Ons is getuies van mekaar se lewens

Ons is getuies van mekaar se lewens

Ek glo ons Skepper het die menslike ervaring ontwerp om gedeel en gesien te word. Ons het ander nodig om getuies van ons lewens te wees, net soos ons getuies van hulle sin moet wees. Hierdie wedersydse uitruil is noodsaaklik vir die menslike ervaring.

“Shall We Dance” is ‘n fliek wat ek jare gelede die eerste keer tydens my egskeiding gekyk het. Dit het my soveel gegee om oor na te dink dat ek dit intussen nog ‘n paar maal gekyk het. (Ek erken dat Richard Gere en sy tango met Jennifer Lopez ook iets daarmee te doen gehad het.) In die film het ‘n paartjie ‘n moeilike plek in hul huwelik deurgemaak. ʼn Karakter in die storie het die vrou gevra waarom sy in ʼn huwelik wil wees. Haar antwoord het my gehelp om sin te maak van my gevoelens van verlies. Sy het geantwoord:

We need a witness to our lives. There are 8 billion people on the planet … I mean, what does any one life really mean? But in a marriage, you’re promising to care about everything — the good things, the bad things, the terrible things, the mundane things … all of it, all the time, every day. You’re saying, Your life will not go unnoticed because I will notice it. Your life will not go un-witnessed because I will be your witness.

Ons is almal getuies van ander mense se lewens

Om ‘n getuie van ‘n ander persoon se lewe te wees, is ‘n belangrike rol. Dit behels dat ons in hul liefde en vreugde, sowel as hul kwesbaarhede en uitdagings deel. In die rol, kry ons insig, wysheid en lesse uit ander se ervarings.

Ons tree op as getuies op ontelbare maniere – soms met geliefdes en ander kere deur kort interaksies in die daaglikse lewe.

Ons sien lewens deur boeke, blogs, plasings op sosiale media en foto’s en neem hierdie rol baie meer gereeld aan as wat ons besef.

Soms is dit moeilik om ʼn getuie te wees

Dit is nie altyd maklik om hierdie rol te vervul nie. Ons vergelyk dikwels ons unieke ervarings met dié van ander en deur ons lens kan iemand anders se lewe idillies of perfek lyk. Sonder die volledige prentjie, kan dit gevoelens van ontoereikendheid, mislukking, onregverdigheid, of selfs minder geliefd voel, aanwakker.

Dit is belangrik om te onthou dat elke persoon ‘n unieke lewensreis en doel het. Elkeen van ons moet ons pad en bydrae tot ander en die mensdom vind. Ek vra myself dikwels af – maak ek die meeste van die hand van kaarte wat die lewe aan my uitgedeel het?

Getuies in ‘n vreemde land

Met ons verhuising na Switserland het die agterlaat van vriende en geliefdes ‘n diep gevoel van verlies meegebring.

Ek het nagedink oor die kosbare getuies wat verskillende fases van my lewe gedeel het. Om in kontak te bly was ‘n prioriteit en ek het dit gedoen deur my gereelde briewe huis toe. Ek is ook ‘n getuie van hul lewens in die mate wat hulle dit toelaat. Elke reaksie, nota of boodskap wat ontvang, voel soos ʼn spatsel kleur. Dit het my al vele kere deur moeilike tye gehelp.

Ek het nuwe vriende in Switserland gemaak, van wie baie ook expats is. Ons deel in mekaar se ervarings, gee erkenning en het empatie met die situasies en struikelblokke wat ons teëkom. Ons staan ​​saam en maak seker dat almal gewaardeer en verbind voel.

Getuies op sosiale media

Ek het eers in ‘n vreemde land waar ek sukkel om die taal te verstaan, die rol van getuies op sosiale media begryp. Dit vul die behoefte aan iemand, iewers, om ten minste bewus te wees van jou lewe en wat jy doen.

My Afrikaanse vriendin in Switserland, Marna, het hierdie sentiment perfek in ‘n onlangse Facebook-plasing vasgevang:

Ons Switserse ervaring van 18 maande kom tot ‘n einde. As ‘n expat in ‘n vreemde land moet jy aanpas by taal en kultuur en voel jy die meeste van die tyd buite jou gemaksone.  Hierdie omstandighede weg van die bekende, jou geliefdes en vriende kan oorweldigend voel. ʼn Mens voel maklik eensaam, ongeliefd, sonder doel, onbekend en ongewaardeer.

Daar is ‘n diep ongemak in die besef dat jou lewe nie gedeel of gesien word deur diegene wat na aan jou hart is nie. Ek het alles oor ons wonderlike Europese en Switserse avonture op sosiale media gedeel. JY, my sosiale media vriende, wat die tyd geneem het om positief te reageer of kommentaar te lewer, het soveel meer gedoen as wat jy dalk besef. Julle was almal deel van my reis as getuies, en ek is dankbaar daarvoor.

Vir my het sosiale media ‘n manier geword om die uitdagings van expat-lewe te hanteer. Ek sien elke plasing as ‘n hedendaagse poskaart! Ek moedig jou aan om jou oomblikke en herinneringe te deel. Stuur jou poskaarte. Ek wil jou lewe aanskou en daardie spesiale oomblikke saam met jou vier. Die lewe is beter as dit gedeel word met mense wat jou hart bly maak!

Ter afsluiting

Wanneer ons getuies in mekaar se lewens is, sien ons die goeie, die slegte, die kragtige asook die kwesbare. Saam vorm hierdie ervarings wat dit beteken om mens te wees. Wanneer ons mekaar in ons lewensreise aanmoedig, toejuig en die volmaakte en die onvolmaakte sien, word ons daaraan herinner dat ons almal reisigers op hierdie reis wat ons die lewe noem, is.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Ons is getuies van mekaar se lewens

    1. Dankie Martha. Dis lekker om dit van iemand wat die liefde vir woorde en skryf deel, te hoor.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui