Browsed by
Category: Jaar 2024

Afwagting bring gemengde emosies

Afwagting bring gemengde emosies

Afwagting is ’n bekende gevoel wat ons gereeld besoek.  Afwagting vir iets opwindends soos ‘n vakansie, iemand wat kom kuier, of ’n viering laat my kriewel van lekkerkry. Die uitsien is vir my soms net so lekker soos die geleentheid self!

Afwagting vir ʼn reiservaring saam met my ma

‘n Besonderse lekker afwagting was toe ons vir my ma Keukenhof se tulpe in Amsterdam in 2016 gaan wys het.  Dit was haar heel eerste keer oorsee en die opgewondenheid was groot.

Tydens ons oorsese besoek het my suster, Ansa, in ons huis in Kaapstad gebly om na die kinders om te sien. Die niggies en nefies het twee weke van pret en samesyn te geniet. Daar was weer afwagting vir ons terugkeer en hulle het ons hartlik en entoesiasties terug verwelkom. Dit saam met die uitruil van stories en ervaringe was net so spesiaal soos die reiservaring.

Die heel lekkerste deel vir my van die afwagting van ’n positiewe ervaring, is die beplanning en die voorbereiding. Ek kan vir ure navorsing doen, lysies maak en voorbereidings tref. Soos die aanbreek van die ervaring nader, verhoog beide die opgewondenheid en angstigheid in my. My ma het drie maande voor ons reiservaring die 1000 km met `n bus moes aflê en by ons kom kuier sodat ons haar met haar visa aansoek kon help. Ons het dit as deel van die gedeelde avontuur beskou.

Dit was alles die moeite werd en ons herkou nog gereeld tydens ons gereelde oproepe aan die pragtige en kleurvolle onthou oomblikke.

Parys se afwagting vir die Olimpiese Spele

Ons het gedurende Meimaand Parys besoek.  Die bou- en steierwerk in die stad het van ernstige voorbereiding vir die Olimpiese Spele getuig.  Ons kon die afwagting vir die groot gebeurtenis aanvoel. Op daardie stadium was die stad in die finale fase van voorbereidings vir die 2024 Olimpiese Spele.  Daar was ‘n bord om die dae af te tel, amper soos ‘n adventkalender voor Kersfees.

As toeris was ek saam met almal opgewonde oor hierdie groot geleentheid waarvoor 10 500 deelnemers en organiseerders so hard voorberei het. Ek het deernis met die organiseerders en projekbestuurders van hierdie groot geleentheid gevoel en kon my net indink onder watter druk en wakende oë van die wêreld, hulle alles betyds moes klaarmaak.

Dit was die derde maal dat Parys die Olimpiese spele aanbied. Die 1900 Olimpiese Spele was die eerste maal dat dit buite Griekeland aangebied is en ook die eerste maal dat vroue daaraan deelgeneem het. Met die 1924 Olimpiese Spele in Parys was daar ‘n aansienlike toename in die grootte en omvang van die Spele, die reëls was gestandardiseer, en daar was groot mediadekking daarvan regoor die wêreld.

Die 2024, Olimpiese spele was ’n reuse sukses en sal vir baie dinge onthou word. Dit was onder andere die eerste Olimpiese Spele in die geskiedenis wat numeriese geslagsgelykheid op die speelveld behaal het. ‘n Gelyke aantal vroulike en manlike atlete het aan die grootste sportbyeenkoms ter wêreld  deelgeneem het. Ek glo die organiseerders kyk met groot tevredenheid terug op hulle harde werk.

Afwagting vir die Kersbesoek vanaf die Kalahari

Hierdie is  ‘n jaar van groot afwagting vir my suster Ansa se kinders. Ons het besluit dat dit tyd is dat Marga, ‘n tweedejaar student en Altus ’n graad 10 leerder, in Desember by ons in Switserland te kom kuier.

Daar is egter baie voorbereidings en onsekerheid aan die besoek gekoppel.  Die eerste stap was vir hulle om paspoorte te bekom. Suid Afrika het baie immigrasievereistes rondom die reis vir minderjarige kinders soos wat Altus nog is. Die Van Zyl gesin moes met hulle dik pak vorms en gesertifiseerde afskrifte van belangrike dokumentasie, 700 km tot in Pretoria vir die Schengen Visa aansoek, ry. Hulle afspraak was vroegoggend en hulle moes ook oorslaap. Hulle moet weer 9 Desember dieselfde afstand aflê na OT Johannesburg lughawe vir hulle Emirates vlug.

Daar is vir hulle baie eerstes aan hierdie besoek gekoppel. Dit sal hulle eerste vlugervaring wees, eerste maal buite die grense van Suid Afrika, eerste winter Kersfees en hopelik ook eerste sneeu ervaring. Verder woon hulle in die Kalahari waar die somertemperature maklik oor 40 grade C gaan en die winter kort is.  Die ysige Europese winterweer met lank koue dae gaan saam met ‘n land waar alles in `n vreemde taal gebeur, ‘n anderster ervaring wees.

Ons hier in Switserland borrel oor van opgewondenheid en bespreek gereeld alles wat ons vir hulle wil gaan wys en ervarings wat ons met hulle wil deel. Die afwagting is groot en ons tel die slapies tot hulle aankoms.

Ek deel hierdie mooi gedig wat afwagting so raak beskryf.

Anticipation deur Patience Strong

Groete

Emsia

Sport leer vaardighede en lewenslesse

Sport leer vaardighede en lewenslesse

Ek het nog altyd plesier en vreugde in verskeie sportsoorte gevind. Daarby het ek ook vaardighede ontwikkel, lewenslesse geleer en nuwe insigte gekry. As ma het my rol van aktiewe deelnemer na toegewyde toeskouer verander. Die emosionele hoogte- en laagtepunte is egter steeds ewe intens.

Verskillende sportsoorte vir verskillende mense

Ons het ons kinders aangemoedig om aan ten minste een sportsoort deel te neem. Die vermoë om te leer speel binne die reëls van ‘n spel, is ‘n lewensvaardigheid wat op baie aspekte van die lewe van toepassing is.

Switserland se skolesportkeuses verskil van dié van Suid-Afrika. As ‘n beginner het Zander nie dieselfde vaardigheidsvlak in sokker, as sy maats wat van kleintyd af gespeel het, gehad nie. Sy balvaardighede was goed genoeg as doelwagter, maar die situasie was nie goed vir sy selfbeeld nie. Gelukkig het vlugbal as ‘n opsie na vore gekom en die sport het Zander soos ‘n handskoen gepas. Hy het by ‘n vlugbalklub in Zürich aangesluit. Dit het sy vaardighede verbeter en hom ook met sy Switserse Duits gehelp.

