Browsed by
Category: Woordkrag

Ons help dra mekaar se stories

Ons help dra mekaar se stories

As klein dogtertjie het ek elke oggend met my bakkie hawermoutpap en my bene swaaiend by ons rooi Formica-kombuistafel gesit. Terwyl musiek oor die radio speel het ek opgewonde gewag vir die kinderverhaal om te begin.

Die stemme uit daardie klein kassie het ons kombuis gevul. Ek het meer gedoen as om net te luister. Ek was deel van die storie en het die karakters se emosies gevoel. Die vrees van die verlore hasie, die moed van die klein seuntjie en die verligting wanneer dinge reg uitgedraai het, was werklik. Selfs voordat ek woorde daarvoor gehad het, het ek geweet: stories help ons om sin van die wêreld te maak.

Na baie jare is dit steeds waar vir my. Stories help my om my eie lewe te verstaan en om geloof, waardes en betekenis oor te dra. Hulle help ons om in iemand anders se omstandighede, kultuur, vreugde en pyn in te stap. Stories bou brûe.

Om Lewensverhale te Deel

Toe my jongvolwasse seuns tieners was, het my ma-rol my dikwels onseker, verdedigend en stilweg bang laat voel. Ouerskap het nie meer instinktief gevoel nie. Dit het broos gevoel. Een oggend, vasgevang in Kaapstad se verkeer op pad werk toe met taxi’s wat tussen bane inskiet en toeters wat gefrustreerd blêr, het ek my suster gebel. Ek het sleg geslaap. My gedagtes was deurmekaar. Ek onthou hoe ek die stuurwiel styf vasgehou het terwyl ek met ʼn stem swaar van emosie gesels het.

Sy het nie oplossings of lesings gegee nie. Sy het eenvoudig geluister. Stadig, soos ek gepraat het, het die geraas binne my sagter geword. Ek kon myself weer hoor dink. Haar teenwoordigheid het my geanker. Daardie gesprek het nie my ouerskapvrae opgelos nie, maar dit het my gehelp om my eie hart beter te verstaan. Dit is die draende krag van aandagtige luister.

Briewe

Jare later, toe ons na Switserland verhuis het, het ek die afwesigheid van daardie soort luister intens ervaar. Ek onthou hoe ek in ons nuwe kombuis gestaan het, met die klanke van ’n nuwe taal wat ek nog leer oor die radio. Beangs het ek gewonder: Hoe gaan ek die lewe doen sonder die ondersteuning van vriende? Met wie gaan ek praat wanneer ek nie die antwoorde het nie?

Ek het begin skryf. In my briewe huis toe het ek meer gedoen as om sneeubedekte berge of kulturele verskille te beskryf. Ek het probeer om my lewe te interpreteer. Ek het gevra: “Wie is ek hier? Waarheen is ek op pad? Waarmee is God in my lewe besig?” Skryf het ’n manier geword om met iemand aan die ander kant van die aardbol mee te gesels.

Wanneer iemand my nou met hul storie vertrou, voel dit soos heilige grond. Daar is ’n stil oomblik wanneer ’n mens besluit om die risiko te neem om geken te word. Ek voel dit wanneer ek iets kwesbaars met my man deel en hy luister eerder as om met ʼn oplossing te kom. In daardie oomblik groei vertroue. Só leer ons mekaar beter ken. Tog ken ʼn mens mekaar nooit ten volle nie. Elke lewe dra verborge hoofstukke en ongeskrewe eindes.

Digitaal

Oor die afgelope paar jaar het vriende self of saam met ʼn gesinslid ʼn pad met lewensbedreigende siektes gestap en hulle storie gedeel. Die eerste keer wat ek by ’n WhatsApp-“broadcast group”vir sulke nuus gevoeg is, was toe ’n dierbare vriendin se tienerseun met kanker gediagnoseer is. Haar boodskappe was rou en eerlik.

