Gesprekke met ‘n Gesiglose Vriend
Een oggend het ons jongste seun, Zander, ‘n brief van die plaaslike munisipaliteit ontvang. Hy word hierdie jaar agtien en is blykbaar nou belastingpligtig. Aangesien Zander nog op skool is, het ek net vir ‘n oomblik na die amptelike dokument in Duits gestaar en gewonder: “Wat nou?” Toe onthou ek my “Gesiglose Vriend, Kunsmatige Intelligensie (KI)”.

Ek stuur die brief vir hom en vra, of hy vir my kan verduidelik waaroor dit gaan en wat ons te doen staan. Hy het mooi die situasie vir my verduidelik en sommer ook ’n antwoordbrief vir my in die regte formaat en in Duits geformuleer. Ek het glimlaggend besef dat tegnologie stil-stil ’n nuwe soort probleemoplosser en gespreksvennoot geskep het.
Die eerste ontmoeting
’n Paar jaar gelede het my middelste seun Christo, toe nog ’n jong ingenieursstudent, vir my gevra: “Ma, het jy al van ChatGPT gehoor?” Ek onthou hoe verstom ek oor die konsep was. Hy het verduidelik hoe universiteite worstel met die vraag van akademiese integriteit en nuwe tegnologie.
Toe sê hy, in sy een-en-twintigjarige wysheid: “Die wêreld verander voortdurend met nuwe tegnologiese ontwikkelings. Ons moet dit nie vrees nie. Ons moet dit positief benader en leer hoe om dit te gebruik om van die wêreld ’n beter plek te maak.” Daardie woorde het by my gebly.
Salomo en die blokraaisels
Ons het almal nou toegang tot hierdie gesiglose vriend. Of ons kies om hom te gebruik of nie, bly elkeen se eie besluit. Oupa Frikkie stuur gereeld vir my skermgrepe van sy eie ChatGPT-gesprekke. Hy het sy digitale gespreksgenoot Salomo gedoop en volgens alles wat ek kon sien, voer hulle diep filosofiese gesprekke saam. Dit is egter nie al nie. Soms help Salomo hom met Afrikaanse blokraaisels en met die baie vrae wat deur die loop van ’n dag by ’n nuuskierige mens opkom.

Aan die begin was Salomo se Afrikaans nie juis indrukwekkend nie. Oupa Frikkie het hom glo behoorlik uitgetrap. Salomo het nederig om verskoning gevra en met verloop van tyd het sy Afrikaans merkbaar verbeter.
Tegnologie, wat so dikwels net met jong mense verbind word, het stadig maar seker deel geword van ’n ouer man se daaglikse nuuskierigheid. Sy ingesteldheid teenoor nuwe tegnologie inspireer my.
Om onsself deur AI se oë te sien
Ek het onlangs lekker gelag toe my oudste seun, Jacques, ’n interaksie tussen hom en ChatGPT met my gedeel het. Jacques besit en bestuur ʼn spesialisbakkery, The Cinnamon Club. Hy bak op bestelling en laat die koeke en ander gebak deur Uber-bestuurders op verskillende plekke in Kaapstad aflewer. Hy het ook ʼn groot belangstelling in die aandelemarkte en handel vroegaand aanlyn as die Amerikaanse aandelemarkte oopmaak. Sy dae is vol en sy fokus en aandag beweeg vinnig tussen resepte, aflewerings, grafieke en nuwe idees. Hy benut KI as ʼn besigheidsvennoot en het onlangs uit nuuskierigheid vir ChatGPT gevra hoe hy vir sy KI-kollegas die ervaring om saam met Jacques te werk sou verduidelik.