Jacques het vroeg in sy lewe sy passie in krieket gevind. Christo se passie vir tegnologie het sy belangstelling in sport vêr oortref. Op die rugbyveld was hy die een wat wawiele gedoen het. Ons het hokkie voorgestel en gelukkig het hy sy entoesiasme en motivering in die gees, pret en spanwerk gevind.

Sport leer vaardighede en lewenslesse

In die lewe, net soos in sport, vind ons nie altyd dadelik die plek waar ons die beste weergawe van onsself kan wees nie. As ons aanhou soek en probeer, sal ons die geleentheid vind wat by ons sterkpunte en passies pas. Sport leer ons die waarde daarvan om ‘n vaardigheid te verfyn. Dit verhoog ons doeltreffendheid as atlete, maar gee ons ook die geleentheid om die vervulling wat voortdurende verbetering bring, te ervaar.

Tyd- en energiebestuur

Sport leer ons op ‘n praktiese manier meer oor tyd- en energiebestuur. Om ‘n vaardige speler in enige sport te word, verg aansienlike beleggings van tyd en energie. Dit vereis toewyding en effektiewe prioritisering. Om tyd te maak om te oefen, vereis dat ons vrye tyd moet opoffer. Dit leer ons om te onderskei tussen wat noodsaaklik is en wat ons moet laat gaan.

Spanwerk

In spansport vereis uiteenlopende posisies verskillende vaardighede. Spanlede leer om mekaar se sterkpunte te benut en hoe om vir swakpunte te vergoed. Die span se sukses hang af van sy minste vaardige speler, wat die belangrikheid van wedersydse bystand, ondersteuning en aanmoediging beklemtoon. Elke lid het ʼn verantwoordelikheid teenoor die groep en moet verseker dat hulle in top kondisie is, hul vaardighede slyp en hulle beste prestasie tot die span se gesamentlike voordeel lewer. In die breër samelewing vorm ons almal deel van verskeie spanne by die huis, skool, werk, kerk of binne ons gemeenskappe.

Risiko’s en geleenthede

Om sukses in sport en die lewe te behaal, vereis dat ‘n speler geleenthede raaksien en berekende risiko’s neem. Soms is ons wenners, maar ander kere is terugslae onvermydelik. Dit is van kardinale belang om sukses met nederigheid te verwelkom en nederlaag met waardigheid te aanvaar. Ons moet leer om terugslae te hanteer en nie daardeur verlam word nie. Dit is ‘n integrale deel van persoonlike groei.

Terugslae

Beserings en foute is inherent aan beide sport en die spel van die lewe. Dit beïnvloed ons selfvertroue en geestelike welstand. Om van terugslae te herstel is ‘n tydsame proses. Gedurende sulke uitdagende tye is selfversorging en die ondersteuning van familie en vriende belangrik. Om onsself die nodige tyd vir herstel te gun, is noodsaaklik om ons te help om na die speelveld met hernieude krag, passie en entoesiasme terug te keer.

Sport leer vaardighede en lewenslesse, insluitend hoe om volgens die reëls van 'n spel te speel. Dit leer ook tydsbestuur en bring vreugde en nuwe vriendskappe.

Gebalanseerde leefstyl

Sukses in sport is afhanklik van die handhawing van ‘n gebalanseerde leefstyl. Ons moet met toewyding oefen en aan kompetisies deelneem, maar verseker dat ons ‘n lewe buite sport ook het. Hierdie balans is noodsaaklik ten einde te verhoed dat ons ons vreugde in sport en die spel van die lewe verloor.

Die speeltyd op die veld is beperk

Tyd op die veld is beperk. Voordat jy dit weet, verskuif jou rol van aktief deelneem na mentorskap en leiding vanaf die kantlyn. Van daar af bied jy raad, ondersteuning en aanmoediging.

As ‘n ouer op die kantlyn, is dit belangrik om te onthou dat kinders die beste leer deur aktief aan sport en die lewe deel te neem. Daarom is laat gaan ‘n deurslaggewende deel van ouerskap. Ons kinders het die vryheid nodig om te ontdek wat hulle geniet, watter strategieë die beste vir hulle werk en hoe om uit hul foute te leer.

Groete

Emsia

Ons is getuies van mekaar se lewens

Ons is getuies van mekaar se lewens

Ek glo ons Skepper het die menslike ervaring ontwerp om gedeel en gesien te word. Ons het ander nodig om getuies van ons lewens te wees, net soos ons getuies van hulle sin moet wees. Hierdie wedersydse uitruil is noodsaaklik vir die menslike ervaring.

“Shall We Dance” is ‘n fliek wat ek jare gelede die eerste keer tydens my egskeiding gekyk het. Dit het my soveel gegee om oor na te dink dat ek dit intussen nog ‘n paar maal gekyk het. (Ek erken dat Richard Gere en sy tango met Jennifer Lopez ook iets daarmee te doen gehad het.) In die film het ‘n paartjie ‘n moeilike plek in hul huwelik deurgemaak. ʼn Karakter in die storie het die vrou gevra waarom sy in ʼn huwelik wil wees. Haar antwoord het my gehelp om sin te maak van my gevoelens van verlies. Sy het geantwoord:

We need a witness to our lives. There are 8 billion people on the planet … I mean, what does any one life really mean? But in a marriage, you’re promising to care about everything — the good things, the bad things, the terrible things, the mundane things … all of it, all the time, every day. You’re saying, Your life will not go unnoticed because I will notice it. Your life will not go un-witnessed because I will be your witness.

Ons is almal getuies van ander mense se lewens

Om ‘n getuie van ‘n ander persoon se lewe te wees, is ‘n belangrike rol. Dit behels dat ons in hul liefde en vreugde, sowel as hul kwesbaarhede en uitdagings deel. In die rol, kry ons insig, wysheid en lesse uit ander se ervarings.

Ons tree op as getuies op ontelbare maniere – soms met geliefdes en ander kere deur kort interaksies in die daaglikse lewe.

Ons sien lewens deur boeke, blogs, plasings op sosiale media en foto’s en neem hierdie rol baie meer gereeld aan as wat ons besef.

Soms is dit moeilik om ʼn getuie te wees

Dit is nie altyd maklik om hierdie rol te vervul nie. Ons vergelyk dikwels ons unieke ervarings met dié van ander en deur ons lens kan iemand anders se lewe idillies of perfek lyk. Sonder die volledige prentjie, kan dit gevoelens van ontoereikendheid, mislukking, onregverdigheid, of selfs minder geliefd voel, aanwakker.

Dit is belangrik om te onthou dat elke persoon ‘n unieke lewensreis en doel het. Elkeen van ons moet ons pad en bydrae tot ander en die mensdom vind. Ek vra myself dikwels af – maak ek die meeste van die hand van kaarte wat die lewe aan my uitgedeel het?