Ek het hulle stil-stil oopgemaak, soms met my asem opgehou. Ek het gehuil toe sy ’n foto plaas van hom wat die hospitaalklok lui ná sy laaste chemo behandeling — maer, glimlaggend, oorwinnaar. Selfs deur ’n gloeiende skerm het hoop, geloof en liefde gereis. Ons dra mekaar se stories selfs soms digitaal.

Storie Bondgenote

Wanneer iemand ons met hul vrae, seer of verwarring vertrou, nooi hulle ons om te word wat ek ’n storie-bondgenoot noem. Die temas in ons stories is universeel: liefde en verlies, hoop en wanhoop, lewe en dood. Die besonderhede van ons stories is altyd uniek en heilig.

Om ’n storie-bondgenoot te wees gaan nie daaroor om antwoorde te hê nie. Ek moet myself dikwels daaraan herinner dat dit nie gaan oor wyse raad of woorde om hulle beter te laat voel nie. Dit gaan oor teenwoordigheid. Dit is om langs iemand te staan terwyl hulle sin maak van verraad,  ’n diagnose verwerk, verlief raak, of ’n droom begrawe. Wanneer ons luister, word ons getuies van lyding, veerkragtigheid, twyfel en geloof. Soms, as ons fyn in gestel is, kan ons die fyn drade van goddelike liefde wat stilweg deur verwarring en pyn geweef is, raaksien.

Die meeste mense soek nie ’n kenner nie. Hulle soek iemand wat bereid is om saam met hulle die onbekende in te stap. Iemand wat hul krag na hulle terugspieël wanneer hulle dit vergeet het. Iemand wat sonder woorde sê: “Jy is nie alleen in hierdie hoofstuk nie.

Empatie

Ons kan nie getroue storie-bondgenote sonder empatie wees nie. Empatie is om saam met iemand te voel, terwyl ons onsself bly. Ons misluk soms hiermee as ons te gou, weens ons eie ongemak, die onderwerp verander of wanneer ons die ander persoon se angs ervaar asof die ons eie is.

Ware empatie hou twee waarhede tegelyk vas: Ek is by jou, maar jou ervaring is nie myne nie. Dit vereis nie ooreenstemming nie; eerder begrip. Dit skep verbinding sonder ineenstorting. Simpatie voel jammer van ’n afstand. Empatie kom nader, maar neem nie oor nie.

Gesonde Grense

Grense maak empatie volhoubaar. ’n Grens dui aan waar ek eindig en jy begin. Sonder dit raak ons verstrengel en verloor ons onsself in iemand anders se storie. Met mure wat te hoog is, onttrek ons en beskerm onsself teen ongemak. Gesonde grense is buigsaam en laat nabyheid toe sonder beheer. Hulle skep ruimte vir medelye sonder besit.

Kultuur, geloof en politiek het ʼn impak op waar daardie lyne vir ʼn individu natuurlik voel. Wat vir een persoon diep intiem voel, mag vir ’n ander heeltemal alledaags wees. Bewustheid hiervan help ons om verantwoordelik én sag te bly. Om onderskeid te tref beteken nie dat ons koud en kul is nie. Dit is wat liefde laat voortduur.

Luister as Kuns en Gawe

Wanneer ons nie luister nie, verbeur ons die reg om te praat. Diep luister vra verstand én hart. Dit vra die soort stilte wat weerstaan om elke pouse te vul. Ons praat té dikwels om ons eie ongemak te verlig, of om wys te klink, eerder as om te troos. Niemand is ’n kenner van ’n ander se lewe nie.

Mense vertel stories om te oorleef, te verwerk en te genees. Wanneer iemand werklik luister, kom iets tot rus. Die storie kry vorm. Trauma se greep verslap. Betekenis begin vorm aanneem. Om met deernis te luister is een van die stilste en kragtigste dade van liefde wat ons kan bied.

Dankbaarheid

Van die rooi Formica-tafel van my kinderjare tot die stemboodskap met nuus op my foon, het stories my nog altyd gedra. Hulle het my in verkeer geanker. Oseane saam met my oorgesteek. Langs hospitaalbeddens gesit. Kombuise met lag gevul. Trane in veilige ruimtes vasgehou.

