflekteer.”

“Die taalgebruik is oor die algemeen pragtig en suiwer. Ek het die meeste gehou van die Tyd as Geskenk hoofstuk.”

My hoop vir die boek

My hoop vir die boek is dat die regte woorde die regte mense op die regte tyd sal bereik.  Sal jy asseblief help om die boek aan mense wat daarby aanklank sal vind, aan te beveel. Ek heg ‘n voorsmakie van die boek aan as jy wil kyk hoe dit lyk. Jy kan die eerste sewe briewe sien voordat jy besluit of jy die boek wil koop.

Ek hoop verder dat ek meer mense sal aanmoedig om eBoeke te lees. Ons verhuising na Switserland het my aangespoor om van gedrukte boeke na eBboeke te skuif. Ek het die Kindle App op my foon gelaai en dit stel my in staat om my boeke te lees waar ek ook al gaan.

Baie dankie en groete

Emsia

Comments are closed.