Getuies in ‘n vreemde land

Met ons verhuising na Switserland het die agterlaat van vriende en geliefdes ‘n diep gevoel van verlies meegebring.

Ek het nagedink oor die kosbare getuies wat verskillende fases van my lewe gedeel het. Om in kontak te bly was ‘n prioriteit en ek het dit gedoen deur my gereelde briewe huis toe. Ek is ook ‘n getuie van hul lewens in die mate wat hulle dit toelaat. Elke reaksie, nota of boodskap wat ontvang, voel soos ʼn spatsel kleur. Dit het my al vele kere deur moeilike tye gehelp.

Ek het nuwe vriende in Switserland gemaak, van wie baie ook expats is. Ons deel in mekaar se ervarings, gee erkenning en het empatie met die situasies en struikelblokke wat ons teëkom. Ons staan ​​saam en maak seker dat almal gewaardeer en verbind voel.

Getuies op sosiale media

Ek het eers in ‘n vreemde land waar ek sukkel om die taal te verstaan, die rol van getuies op sosiale media begryp. Dit vul die behoefte aan iemand, iewers, om ten minste bewus te wees van jou lewe en wat jy doen.

My Afrikaanse vriendin in Switserland, Marna, het hierdie sentiment perfek in ‘n onlangse Facebook-plasing vasgevang:

Ons Switserse ervaring van 18 maande kom tot ‘n einde. As ‘n expat in ‘n vreemde land moet jy aanpas by taal en kultuur en voel jy die meeste van die tyd buite jou gemaksone.  Hierdie omstandighede weg van die bekende, jou geliefdes en vriende kan oorweldigend voel. ʼn Mens voel maklik eensaam, ongeliefd, sonder doel, onbekend en ongewaardeer.

Daar is ‘n diep ongemak in die besef dat jou lewe nie gedeel of gesien word deur diegene wat na aan jou hart is nie. Ek het alles oor ons wonderlike Europese en Switserse avonture op sosiale media gedeel. JY, my sosiale media vriende, wat die tyd geneem het om positief te reageer of kommentaar te lewer, het soveel meer gedoen as wat jy dalk besef. Julle was almal deel van my reis as getuies, en ek is dankbaar daarvoor.

Vir my het sosiale media ‘n manier geword om die uitdagings van expat-lewe te hanteer. Ek sien elke plasing as ‘n hedendaagse poskaart! Ek moedig jou aan om jou oomblikke en herinneringe te deel. Stuur jou poskaarte. Ek wil jou lewe aanskou en daardie spesiale oomblikke saam met jou vier. Die lewe is beter as dit gedeel word met mense wat jou hart bly maak!

Ter afsluiting

Wanneer ons getuies in mekaar se lewens is, sien ons die goeie, die slegte, die kragtige asook die kwesbare. Saam vorm hierdie ervarings wat dit beteken om mens te wees. Wanneer ons mekaar in ons lewensreise aanmoedig, toejuig en die volmaakte en die onvolmaakte sien, word ons daaraan herinner dat ons almal reisigers op hierdie reis wat ons die lewe noem, is.

Groete

Emsia

Van gewoon tot uitsonderlik

Van gewoon tot uitsonderlik

Sy was ‘n huweliksmaat vir haar man en ‘n ma vir haar drie seuns. Tydens haar daaglikse take van kosmaak, skoonmaak en wasgoed was, het haar siel na iets meer verlang. Sy het daarna gesmag om iets moois en kleurvol te skep. Haar reis het begin vorm aanneem toe sy na haar kinders se laerskool kunsonderwyseres uitgereik het. In die middae ná skool het sy en die jong studente begin leer oor verf, kleure verken en tegnieke saam bemeester.

Hierdie nuutgevonde passie het haar daartoe gelei om meer gevorderde kunslesse te volg. Kuns het haar ontvlugting en terapie geword. Sy het haar liefde vir kleurvolle skeppings met vriende gedeel, wat een keer per week saam met haar geskilder het.

Twaalf vroue

Een nag het sy wakker geword met ‘n oortuiging dat sy die portrette van twaalf merkwaardige vroue uit die Bybel moes skilder. Sy het hierdie roeping gevolg en die projek het haar vir meer as ‘n jaar besig gehou. Sy moes die perfekte skilderye kies om ‘n hedendaagse weergawe van elke vrou voor te stel. ’n Vriendin het haar aangemoedig om die verhale van twaalf vroue uit die Bybel te bestudeer. Die pandemie het haar die tyd gegee om haar in hierdie studie te verdiep. Deur hierdie reis het sy die vroue as gewone mense leer ken en hoe hulle, as deel van God se plan, buitengewoon geword het.

Bybelse vroue inspireer hedendaagse vroue

Met hierdie kennis het dit duidelik geword watter skildery elke vrou uit die Bybel verteenwoordig. Sy het haar kennis en kunswerke gekombineer om ‘n Bybelstudiejoernaal oor die twaalf Bybelse vroue te skep, asook gedrukte kaartjies met hul gesigte. LucahArt is die naam wat sy vir haar kuns gebruik. “Lucah” beteken “Om lig te bring.” Sy het hierdie naam gekies omdat sy gevoel het haar vriende het haar ondersteun en lig aan die projek gebring. Sy hoop ook haar kuns sal lig vir ander bring.

Met gewoon tot buitengewoon as tema het sy en ‘n vriendin besluit om vroue-wegbreke by hul pragtige strandhuis in Kleinmond af te skop. Hier het baie vroue inspirasie in die verhale van hierdie Bybelse figure, wat hul gewone lewens in iets uitsonderliks ​​omskep het, gevind. Hierdie wegbreek geleenthede was vir baie vroue lewensveranderend. Sy het diepe bevrediging gevind in die wete dat sy besig is om haar lewensdoel uit te leef.

Switserland geleentheid

’n Onverwagse drie-jaar werksgeleentheid in Switserland vir haar man het hulle verras en haar met gemengde gevoelens gelaat. Sy was opgewonde oor die nuwe ervaring, maar het tog gewonder, hoekom nou? In hierdie nuwe land het hulle baie aanpassings in die gesig gestaar en moes baie nuwe dinge ten opsigte van taal en kultuur leer.

Haar man het haar aangemoedig om die twaalf skilderye ook na Switserland te bring. Sy het hulle in haar huis uitgestal. Hierdie skilderye het vertroosting en inspirasie verskaf, veral gedurende die lang, koue winters wanneer eensaamheid intree. Sy het my vertel dat haar gunstelingvrou uit die reeks Maria Magdalena is. Sy het ‘n spesiale verbintenis met haar gevoel. Daar was ooreenkomste in hul lewensverhale en hulle het dieselfde naam gedeel.

