Browsed by
Category: Jaar 2025

Wag is ‘n uitdaging en ‘n seën

Wag is ‘n uitdaging en ‘n seën

Wag is een van daardie lewensaspekte wat ek wens ek beter kon hanteer. Ek soek antwoorde dadelik, verlang na duidelikheid onmiddellik en wens dat dinge sonder vertraging plaasvind. Tog herinner die lewe my telkens daaraan dat wag onvermydelik en soms nodig is.

Ek het oor verskillende seisoene van wag in my lewe nagedink. Ek het probeer verstaan waarom dit so moeilik vir my is en wat my gehelp het om daardeur te kom. In die proses het ek besef dat daar selfs verrassende positiewe dinge uit die wagervaring na vore gekom het.

Waarom is Wag dan so Moeilik?

As jong vrou was een van my diepste begeertes om ’n ma te word. Gedurende die eerste ses jaar van my huwelik het ek die pynlike onsekerheid ervaar of daardie droom ooit waar sou word. My interne biologiese klok het gemete aanhou tik en die vrae in my hart laat weergalm. Sou moederskap ooit deel van my storie word? Elke maand het sy eie siklus van hoop, teleurstelling en die moed bymekaar skraap om weer te probeer, gebring.

Daardie seisoen van wag het my help verstaan dat die uitdaging dikwels spruit uit die onsekerheid.  Ons smag na antwoorde, na sekerheid en na die gevoel dat alles op sy plek is. Soms moet ons egter net stilbly en vertrou dat die lewe, selfs in die wag, stilweg sy werk doen.

Wag is veral moeilik wanneer dit verweef is met ons diepste begeertes. Wanneer jy iets goeds verlang soos ’n werk, genesing, ’n verhouding, of ’n kind, kan die onsekerheid van wag jou magteloos laat voel. Wanneer daardie wag gepaardgaan met pyn, of dit nou fisiese siekte, eensaamheid of hartseer is, kan die wag amper ondraaglik voel.

Boonop beklemtoon wag ons bewustheid van die verbygaan van tyd. Dit kan nou verband hou met ’n biologiese klok, loopbaanmylpale, of bloot die indruk dat die lewe vorentoe beweeg sonder ons. Wag skep soms ’n gevoel dat ons agter raak.

Wat Help in Wagtye?

Al het ons nie beheer oor hoe lank ons wagtydperk duur nie, het ons wel ’n keuse oor hoe ons die tyd tussenin spandeer. Hier is ’n paar dinge wat my help:

Meditasie en Gebed: Wanneer ons mediteer en bid, kry wag ’n nuwe betekenis. Dit word nie meer net ’n tyd van stilte en onsekerheid nie, maar ’n seisoen van groei. In daardie stilte kweek ons geduld, ons geloof word sterker, en ons hoop kry anker. Al verkort dit nie die wag nie, verander dit hoe ons dit beleef. In plaas daarvan dat frustrasie ons verteer, kan ons die wag dra met vrede, vertroue, en selfs die sagte vreugde van God se teenwoordigheid.

Doen-aktiwiteite: Enige aktiwiteit wat my in ’n “vloei-toestand” plaas, soos skryf, verf, bak of fotografie, is voordelig. Dit fokus my gedagtes op iets positief wat ek geniet en dit verhoed  bekommernis om plek in my gedagtes op te neem.

Oomblikke van Verwondering: Verwondering lig ons bo die gewig van wag. Ek vind dit dikwels in die natuur soos ’n sonsondergang, die fyn besonderhede van ’n blom deur my kameralens, of die voëlsang vroeg in die oggend. Hierdie oomblikke herinner my dat ek ʼn spikkel in ʼn groter geheel is en dat daar baie orde in die wanorde is.

Woorde van Hoop: Ek skryf woorde wat tot my spreek neer.  Hulle dien as ankers, wanneer onsekerheid my wil rondwaai. Frases soos “Hierdie seisoen sal nie vir altyd duur nie” of “God het ʼn plan met ons lewens” help my weer asemhaal wanneer my ongeduld begin opvlam.

Watter Goed Kan Uit Wag Kom?

Nelson Mandela se lewe leer ons dat wagtyd nie vermorsde tyd is nie. Vir 27 jaar het hy in die tronk gesit, afgesny van sy familie en die saak waaraan hy sy lewe toegewy het. Tog was daardie lang seisoen van wag nie leeg nie; dit was ’n tyd van voorbereiding.

In die stilte van sy opsluiting het Mandela geduld geleer en besef dat ons nie verandering kan vryspring of haas nie. Hy het insig in sy vyande se perspektiewe gekry, geleer om te vergewe, en gekies om met wysheid eerder as woede te lei. Sy tyd in die tronk het hom in staat gestel om te groei in die soort leier wat die wêreld nodig gehad het. Hy het ontwikkel in ’n leier wat kan verenig in plaas van verdeel en bitterheid in versoening kan omskep. Teen die tyd dat hy in 1990 vrygestap het, het Mandela ’n simbool van hoop, veerkragtigheid en geregtigheid geword. Sy verhaal illustreer dat selfs tydens die moeilikste seisoene van wag, waardevolle groei plaasvind.

Bybelse waarhede

Die Bybel bevestig dieselfde waarheid in die ervarings van God se mense. Abraham en Sara het jare lank gewag vir die beloofde kind. Josef se wag het sy karakter gevorm, sy geloof verdiep, en hom in posisie geplaas om nasies te red tydens ’n krisis. Teen die tyd dat Dawid koning geword het, het sy beproewings hom gevorm tot ’n leier na God se hart, wat Israel met beide krag en nederigheid kon lei. Elkeen van hierdie stories beklemtoon dat wag ’n doel het. Dit is ’n seisoen van vorming, verfyning en voorbereiding. In wag kweek God geduld, verdiep Hy ons geloof, en bring Hy ons in lyn met Sy perfekte tydsberekening.

Ek hou van die Swahili-gesegde: “Haraka haraka haina baraka” — “Haastig, haastig bring geen seën nie.” Wag mag teenstrydig lyk met alles wat ons vinnige wêreld waardeer, maar miskien dra daardie stadiger pas sy eie verborge seëninge. Wag kan ongeduld in vertroue omskep, swakheid in veerkragtigheid, en verlange in ’n dieper afhanklikheid van ons Skepper.

’n Laaste Gedagte

Wag is nooit maklik nie. Dit toets ons geduld en laat ons soms gefrustreed, angstig en alleen voel. Tog kan dit ons ook op verrassende maniere laat groei. Dit kan ons help om die seëninge raak te sien wat ons andersins sou mis. Ons leer om in geloof en vertroue te leef en help ons om volharding en emosionele weerbaarheid te ontwikkel.