Ek is diep dankbaar vir die storie-bondgenote in my lewe — dié wat geduldig geluister het, vrylik gelag het, getrou gebid het, en soms eenvoudig langs my gestaan het wanneer woorde nie genoeg was nie.

Hulle het my gehelp om my eie storie met groter moed en hoop te leef. Ek bid dat ek dieselfde vir ander mag doen.

Groete

Emsia

Die impak van taal op ons identiteit

Die impak van taal op ons identiteit

Taal speel ’n baie belangrike rol in enige kultuur. Dit is hoe mense kommunikeer, verhoudings bou en ‘n gevoel van gemeenskap skep. Deur taal gee ons uitdrukking aan ons gevoelens en gedagtes en dit help ook om ons identiteit te vorm.

Ek kom van Suid-Afrika, ‘n land met 11 amptelike tale, elk met unieke streeksvariasies. Taal stel ons in staat om unieke idees en gebruike binne verskillende kulture en samelewings oor te dra. Wanneer ek by my familie in die Kalahari kuier, geniet ek die pragtige woorde, beskrywings en aksente van Kalahari Afrikaans. Charl sê dikwels dat dit klink asof ons ‘n heel ander taal praat.

Ons taal verander gedurende verskillende lewens stadiums

Ons manier van praat kan selfs gedurende verskillende stadiums van ons lewe verander. Ek het opgemerk hoe my kinders se taal- en woordkeuses verander het soos wat hulle deur verskillende ontwikkelingsfases beweeg het. Die invloed van hul sosiale kringe was hoorbaar. As universiteitstudente het ons taal ook getransformeer. My pa het van die nuwe woorde wat ons gebruik het amusant gevind. Hy het selfs probeer om dit by sy werksvergaderings in te sluit, wat sy kollegas laat skaterlag het.

Integrasie in ‘n land met ‘n ander taal

Ons woon in die Duitssprekende deel van Switserland, waar verskeie dialekte, gesamentlik bekend as Switserse Duits, gepraat word. Om Switserse Duits te verstaan, is vir ons ‘n uitdaging. Selfs Duitsers wat Hoogduits praat, sukkel soms daarmee. Dit is moeilik om te integreer in ‘n land waar jy nie die taal magtig is nie.

By Zander se internasionale skool speel taal ‘n belangrike rol. Die skoolgemeenskap bestaan ​​uit gesinne van regoor die wêreld wat verskeie moedertale dek. Vele gesinne verhuis gereeld. Die kinders moet met elke verhuising aanpas by die nuwe land se kultuur en ook die plaaslike taal leer praat. In baie gevalle verskil hulle twee ouers se moedertaal ook. Hierdie kinders is dikwels verskeie tale magtig. Zander was ‘n buddy vir ’n graad 2 seun wat reeds op hierdie ouderdom 5 tale magtig was.

Zander se gedig oor taal en die impak op identiteit

Met ons verhuising na Switserland, was Zander genoodsaak om baie moeite met sy Engelse taalvaardigheid te doen ten einde dit na moedertaal vlak te bring.  Hy moes ook Duits as tweede taal en Spaans as derde taal aanleer. As deel van Zander se leerplan in graad 10, moes hulle ‘n gedig oor taal en die impak op identiteit skryf.

Ek deel Zander se gedig waarin hy sy verskillende taalidentiteite weerspieël.

Between Tongues

Afrikaans, the voice of my source,
Where “hoesit” echoes, and “lekker” supports,
It’s the language of rugby, of cricket games,
Of visits home, and calls for birthdays,
In Afrikaans, I say “I miss you” in words that know,
A time much simpler, of places long ago.

English, the language you can’t ignore,
A tool you need if you want to explore,
The language of strangers, now friends I find,
In corridors where new beginnings unwind,
It’s the voice of the world, the one you must know,
The voice I use when my past lets go.