Sy en haar man het by die Lift Church in Zug aangesluit. Hier het hulle wonderlike vriende gemaak en deel van ‘n ondersteunende Christelike gemeenskap geword.

Internasionale uitstalling

Hulle kerk het haar uitgenooi om as spreker tydens ‘n vroue aand op te tree. Ek het die voorreg gehad om die geleentheid by te woon. Die twaalf vroue het voor in die saal `n ereplek op ’n skilderdoek op `n esel gehad. Marna het my vertel dat haar 22 jarige seun die twaalf esels tydens die pandemie vir haar gemaak het as `n projek om hom besig te hou. Wie het ooit kon dink dat hulle twaalf Bybelse vroue in ’n Switserse kerk sou moes help regop staan.

Nadat Marna haar eie storie gedeel het, het sy die stories van elk van die twaalf Bybelse vroue vertel. In haar aanbieding het sy die uitdagings beskryf wat elke vrou in die gesig gestaar het. Die gehoor moes raai van wie Marna praat. Toe het sy meer gedeel oor God se plan vir elke vrou en die impak van hul optrede op die geskiedenis. Uiteindelik het die gehoor in klein groepies opgebreek om te bespreek watter vrou se lewensverhaal die meeste by hulle aanklank vind.

Winde van verandering

Na 18 maande in Switserland was daar winde van veranderinge by haar man se werksplek. Wimpie se werkgewer het sy kennis en vaardighede in Suid-Afrika vir ‘n belangrike projek benodig. Hulle het weer met gemengde gevoelens gestoei. Een voordeel is dat hulle gelukkig terug in SA vir hulle seun se troue sal wees – dieselfde seun wat die esels vir haar skilderye gemaak het. Hulle vertrek is vir ons ‘n groot verlies. Ek sal my Afrikaanse vriendin in Switserland baie mis, want ons het hier as getuies van mekaar se lewens opgetree.

Ek vind troos in die wete dat sy nog baie meer vroue se lewens in Suid-Afrika deur haar skilderye en die boodskappe wat dit oordra, sal aanraak. Haar eie verhaal, saam met die verhale van die vroue in die Bybel, is ‘n kragtige getuienis van hoe God gewone lewens in iets uitsonderlik kan omskep.

Groete

Emsia

Hoe raak jy gereed vir die volgende hoofstuk?

Hoe raak jy gereed vir die volgende hoofstuk?

Toe ons met die bekende paadjie deur die hekke ry en voor die groot wit huis stop, het ek geweet dit sou my laaste besoek wees. Nadat my familie my by die Upington-lughawe opgelaai het, het ons die pragtige aftreeoord, Belle Rio besoek. Dit is langs die oewer van die Oranjerivier, naby Kanoneiland, waar my ma grootgeword het.

Ek het daarna uitgesien om ‘n paar dae alleen saam met my ma deur te bring. Dit het ook ‘n geleentheid geskep om die planne vir haar volgende hoofstuk met haar te bespreek. Nadat my suster en haar gesin na hul plaas vertrek het, het my ma my ernstig aangekyk en gesê: “Ek wil nie hieroor praat nie.”

Kathu

Ons het die jaar voor ek met skool begin het na Kathu verhuis. Die myn het hierdie nuwe dorp ontwikkel, en almal het in nuwe mynhuise ingetrek. Soos die nuwe dorp ontwikkel het, het sommige mense wat nie vir die myn gewerk het nie, begin om privaat huise tussen die mynhuise te bou. Een van die nuwe privaat huise naby ons mynhuis het ‘n moderne argitektoniese ontwerp en ‘n pragtige kameeldoringboom in die erf gehad. My ma was mal oor hierdie huis en ons het gereeld gaan kyk hoe die bouwerk vorder.

Ons eie huis

Op ‘n dag het ‘n “Te Koop”-bordjie voor die wit huis met blou geute verskyn. My ouers het daarna dikwels lang en ernstige gesprekke gehad. Dit was tyd vir hulle om huiseienaars te word. Kort voor my elfde verjaardag het ons na die nuwe huis getrek en alles oor die straat gedra. Vir die eerste keer het ek en my suster elkeen ons eie kamers gehad. Die swaai wat my pa gebou het toe ons kleuters was, het ook saam met ons getrek.

My pa, altyd ‘n projekman, het hierdie nuwe huis in sy speelgrond verander. Hy het nuwe strukture gebou en alles om die huis prakties en doeltreffend ingerig. Hy het die tuin noukeuring vir my ma, wie se passie tuinmaak was, uitgelê. Mense het dikwels na ons woning verwys as die huis met die pragtige tuin. Elke Vrydag na werk het my pa die gras gesny. Ek het hom soms op Vrydae verras deur die gras te sny voordat hy ná werk terug huis toe gekom het. Die reuk van vars gesnyde gras neem my steeds terug na my kinderdae.

Tuin vol kosmos

Ek het altyd van ’n kosmos troue gedroom. My ouers het gehelp om die droom te verwesenlik deur die hele tuin vol kosmosblomme, maande voor my troue te plant. Gereelde kunsmis het gehelp om die plek in `n pienk en pers paradys te omskep. Die Vrydag voor my troue het ek aangebied om die gras te sny, maar my pa het my aanbod van die hand gewys. Ek was effens seergemaak toe hy heel opreg probeer verduidelik: “Dankie my kind, maar ek wil dit graag ordentlik gedoen hê.

Ons verloor my pa vroeg

Ons het my pa kort ná my dertigste verjaardag aan ’n hartaanval verloor. Hy was maar 57 jaar oud en nog besig om ’n afdak te bou. Ons het probeer om vrede te vind in die feit dat hy gesterf het terwyl hy besig was met projekte waarin hy groot vreugde gevind het.

My ma was dieselfde ouderdom as ek nou en sy dood het haar hele lewe verander. Sy het dapper al die verantwoordelikhede aanvaar om die groot huis en tuin in stand te hou. Sy het die huis met die mooiste skilderye versier om haar te help om weer mooi ten spyte van die pyn te sien.

Soos sy ouer geword het, het dit moeiliker geword om alles te bestuur. Ons is dankbaar vir almal om haar wat nog deernisvol bereid is om te help met instandhouding en herstelwerk.

Ons ma sal volgende jaar haar 80ste vier

Soos my ma se energie met ouderdom afneem, het die instandhouding van die huis en tuin vir haar oorweldigend geword. Die meeste van haar vriende is die afgelope jare oorlede, wat ‘n aansienlike verlies was. Sy was nog altyd liefdevol en diep betrokke by die skool, gemeenskap en kerk.

