Die mislaag wat my gemoed wil vertroebel

Die mislaag wat my gemoed wil vertroebel

Gedurende November is Zürich byna permanent in ‘n mislaag gehul. Wanneer ons soggens die gordyne oopmaak, lyk dit soos ‘n wit muur aan die buitekant. Soms bly die mis heeldag. Op ander dae word die donker silhoeëtte van geboue en bome meer sigbaar soos die son opkom.

Die Switsers het ons van die begin af oor die mis gewaarsku. Die mislaag het ‘n neerdrukkende impak omdat dit donker is, en jy voel vasgevang. Oor naweke besoek baie mense hul huise in die berge om die sonlig te geniet en tydelik uit die mis te ontsnap.

My Eglisau les

Die herfskleure in Switserland is vanjaar besonders. Ek was opgewonde oor ‘n sonnige dag, want ek wou foto’s neem in die dorpie Eglisau met mooi wingerde langs die Rheinrivier.. My teleurstelling was groot toe die hele dorp in mis gehul was. Ek het besluit om te bly in die hoop dat die waas sou opklaar.

Na ‘n rukkie het ek besef hoe mooi en geheimsinnig alles in die mis vertoon en dat ek dinge moet waardeer net soos dit is en moet ophou om aan my prentjie vas te klou. Ek kry hierdie boodskap gereeld maar sukkel nog soms daarmee.

Wêreldwye mislaag

Om na nuwe plekke en kulture te reis is een van die dinge wat ek en Charl geniet om saam te doen. Ons was baie opgewonde oor die geleentheid om vir ‘n paar jaar in Switserland te woon, want dit het die moontlikheid geskep om Europa te verken sonder lang vlugte en ‘n Schengen visumaansoek. Covid het egter soos ‘n dik laag mis om ons almal geval.

Die land se grense was lank gesluit en het eers onlangs weer oopgemaak. Die Covid-situasie het ons gedwing om Switserland te ontdek. Ons het baie mooi plekke besoek en ervarings gehad wat ons sou gemis het as Europa oop was. Wêreldwyd het die beperkings mense gedwing om met nuwe oë na die skoonheid van hul eie land en omgewing te kyk. In die proses het baie mense juwele ontdek wat hulle voorheen misgekyk het.

In die mis het ek my eie familie duideliker gesien

Kerstyd is sinoniem met gesinstyd. Kersmarkte en vieringe sorg vir groot opwinding. Verlede jaar was daar net een groot stilte. Weens al die streng reëls het ons die Kersvakansie binne ons woonstel deurgebring. Ons het kreatiewe projekte aanlyn bestel en onsself besig gehou. Ons het al drie later erken dat dit ‘n kosbare en rustige tyd was en dat ons mekaar se geselskap geniet het.

Ons het van die begin af beplan om Suid-Afrika en my seuns Switserland een keer per jaar te besoek. Ná hul eerste besoek in Desember 2019 kon ons mekaar nie weer sien nie. Dit was vir my ‘n besonderse digte mis. Die afstand en situasie het ons aangemoedig om meer gereeld kontak te maak en op ‘n dieper vlak betrokke te raak. Ek het gevolglik my seuns anders leer ken. Ek skryf meer hieroor in my brief oor woorde het my reddingstou geword.

Die mis leer my om die nou te geniet

Die mis het vir my ‘n metafoor geword en herinner my om die huidige situasie te geniet. Ek moet ophou om so styf aan my prentjie van “perfek” vas te klou dat ek die skoonheid om my miskyk.

In die mis lyk ons gewone bekende omgewing geheimsinnig. Die mis verdof die agtergrond en laat die mees kritieke items uitstaan. Dit help ons om te fokus op die elemente wat wel sigbaar is. Die mislaag is nie permanent nie. Dit sal opklaar, en die son sal weer skyn.

Groete

Emsia

 

Comments are closed.