German, the tongue of my new country’s streets,
Where friendships grow through no easy feats,
I’ve learned to connect, talk, and share,
In a tongue that still feels foreign, yet fair.
Though fluency is still a time away,
My expressivity grows with each passing day.

Spanish, a language I’m still working to speak,
Learned in class, though my skills are nothing unique
With Spanish, I interact with people I meet,
Brief encounters, but memories that stay complete.

Afrikaans, for family and past ties,
English, for school and global eyes,
German, for shopping and navigating new streets,
Spanish, for travelling and exploring new feats.
Four voices, like rivers, converging in me,
Each one shapes how I see the world around me.

With Afrikaans, I’m the child, of my roots
With English, I navigate global pursuits,
With German, I handle daily tasks and more,
With Spanish, I explore and open new doors.

Four languages, four worlds, all part of my soul,
All built connections, Each uniquely filling a hole.

Groete, Regards, Grüße,

Emsia

Briewe Huis Toe is op Amazon Kindle

Briewe Huis Toe is op Amazon Kindle

My eBoek is nou op die Amazon Kindle-aanlynwinkel in beide Afrikaans en Engels beskikbaar. Dit is ‘n viering en besinning oor ons vyf jaar in Switserland. Die boek is saamgestel uit vyftig briewe. Hulle delf in ons interne en eksterne ervarings as ‘n Suid-Afrikaanse gesin terwyl ons aanpas by die lewe in ‘n vreemde land. Ek glo lesers wat soortgelyke ervarings ondergaan het, dit beplan, of familie of vriende het wat in die buiteland woon, sal aspekte in die boek vind waarmee hulle kan vereenselwig.

In die briewe poog ek om die ingewikkeldhede van ons reis te verwoord en die essensie van ons vreugdes, uitdagings en refleksies vas te lê. Die briewe is dus meer as net ‘n oorvertelling van gebeure. Ek het ons emosies, gedagtes en kulturele ervarings in ‘n storie saamweef om aan die leser ’n eerlike en gebalanseerde uitbeelding van ons proses van verandering en aanpassing in Switserland, te gee.

Dankie vir al die aanmoediging, hulp en ondersteuning

Ek is dankbaar teenoor familie en vriende wat my aangemoedig het om my briewe in ‘n boek te publiseer asook diegene wat as Beta-lesers opgtree het.  Hulle het my op ‘n positiewe en opbouende wyse gehelp het om meer waarde tot my stories toe te voeg en die konstruktiewe terugvoer het gehelp om die oordra van my stories te verbeter. Baie mense het voorgestel dat ek foto’s in die boek insluit, wat ek gelukkig toe wel met die Kindle Publishing kon regkry. Ek het amper honderd foto’s in die boek ingesluit.

Ek het uitreksels uit die terugvoer ontvang, hieronder in tema’s gegroepeer.

Dis eerlik, persoonlik en eg

“Die rou eerlikheid het my getref. Dis persoonlik en eg, maar terselfdertyd interessant, leersaam en gebalanseerd.”

“Dankie vir die eerlikheid en opregtheid waarmee jy alles uitbeeld. Jy lê jou hart bloot oor die onsekerheid oor die onbekende, die mooi, asook klein oorwinnings en groot uitdagings wat julle in die vreemde oorkom.”

“Emsia, Jy het dit goed reggekry om jou lewensreis en ervaringe in Switzerland baie interressant met ons die lesers te deel. Wat ek egter die meeste met my saamvat is jou innerlike reis wat jy ook gedeel het. Dit maak dit baie eg en outentiek en gee die leser baie stof to nadenke. My favourites is: Innerlike reis, Tyd, Lewensboek en SA deur nuwe oë wat my ʼn traan laat wegpik het.”

“’n Eerlike deel en goeie beskrywing van die aanpassing, uitdagings en ervaringe in ‘n vreemde land. Dit is ‘n samevoeging van interressante onderwerpe wat baie informasie aan die leser sal gee, maar ook mooi stilstaan by die dieper emosionele en geestelike dimensie van ekspat-bestaan.”