Ons is bekommerd oor haar welstand en veiligheid in Kathu, wat uitgebrei het weens die mynbedrywighede. As haar kinders dink ons dit is tyd dat my ma haar volgende hoofstuk begin. Ons glo sy gaan floreer in ‘n gemeenskap met aangename mense, stimulerende aktiwiteite en minder verantwoordelikhede.

Besluite oor die laaste hoofstuk

Sy het tyd nodig om hierdie hoofstuk af te sluit en die groot wit huis te groet en haar herinneringe in vrede te koester. Alhoewel ons met baie dinge kan help, is dit ‘n taak wat sy op haar eie moet doen, net soos sy moes leer om sonder my pa te leef.

Aangesien ons nie in haar skoene is nie, sal ons haar die tyd en ruimte gee om haar antwoord te vind. Ek en my suster het ooreengekom om ons ma se versoek te eerbiedig om nie die aftreeoord te bespreek nie. Ons vertrou sy sal weet wanneer sy vir die volgende hoofstuk gereed is.

Groete

Emsia

‘n Lewensverhaal in metafore uitgedruk

‘n Lewensverhaal in metafore uitgedruk

Metafore is kragtig en dien as waardevolle hulpmiddels wanneer ons ‘n komplekse gedagte moet verduidelik en nie die regte woorde daarvoor kan vind nie. As ons metafore in gesprekke of in die geskrewe vorm gebruik, aktiveer dit die verbeelding en maak dit makliker om emosies en indrukke oor te dra. Die gebruik van metafore dien as waardevolle hulpmiddels wanneer dit nodig is dat mense ‘n ou idee op ‘n nuwe en lewendige manier moet sien. Hulle verander op ‘n onbewustelike vlak die manier waarop ons aan ‘n konsep dink.

Ek het onlangs aan ‘n oefening deelgeneem wat ons uitgedaag het om aspekte van ons lewensreise met behulp van simbole en metafore te vertel. Ons was beperk tot vyf metafore. Dit was ‘n interessante ervaring en het my in gedwing om op ‘n ander manier te dink.  

Ek deel hieronder meer oor die vyf metafore wat ek gekies het om aspekte van my lewensverhaal voor te stel.

Metafoor 1 – Kameeldoringpeul

Die eerste simbool wat ek gekies het, is die peul van ‘n kameeldoringboom. My wortels spoor terug na Kathu in die Kalahari, geleë in ‘n Kameeldoringwoud. Hierdie peul simboliseer die sekuriteit en koesterende omgewing wat ek in my ouerhuis en gemeenskap gedurende my vormingsjare gevind het. Ons lewenstyl was nederig en ons het na aan die aarde geleef.

Die peul verteenwoordig ook veeldoeligheid. Behalwe om nuwe boompies te kweek, het ons dit ook versamel vir veevoer en om as kole in ‘n vuur te gebruik. Die lewe in die Kalahari het ons probleemoplossingsvaardighede en die kuns van innovasie geleer. Ons ouers het ‘n sterk werksetiek ingeskerp en verwag dat ons tot huishoudelike take bydra. Gevolglik het ons verskeie basiese vaardighede bemeester wat ons regdeur ons lewens bygebly het.

Metafoor 2 – Sakrekenaar

Die sakrekenaar simboliseer die berekende manier waarop ek my jong volwasse lewe benader het. Ek het spesifieke idees gekoester oor die trajek van my lewe, veral as ‘n vrou, met die vooruitsig hoe my loopbaan, huwelik en gesin sou harmoniseer. Net soos die verwerking deur ‘n sakrekenaar, het ek outomatiese uitkomste vir hierdie aspekte in my lewe verwag.

Verder beliggaam die sakrekenaar my loopbaan in die finansiële sektor. Ek het by ‘n oudit- en rekenmeestersfirma gewerk en organisasies gehelp om te verseker dat hul finansiële state hul finansiële gesondheid weerspieël. Ek het egter gou besef dat terwyl ek in die sakewêreld floreer, ek bevrediging gevind het in die interaksies met kliënte en kollegas eerder as die take self. Die uitkomste in my beroep het aansienlik afgewyk van my aanvanklike verwagtinge. Die situasie in my huwelik was soortgelyk.

Metafoor 3 – Gieter

Tuinmaak was nog altyd ‘n terapeutiese uitlaatklep, wat waardevolle lesse vir my bied. Ek het onder andere gesien hoe ‘n sukkelende plant in een deel van my tuin in ‘n ander omgewing met voeding en genoeg water kan floreer. Hierdie metafoor het diep met my resoneer. Deur die versorging van my tuin, het ek beter begin verstaan dat my lewensdoel soos dié van ‘n gieter lyk. Dit is `n instrument in God se hande om met liefde en sorg by te dra tot ander se groei.

My veranderingsreis het begin met ‘n belegging in my eie persoonlike in die vorm van`n Life Coaching kursus. Die nuutgevonde kennis en insig het my beter toegerus om my rol as instrument in ander se groei te vervul. My eerste fokus was my kinders.  Nadat ek my persepsie van my rol aan my baas by die werk verduidelik het, het hy ‘n verandeirng in my rol by die werk gefasiliteer. In my nuwe rol kon ek aktief tot die persoonlike ontwikkeling van ander bydra. Hierdie verskuiwing het vir my geweldige persoonlike vervulling gebring.

Metafoor 4 – Pen

Ek het vroeg in my lewe die waarde van skryf ontdek. Skryf is ‘n waardevolle manier om die emosies wat dreig om my te oorweldig, te hanteer. Dit help my om sin te maak van wat ek voel. Die papier of rekenaarskerm gee nie raad nie, maar luister sonder onderbreking en help my om perspektief en antwoorde te kry. Terwyl ons die lewe in Switserland navigeer, help my tweeweeklikse briewe my om sin te maak van gebeure, in verbinding met my hartsmense te bly en herinneringe te bewaar.

Ek het besef dat skryf my ook in staat stel om ander mense se lewens met woorde te beïnvloed. Ek beplan om in die volgende paar maande ‘n e-boek met die titel Briewe Huis Toe te publiseer. Daarin sal ek die dieptes van ons interne en eksterne ervarings en groei as ‘n Suid-Afrikaanse gesin wat in ‘n vreemde land woon, deel.

Metafoor 5 – Horlosie

‘n Horlosie sou my metafoor vir ons tyd in Switserland wees.  Die omgewing is baie ordelik, stiptelik en alles gebeur met Switserse presisie op tyd.

Die aanvanklike vyftig jaar van my lewe het soos ‘n ewige wedloop teen tyd gevoel. Met ons verhuising na Switserland het die situasie verander. Ek het die een ding waarna ek nog altyd gesmag het ontvang – tyd. Met die fokus op my welstand en groei, het ek dinge oorweeg wat my hart en siel voed. Ek het gedink aan maniere om gesond te bly en die kennis en vaardighede oorweeg wat ek wou uitbrei. Die proses het ‘n reis van selfontdekking en doelbewuste lewe geword.