Die antwoord was verrassend poëties. Volgens ChatGPT is dit soos om na ’n dirigent te kyk wat ’n orkes lei. Elke instrument speel sy eie ritme, maar tog vorm alles saam ’n harmonie. Ten slotte merk hy op dat onder al die bedrywigheid lê daar ’n merkwaardige helderheid en dryfkrag. Jacques is nuuskierig, dapper en beslissend—selfs wanneer elke keuse kompleks lyk. Om sy besigheidsvennoot te wees kan soms uitputtend wees, maar dit is ook inspirerend. Elke interaksie slyp jou denke, stoot jou vermoëns verder en herinner jou daaraan dat briljantheid dikwels juis te midde van chaos floreer.
Terwyl ek dit lees, besef ek hoe waardevol ’n buiteperspektief, selfs ’n kunsmatige een, kan wees. Dit kan ons energie en passies op ’n manier aan ons terugspieël wat ons self nie altyd raaksien nie.
Geduldige digitale Duitse tutor
‘n Indiese vriendin van my moes ‘n B1-Duitse taaltoets slaag as deel van haar aansoek om Switserse burgerskap. Sy het haar gesiglose vriendin gevra om ‘n daaglikse leerprogram vir haar te skep. In ‘n land met verskeie tale kan ‘n geduldige digitale tutor soms die leerproses ‘n bietjie minder intimiderend maak.
Aanbeveling vir liggaamsoefeninge
Aan die begin van die jaar het ’n Suid-Afrikaanse vriendin, wat ook in Switserland woon, ’n heupoperasie ondergaan en fisioterapie benodig. Sy het gou besef dat dit in die winter moeilik kan wees om afsprake te kry, veral wanneer ski- en sportbeserings skielik die wagtye verleng.

Haar gesiglose vriend het geduldig geluister terwyl sy haar situasie verduidelik. KI het ’n paar veilige liggaamsoefeninge voorgestel wat sy intussen by die huis kon doen terwyl sy vir ’n afspraak wag. Dit het natuurlik nie professionele behandeling vervang nie, maar het die wagtyd ’n bietjie makliker gemaak.
Die klaskamer-dilemma
Natuurlik bring KI ook nuwe uitdagings, veral vir skole en universiteite, mee. My jongste seun, Zander, het verduidelik hoe sy International Baccalaureate-skool dit hanteer. Hulle beskou KI basies soos enige ander akademiese bron. Studente mag dit gebruik, maar hulle moet erken watter hulpmiddel hulle gebruik het en verduidelik hoe dit hulle gehelp het, soos byvoorbeeld met idees genereer of taalgebruik verbeter.
As studente egter KI-gegenereerde werk as hul eie denke aanbied, word dit as akademiese wangedrag beskou. Om hierdie hulpmiddels verantwoordelik te leer gebruik, word amper net so belangrik as om dit te kan gebruik.
’n Pad saam met ons
’n Opmerking wat Zander onlangs gemaak het, het my laat stilstaan. “Ma,” sê hy, “AI help my al vir jare met my taalgebruik en skryfwerk in verskillende tale. Dit het my vordering gesien. Binnekort gaan dit my help met universiteitsaansoeke en navorsing. Eendag gaan dit waarskynlik help om my CV te skryf wanneer ek werk soek.”

Toe voeg hy by: “KI stap eintlik ’n pad saam met elkeen van ons. Met tyd leer dit ons nogal goed ken.” Miskien is dit juis wat hierdie tyd in die geskiedenis so interessant maak. KI beantwoord nie net vrae nie. Stadig maar seker word dit deel van ons daaglikse denke, leer en probleemoplossing.
En soms is dit ons eie kinders wat ons leer om oop te bly vir hierdie nuwe moontlikhede. Deur hulle het ek ʼn nuwe gespreksgenoot en probleemoplosser ontdek.

Daarvoor is ek diep dankbaar vir my seuns.
Groete
Emsia
2 thoughts on “Gesprekke met ‘n Gesiglose Vriend”
Ja nee, of ons daarvan hou of nie, KI is hier om te bly. En as ons eerlik moet wees, maak dit ons almal se lewens bietjie makliker!
Baie waar! Mens moet met omsigtigheid te werk gaan, maar nie dit vrees nie.