Steeds trots Suid-Afrikaans

“Dit was heerlik om saam op die reis te gaan en ook nuwe wêrelde te verken maar terselfdertyd ook te beleef hoe jou hart steeds in Afrika en jou familie bande hier, genestel is en dat daar geensins afbrekend of neerhalend van ons vasteland geskryf is nie.”

“Die platform word nie misbruik om ‘n politieke standpunt te maak nie, iets wat hier maklik sou kon gebeur en wat ek dikwels, tot my ergenis, op sosiale media vind. Die onderwerp is baie relevant in veral die SA omgewing. Hierdie bundel is nodig.”

Die grootste idee wat uitstaan is dat mense steeds trotse Suid-Afrikaners kan bly, en daarmee die geskenk van diversiteit en uitdagings kan geniet.”

“Ek het besef dat Suid-Afrika altyd ‘n deel van my wortels sal vorm. Ek is lief vir Suid-Afrika maar ek is ook opgewonde om nuwe dinge aan te pak, soos wat Emsia het. Met liefde, van die Vader en van familie, kan die lewe vol wees, maak nie saak waar jy kies om die pad te stap nie. Dit wat veral uitgestaan het, is dat dit ook okey is om te aanvaar dat so ‘n groot besluit net ‘n seisoen kan wees en dat ‘n mens (veral ons Suid-Afrikaners) altyd ‘n huis sal hê om na terug te keer.”

‘n Waardevolle hulpmiddel vir ‘n expat-reis

“Vir ‘n persoon wat moet aanpas in Switzerland is daar baie waardevolle inligting wat die ekspat-reis baie sal vergemaklik.”

“Dit is ook ‘n goeie en realistiese gids vir iemand wat oorweeg om hulself in die buiteland te gaan vestig.”

“Ek sal graag vir elke persoon wat die besluit moet maak om in ‘n vreemde land te gaan bly, maar veral in Switserland, hierdie boek in die hand wil stop. Dit sal ‘n waardevolle hulpmiddel wees om die nuutheid en vreemdheid van ‘n nuwe land en kultuur te bowe te kom.”

“Die lewe is ‘n uitdaging wat ons altyd kan bemeester as gevolg van die menslikheid om ons en vanweë ons aanpasbaarheid en veerkragtigheid. Verandering is skrikwekkend, maar het baie positiewe kante.”

Dit inspireer selfontwikkeling en groei

“Ek voel dit laat my dink aan die gawes wat ek het, en hoe ek myself kan ontwikkel. Dit herinner my daaraan dat elke mens uitdagings in die gesig staar en hoe ons moet leer op die mooi in veranderinge te fokus. Dit laat my ook dink aan die swaar tye in my lewe en hoe ek gegroei het en baat gevind het by die omstandighede. Die boek het n duidelike sosiologie en sielkunde ondertoon.”

“Die boek is vol emosie en ondervinding. Dit gee raad wat ek met aandagting na sal luister voor ek so ‘n groot besluit maak. In geheel moedig dit my uiteindelik aan om ‘n nuwe avontuur aan te durf en ander kulture te ontdek en beleef.

“Ek was al self in Europa vir verlengde tye. Alhoewel ek besef dat dit baie opofferinge verg, het die briewe my laat voel of ek meedeel in gevoel met iemand wat bereid is en geïnspireer is om ‘n nuwe begin aan te pak.

Hoe verhuising na die buiteland weg van jou tuisland af, alle aspekte van ‘n gesin se lewe beïnvloed, maar tog lei tot persoonlike groei.

“Ek dink mense wat al oorsee gewoon het sal so kan identifiseer en aanklank vind. Dit maak mens ook weer lus vir nuwe avonture en belewenisse. Dit het my verryk.”

“Jou boek gaan eintlik oor self ontwikkeling. Ek hou daarvan want ek dink gereeld terug aan hoe ek n onderwerp uit n ander oogpunt kan sien.”