Ons tyd hier in Switserland, net soos ons tyd op aarde, is geleende tyd, want dit kan enige tyd tot ‘n einde kom.

Die metafoor oefening het my gehelp om oor my lewensverhaal in prentjies te dink. As as jy aan die oefening moes deelneem, watter items wat voldoende betekenis as metafore dra om belangrike aspekte van jou lewe op te som, sou jy kies? 

As ‘n prentjie duisend woorde werd is, is ‘n metafoor duisend prente werd.

Groete

Emsia

Paasfees en lente vier nuwe lewe

Paasfees en lente vier nuwe lewe

Met die koms van die lente sien ons oral tekens van nuwe begin. Die stilte en eensaamheid van lang, koue winternagte maak plek vir vrolike klanke en tekens van nuwe lewe wat oral in die natuur sigbaar is. Knoppe verskyn aan die bome en blomme gee kleur. Diere en insekte ontwaak uit hul winterslaap en weet instinktief dat dit tyd is om voort te plant.

Die Noordelike Halfrond se Paasfees in die lente bring die boodskap van nuwe lewe sigbaar tuis. Die klem val op ontwaking en nuwe begin. Mense versier die bome in hul tuine met paaseiers. Die pastelkleurige eiers wat tussen die bloeisels versteek is, benadruk die tema van vernuwing.

Dierelewe

Oral in die natuur is tekens van lente en ontwaking. Spatsels kleur verskyn in die natuur. Eekhorings hardloop energiek op en af in die bome terwyl voëls vrolik op takke sit en sing. Ek geniet die voëls se vroegoggend kwetter.

Gedurende die lente is daar oral jong diere te sien. Tydens ‘n wandeling in die woud, het ek ‘n takbokooi en twee van haar kalwers teëgekom. Die verbasing om mekaar te sien was wedersyds. Oral op die plase is daar lammers en kalwers te sien.

Paddas

Vroeg lente ontstaan die “mind the frog”-borde oral in Switserland langs die landelike paaie. Charl het ook die borde op sy roete werk te waargeneem. Op die spesifieke roete is die woud aan die een kant en ons dorpie so golfbaan aan die ander kant. Daar was versperrings aan die kante van die pad om die paddas te keer om oor die pad te gaan. Die amfibië hiberneer in die winter in die woud en migreer dan vroeg lente na hulle broeigebiede.

Charl het een oggend vroeg oppad werk toe, gesien hoe ‘n helper van die Susy Utzinger Dierewelsynstigting paddas en salamanders versamel en hulle oor die pad dra sodat hulle veilig hulle broei-areas op die golfbaan kan bereik.

Krimpvarkies

Daar onstaan ook soortgelyke bewusmakingsborde vir die krimpvarkies wat na hulle winterslaap ontwaak. Krimpvarkies is ‘n bedreigde spesie en word goed in Switserland beskerm. Mense verwelkom hierdie nagdiertjies in hulle tuine aangesien hulle help om insekte en slakke te beheer. Hulle krul op in ‘n balletjie as hulle bang is of bedreig voel.

In Switserland word daar hoofsaaklik van outomatiese grassnyers gebruik gemaak, maar ongelukkig ʼn groot bedreiging vir krimpvarkies is. Krimpvarkies is nagdiertjies maar die adolessente loop in die dag rond. Sodra hulle ‘n grassnyer gewaar, rol hulle in ʼn bolletjie met ʼn noodlottige uiteinde.

Voëls

Rooi valke sirkel oor die vars geploegde landerye en soek na hulle volgende maaltyd in die vorm van muise of molle. Die kraai voel bedreig deur die rooi valke en ons het al verstom gestaan en kyk hoe die kraaie heel astrant hierdie roofvoëls in die lug probeer aanval en wegjaag. Ek kry die idee dat ons area ook dien as ‘n vliegskool vir die rooi valke en geniet dit om te kyk hoe die ouers met groot geduld hul kleintjies leer vlieg.

Die houtkappervoël se kenmerkende dreuning terwyl hy op verrottende hout klop en trommel, is iets wat ek altyd met lente in Switserland sal assosieer. Ons was opgewonde toe ons ‘n swaan op haar eiers langs die meer sien. Die eiers broei eers na ses weke uit. Die jong swane het ‘n donkergrys kleur en word eers na hul tweede somer wit.

Bloeisels en blomme

Die eerste lenteblomme wat verskyn is die sneeuklokkies, kroukusse en affodille.  Elke jaar net as ek opgewonde raak oor lente se opwagting, dan val daar weer `n vlaag sneeu.  Dit is inspirerend om te sien hoe die blomme deur die sneeu beur om hulle skoonheid en kleur aan die wêreld te vertoon. Die magnoliabome se bloeisels verskyn teen die derde week van Maart. Geleidelik versier verskillende soorte blomme die landskap en verf dit met asemrowende skakerings.

Rose in sewe Zürich-fonteine

In die week voor Paasfees, vul die Gereformeerde Kerke in Zürich verskeie fonteine met rose. Hulle het hierdie tradisie begin om van die fonteine met rose te vul in 2021 toe die pandemie in volle swang was. Die idee was om hoop aan almal gedurende daardie moeilike tye te bring. Nou in 2024, met soveel onsekerheid in die wêreld, is daar steeds ‘n behoefte aan tekens van hoop en vrede. Die leuse van die tradisie is “Ohne Dornen kein Rosen”. Dit beteken dat sonder dorings, daar geen rose is nie en beklemtoon die veerkragtigheid en skoonheid wat uit teëspoed kan voortspruit.

Paaseiers

In ‘n land bekend vir sy sjokolade, is Paaseiers en Pasehase`n hoogtepunt.  Van vroeg in Maart het die veelkleurige Paaseiers al die winkels versier. Sjokolade handelsmerke ding mee om die mooiste Paasmandjies met hasies en eiers te verskaf. Die verskillende sjokoladeskeppings is amper te mooi om te eet en maak pragtige geskenke. Besighede gee hierdie pragtige Paashase en -eiers as korporatiewe geskenke.

Paasfees vier nuwe lewe

Paasfees, tesame met die koms van lente, dra ‘n diepgaande boodskap van vernuwing vir Christene wêreldwyd. Dit simboliseer die triomf van die lewe oor die dood en bied ‘n kragtige viering van nuwe begin en hoop.

