Groot drome wat stadig ontvou
Kersdag, 1991
Terwyl families by die huis lamsboud en trifle nagereg in die somerhitte geniet, het Charl by ’n Johannesburg lughawehek met ’n kaartjie na Europa in sy hand gestaan.
Hy was een-en-twintig. Die jongste van vier kinders. Niemand in sy familie het al ooit oorsee gevlieg nie. Sy ouers het probeer om dapper te wees, maar hul bekommernis het in die stiltes tussen sinne gehang. Europa het ver gevoel — nie net in afstand nie, maar in taal, in seisoen, in alles wat bekend was.

’n Skoolvriend het ’n rugbykontrak by die Saint Claude Rugbyklub in Frankryk vir die Europese winterseisoen onderteken en hom genooi om te kom kuier. Dit het amper glansryk geklink: ’n motor, ’n woonstel, ’n toelae en een maaltyd per dag. Onder die opgewondenheid was daar egter ’n stiller waarheid — niemand in daardie klein dorpie, behalwe die plaaslike bankbestuurder, het Engels gepraat nie. Die uitsonderlike geleentheid en avontuurlus was egter baie groter as die uitdagings.
Reis in tye voor Tegnologie
Reis in tye voor die Internet was baie anders. Daar was toe geen slimfone nie. Geen kitsboodskappe nie. Geen gerusstellende blou regmerkies om te wys dat iemand jou boodskap gelees het nie. Charl het ’n Eurail-pas, reisigerstjeks en ’n groot opgevoude papierkaart van Europa saamgedra — die soort wat jy met hoop oopvou en met frustrasie weer probeer toemaak.

Hy het in Frankfurt geland. Sy eerste tree op vreemde grond. Onder die helder lughawe-ligte het hy na ’n betaalfoon gesoek. Hy moes eers Deutsche Mark en Pfennig kry voordat hy sy vriend kon bel. Dit was lank voor die euro en voordat enigiets eenvoudig gevoel het.
Hy het geskakel. Na geen antwoord, het hy weer probeer, maar steeds niks. Vir die eerste keer het die avontuur onseker begin voel.
’n Venster en ’n Belofte
Met min ander keuses het hy op ’n trein na Genève geklim. Soos die trein suid beweeg het, het sneeu sag oor die lande gelê. Berge het in die verte verrys, stil en standvastig. Mere het onder ’n bleek winterlug gelê.
Hy het sy voorkop teen die koue venster gedruk en gekyk. Iets het toe binne hom tot rus gekom. Nie ’n plan nie. Nie eers ’n duidelike droom nie. Net ’n stille wete. Eendag sal ek hierheen terugkeer.

Die Langste Uur
Teen die tyd dat hy in Genève aangekom het, was dit al amper vyfuur die middag. Die donkerte het reeds toegesak en die koue het skerper as tevore, gevoel. Hy het weer ’n betaalfoon gekry en Switserse Rappen ingegooi. Die foon aan die anderkant het net aanhou lui.
Die stasie het enorm gevoel. Aankondigings het in Frans weergalm. Gesigte het vinnig verbybeweeg. Hy het na die vertrekbord gestaar. Die trein na Saint Claude sou binnekort vertrek. As hy alleen daarop klim en in ’n klein dorpie aankom waar niemand Engels praat nie, wat dan? Waar sou hy slaap? Wat sou hy eet? Hoe sou hy sy vriend in die hande kry?
Hy het sy sak opgetel. “Charl!” Aan die oorkant van die peron het sy vriend se meisie gestaan en met albei arms gewaai. Hulle het die hele dag by die stasie gewag, onseker op watter trein hy sou arriveer en elke aankomende wa dopgehou.
Net voordat hy alleen op daardie trein sou klim, het hulle mekaar gevind. Charl kon ook sy ouers, wat die vorige nag nie ʼn oog toegemaak het nie, laat weet hy is veilig. Verligting het ’n warmte wat woorde nie heeltemal kan vasvang nie.
’n Dorp wat Gebly Het
In die dae wat gevolg het, het hulle die streek saam verken. Een besonderse uitstappie was na Annecy. Dit is ’n dorpie by ’n meer, omraam deur berge, met kanale wat tussen pastelgekleurde geboue deur kronkel. Die skoonheid daarvan het by hom gebly. Dit was nie net prentjiemooi nie. Dit het moontlik gevoel. Hy het toe nog nie geweet hoe die lewe sou ontvou nie, maar iets het reeds begin wortelskiet.

Om te Koester wat Geplant is
As jong werkende het Charl in tegnologiese vaardighede belê wat wêreldwyd in aanvraag was. Sy werk het geleenthede geskep om te reis. Switserland het ’n gunsteling bestemming geword, nie net oor die berge nie, maar ook oor die kos.
Tydens ’n tweeweek-opleidingsessie wat hy daar aangebied het, het hy en sy kollega elke tweede aand kaasfondue by ʼn Switserse restaurant gaan eet. Aan die einde van die kursus het die Switserse deelnemers vir hulle beide elkeen ’n pragtige rooi fondue-stel geskenk.

Jare later, lank voordat ek besef het ek sou deel van hierdie storie word, het Switserland weer op die horison verskyn. Toe ons nog uitgegaan het, het Charl my genooi vir ’n fondue-aandete met Woolies-fonduekaas op die mat voor ’n knetterende vuur. Die rooi pot het tussen ons gestaan. Ek onthou hoe hy die gesmelte kaas en brood geniet het. Ek het toe nog nie verstaan dat ek reeds binne-in ’n droom sit wat jare tevore op ’n wintertrein begin het nie.
Wanneer ’n Deur Oopgaan
Later het ’n nuwe geleentheid ontstaan. Sy werkgewer het ’n belegging in Switserland gehad. Sy baas het gevra: “Switserland soek iemand met jou vaardighede. Is jy oop daarvoor, selfs met die taalverskille en die ontwrigting vir jou gesin?”
Sommige besluite verg deeglike oorweging. Dié wat egter ooreenstem met iets wat diep binne jou geplant is, hulle vra moed. Ons het ja gesê.

Die Rooi Fonduepot
Die rooi fonduepot het uiteindelik sy pad terug na Switserland gevind. Party aande, wanneer die kaas stadig smelt en sneeu stil buite die venster lê, dink ons aan daardie treinrit in 1991. Drome kom nie altyd luidrugtig nie. Soms begin dit stil — soos ’n jong man wat by ’n treinvenster uitkyk, nog onwetend dat hy na sy toekoms kyk.
Groete
Emsia