Ek is beslis nog nie goed met wag nie, maar ek leer stadig maar seker dat wagperiodes nie vermors moet word nie. Al daag dit my emosioneel uit, kan dit my karakter en geloof versterk.

Groete,

Emsia

Die Paradoks van Orde Binne Wanorde

Die Paradoks van Orde Binne Wanorde

Elke lid van my gesin is op ’n unieke pad vol onsekerheid en struikelblokke. As ma en vrou streef ek daarna om hulle te ondersteun en te bemoedig. Tog is daar oomblikke wanneer die onsekerheid oorweldigend voel en angs stadig insluip. Intussen staan Geloof buite—kalm, geduldig en betroubaar—en wag dat ek die deur oopmaak en Hom innooi.

Daarom het ek besluit om Geloof te omhels en Hom harder te laat praat as die fluisteringe van Onsekerheid en Angs. Ek vind my sleutel in boeke vol wysheid en in die gesprekke met my Skepper, wanneer ek in die woud gaan stap. In die stilte hoor ek Sy stem duideliker.

Eendag, oppad deur die landerye na die woud, het ek ’n sonneblom raakgesien. Die natuur het die sade in ’n perfekte Fibonacci-spiraal gerangskik, iets waarvan Zander my al vertel het. Hierdie wiskundige patroon, so vol orde en doeltreffendheid, het my herinner dat die skepping self ’n taal praat. Dit was asof die natuur, met sy ritmes en stille sekerhede, vir my fluister: “Daar ís ’n groter plan; vind jou rus daarin.”

Patrone in die Natuur

Selfs wanneer die wêreld deurmekaar lyk, ontdek ek telkens hoe die natuur sy eie orde dra. Onder die oppervlak van chaos ontstaan daar patrone wat nie toevallig is nie, maar wat openbaar hoe God ons wêreld volgens wysheid en ritme geskep en georganiseer het.

Ek sien dit in die spiraal van ’n sonneblom, in die lae van ’n pynappel, en selfs in die rangskikking van blomblare – alles gevorm volgens die Fibonacci-patroon wat die plant help om lig en water optimaal te benut. Ek sien dit ook in die seshoekige heuningkoeke van bye, ’n eenvoudige maar doeltreffende manier om kos te stoor sonder vermorsing.

Hierdie patrone is oral. Die vertakking van bloedvate lyk soos weerlig, omdat beide energie op die mees effektiewe manier versprei. Die spiraal van ’n sterrestelsel weerkaats die draai van ’n orkaan; albei gehoorsaam dieselfde vloeibaarheidswette. Selfs die fraktale patroon van ’n varing lyk soos ’n rivierdelta, omdat albei hul ruimte op die beste moontlike manier vul.

Chaos-teorie

Die Chaos-teorie is een van die mees fassinerende konsepte in die wetenskap. Dit wys hoe die natuur onvoorspelbaar kan wees, terwyl dit steeds aan verborge reëls gehoorsaam. Dit toon dat klein veranderinge in aanvanklike toestande, bekend as die “vlindereffek”, later groot verskille kan veroorsaak.

’n Klein verskuiwing in lugdruk of temperatuur op een plek kan uiteindelik bydra tot ’n storm of tornado elders. Klein veranderinge in geboortes of sterftes van ’n spesie kan soos golwe deur ’n ekosisteem beweeg. ’n Enkele klein vuur of die val van ’n boom kan lig en voedingstowwe verander, wat die groei van plante en die paaie van wilde diere hervorm. Met verloop van tyd kan hierdie klein veranderinge ’n hele woud omskep.

Chaos is nie ons vyand nie. Dit is ’n leermeester wat veerkragtigheid, aanpasbaarheid en nuwe moontlikhede kweek. Wanneer ons leer om hierdie verborge patrone raak te sien, kan ons selfs te midde van onstuimigheid ritme, betekenis en skoonheid ontdek.

Chaos en Orde is dansmaats

Hoe langer ek na die natuur kyk, hoe duideliker word dit vir my dat Chaos en Orde nie opponente is nie, maar dansmaats. Chaos bring verandering, beweging en veerkragtigheid. Orde bring stabiliteit, ritme en voorspelbaarheid. Saam skep hulle balans en lewe.

Ek sien dit in die ekosisteme rondom my: storms wat die lug suiwer en balans herstel, en brande wat ou groei wegneem om plek te maak vir die nuwe. Selfs in die menslike samelewing geld hierdie paradoks. Wanorde dra dikwels die saad van vernuwing, terwyl orde die rus skep waarin nuwe dinge kan groei.

Persoonlike Lesse uit die Paradoks

Uit hierdie dans tussen Chaos en Orde leer ek waardevolle lewenslesse:

Omarm onsekerheid. ’n Rivier kies nooit ’n reguit pad nie. Sy kronkel en draai, soms vinnig, soms stadig, en nou en dan stort sy oor ’n waterval. Tog bereik sy altyd die see. Ek hoef nie elke draai te verstaan nie. Die stroom dra my steeds vorentoe.

Sien patrone binne chaos raak. Die maan verander elke nag – vol, sekel, donker, lig – maar haar siklus keer altyd getrou terug. Verandering self is die konstante.

Vind balans tussen roetine en buigsaamheid. ’n Boom staan stewig gewortel in die grond, maar sy takke dans saam met die wind. Só oorleef hy storms. Met my wortels diep geplant in die ritmes van sorg en gebed, kan ek ook buigsaam bly in die lewensstorms.

Laat groei uit wanorde kom. ’n Bosbrand kan alles swart en stil laat, maar dit bring voedingstowwe terug in die grond en laat nuwe lewe ontspruit. Fynbos en proteas leef juis van hierdie siklus.

Sien skoonheid in onvolmaaktheid. Berge is nie reguit of simmetries nie – hul kranse is ongelyk, hul valleie oneweredig. En dit is juis wat hulle majestueus maak.

Aan die einde van die dag

Orde en Chaos, soos Geloof en Angs, is nie altyd in stryd nie. Soms werk hulle saam om nuwe moontlikhede te bring. Wanneer ek leer om hierdie paradoks te omhels, kom daar ’n stilte in my tot rus. Selfs binne wanorde begin patrone sigbaar word. Wat seker is, word liggies vasgehou, terwyl dit wat nie beheer kan word nie, geleidelik gelos word. Skoonheid verskyn in onvolmaaktheid, ritme kom uit chaos, en betekenis word gevind in elke draai van die pad.

Ek moet nie teen die ritme van die heelal te veg nie. Dit is beter as ek leer om saam te dans.