Kosbaarhede en lewenslesse om oor na te dink

“Moet dit egter nie te vinnig probeer lees nie, want daar is baie kosbaarhede en diep lewenslesse in, wat jy eers bietjie moet oordink voor jy omblaai na die volgende brief.”

“Die boek is stimulerend en moenie te vinnig gelees word nie. Mens moet ‘n ruskans tussen hoofstukke neem om te dink en reflekteer.”

“Die taalgebruik is oor die algemeen pragtig en suiwer. Ek het die meeste gehou van die Tyd as Geskenk hoofstuk.”

My hoop vir die boek

My hoop vir die boek is dat die regte woorde die regte mense op die regte tyd sal bereik.  Sal jy asseblief help om die boek aan mense wat daarby aanklank sal vind, aan te beveel. Ek heg ‘n voorsmakie van die boek aan as jy wil kyk hoe dit lyk. Jy kan die eerste sewe briewe sien voordat jy besluit of jy die boek wil koop.

Ek hoop verder dat ek meer mense sal aanmoedig om eBoeke te lees. Ons verhuising na Switserland het my aangespoor om van gedrukte boeke na eBboeke te skuif. Ek het die Kindle App op my foon gelaai en dit stel my in staat om my boeke te lees waar ek ook al gaan.

Baie dankie en groete

Emsia

Verkies jy gedrukte of elektroniese boeke?

Verkies jy gedrukte of elektroniese boeke?

Met ons verhuising na Switserland moes ons al ons besittings verminder. Die moeilikste vir my was om van my boeke afskeid te neem. Ons studeerkamer se een muur het uit ‘n rak vol boeke bestaan wat verskeie tydperke en ervaringe in my lewe weerspieël het. ‘n Buitestaander sou maklik insig in my lewensverhaal uit die titels van my boeke kon verkry. Ek het die boeke naaste aan my hart in een boks gepak. Die res van my boeke moes nuwe huise kry. Ek het hulle weggegee, met die hoop dat hulle vreugde, insig of wysheid aan hul nuwe eienaars sou bring.

My skuif van gedrukte na elektroniese boeke

Ons verandering in omgewing, het my geïnspireer om my leesgewoontes te verander. Met ‘n skaarsheid aan Engelse titels in plaaslike boekwinkels, hul hoë pryse en beperkte stoorplek in ons woonstel, het ek ‘n pragmatiese werklikheid in die gesig gestaar. Boonop het ons verhuising my aangemoedig om bewustelik vir minder besittings en ‘n meer respekvolle benadering tot verbruik te kies. Verandering is egter nie maklik nie. Ek hou van die gevoel en reuk van ‘n gedrukte boek. Die skrif was egter aan die muur en die oorgang na elektroniese formate was onvermydelik. Charl lees al jare lank sy boeke op sy Kindle e-Boek leser. Dit het as verdere motivering gedien om die verskuiwing te doen.

Ek het begin deur die Kindle-toepassing op my iPad af te laai. Die e-Boeke wat ek op Amazon aangekoop het, het outomaties met my iPad gesinkroniseer, gereed om te lees. Ek lees dikwels tydens treinritte of terwyl ek wag, maar om die iPad oral rond te dra het omslagtig geword. Ek het dus besluit om eerder die Kindle-toepassing op my foon te installeer. Aangesien ek altyd my foon het, waardeer ek die gerief en die opsie om die teks te vergroot namate my sig geleidelik met ouderdom verswak.

Voordele van elektroniese boeke

Behalwe vir die gerief om toegang tot al my boeke op een plek op my foon te hê, het ek sedertdien ander voordele ontdek om my boeke in elektroniese formaat te lees.

Ingeboude woordeboeke

Die Kindle-toepassing bied toegang tot veelvuldige woordeboeke, wat my in staat stel om die betekenis van onbekende woorde na te slaan en my woordeskat te verryk. Toe ons na Switserland verhuis het, het dit noodsaaklik geword om Duits te leer. Ek het Duitse kinderstorieboeke gevind en die elektroniese woordeboek gebruik om nuwe woorde moeiteloos te leer. Hierdie Duitse boekies was gerieflik gratis op Amazon.de beskikbaar.

