Gemeenskapsdiens in die platteland
ʼn Openbare figuur wat my inspireer is DeWitt Jones. Hy was eers ’n fotograaf vir National Geographic en later ’n spreker wat mense help om fotografie as ’n metafoor vir die lewe te gebruik. Die manier waarop ons kies om na die wêreld te kyk, bepaal die manier waarop ons leef.
Onlangs het een van DeWitt Jones se TED-Talks my tydens ʼn uitdagende situasie weer aan vyf eenvoudige riglyne herinner:
Dewitt Jones wysheid
- Vier wat reg is met die wêreld. By National Geographic was sy opdrag om te soek na wat mooi, inspirerend en vol moontlikhede was. Dit waarop jy fokus, brei uit. As jy na probleme soek, sal jy hulle vind; as jy na moontlikhede soek, sal jy hulle oral sien.
- Daar is meer as een regte antwoord. ’n Fotograaf neem baie foto’s om die beste een te vind. In die lewe is die eerste idee nie altyd die beste nie. Bly nuuskierig, verken opsies en wees oop vir alternatiewe.
- Verander jou lens. ’n Wyehoek vertel ’n ander storie as ’n makro- of telefoto-lens. Soms verander ’n nuwe perspektief alles. Wanneer jy vashaak, verander jou standpunt, houding of aannames.
- Die lig is altyd daar. Goeie fotograwe benut beskikbare lig kreatief, selfs in uitdagende toestande. Selfs in moeilike tye is daar altyd iets goeds om mee te werk – ’n sweempie hoop, krag of moontlikheid.
- Wees oop vir moontlikhede. Laat vaar rigiede verwagtinge. Bly oop vir verrassings en geleenthede wat jy nie verwag het nie.
Gemeenskapsdiens in die platteland
In Suid-Afrika moet alle mediese en gesondheidsprofessies ’n jaar se gemeenskapsdiens doen voordat hulle as onafhanklike praktisyns mag registreer.

Dit help om gesondheidswerkers deur die land, insluitend landelike gebiede, te versprei. Hulle kan hul voorkeure aandui, maar poste is beperk, en baie kry nie hul voorkeur keuse nie.
Een Vrydagmiddag laat ontvang ek ’n benoude oproep van my seun Christo en sy meisie Simone. Simone wat pas haar spraakterapie-studies voltooi het, is na Aliwal Noord geallokeer. Dit is ’n klein dorpie op die grens tussen die Oos Kaap en Vrystaat. Hoewel Christo sy werk darem aanlyn kan doen, was akkommodasie die probleem. Hulle het gesoek maar niks geskik gekry nie.

Verander jou lens
Daardie naweek het ek gewonder hoe ons hierdie uitdaging kon benader. Terwyl ek deur die venster na die deurdringende reën kyk, kry ek nóg ’n probleem om op te los: Zander het sy selfoon verloor toe hulle haastig die vorige aand in ’n Uber klim.
Ek besluit om ’n ander lens op te sit en oop te bly vir moontlikhede. Charl en Zander kon skaars glo toe ek voorstel dat ons in die reën na die verlore selfoon gaan soek. Ná baie nat rondstap, buk ek af om onder ’n heining in te kyk. ’n Glinstering van my oog. Die foon! Effens nat, maar steeds werkend.
Daardie foon in my hand het my herinner: as ’n ou selfoon in die reën gevind kan word, sal daar ook ’n antwoord vir Aliwal-Noord wees.

Daar is meer as een regte antwoord
Ek vra nie maklik vir hulp nie, maar ek weet: ons ma’s help mekaar. Ek reik uit na my vriendekring, wat weer na húlle kontakte uitreik. Ure later begin boodskappe instroom. Ons ontvang kontaknommers van agt verskillende mense in Aliwal-Noord.
Christo en Simone spring dadelik aan die werk. Hulle het in hul soektog die dorp en ʼn paar mense wat daar woon beter leer ken. Binne enkele dae is daar ’n geskikte blyplek vir volgende jaar gevind. Die twee stadskinders het ook in die proses iets van ’n klein dorpie se hart leer ken. Mense staan saam, help graag, en doen dit met ’n oop hart. Dit is iets wat ek destyds as kind in die myndorpie Kathu, leer ken het.
Vier wat reg is met die wêreld
Met ’n hart vol dankbaarheid het ek besluit om vir van die vreemdelinge wat uit hul pad gegaan het, ’n boodskap te stuur: “Baie dankie vir die moeite wat jy gedoen het om vir my kinders blyplek te help soek. Jou hulp het hul gemoed van moedeloos na opgewonde verander. Mense soos jy, wat help sonder dat jy die mense eers te ken, laat my weer glo in die goedheid van mense.”

Een vrou antwoord toe: “Ek hoop hulle kry die ideale plek en beleef ’n wonderlike jaar hier. Hulle moet my bel as hulle aankom en dan kan hulle vir ’n naweek by ons op die plaas kom kuier. Ek gaan Donderdae Aliwal toe; ek kyk graag namens hulle na moontlike plekke.”
Die hele ervaring het my weer baie rede gegee om dit wat reg is met die wêreld, te vier.
Die lig is altyd daar
Hierdie situasie het my aan soortgelyke stories herinner. ’n Paar jaar gelede het iemand my ma in Kathu gevra om ’n jong tandarts vir sy gemeenskapsdiensjaar in haar huis te huisves. Sy was aanvanklik onseker, maar het tog ingestem. Teen die einde van die jaar het sy oor hom gepraat asof hy haar eie kind is. Sy het vir hom kos gemaak en hom met beskuit en koekies bederf. Hy het op sy beurt haar met bokse Lindt-sjokolade verras en haar soms vir ete uitgevat. Ek moes lag toe sy sê haar liefde vir sjokolade het nuwe hoogtes bereik sedert sy Switserse sjokolade ontdek het.

Hier in Switserland het ek onlangs ’n jong Suid-Afrikaanse tandarts ontmoet en haar oor haar gemeenskapsdiensjaar uitgevra. Sy vertel dat sy aanvanklik in ’n Airbnb in Petrus Steyn gebly het. Na kerk het ’n ouer egpaar, toe hulle van haar situasie hoor, haar genooi om by hulle te kom bly. Sy sê sy was soos ’n kind in hul huis. Elke aand saam aan tafel, het sy deel van die familie gevoel.
Wees oop vir moontlihede
Wanneer ek terugdink aan hierdie stories, besef ek hoe oorvloedig die lewe raak wanneer ons oop bly vir potensiaal en moontlikhede—selfs dié wat ons nooit sou kon voorsien nie. Dikwels wag die beste geleenthede juis op die plekke waar ons dit die minste verwag: in ’n vreemdeling se vriendelikheid, ’n reëmiddag se soektog, of ’n klein dorpie se groot hart.

Mag ons almal hierdie feesseisoen met ontvanklike hande en hoopvolle oë leef, gereed om die verrassings van genade en goedheid raak te sien soos dit oor ons pad kom.
Groete
Emsia