Groete

Emsia

Vakansie bied tyd vir konneksie en refleksie

Vakansie bied tyd vir konneksie en refleksie

Ons somervakansie het my weer opnuut laat besef hoe nodig vakansies en wegbreek naweke is. Soos die jaar vorder, neem die druk en verpligtinge toe, maar ons energie en vreugde raak al hoe minder. In ons huis raak meer van ons gesprekke gefokus op take wat afgehandel moet word, uitdagings wat ons moet aanspreek en oplossings vir probleme.

Vakansies en wegbreek naweke het ʼn baie belangriker rol as bloot net ontspanning. Hulle help met balans in ons lewens.

Verhoudings word versterk

Weg van werk, huispligte en skerms, kry ons weer volle aandag vir mekaar. Sonder die gejaagdheid van alledaagse lewe, kan ons langer en ongedwonge sommer maar net gesels. In ’n ontspanne omgewing is dit makliker om selfs moeilike onderwerpe te bespreek. Dit breek die siklus van gejaagde dae en herinner ons weer aan die redes hoekom ons mekaar as lewensmaats gekies het.

Ons sien ook die groei van ons kinders raak, leer hulle beter ken en ervaar saam nuwe avonture.

Nuwe plekke en avonture skep gesamentlike stories wat ons later kan onthou en oor kan lag. Sulke ervarings word later dié dinge waarna ons terugverwys as spesiale oomblikke. Dit wys ook soms nuwe kante van mekaar soos avontuurlustigheid, humor, of geduld.

Stimulering vir nuwe idees

Nuwe plekke, kosse en mense help met perspektief en dien as stimulering vir nuwe idees. Ons sintuie word wakker gemaak en ons kyk met vars oë na die wêreld. Dit help ons om buigsaam en oop te bly vir verandering en maniere van doen.

Miskien is die grootste geskenk van vakansies die mense wat ons ontmoet. Nuwe vriendskappe, spontane geselsies met vreemdelinge, of selfs die manier waarop plaaslike inwoners hul kultuur en leefstyl deel, kan ons diep inspireer.  

Vakansies en kort wegbreke is soos ’n knoppie wat ons brein en liggaam uit “outo-pilot” haal en ons daaraan herinner dat daar meer kleure in die lewe is as net dié wat jy elke dag sien.

Perspektief en insigte

Afstand (fisies en geestelik) laat ons daaglikse probleme kleiner lyk, help met perspektief op uitdagende situasies en bring nuwe insigte. Dit gee ook waardevolle tyd vir refleksie.  Is ek waar ek wil wees en doen ek wat ek graag wil doen? Is ek tevrede met die verloop van my lewe? Hoe sien ek my toekoms en wat hoop ek vir myself?

Vakansies herinner ons daaraan dat die lewe vol moontlikhede is en moedig ons aan om buite ons gewone grense te dink en te groei. Mense kom dikwels terug van vakansies met vars insigte, ’n nuwe passie of selfs ’n nuwe rigting in die lewe.

As ek terugkyk op my lewe, besef ek hoe ek van my grootste lewensbesluite tydens vakansies geneem het. Ek deel ’n paar van ons vakanse ervarings en insigte.

Ouderdom en aftrede

Ons afgelope vakansie se bootvaart na Ysland is ideaal vir mense wat weens ouderdom of gesondheid nie baie beweeglik is nie. Die boot vaar in pragtige fjorde en jy kan al die skoonheid van die dek geniet. Die meeste passassiers was ouer. Heelwat persone het looprame of mobility scooters, wat sommer gedurende die nag in die gange se elektriese punte herlaai is, gebruik.

Op die boonste vloer, aan die voorkant van die boot was die Crows Nest met groot klasvensters. Passasiers het van vroegoggend af met ʼn lekker koppie koffie die asemrowende landskappe geniet. In hierdie vetrek was daar ook ʼn groot verskeidenheid bordspeletjies en legkaarte beskikbaar.  Passasiers het dit as geleentheid gebruik om nuwe mense te leer ken en mekaar se samesyn op ʼn ontspanne manier te geniet.

Ek en Charl het die vele interaktiewe speletjies geniet. Ons het baie sleg gevaar in die vasvrae wat gerig was op musiek uit verskeie dekades. Ons het dadelik die liedjies herken maar kon glad nie die name onthou nie!! Die vasvrae oor sport, wetenskap en kos het ons effens beter oor onsself laat voel.

In die aande was daar geleentheid vir mense om ballroom dancing te doen. Ek het my verstom aan die grasiuse bewegings en vaardigheid van baie van die ouer paartjies. Hulle was so “in tune” met mekaar en dit was duidelik dat hulle al lank ʼn lewenspad met mekaar stap.

Ons begin nou die aftreehoofstuk nader en het baie gewonder oor wat die toekoms mag inhou. Die mense op die boot was ’n inspirasie en het ons laat opgewonde voel oor wat voorlê.

Taal

Op vakansie bote is die voertaal van die passassiers asook die afkondigings gewoonlik die taal van die omgewing. In Europa en selfs op die vakansiebote is ons verstaan van gesprekke en situasies maar min. Op die Holland America boot was al die afkondigings in Hollands en Engels gedoen. Die Cruise Direktor was van Belgie en met sy Flaamse agtergrond het sy Hollands vir ons net soos Afrikaans geklink. 

Dit was wonderlik om sommer alles te kon verstaan.  Dit het selfs vir ons dit moontlik gemaak om met van die ander passasiers te kon gesels en kon beter die inligting oor die verskeie bestemmings verstaan.  Om ons eie tale te hoor en te praat het ons baie meer ontspanne laat voel. Dit was ’n bietjie soos om jou mees gemaklike skoene te dra terwyl jy êrens nuut gaan stap. Jy ervaar steeds die opwinding van ontdekking, maar sonder die ongemak van onsekerheid met elke tree.

Wonderwerke en geloof

Die Cruise Director het moeite gedoen om inligting en stories oor die plekke wat ons besoek het, te deel. Iets in die vissersdorpie Ålesund in Noorweë se geskiedenis het my diep aangegryp.

Toe die groot brand van 1904 deur Ålesund vee, het dit 850 houtgeboue vernietig en 10 000 mense dakloos gelaat. Tog, op ’n heuwel in die oostelike distrik, het een klein houthuis ongedeerd gebly — Waldehuset, die “huis wat nie gebrand het nie.”

Volgens plaaslike oorlewering het die eienaar, prediker Waldemar Anderssen, die dag van die brand besoek van ’n engel ontvang. Die engel het beloof dat sy huis gespaar sou word, en die prediker het tydens die brand in sy huis gebly. Toe die vlamme uiteindelik bedaar, het sy huis ongeskonde gestaan terwyl die hele dorpie in puin gelê het.