Studie of navorsing

Ons moes handboeke koop vir ‘n aanlyn kursus wat in Suid-Afrika aangebied word. Dit was logisties uitdagend om die gedrukte boek te bekom, maar Amazon het ‘n e-Boek oplossing teen ‘n kwart van die prys aangebied. Ek het ook die Kindle-toepassing op my rekenaar gelaai om die boek te lees. Die toepassingsfunksie laat my toe om sekere aspekte van die boek in verskillende kleure uit te lig en aantekeninge te maak. Ek het toegang tot die boek en my notas op my rekenaar en foon tydens die aanlynklasse.

Bekostigbaar

Die Kindle-weergawes van talle boeke is baie meer bekostigbaar as hul gedrukte eweknieë, met ouer titels wat dikwels gratis aangebied word. My voorliefde vir die Netflix-reeks, “Anne with an E“, het my byvoorbeeld daartoe gelei om die ooreenstemmende boeke te koop. Tot my vreugde kon ek al Lucy Maud Montgomery se Anne-boeke gratis op my Kindle op my selfoon aflaai.

Baie skrywers maak die eerste boek in ‘n reeks gratis beskikbaar, wat lesers in staat stel om ander boeke aan te skaf as hulle die aanvanklike ervaring geniet het. Ek het op ‘n paar merkwaardige skrywers afgekom deur hierdie komplimentêre aanbiedinge. Sodra jy ‘n skrywer gevind het wie se werk jy geniet, laat Amazon jou toe om jou belangstelling in die skrywers se werk aan te dui en inligting oor nuwe vrystellings van daardie skrywer te ontvang.

Toegang tot ‘n groter verskeidenheid boeke

Amazon en ander eBoek verskaffers bied toegang tot ‘n reuse verskeidenheid van boeke.  As jy in ‘n sekere onderwerp belangstel, kan jy soekenjins gebruik om beskikbare boeke te vind en meer inligting daaroor in te win. Jy het gewoonlik ook die opsie om die eerste paar bladsye van die boek te kan lees om om jou belangstelling te peil voordat jy dit koop.

In ‘n globale wêreld is daar groter toegang tot elektroniese boeke. Ek hou daarvan om boeke in my moedertaal te lees en ondersteun graag Afrikaanse skrywers.  In die buiteland maak elektroniese boeke dit vir my moontlik om in Switserland Afrikaanse boeke te lees.

Familielede kan boeke deel

Om Zander se Afrikaans in stand te hou, het ek hom aangemoedig om ouderdomsgeskikte boeke in Afrikaans te lees. Ek kon sulke boeke op Amazon koop en met hom deel deur middel van die Amazon Household-opsie.

Die Amazon Household maak dit moontlik om digitale inhoud met gesinslede te deel sodra hulle by die rekening gevoeg word. Jy kan twee volwasse Amazon-rekeninge koppel om e-Boeke, oudioboeke, toepassings en speletjies te deel.

Selfpublikasie is makliker

Elektroniese boeke maak dit baie makliker en goedkoper vir aspirant skrywers om hulle boeke te publiseer. Indien ‘n skrywer vir die eerste keer ‘n boek wil publiseer is daar onsekerheid oor hoeveel mense in die boek gaan belangstel en aanvanklik drukkoste is hoog. Platforms soos Amazon bied egter toeganklike en koste-effektiewe selfpublikasie-opsies, wat boeke wêreldwyd geredelik beskikbaar maak.

Ek is besig om selfpublikasie uit te probeer en sal hopelik my eerste kindle boek voor einde Mei 2024 beskikbaar hê. As jy nog nie eBoeke gelees het nie, hoop ek my brief het jou belangstelling geprikkel en jou oortuig om dit ten minste uit te probeer.

Groete

Emsia