Groete

Emsia

Die genesende krag van stories

Die genesende krag van stories

Ek het nog altyd ‘n diep liefde vir stories gehad. My vroegste herinneringe sluit die slaaptydverhale wat my ma vir my gelees het en die radiostories waarna ek soggens geluister het in. My pa se staaltjies oor hulle koshuismanewales het my laat lag. Dit het my ook gehelp om die jong en waaghalsige tiener wat my verantwoordelike en streng pa eens was, te leer ken. Deesdae vind ek my genot en soms lewenslesse en insig in boeke, flieks en ander mense se stories.

Die belangrike rol van stories in my lewe

Ek het lank gelede die belangrike rol wat stories in my lewe speel, besef. Hoe ek gebeure en situasies onthou, beïnvloed hoe ek daaroor voel asook my gedrag. Verhale oor gedeelde ervarings bevorder dikwels ‘n gevoel van konneksie en kan selfs vreemdelinge in vriende verander. Navorsing toon dat storievertelling verskeie breindele aktiveer en ons geheuevermoëns verbeter.

Om gereelde briewe huis toe te skryf, dwing my om gebeure in my lewe in stories te omskep. Verskeie verhale word gekenmerk deur positiwiteit, vreugde en kalmte, terwyl ander onsekerheid, teleurstelling en verlies bevat. Binne hierdie stories oordink ek die lesse wat ek geleer of insigte wat ek verkry het. Ek het geleer om nie ‘n persoonlike storie met ander te deel totdat ek al die gebeure en uitkomste self verwerk het en ‘n gevoel van vrede daaroor bereik het nie.

Narratiewe Terapie

Ek het vyftien jaar gelede ’n life coaching kursus voltooi. Dit was net voor my oudste twee seuns hulle tienerjare betree het en ek wou myself as ma so goed as moontlik vir hierdie fase voorberei. Hierdie life coaching diploma was een van die beste beleggings in myself. Dit het my gehelp om deur die seer en teleurstellings wat ek saamgedra het, te werk en my in staat gestel om my seuns se tienerjare met groter gereedheid en begrip te benader.

Ek het verlede jaar op die Narratiewe Pastorale Terapie-kursus wat deur Caritas in Mosselbaai aangebied word, afgekom. Ek het geweet dat dit iets sou wees waarby ek kan baat, aangesien dit stories in terapie gebruik. Teen die einde van die jaar het my Suid-Afrikaanse vriendin Marna, wat ook in Switserland woon, my ingelig dat ons vanaf Switserland aanlyn aan die kursus kan deelneem. Ons het in Februarie met ons dik truie aan die Zoom-sessies in Afrikaans in Mosselbaai deelgeneem,  terwyl die ander deelnemers gesukkel het om koel te bly in die Suid Afrikaanse somerhitte.

In Narratiewe Terapie leer ons om die Persoon en die Probleem te skei. Die Probleem moet nie deel van die persoon se identiteit vorm nie. Die Probleem het ‘n identiteit van sy eie. As ons die Probleem en sy taktiek deur stories beter verstaan, kan ons onsself makliker van die Probleem distansieer.

Dit het my gehelp om die Swart Hond-metafoor vir depressie in `n ander lig te sien. Die metafoor verteenwoordig hoe depressie sy eienaar soos ‘n lojale skaduwee volg. Winston Churchill het die term Swart Hond gewild gemaak. Hy het sommige van sy struikelblokke en oomblikke van onaktiwiteit op sy Swart Hond geblameer.

Onkruid in my tuin

Baie jare gelede het ek bitterheid in my lewe ervaar. Ek het ‘n storie gelees wat ‘n parallel geskep het tussen negatiewe gedagtes en onkruid in ‘n tuin. Die onkruid vermeerder en vervang die blomme en struike as jy nie vinnig daarvan ontslae raak nie. Met my liefde vir blomme en tuinmaak het die storie by my aanklank gevind. Ek kon my helder voorstel hoe bitterheid al my vrede en vreugde verdring.

Gedurende die lente het onkruid ons uitgestrekte grasperk bedek. Vasbeslote om die spasie terug te eis, het ek ‘n naweek aan onkruidverwydering gewy. Aan die einde van die naweek was my lyf moeg en seer, maar al die onkruid saam met my bitterheid, het op ‘n groot hoop gelê. Ek het die onkruidhoop aan die brand gesteek om vir altyd daarvan ontslae te raak. Die krag van die metafoor en die fisiese oefening was vir my uitstekende terapie.

Ons het outeursreg op ons eie stories

Die narratiewe wat ons oor onsself skep, bestaan nie in isolasie nie. Omstandighede en interaksies met ander vorm dit. Wanneer iemand ons swak behandel, hang hul negatiewe invloed dikwels in ons selfpersepsie. Ons kan nie altyd die stories wat ander oor ons het, verander nie, maar ons kan die stories wat ons oor onsself en diegene vir wie ons omgee vertel, beïnvloed.

Ons besit die outeursreg op ons stories. Dit is belangrik dat ons die storielyne wat ons identiteit definieer, herwerk en herskryf.

Stories help ons om mekaar beter te leer ken

Ek dink dit is goed dat ons, wanneer ons gemaklik is daarmee, ons stories met mekaar deel. Dit help ons om mekaar op `n dieper vlak te leer ken.

Wanneer ons ons stories deel, word ons herinner aan die menslikheid in mekaar. Wanneer ons die tyd neem om mekaar se stories te verstaan, word ons meer vergewensgesind en het ons meer deernis en empatie met mekaar.

Groete

Emsia

Winter depressie is werklik vir my

Winter depressie is werklik vir my

Sommige dae daag die Europese winter my uit. Dit gebeur gewoonlik wanneer die huis stil raak nadat almal na hul onderskeie bestemming vertrek het. Ek kan sien hoe die kaal bome meer sigbaar word in die dowwe lig. Die landskap is grys, bedek met ys, en neem ‘n somber toon aan. Terwyl die wind om die hoeke huil, omvou ‘n gevoel van verlatenheid my. Hierdie gevoel smeek my om op ‘n trein te klim en te ontsnap. Enige plek is goed solank ek uit die huis kan kom.

Europa se lang, koue en grys winters

Die koue en donker toestande begin reeds in Oktober. Teen die einde van Oktober word die horlosies met ‘n uur teruggestel om te verseker dat kinders nie soggens in algehele donker skool toe hoef te gaan nie. November bring dikwels lang tydperke van mis, wat Zürich omhul. Die eerste sneeuval en Advent gedurende Desember verander gewoonlik die atmosfeer met lig en ‘n gevoel van opwinding.

In Januarie word die silhoeëtte van die kaal bome eers later in die dag teen die flou lig sigbaar. Op hierdie stadium smag my hele wese na ‘n nuwe seisoen, maar gewoonlik lê daar op hierdie stadium nog twee maande van wintertoestande voor.