Slegs drie jaar later is die stad heeltemaal in die pragtige Art Nouveau-styl herbou, en was dit een van die modernste dorpe ter wêreld. Vandag is Waldehuset ’n klein museum en kafee waar besoekers kan instap. Dit het ʼn simbool van geloof en genade geword. Ek wil die komende jaar meer gefokus wees op die wonderwerke en genade in my lewe.

Ten slotte

As ons aan die lewe soos ’n lang staptog dink, is vakansies en naweke weg die rusplekke. Hulle gee ons water, skaduwee, en ’n kans om rond te kyk.  Dit help dat ons met hernude energie kan aanhou stap en die lewensreis meer geniet.

Die rusplekke is meer as net pouses – dit is ook plekke waar ons herinner word waarom ons stap. Daar, ver van die gejaag, hoor ons weer ons eie gedagtes en sien ons die klein wonders langs die pad raak. Só word die reis ’n ryk ervaring vol stories, mense en oomblikke wat ons siel voed. Wanneer ons weer opstaan om die res van die pad aan te pak, dra ons iets van daardie rus saam. Dit word ’n stille krag wat ons help om elke tree met dankbaarheid te neem.

Groete

Emsia

Ons leef volgens ongeskrewe sosiale reëls

Ons leef volgens ongeskrewe sosiale reëls

Ons leer sekere idees en maniere van dink aan by die mense om ons, soos ons familie, vriende en die mense met wie ons tyd spandeer. Hierdie idees staan bekend as  “sosiale konstruksies”. Hulle help ons om te verstaan hoe die wêreld funksioneer en vorm ons persepsies van wat as reg of verkeerd, sowel as konvensioneel of ongewoon beskou word. Hierdie idees word op ons oorgedra deur verskeie invloede soos taal, kultuur, familie, vriende en selfs die media (soos TV en sosiale media). Sosiale konstruksies help mense om die wêreld te navigeer. Hulle is egter nie permanent nie en kan verander en ontwikkel soos mense en samelewings groei.

Ongeskrewe reëls en waarhede

Mense raak gewoond aan hoe hulle dinge doen en dink, en glo dan dat hulle perspektief die enigste of korrete een is. Vir hulle is dit hul “waarheid”. Wanneer ons egter ander plekke of lande besoek, besef ons vinnig dat mense heel anders kan dink en leef. Sulke ervaringe leer ons dat daar meer as een  “waarheid” kan wees.

Ek het dit die eerste keer besef toe ek van die huis af weg is om Universiteit toe te gaan. Daar het ek mense van diverse agtergronde ontmoet wat situasies op ‘n ander maniere as ek waargeneem en beskryf het. Ek onthou die eerste keer wat ’n oulike studentevriend by my ouerhuis kom kuier het. Sommige van sy gedrag het gebots met my ma se verwagtinge en haar lyftaal het alles gesê! Die vriend het later grappenderwys opgemerk: Dit voel of julle huis vol ongeskrewe reëls is en ek oortree hulle almal. Ek wens iemand wil vir my ’n lys gee!

Switserland

Met ons gesin se verhuising na Switserland, het ek ook gewens dat iemand vir ons ’n lys van al die ongeskrewes reëls kon gee. Mense neem dit op hulself om vir jou uit te wys as jy iets oortree.

Die Switsers heg groot waarde aan tyd, wat weerspieël word in stiptelikheid. Om stiptelik te wees, word beskou as ‘n teken van respek, betroubaarheid en professionaliteit. Om laat te wees, word dikwels as onbeskof of onbedagsaam beskou. Openbare vervoer, soos treine en busse, loop amper altyd presies volgens skedule, wat die verwagting versterk dat almal hul tyd goed moet bestuur. Stiptelikheid gaan verder as om net betyds te wees; dit weerspieël jou integriteit. Dit wys dat jy jou verpligtinge nakom, verantwoordelikhede respekteer en ander se tyd waardeer.

In teenstelling hiermee is houdings teenoor tyd en stiptelikheid in Suid-Afrika dikwels meer ontspanne. Mense verwys tong-in-die-kies na  “Afrika-tyd”, wat beteken dit is aanvaarbaar om ‘n bietjie laat te arriveer. Dit word nie noodwendig as oneerbiedig beskou word nie. Beide ek en Charl kom uit huise waar stiptelikheid belangrik geag is en daarom stem die Switserse perspektief op tyd goed met ons waardes ooreen.

Gesinne en families

Gesinne en families het ‘n groot invloed op hoe kinders dink oor wat aanvaarbaar of wenslik is. Baie van wat mense oor die wêreld glo, begin by die huis. Dit word dikwels deur daaglikse roetines en interaksies geleer, soms sonder dat enigiemand dit eers besef. Die manier waarop familielede met mekaar kommunikeer, die verwagtinge wat by die huis gestel word, en die waardes wat oorgedra word, beïnvloed alles ‘n kind se perspektief.

Een belangrike konsep wat gesinne help definieer, is wat dit beteken om “suksesvol” te wees, en dit kan baie van een huishouding tot ‘n ander verskil. Sommige ouers mag sê: “Jy moet kollege toe gaan en ‘n goeie werk kry,” terwyl ander dalk beklemtoon: “As jy hard werk in die familiebesigheid of ‘n sorgsame ouer word, doen jy goed.” Wat kinders oor sukses begin glo, word dikwels gevorm deur hul waarnemings en ervarings by die huis. Hierdie oortuigings kan hul toekomstige besluite beïnvloed en diepgaande vorm gee aan hoe hulle hulself en hul prestasies beskou.

Taal

Taal speel ‘n sleutelrol in die vorming van hoe mense dink, optree en met mekaar omgaan. In Suid-Afrika, met sy 11 amptelike tale en diverse kulture, beïnvloed taal hoe mense konsepte soos geslagsrolle (wat van mans en vroue verwag word), respek, familie en identiteit verstaan.

In sommige Suid-Afrikaanse kulture is dit belangrik om respek aan ouer mense te toon. Jy spreek ouer individue nie op hul voorname aan nie. Daar is spesifieke terme en maniere van praat wat respek oordra. Die taal self leer mense oor rolle en hiërargie binne die familie en gemeenskap en help om kulturele tradisies te bewaar.

Hierdie konsep is soortgelyk aan hoe mense in sommige Europese tale soos Frans of Duits tussen formele en informele “jy” onderskei – soos “vous vs. tu” of “Sie vs. du” In Suid-Afrika gaan dit selfs verder en is dit dikwels deel van die kultuur self.

