Browsed by
Category: My eie ma

Ma Lenie se liefde, lag en lewenslesse

Ma Lenie se liefde, lag en lewenslesse

Ons ma, Lenie vier vanjaar haar 80ste verjaardag. Oor die afgelope paar jaar het baie van ons skoolvriende hul ouers verloor. As kinders het ons dikwels by mekaar se huise gekuier, maaltye gedeel en oorgeslaap. Ons gesinne het deel van mekaar se lewens gevorm en die nuus van hierdie ouers se heengaan het ons diep geraak. In die proses het my ma ook jare lange vriendskappe verloor met al hoe minder mense wat kom kuier of gereeld bel om te verneem hoe dit gaan.

Ons wou haar verjaardag gebruik om haar te bedank vir haar rol in ons lewens. Terselfdertyd wou ons haar ook herinner aan haar bydraes en die impak wat sy op die lewens van ander en die gemeenskap gehad het. Vriende en familielede moes met staaltjies en stories help om hierdie doelwit te bereik, want stories het krag.

Almal se staaltjies en stories het ons verseker vir verskillende redes laat glimlag. Ek glo hulle was vir my en my suster net so ‘n groot geskenk soos wat dit vir my ma was. Hulle het heelwat lewenswaarhede by my tuis gebring wat ek graag wil deel.

Daar is baie verskillende weergawes van onsself in ‘n leeftyd

Die bydraes ontvang was van mense wat my ma in verskeie stadiums van haar lewe geken het.  Elke storie het ‘n weergawe van haar op ‘n spesifieke tydstip weerspieël. Oor die jare gaan ons almal deur baie verskillende weergawes van onsself. As kinders sien ons net ‘n paar weergawes van ons ouers, terwyl hulle op hul beurt elke weergawe van ons sien.

Elke weergawe het ‘n belangrike rol gespeel om rigting aan ons lewensreis te gee. Hulle almal het bygedra tot die persoon wie ons vandag is. Ons moet met eerbied en respek kyk na die wyse waarop die jonger weergawes van onsself die uitdagings en oorwinnings hanteer het. Ons het krag gevind in daardie ervarings en dit het ons gehelp om te groei, heel en floreer.

Die tydlose vreugdes wat soos ʼn goue draad deur ons lewens weef

Vriendskappe, tuinmaak, musiek en naaldwerk is die vreugdes wat soos ‘n goue draad deur my ma se staaltjies en stories geweef is. Hierdie vreugdes is vry van tyd en plek. Hulle is oral beskikbaar en sy kan hulle vind waarheen die toekomspad haar ookal mag lei.

Dit het my weereens herinner hoe noodsaaklik dit is om tyd te belê in die dinge wat vir ons vreugde bring. Ons toekomstige weergawes sal baie dankbaar vir die beleggings wees.

Ons is soms onbewus van ons impak op ander

My ma het ‘n manier gehad om ons vriende welkom in ons huis te laat voel. Sy het opreg in hul lewens belang gestel en saam hul lief en leed gelag en gehuil. ʼn Paar maal het sy selfs uitgehelp met mondelinge of breiprojekte wat nie wou klaar nie. Sy het graag haar liefde deur haar gebak, selfgekookte konfyt en etes uitgedeel. Haar terte, koeksisters en beskuit was onvergeetlik.

Sommige van ons skoolvriende het opregte woorde gedeel oor die impak van haar omgee, deernis en luisterende oor op hul lewens. Dit het my diep geraak. Hulle stories het my daaraan herinner dat mense altyd onthou hoe ons hulle laat voel het, selfs al is ons onbewus van die blywende indruk wat ons laat. Ons geduld, liefde en vriendelikheid vorm deel van die nalatenskap wat ons agterlaat.

Elkeen van ons word met ’n gawe gebore

Elkeen van ons word gebore met iets spesiaals—’n gawe wat uniek aan ons is. Dit kan ‘n talent, ‘n eienaardigheid of ‘n manier wees waarop ons na die wêreld kyk. My ma het ’n pragtige sangstem ontvang wat sy in die kerkkoor, die dorp se revue en selfs by troues, soos my eie, gedeel het.

Nog ‘n paar van haar gawes het duidelik geword deur die stories en herinneringe wat ander gedeel het. Sy het ʼn vermoë om die positiewe in elke situasie raak te sien. Ek dink aan haar met ‘n stralende glimlag wat kuiltjies in haar wange vorm. Sy het ‘n manier gehad om ander te help om ‘n spatsel kleur in die lewe se grys oomblikke te vind. Met eindelose geduld het sy na mense se stories geluister wanneer hulle dit nodig gehad het om gehoor te word.

Ons woorde refrein soms in ander se gedagtes

My ma het ‘n paar uitdrukkings gehad wat in my gedagtes opduik tydens die lewe se oomblikke. Een wat gereeld na my toe kom, is: “Wag net totdat jy eendag self ‘n ma is, dan sal jy verstaan.” Sy het dit gewoonlik gesê terwyl sy deur my slaapvenster angstig die straat dopgehou en gewag het dat my suster huis toe kom. In my tienerwysheid sou ek opmerk: “Ma hou op worry en gaan slaap.” In my rol as ouer refrein haar woorde gereeld wanneer ek oor my kinders bekommerd is.

