Ligstraaltjies van hoop
Min dinge is werklik seker. Meestal kan ek ten spyte van hierdie feit, elke nuwe dag met vreugde groet. Soms hang die onsekerheid van persoonlike of wêreld omstandighede egter swaar aan my. Wanneer ek oorweldig voel, kom ek dikwels situasies teë of ontvang woorde van bemoediging van ongewone plekke of mense. Ek sien dit as boodskappe van Bo, gelewer op verskillende maniere. Hulle skep ligstrale van hoop en verhelder my lewe.

Grafitti met woorde wat rustigheid bring
Een koue wintersoggend het ek op die trein gesit, verdwaal in my troebel gedagtes, toe my oog graffiti op ‘n konstruksieterrein vang. Die woorde was in Duits geskryf. Ek het hulle stadig gelees en probeer verstaan: “Ich leg Mein Leben nur in Gottes Hand.” Ek plaas my lewe net in God se hand.
Dit het my opgeval dat iemand dit, alhowel onwettig, in groot letters geskryf het vir elke verbygaande passasier om te sien. Ek het gewonder wie anders, soos ek, troos in daardie rooi gespuitverfde woorde, gevind het.

Ek het ontdek dat die lees van verse of gedeeltes in die Bybel in verskeie tale verbasend nuttig kan wees. Elke taal dra idees anders oor, bied nuwe perspektiewe en verbeter dikwels my begrip.
Handgeskrewe briefie met woorde van erkenning
Later die dag het ek weer dieselfde trein terug huis toe geneem. Met die opklim gewaar ek my Duitse vriendin met ʼn ander vriendin op die trein en hulle nooi my om by hulle te sit. Ons het heerlik gesels en ontdek dat die vriendin se ma, soos myne, binnekort haar 80ste verjaardag gaan vier. Ek het gedeel hoe ons ‘n geskenkboek vir my ma saamgestel het wat stories en staaltjies bevat wat oor 80 jaar strek.
Naby die einde van die rit het ‘n onbekende vrou, van omtrent ons ouderdom, opgestaan om af te klim. Net voor sy na die trein se deur toe beweeg, het sy ‘n klein stukkie wit papier in my hand gedruk. Ek was verward en het aangeneem sy vra vir hulp. Versigtig het ek die handgeskrewe boodskap begin lees.

Die boodskap
Dear Stranger
Sorry for eavesdropping, but I wanted to let you know that I loved your idea to ask friends and family to share stories about your mom and turn it into a book. You inspired me! I did something similar, showing my mom how rich her life (90 years) was. I collected photos of the last 50 years (my age) and turned them into a book called “Happy Moments.”
Ek kon haar darem vinnig bedank voordat sy afgeklim het, maar het so gewens ek het haar naam en nommer gehad vir ‘n behoorlike gesprek. My Duitse vriendin het aangeneem ek ken die vrou en gevra waarom ek haar nie genooi het om saam met ons te sit nie. Sy was baie verbaas toe sy hoor die briefie is van ʼn vreemdeling. “Hierdie tipe van ding gebeur mos nie in Switserland nie! Mense leef baie privaat,” was haar opmerking.

Die vrou se briefie het my dag verhelder. Daar is ʼn uitdrukking deur Raktivis, “Kindness is ignigting a light in someone else for no reason other than to watch them glow.” Sy was braaf en gaaf en ek glo sy het ook goed oor haar impulsiewe briefie gevoel. Ek lees dat dade wat ander mense se dag ophelder, veroorsaak dat dit gewer se serotonine, die hormoon wat ons gelukkig laat voel, ook verhoog.
Uitnodiging vir samesyn
Ek het na baie jare weer kontak met my Wiskunde onderwyseres gemaak. Sy woon op ‘n plaas naby aan die dorp waar my ma woon. Tydens ‘n Desember besoek aan Kathu, nooi sy vir my en my ma om saam met ander plaaslike inwoners by haar op die plaas te kom Kersliedere sing. Sy het ons getrakteer op ‘n heerlike tuisgemaakte ete en inspirerende woorde gedeel.

Sedertdien het sy dit ‘n prioriteit gemaak om by my ma te gaan kuier wanneer sy in die dorp is. Sy het haar man ‘n paar jaar gelede verloor en verstaan hoe dit voel om alleen te wees. Sy nooi my ma gereeld plaas toe om saam met ander te sing en reël selfs vir haar vervoer. Dit is haar manier van lig en samesyn skep en te verseker dat ander gesien en ingesluit voel.
Help waar dit ʼn verskil gaan maak
Deesdae laat tegnologie baie mense toe om aanlyn te belê en handel te dryf. Gegewe die wêreld se onvoorspelbare toestand, kan die markte wisselvallig wees. Soms wen beleggers, maar soms verloor hulle. My oudste seun vind aanlyn handel besonder interessant en het my deur sy reis gehelp om meer ingelig te word oor wat in die finansiële markte gebeur.

Op een stadium voor die Amerikaanse verkiesing het dit goed met sy beleggings gegaan en hy het ‘n goeie wins gemaak. Dankbaar vir sy sukses het hy ‘n deel van sy verdienste gedeel met mense wat hy geglo het dit nodig gehad het. Ek weet hy het byvoorbeeld geld vir die plaaslike vulstasie-joggie en ‘n sekuriteitswag gegee. Toe ek hom daaroor uitvra, het hy verduidelik: “Ma, ek glo geld moet vloei. Ek gee dit met liefde en vind vreugde daarin om te sien hoe iemand se gesig van verbasing verhelder.”
Dit is maklik om iemand se dag of lewe op te helder
Elkeen van ons het die vermoë om ligstrale van hoop in iemand se dag of lewe te skep. Ons het almal unieke gawes en geleenthede om ‘n verskil te maak. Soms verg dit ‘n bietjie moed om buite ons gemaksones te stap. Die vreugde om iemand se gesig met verwondering te sien verlig, maak dit alles die moeite werd.

Dit verg nie altyd groot gebare nie. Soms is dit so eenvoudig soos ʼn oproep, boodskap, uitnodiging of besoek. God gebruik mense en die natuur om ligstrale van hoop vir ons te skep.
Groete
Emsia
2 thoughts on “Ligstraaltjies van hoop”
Emsia Dis een van jou beste stukke nog- baie inspirerend!
Baie dankie vir jou terugvoer Marna! Ek is bly om te hoor jy het dit so ervaar.