Ek neem dit in my eie familie waar. My kinders, wat in die stad grootgeword het, noem my suster en haar man op hul voorname. In teenstelling hiermee verwys my suster se kinders, wat op die platteland grootgeword het, steeds na my as “Tannie Emsia”. Dit is vir hulle ‘n teken van respek.

Kultuur

In baie Afrika-kulture beklemtoon die konsep van Ubuntu die belangrikheid van gemeenskap en wedersydse ondersteuning. Ubuntu kan opgesom word as: “Ek is wie ek is, omdat ons mekaar het.” Dit beklemtoon die belangrikheid van omgee vir ander, saamstaan ​​en ons interafhanklikheid van mekaar. Dit gaan nie oor individualisme nie.

Jou identiteit word gevorm deur beide jouself en jou verbintenisse met ander. Wanneer ‘n familielid suksesvol word, is daar dikwels ‘n verwagting dat hulle teruggee en hul geliefdes ondersteun eerder as om slegs persoonlike doelwitte of rykdom na te streef. Dit kontrasteer met perspektiewe uit ander gebiede, wat dikwels onafhanklikheid en individuele sukses die hoogste waardeer.

Ek het gesien hoe hierdie kulturele verskil in die werkplek afspeel. Jong individue van Afrika-kulture het gedeel dat hulle dikwels nie aan sosiale uitstappies met kollegas kan deelneem nie, omdat hulle ‘n beduidende gedeelte van hul inkomste huis toe stuur om hul gesinne te onderhou. Hierdie voorbeeld illustreer hoe kulturele waardes steeds die daaglikse lewe en individuele keuses beïnvloed.

Verstaan ander mense se perspektiewe

Die idees wat ons het oor wat “normaal” of aanvaarbaar is, word dikwels gevorm deur sosiale konstrukte. Taal, kultuur, familie en opvoeding speel almal ‘n rol in die vorming van hierdie ongeskrewe reëls. Hulle beïnvloed ons gedagtes, gedrag en persepsies van die wêreld rondom ons.

Wanneer ons daarna streef om ander mense se perspektiewe en hul weergawes van die “waarheid” te verstaan, verhoog ons die waarskynlikheid van wedersydse respek en harmonie, selfs wanneer ons nie saamstem nie.

Groete

Emsia

Vroue swyg oor menopouse struwelinge

Vroue swyg oor menopouse struwelinge

Ons het kort voor my 50ste verjaarsdag na ‘n nuwe land verhuis. Twee van my seuns moes in Suid-Afrika agterbly om hul studies voort te sit. My jongste seun en man moes aanpas by ‘n nuwe skool- en werksomgewing in ‘n vreemde land. Ek moes ook aanpas by baie veranderinge, insluitend ‘n amper leë nes. Ten minste kon ek hieroor praat.

Ek het dit egter baie moeiliker gevind om te praat oor wat binne my eie liggaam aan die gebeur was. Ek was besig om menopouse te betree, en dit het gevoel asof ek in iemand anders se vel leef.

Daarom het ek besluit om openlik te praat oor ‘n onderwerp en ‘n lewensfase waarvoor ek glo te veel vroue onvoorbereid is. Hierdie onderwerp is menopouse, hoe ons dit ervaar en die dikwels oor die hoof gesiene risiko van afhanklikheid wat daarmee gepaard kan gaan.

Die Middeljare val saam met ander uitdagtings

Hierdie lewensfase val dikwels saam met ander stresveroorsakende oorgange. Kinders wat die huis verlaat, kan gevoelens van verlies en leegheid veroorsaak. Terselfdertyd kan ons bejaarde ouers siek word of toenemend afhanklik van ons word. Dit voeg ‘n verdere laag emosionele verantwoordelikheid by. Boonop nader ons lewensmaats aftrede en verskeie onsekerhede verhoog angs. Daar is vrae soos: “Is ons finansies voldoende? Waar gaan ons aftree en wat gaan ons doen met ons tyd?”

Menopouse bring ‘n wye reeks fisiese en emosionele simptome. Ek het warm gloede, nagsweet, slaapversteurings en buierigheid verwag. Ek was egter onvoorbereid op die depressie, angs en oorweldigende gevoel van doelloosheid wat gevolg het. Die fisiese veranderinge het my ook onkant gevang. Hierdie vetrol om my maag, veldroogheid en liggaamspyne het my laat voel asof ek nie in my eie liggaam tuishoort nie.

Ons praat dikwels openlik oor adolessensie en die uitwerking van hormone op tieners. Tog erken ons selde die groot hormonale impak wat vroue tydens menopause ervaar en die emosionele tol wat dit kan eis.

Die risko van negatiewe hanteringsmeganismes

Gedurende hierdie lewensfase staar baie vroue ’n ander ernstige risiko in die gesig. Daar is ’n groeiende afhanklikheid van middels en gedrag wat slegs tydelike verligting bring. Dit sluit dinge in soos alkohol, pynstillers en slaappille, asook gewoontes soos oormatige gebruik van sosiale media of kompulsiewe inkopies.

Alkohol is só genormaliseer en ingeburger in ons sosiale kultuur dat dit maklik is om ’n gebruikspatroon te ontwikkel sonder om die gepaardgaande gevare raak te sien. Sosiale druk speel ook ’n groot rol en moedig dikwels drink en die gebruik van ander stowwe aan. Aangesien daar soveel “ontvlugtingsopsies” beskikbaar is, soek baie vroue troos daarin. Hierdie afhanklikheid kan vroue op verskillende maniere bewustelik of onbewustelik benadeel.

By ouer vroue word die skadelike gevolge van hierdie middels dikwels misken of verkeerdelik gediagnoseer as ander toestande, soos depressie of selfs demensie. Skaamte of ontkenning kan veroorsaak dat vroue huiwer om hulp te soek, wat die probleem verder vererger.

Dit is belangrik om te besef dat vroue alkohol anders as mans metaboliseer. Dit maak ons meer vatbaar maak vir langtermyn skade, soos lewerskade en kognitiewe agteruitgang. Navorsing toon ook dat alkoholgebruik tydens menopouse simptome kan vererger en die risiko vir ernstige gesondheidsprobleme, soos hartsiektes en osteoporose, kan verhoog.

Hoe die brein plesier in hunkering verander

Ek het dit fassinerend gevind om te leer dat die brein alle vorme van plesier op dieselfde manier verwerk. Dit kan ‘n drankie, ‘n finansiële beloning, ‘n seksuele ervaring of ‘n heerlike maaltyd wees. In elke geval stel die brein ‘n neurotransmitter genaamd dopamien vry in ‘n area wat bekend staan ​​as die brein se plesiersentrum.

