Gedagtes soos wilde weghol perde
My gedagtes is dikwels soos ’n trop wilde weghol perde, gretig om te hardloop. Partykeer neem hulle my na oop vlaktes gevul met dankbaarheid, vreugde en verbeelding. Hierdie plekke is mooi, kleurvol en vol moontlikheid. Hulle verfris my siel, vul my met nuwe energie en skep hoop wat beide my liggaam en siel voed. Hulle word metgeselle wat bemoedig, inspireer en lewenskragtige ritmes binne my skep.

Ongelukkig is nie alle ritte is so rustig en bemoedigend nie. Wanneer onsekerheid of bekommernis my beetpak, kies hierdie wilde perde koers na donker valleie en digte bosse. Hulle gaan waar hulle wil en ek kan hulle nie in toom hou nie. Die rit raak dan skrikwekkend, vol vrees en angs. My liggaam berei voor vir gevaar. My liggaamstemperatuur styg, my asem raak vlak. Meestal gebeur hierdie gevaarlike ritte snags en ek kan hoor hoe my hartklop weergalm die stilte van die nag.
Ek het onlangs die boek Switch On Your Brain deur die neuroloog dr. Caroline Leaf gelees. Die skryfster het my aan die ongelooflike krag van ons gedagtes herinner. Hulle vorm elke aspek van ons menswees – liggaam, siel en gees.
Verstand en Brein — Wat is die Verskil?
Die Bybel leer dat God ons met ’n vrye wil geskep het. Ons het die vermoë om te dink, te kies en om die lewe vanuit verskillende perspektiewe te sien. Die brein is soos die fisiese “hardeware” van die liggaam, terwyl die verstand die “sagteware” is wat dit rig.
Al verskil sielkunde, mediese wetenskap en godsdiens in baie opsigte, stem hulle saam oor een ding: ons gedagtes is nooit neutraal nie. Hulle bepaal hoe ons voel, beïnvloed die keuses wat ons maak, raak ons gesondheid en verbind ons met ons identiteit en dieper betekenis.

Die blywende invloed van ons gedagtes
Neuroplastisiteit
Ons gedagtes is nie net ʼn prentjie in ons kop wat kom en gaan nie. Elkeen van hulle bou fisiese strukture in ons brein wat uit proteïene bestaan. Elke keer as ons dink, voel of besluit, verander ons brein. Hierdie vermoë van die brein om homself voortdurend te herorganiseer, staan bekend as neuroplastisiteit.
Die feit dat ons brein ons hele lewe deur voortdurend verander, was vir my ʼn merkwaardige waarheid. Dit kan egter tot ons voordeel of ons nadeel werk. Die gedagtes waarop ons die meeste fokus, groei die sterkste, hetsy dit nou positief of negatief is. Dit herinner my hoe belangrik dit is om doelbewus te kies waarheen ek my aandag rig.

Ons DNA
Navorsing toon dat ons gedagtes selfs die vorm en funksie van ons DNA kan beïnvloed. Negatiewe, vreesbevange gedagtes soos my weghol perde in die nag, plaas druk op my brein en liggaam. Dankbare en hoopvolle gedagtes het nie net ʼn positiewe uitwerking op my gemoed nie, maar stuur genesende seine deur my selle, wat my gesondheid, energie en selfs my DNA positief beïnvloed.
Daar is studies wat wys dat sekere patrone van denke en ervaringe deur ons DNA oorgedra kan word na die volgende vier geslagte. Dit laat my dink aan die Bybelse verwysing na die sondes van die vaders wat ’n nalatenskap laat, maar ook aan God se belofte dat ons vry kan word. Hier kom epigenetika in as ’n hoopvolle antwoord.
Epigenetika
Epigenetika beskryf hoe ons gedagtes en keuses ’n invloed het op ons fisiese brein, liggaam, geestesgesondheid en geestelike groei. Studies in epigenetika dui daarop dat ons verskeie eienskappe — sowel positief as negatief — van ons voorouers oor geslagte heen erf. Tog is dit ons verstand wat, soos ’n sein, bepaal of hierdie gene geaktiveer of stilgemaak word.

Ons hoef nie die negatiewe patrone van ons voorouers te herhaal nie. Ons kan doelbewuste lewenskeuses maak om hierdie neigings te oorkom deur ons patrone van uitdrukking te verander. Al kan die foute van ons ouers sekere risiko’s of geneigdhede skep, bepaal dit nie ons lot nie. Dit is ons verantwoordelikheid om hierdie risiko vir vatbaarheid raak te sien, dit te evalueer, en doelbewus te kies om dit te verbreek.
Ons persepsies en lewensuitkyk maak saak
Hoe ons die lewe interpreteer, het ’n direkte invloed op ons biologie. Dink maar aan mense wat diep trauma oorleef het, soos Holocaust-oorlewendes. Hulle wys vir ons dat ons nie altyd ons omstandighede kan kies nie, maar ons kan kies hoe ons dit sien en watter betekenis ons daaraan heg. Die digter van Invictus skryf dit so mooi: “I am the master of my fate, I am the captain of my soul.”

Ons moet ons gedagtes herlei en rig
Wanneer ons doelbewus ons gedagtes herlei en rig, beïnvloed dit die brein se sensoriese prosessering, sy herbedrading, neurotransmitters, genetiese uitdrukking, en selfs sellulêre funksies in ’n positiewe of negatiewe rigting. Die keuse lê by ons.
Navorsing toon dat wanneer ons doelgerig en introspektief nadink, ons die nie-bewuste prosesse van die brein meer effektief maak. Wanneer ons rus, skakel ons af van die uiterlike en word ons ons aandag na binne gerig. Hierdie nadenkende modus gee ons perspektief, wysheid, en die geleentheid om met God te verbind. Dit is waarom rustyd en om tot verhaal te kom so belangrik is. Ek kan ook die belangrikheid van Sondag as rusdag in hierdie konteks baie beter verstaan.
Wanneer ons egter nalaat om op hierdie manier te self-reflekteer en gedissiplineerd te dink, kan dit lei tot lae selfbeeld, depressie, angs en gesondheidsprobleme. Ons raak vasgevang in probleme, sukkel met korttermyngeheue, en verloor die vermoë om oplossings te sien.
’n laaste gedagte
Ons is vry om te kies waarop ons fokus, en daardie keuses beïnvloed hoe ons brein verander en funksioneer — van die chemikalieë en proteïene tot die verbindings self. Wetenskap bevestig dat die verhouding tussen ons gedagtes en ons selfbegrip, gevorm deur ons drome, hoop, oortuigings en idees, ’n diepgaande uitwerking het op breinaktiwiteit.

Die boek het my opnuut bewus gemaak van die groot invloed van my gedagtes op verskillende aspekte van my menswees. Teleurstellings, onsekerheid en pyn is deel van die lewe. Ek hoef dit nie te ontken of af te maak nie. Ek moet maniere vind om my wilde weghol gedagtes op ʼn gedissiplineerde wyse sagkens terug te lei na waarheid, dankbaarheid en hoop. Dit verg ʼn wilsbesluit, geduld met myself en oefening. Dit is egter van kardinale belang, want waarheen ons gedagtes gaan, volg die res van ons lewe.
Groete,
Emsia