My kind, hou die kroon op jou man se kop.” My ma het dit self baie goed uitgeleef. Haar liefde vir my pa was sigbaar en sy het hom alle opsigte ondersteun en aangemoedig. Hierdie was vir my nodig om te hoor nadat ek nie meer met die pa van my kinders getroud was nie. Ek het die wysheid verander na “Hou die kroon op die pa van jou kinders se kop” en is na al die jare dankbaar vir ma se stem wat in my gedagtes refrein het.

Wat is ons nalatenskap?

Die positiewe woorde oor my ma se impak op ander mense was lekker om the hoor op haar 80ste verjaardag.  Dit is goed om uit daardie perspektief na ons eie lewens te kyk, want dit help ons om meer vreesloos te lewe en met die wete ons daaglikse optrede  ʼn impak op ander het. 

Dit is nie die groot prestasies wat saakmaak nie. Hoe ons mense laat voel het en daar vir hulle was as hulle ʼn luisterende oor of liefdevolle aanmoediging nodig gehad het, is wat ʼn impak het.

Groete

Emsia

Blomme vir my ma by Keukenhof

Blomme vir my ma by Keukenhof

My beeld van my ma is ‘n groot bedding vol helderkleurige blomme. Haar lieflike tuin is haar speelplek maar ook haar wegkruipplek. Sy wys haar liefde met blomme. As skoolmeisie het sy my op my verjaardag met rose uit haar tuin bederf. Daar is altyd ‘n bos blomme in ons kamers wanneer ons kuier. Ek was baie opgewonde toe die geleentheid vyf jaar gelede ontstaan het om vir my ma die mooiste lentetuin in die wêreld, Keukenhof, te wys.

Ma Lenie in Holland

Opgewondenheid en benoudheid

Ek kon nie wag om die nuus met haar te deel nie. Haar opgewondenheid was so groot soos haar stresvlakke. Op die ouderdom van 71 was sy nog nooit oorsee nie. Programme oor Keukenhof op televisie was vir haar die genoegsame motivering om aansoek te doen vir ‘n paspoort. Sy het ook ‘n warm baadjie gekoop en ‘n blou mus gebrei.

Ek en my ma het via Dubai gevlieg en Charl in Amsterdam ontmoet. Ons het die verskillende etes en wye verskeidenheid musiek en flieks op die vliegtuig geniet. Sy het haar aan die ervaring oorgegee en gehardloop wanneer nodig om die aansluitingsvlug te haal.

Afskeid op die lughawe

Ons was bederf in ons blyplek in Leiden

Ons verblyf in Leiden was perfek. Die bed-en-ontbyt tannie was ‘n afgetrede sielkundige omtrent my ma se ouderdom. Omdat Nederlands en Afrikaans so na aan mekaar is, het ons met mekaar in ons eie tale gekommunikeer en verstaan. Ons gasvrou het ons met verskeie Hollandse lekkernye bederf. Elke oggend was daar nog ‘n tuisgemaakte verrassing, vars uit die oond, vir ontbyt. Die taal en kultuur van die Nederlandse programme op televisie het ons geamuseer.

Ma Lenie ervaar Holland

Amsterdam, Zaanse Schans en Delft fabriek

Ons het ons Keukenhof-besoek vir later die week beplan. Intussen het ons Amsterdam te voet verken en die mense, duisende fietse en historiese geboue bewonder. Toe ons bene moeg geword het, het ons die stad vanaf een van die bote op die kanale bekyk. Ons het die Zaanse Schans besoek en windmeulens, handwerkwinkels en museums gesien. By die Delft-fabriek het hulle die mooiste handgeverfde blou Delft-breekware gemaak.

Tulpplase

Lande met geel affodille

Die dag voor ons Keukenhof-uitstappie het ons tussen die tulpplase rondgery en die rye kleur bewonder. Soms het ons uit die kar geklim om nader te kyk en die wonderlike reuk van die massas blomme te ervaar. Die beeld van die blomvelde was my prentjie van die hemel. Ons was verstom oor die goudgeel affodille wat oral soos veldblomme te voorskyn gekom het.

Keukenhof

Tulpe in Keukenhof

Keukenhof was meer as wat ek verwag het. Dit was bevredigend om die verbasing in my ma se oë te sien, en dit was kosbaar om haar vreugde te ervaar. Ons was verstom deur die talle uitstallings, kleurvolle tulpvariëteite en ander blomme. Toe Charl later agterkom dat ons meer as 10 km gestap het, merk my ma verbaas op: Haai, ek het nie eers geweet ek kan so ver stap nie!

Hierdie jaar het ons gehoop om Keukenhof vir ‘n tweede keer te besoek. Keukenhof ontvang meer as ‘n miljoen besoekers per jaar. Keukenhof was gereed om op 20 Maart 2021 oop te maak en het kaartjies aanlyn begin verkoop. Die regering het hulle egter ingelig dat die huidige Covid-toestande hulle nog nie toelaat om oop te maak nie, al is hul tuine gereed. Covid-getalle in Europa styg weer, wat die derde golf aandui. Gelukkig het Keukenhof hul tuine virtueel op sosiale media vertoon. Ek begin dus elke dag met ‘n vinnige besoek aan Keukenhof!

Keukenhof tuine

Ek wens ek kon my ma verras met ‘n onverwagse besoek en blomme. Ek is egter nou beperk tot die tulpfoto’s wat ek vir haar per WhatsApp stuur. Gelukkig weet ek uit ondervinding dat daar soms uit die bloute geleenthede ontstaan.

Liefdegroete

Emsia