Die waarskynlikheid dat ‘n middel of aktiwiteit tot ‘n problematiese verhouding sal lei, hang van drie faktore af. Dit is hoe vinnig dit dopamienvrystelling veroorsaak, hoe intens daardie vrystelling is, en hoe konsekwent dit plaasvind. Selfs die wyse hoe ʼn persoon ‘n middel inneem, wat lei tot hoe vinnig dit die bloedstroom binnedring, kan die potensiaal vir verslawing beïnvloed.

Die Rol van Dopamien

Dopamien doen meer as om net gevoelens van plesier te skep. Dit speel ook ‘n belangrike rol in leer en geheue. Hierdie funksies kan iets wat jy geniet, omskep in iets waarna jy hunker, wat jou aanspoor om dit te soek.

Met verloop van tyd pas die brein aan by herhaalde dopamien-stygings. Hierdie aanpassing lei tot toleransie, wat beteken dat dieselfde middel of aktiwiteit nie meer dieselfde vlak van plesier lewer nie. Mense vind dikwels dat wat hulle eens ‘n bevredigende “high” gegee het, nou dof voel, tensy hulle die hoeveelheid of frekwensie verhoog.

Selfs nadat iemand hul verhouding met ‘n middel of gedrag beëindig het, kan die hunkering na die plesier wat dit eens verskaf het, soms jare lank voortduur.

Ons moet mekaar ondersteun

Dit is belangrik dat ons as vrouens mekaar ondersteun deur hierdie lewensfase. Om bloot met iemand te praat wat werklik luister, kan ‘n wêreldse verskil maak. ‘n Paar vriendelike woorde of bemoedigende boodskappe kan baie beteken. Dit het veral ʼn groot impak wanneer iemand neerslagtig voel, belangstelling verloor in aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het, of sukkel met selfbeeld.

Ons moet na ander vroue uitreik en hulle nooi om aan verskillende aktiwiteite deel te neem of met ander mense kontak te hê. Dit skep geleenthede vir hulle om weer goed oor hulle self te voel.

Ek sal altyd dankbaar wees teenoor die vroue wat na my uitgereik het toe ek dit die nodigste gehad het. Deur hul ondersteuning het ek wonderlike nuwe vriendskappe gebou wat my lewe verryk.

Groete

Emsia

Langs die Oewer van die Oranjerivier

Langs die Oewer van die Oranjerivier

Die Oranjerivier, die langste rivier in Suid-Afrika, weef soos ‘n goue draad deur ons familie se geskiedenis. My ouers het langs sy oewers grootgeword, en dit is waar hulle ook ontmoet het. My pa, Christo, het sy kinderjare in Upington deurgebring, terwyl my ma, Lenie, in Kanoneiland grootgeword het. Baie van ons familielede boer vandag nog langs die rivier. Tydens ‘n onlangse besoek het die asemrowende sonsondergange my herinner hoe gepas die naam “Oranjerivier” werklik is.

My oupa was een van die vroeë setlaars van Kanoneiland

My oupa, Barend Engelbrecht, was een van die vroeë setlaars van Kanoneiland, die grootste eiland in die Oranjerivier. Danksy sy vrugbare grond en oorvloedige water het Kanoneiland ‘n florerende besproeiingsgebied geword. Hy het hom daar gevestig gedurende die Depressiejare. Hulle het die eerste brug in 1940 gebou. Voor dit het die eiland se vroegste inwoners eers per vlot, toe per boot en uiteindelik per pont hul tuiste bereik.

Die Oranjerivier is nie veilig om in te swem nie

Ons geniet dit om die Oranjerivier as ‘n familie te besoek.

Op een van ons uitstappies was die watervlak laag, en my oudste seun, Jacques, en ek het ten spyte van my ma se waarskuwings, besluit om na die oorkantste oewer van die rivier te swem. Ons het ‘n sandbank tussen die riete opgemerk waar ons beplan het om te rus voordat ons sou terugswem.

Toe ons egter die sandbank nader, het ons ‘n familie likkewane waargeneem wat on ingewag het. Ons het bleek in die kiewe vinnig omgedraai en probeer om terug stroomop te swem. Ek het gesukkel om dit te maak en Jacques moes my uit die rivier help. Maalkolke wat mens maklik insuig is ‘n gevaar in die Oranjerivier.

Die Oranjerivier gee en neem

Die Oranjerivier is dikwels geneig tot oorstromings en gedurende hierdie tye word die Augrabies-waterval ‘n asemrowende gesig.

Oorstromings kan egter aansienlike skade aan gevestigde landerye veroorsaak. My Tannie Barry het baie stories gedeel oor hoe hulle hul wingerde en besittings verskeie kere gedurende die 1960’s en 1970’s weens vloedskade verloor het. By verskeie geleenthede het ‘n helikopter hulle gered en hulle moes in ‘n pakstoor bly totdat die watervlakke gedaal het. Hulle moes drie maal  van voor af begin as gevolg van die impak van die vloede.

My niggie en haar familie verbou vrugte en groente wat hulle na Europa uitvoer, naby die Augrabies-waterval. Hulle jong volwasse seun het tragies aan die einde van 2021 in die Oranjerivier verdrink terwyl hy in vloed was.

Familiekuiers langs die Oranjerivier

As ‘n familie koester ons herinneringe aan ons uitstappies langs die oewers van die Oranjerivier. Tien jaar gelede het ons my ma se 70ste verjaarsdag in Keimoes gevier, ‘n plek van betekenis aangesien sy haar laaste skooljare daar voltooi het.

Riverbank Lodge

Dit was net gepas om my ma se 80ste verjaarsdag saam met familie langs die Oranjerivier gedurende Paasnaweek te vier. Ons het by die Riverbank Lodge in Upington gebly. Elke aand het ons gebraai en potjiekos langs die rivier gemaak terwyl ons die sonsak in goue skakerings dopgehou het.

Die lodge het ‘n swembad en ‘n pragtige grasperk waar die neefs met ‘n bal gespeel het. Die apies in die bome was soms toeskouers.

In die oggend het ons die nuwe dag met sonsopkoms op die lang stoep met ‘n koppie koffie en beskuit begroet. Ons het ook die dag op die stoep afgesluit met rooibostee en Switserse sjokolade.

Ek en my ma het ‘n kamer gedeel en die alleentyd saam met haar was die kosbaarste ervaring. Ons het tot laat in die nag lê en gesels. Soms het ons soos tieners lê en giggel oor gebeure uit die verlede.

African Vineyard Hotel

Dit was gepas om my ma se Verjaardagviering op Kanoneiland waar sy grootgeword het, te vier. Die African Vineyard Hotel het vir ons ʼn langtafel onder ʼn druiweprieël beskikbaar gemaak. Dit was so gepas, want dit het my ma aan haar grootwordjare herinner. Ons het die langtafel met goudgeel lappe, helder blomme, Porchie servette en Lindt sjokolade versier.

Die kos was heerlik en die eetgerei was stylvol. Dit het ‘n wonderlike atmosfeer geskep vir ons familie om stories rondom die lang tafel te deel. Ons kinders, nou jong volwassenes, het die geleentheid gehad om weer kontak te maak en mekaar beter te leer ken. Hulle het die pragtige omgewing ten volle benut om saam pragtige foto’s te neem.

Tevredenheid

Met ‘n hart vol liefde en gedagtes vol herinneringe, het ons in Upington op die vliegtuig geklim om ons reis terug na Switserland te begin. Terwyl ons opgestyg het, het ek en Zander vir ‘n laaste keer afgekyk om te sien hoe die Oranjerivier kronkelend sy pad see toe vind.

Groete

Emsia

Ligstraaltjies van hoop

Ligstraaltjies van hoop

Min dinge is werklik seker.  Meestal kan ek ten spyte van hierdie feit, elke nuwe dag met vreugde groet. Soms hang die onsekerheid van persoonlike of wêreld omstandighede egter swaar aan my. Wanneer ek oorweldig voel, kom ek dikwels situasies teë of ontvang woorde van bemoediging van ongewone plekke of mense. Ek sien dit as boodskappe van Bo, gelewer op verskillende maniere. Hulle skep ligstrale van hoop en verhelder my lewe.

Grafitti met woorde wat rustigheid bring

Een koue wintersoggend het ek op die trein gesit, verdwaal in my troebel gedagtes, toe my oog graffiti op ‘n konstruksieterrein vang. Die woorde was in Duits geskryf. Ek het hulle stadig gelees en probeer verstaan: “Ich leg Mein Leben nur in Gottes Hand.” Ek plaas my lewe net in God se hand.

Dit het my opgeval dat iemand dit, alhowel onwettig, in groot letters geskryf het vir elke verbygaande passasier om te sien. Ek het gewonder wie anders, soos ek, troos in daardie rooi gespuitverfde woorde, gevind het.

Ek het ontdek dat die lees van verse of gedeeltes in die Bybel in verskeie tale verbasend nuttig kan wees. Elke taal dra idees anders oor, bied nuwe perspektiewe en verbeter dikwels my begrip.

Handgeskrewe briefie met woorde van erkenning

Later die dag het ek weer dieselfde trein terug huis toe geneem. Met die opklim gewaar ek my Duitse vriendin met ʼn ander vriendin op die trein en hulle nooi my om by hulle te sit. Ons het heerlik gesels en ontdek dat die vriendin se ma, soos myne, binnekort haar 80ste verjaardag gaan vier. Ek het gedeel hoe ons ‘n geskenkboek vir my ma saamgestel het wat stories en staaltjies bevat wat oor 80 jaar strek.

Naby die einde van die rit het ‘n onbekende vrou, van omtrent ons ouderdom, opgestaan ​​om af te klim. Net voor sy na die trein se deur toe beweeg, het sy ‘n klein stukkie wit papier in my hand gedruk. Ek was verward en het aangeneem sy vra vir hulp. Versigtig het ek die handgeskrewe boodskap begin lees.

Die boodskap

Dear Stranger

Sorry for eavesdropping, but I wanted to let you know that I loved your idea to ask friends and family to share stories about your mom and turn it into a book. You inspired me! I did something similar, showing my mom how rich her life (90 years) was. I collected photos of the last 50 years (my age) and turned them into a book  called “Happy Moments.”

Ek kon haar darem vinnig bedank voordat sy afgeklim het, maar het so gewens ek het haar naam en nommer gehad vir ‘n behoorlike gesprek. My Duitse vriendin het aangeneem ek ken die vrou en gevra waarom ek haar nie genooi het om saam met ons te sit nie. Sy was baie verbaas toe sy hoor die briefie is van ʼn vreemdeling. “Hierdie tipe van ding gebeur mos nie in Switserland nie! Mense leef baie privaat,” was haar opmerking.

Die vrou se briefie het my dag verhelder. Daar is ʼn uitdrukking deur Raktivis, “Kindness is ignigting a light in someone else for no reason other than to watch them glow.” Sy was braaf en gaaf en ek glo sy het ook goed oor haar impulsiewe briefie gevoel. Ek lees dat dade wat ander mense se dag ophelder, veroorsaak dat dit gewer se serotonine, die hormoon wat ons gelukkig laat voel, ook verhoog.

Uitnodiging vir samesyn

Ek het na baie jare weer kontak met my Wiskunde onderwyseres gemaak. Sy woon op ‘n plaas naby aan die dorp waar my ma woon. Tydens ‘n Desember besoek aan Kathu, nooi sy vir my en my ma om saam met ander plaaslike inwoners by haar op die plaas te kom Kersliedere sing. Sy het ons getrakteer op ‘n heerlike tuisgemaakte ete en inspirerende woorde gedeel.

Sedertdien het sy dit ‘n prioriteit gemaak om by my ma te gaan kuier wanneer sy in die dorp is. Sy het haar man ‘n paar jaar gelede verloor en verstaan ​​hoe dit voel om alleen te wees. Sy nooi my ma gereeld plaas toe om saam met ander te sing en reël selfs vir haar vervoer. Dit is haar manier van lig en samesyn skep en te verseker dat ander gesien en ingesluit voel.

Help waar dit ʼn verskil gaan maak

Deesdae laat tegnologie baie mense toe om aanlyn te belê en handel te dryf. Gegewe die wêreld se onvoorspelbare toestand, kan die markte wisselvallig wees. Soms wen beleggers, maar soms verloor hulle. My oudste seun vind aanlyn handel besonder interessant en het my deur sy reis gehelp om meer ingelig te word oor wat in die finansiële markte gebeur.

Op een stadium voor die Amerikaanse verkiesing het dit goed met sy beleggings gegaan en hy het ‘n goeie wins gemaak. Dankbaar vir sy sukses het hy ‘n deel van sy verdienste gedeel met mense wat hy geglo het dit nodig gehad het. Ek weet hy het byvoorbeeld geld vir die plaaslike vulstasie-joggie en ‘n sekuriteitswag gegee. Toe ek hom daaroor uitvra, het hy verduidelik: “Ma, ek glo geld moet vloei. Ek gee dit met liefde en vind vreugde daarin om te sien hoe iemand se gesig van verbasing verhelder.”

Dit is maklik om iemand se dag of lewe op te helder

Elkeen van ons het die vermoë om ligstrale van hoop in iemand se dag of lewe te skep. Ons het almal unieke gawes en geleenthede om ‘n verskil te maak. Soms verg dit ‘n bietjie moed om buite ons gemaksones te stap. Die vreugde om iemand se gesig met verwondering te sien verlig, maak dit alles die moeite werd.

Dit verg nie altyd groot gebare nie. Soms is dit so eenvoudig soos ʼn oproep, boodskap, uitnodiging of besoek. God gebruik mense en die natuur om ligstrale van hoop vir ons te skep.

Groete

Emsia

Stokperdjies en persoonlike projekte

Stokperdjies en persoonlike projekte

Die lang koue wintermaande het ons motiveer om stokperdjies en persoonlike projekte aan te pak. Dit bied uitstekende ontvlugting as werksdruk of die roetine van alledaagse take te veel word.

In Suid-Afrika het Charl altyd een of ander huis of tuin projek gehad wat positiewe energie geskep het. Hier in Switserland is spasie beperk en het hy hom tot Lego gewend. Sy kantoor staan al vol verskillende bouprojekte wat soms interessante gesprekke uitlok.

Wat is ‘n persoonlike projek?

Persoonlike projekte gaan oor die bevrediging van jou nuuskierigheid en om meer van iets te leer en nie noodwending oor die uitset nie. Hulle fokus op verkenning en genot. Dit laat ruimte vir eksplorasie, eksperimentering en kreatiewe groei sonder die druk om iemand te beïndruk.

‘n Persoonlike projek kan basies enige iets wees waarin jy jou idees of belangstellings uitdruk en hoe lank dit neem hang van die projek af.  Sekere persoonlike projekte kan jare neem.

Zander se skool leer hulle die waarde van persoonlike projekte

By Zander se skool moes hulle as deel van hulle graad 10 jaar ‘n persoonlike projek doen. Hulle kon enige iets in lyn met hulle belangstelling kies. Die doel van die projek is om meer te leer oor ‘n onderwerp wat hulle interesseer en ‘n produk te lewer wat wys wat hulle geleer het. Hulle moes rekord hou van hulle beplanning en vordering en aan die einde van die projek ‘n verslag oor die hele proses skryf.

Zander het besluit om ’n braille sleutelbord te bou wat blinde mense in staat stel om ‘n rekenaar te gebruik. In die proses moes hy meer oor braille leer.  Hy moes ook die sleutelbord knoppies op ‘n sagteware applikasie ontwerp voordat dit by die skool op ‘n 3D drukker gedruk is. In die proses het hy sy vaardighede uitgebrei, maar ook die belangrikheid van ‘n projekplan en die waarde van insette van ander partye geleer.

Soms het sekere aspekte uitdagings geskep. Die bevrediging op sy gesig toe hy uiteindelik vir ons die werkende sleutelbord wys, was al die tyd en moeite werd.

My eie persoonlike projekte

My ma het self ons klere gemaak en van haar naaldwerkvaardighede aan my as jongmeisie oorgedra. Ek kan nog my frustrasie en soms uitbarstings onthou as sy my gedwing het om die nate wat ek verkeerd vasgewerk het, los te torring. Daar was wel ʼn kosbare lewensles daarin opgesluit. Hoe gouer jy ‘n fout regmaak of probleem oplos, hoe minder is die verdere negatiewe impak.

Gedurende skool en universiteit vakansies het my persoonlike projekte gewoonlik uit die ontwerp en maak van kledingstukke bestaan.  Toe my seuns nog klein was, het ek onderneem om die prins en soldaat se univorms vir die Aspoestertjie kleuterskool konsert te maak.  Dit het lang nagte en bloedsweet gekos as ek vele nate moes lostorring. Die proses van iets skep, was egter geweldig bevredigend.

Hier in Switserland het ek begin skryf as terapie.  My eerste persoonlike projek was om my skryfwerk oor ons ervarings in Switserland in ‘n blog te versamel.  Ek was op my eie aangewese en moes baie oor die tegnologie en prosesse leer. Die projek verskaf my nog steeds vreugde en dien as waardevolle platform om in kontak met vriende en familie te bly.

Verder bied dit my die geleentheid om my passie vir fotografie aan te wend. Na vyf jaar het ek my skryfwerk in ‘n e-boek met foto’s op Amazon gepubliseer. Dit het weer nuwe uitdagings en leerervaring meegebring.  Met persoonlike projekte lê die bevrediging in die skep eerder as die uitkoms.

Familielede se persoonlike projekte

My pa het ‘n passie vir motors en meganika gehad. Hy het eenmaal ‘n ou motor gekoop en dit heeltemaal meganies en visueel vernuwe. Ek en my suster was gereeld handlangers in sy projekte en het ‘n bietjie meganiese kennis opgedoen. Ons het dit geniet om te sien hoe sy projekte vordering maak.  As kleuters het hy as ’n persoonlike projek vir ons ‘n swaai gebou. Sy handewerk staan nog steeds in my ma se tuin. Al het hy nooit die voorreg gehad om te sy eie kleinkinders ontmoet nie, kon hulle darem die voordele van sy handewerk geniet.

My seun Christo het terwyl hy op skool was, tuinmeubels uit houtpalette gemaak. Die tegniese tekenininge wat hy as vak geneem het, het hom in die proses gehelp. Tydens die viering van sy 18de verjaardag het hy hierdie tuinmeubels in ons tuin gerangskik. Saam met al die liggies in die bome het dit ‘n baie feestelike atmosfeer geskep.

Jacques het op universiteit entrepreneurs met foto’s en videos vir sosiale media bemarkingsdoeleindes gehelp. Hy het nuwe vriende gemaak en baie in die proses geleer. Hierdie vaardighede was nuttig en waardevol toe hy sy eie besigheid, ‘n bakkery met die naam The Cinnamon Club begin het.

Voordele van stokperdjies en persoonlike projekte

Ek het baat by die aanpak van stokperdjies en persoonlike projekte gevind. Ek het nuwe dinge ontdek maar ook meer oor myself in die proses geleer. In Switserland het dit iets betekenisvol geskep om op te fokus gedurende die Europese wintermaande en positief tot my geestelike welstand bygedra. Dikwels het nuwe vaardighede handig in toekomstige situasies te pas gekom. Ek het nuwe vriende gemaak met mense wat soortgelyke belangstellings en passies deel.

Om ‘n projek te voltooi, veral waar ek myself uitdaag of met ander saamwerk, bring geweldige bevrediging en verhoog my selfvertroue. Dis ‘n aangename en tevrede gevoel wanneer ek ‘n gewenste uitkoms bereik.

As jy bereid is om te deel, sal ek graag meer wil hoor oor stokperdjies of persoonlike projekte wat vir jou bevrediging en vreugde verskaf het.

Groete

Emsia