Die winter se grysheid en verlatenheid is vir my die grootste uitdaging. Koue temperature is hanteerbaar aangesien ons woonstel goeie isolasie het, en ons het onsself toegerus met geskikte lae termiese klere om buite te waag. Ek het die belangrikheid van ‘n hoed, serp, handskoene en winterskoene geleer om die koue buitelug aan te pak. Dit is egter die deurdringende verlatenheid en gebrek aan kleur wat werklik ondraaglik word.

Winter depressie

Ek vind dat ek moeg, lusteloos en angstig voel, en my selfdissipline kwyn, veral te opsigte van trooskos. Hierdie simptome stem ooreen met Seasonal Affective Disorder (SAD), ‘n toestand waarmee baie mense worstel. Daar word dikwels na verwys as die Winter depressie. Die tekort aan sonlig is ‘n groot bydraende faktor. Die verminderde blootstelling aan sonlig verander ons biologiese horlosies, wat deurslaggewende aspekte soos gemoedstoestand, slaap en hormone soos serotonien en melatonien reguleer.

Vir baie mense duur SAD vyf maande, vanaf Oktober. Januarie en Februarie is geneig om die maande met die ernstigste simptome van Winter depressie te wees. Navorsing dui daarop dat seisoenale depressie meer algemeen onder vroue en tieners voorkom.

Gelukkig is ek bewus daarvan dat hierdie swaarmoedigheid sal verdwyn met die koms van die lente. Die sekerheid van die veranderende seisoene is iets waaraan ek kan vasklou vir troos. Om hierdie tydperk te navigeer, maak ek ‘n punt daarvan om daagliks te gaan stap. Die tekens van lente wat geleidelik na vore kom, gee my hoop. Daarbenewens het ek geleer dat die kombinasie van oefening, sonlig en vitamien D help om my serotonienvlakke te verhoog.

Hantering van seisoenale depressie

Ek het begin besef hoe belangrik dit is om lig in verskeie vorme in my daaglikse roetine in te sluit. Wanneer dit ook al moontlik is, probeer ek in natuurlike lig koester of kerse en lampe gebruik. Soos lig, het kleur ‘n beduidende uitwerking op ons gemoed. Ek kies doelbewus helder kleure om aan te trek en besoek kleurvolle omgewings.

Skryf en positiewe interaksies met ander mense verhoog my emosionele en spirituele lig. Die jaarlikse Wintermark by die skool skep ook baie geleenthede om as vrywilliger betrokke te raak. Ons het gevind dat stokperdjies soos bak, legkaarte, Lego en paint-by-nummers baie help om positiwiteit gedurende die winter te skep.

Ek het meer deernis en empatie met kliniese depressie

Die Europese winter het my deernis en empatie vir mense met kliniese depressie verhoog. Ons het ‘n depressie pad saam met ‘n nabye familielid gestap.  Dit was emosioneel uitdagend om ‘n fisiese sterk jong man se stryd met depressie te ervaar. Ons het probeer help, maar het onbevoeg en magteloos gevoel.

Kliniese depressie is ‘n mediese toestand wat die hulp van ‘n dokter en terapeut vereis. Mense met ‘n geliefde wat met depressie sukkel, leef voortdurend in vrees. As ʼn mens dan die gevreesde oproep kry, sit jy met ʼn klomp emosies wat ʼn baie lang tyd neem om verwerk te word

Elke seisoen het sy mooi

Die Europese winters het my geleer om die skoonheid van elke seisoen te sien. Selfs op donker en koue dae soek ek dinge wat sonskyn vir my siel is en vir my vreugde bring.

Ek groet In die woorde van Albert Camus,

In die diepte van die winter het ek uiteindelik geleer dat daar in my ‘n onoorwinlike somer is.

Groete

Emsia

Genade kom in verskillende vorme

Genade kom in verskillende vorme

Met my aankoms vir ‘n kort besoek aan Suid-Afrika, het my voormalige Wiskunde-onderwyseres, Elsa van Rensburg, my en my ma na haar plaas genooi. Vergesel deur verskeie vroue wat belangrike rolle in my kinderjare gespeel het, het ons Kersliedere gesing en persoonlike staaltjies gedeel wat die genade in ons lewens onderstreep.

Groot genade kom dikwels in die vorm van mense, geleenthede en situasies in uitdagende tye.

Elsa se storie van genade onbeskryflik groot

Elsa se storie van ontsaglike genade het my getref. Haar plaas het op tragiese wyse kort voor ons besoek afgebrand. Sy was nie tuis tydens die brand nie. Talle mense het op verskeie maniere hulp aangebied. Merkwaardig genoeg het net die hektaar grond wat haar plaashuis en plaaswerkers se huise huisves, onaangeraak deur die vlamme gebly. Sy het haar man aan kanker verloor en haar plaashuis dra stories en herinneringe van `n leeftyd saam met hom. Hierdie gedeelde stories het die fokus van my gedagtes oor die genade in my lewe gevorm.

My ma

Omstandighede het my die voorreg gegee om tyd saam met my ma deur te bring. Ouderdom het ‘n eienaardige manier om die verganklikheid van die lewe en die genade wat gevind word in oomblikke saam met ‘n mens se ouers uit te lig. Om al die strukture wat my pa gebou het by die huis waar ons grootgeword het te sien, het hierdie besef vir my beklemtoon. Hy het onverwags 25 jaar gelede twee dae na Kersfees aan `n hartaanval gesterf.

Onder die kameeldoringboom in my ma se tuin het ons teruggedink aan staaltjies uit die verlede. Ek is dankbaar vir my vreugdevolle kinderjare in die Kalahari. Jy kan nie jou ouers of die plek van jou opvoeding kies nie. Daar is dus enorme genade in ‘n gelukkige kinderjare.

My sus en haar kinders

Toe my suster se dogter, Marga, van my Kaapse besoek vroeg in Desember hoor, het sy besluit om haar Matriekbaai-kaartjie te verkoop. Sy het ’n week saam met skoolvriende ingeruil vir tyd saam met familie. Ons almal mis ons jaarlikse saamkuiertradisie in die Kaap. Vir `n week kon ek en Ansa en haar kinders ons verantwoordelihede en bekommernisse opsy skuif en die Kaapse son en see geniet.

Vanaf Blouberg het ons ons verwonder aan die ikoniese uitsig oor Tafelberg. Jacques het Marga en Altus aangemoedig om die koue Atlantiese waters te trotseer. In die V&A Waterfront, het ons die tradisionele en kleurvolle Suid-Afrikaanse kersversierings en danse bewonder.

Ons het ook natuurlik die geleentheid gebruik om Christo se studente kuierplekke en die pragtig versierde koeke van Jacques se besigheid, The Cinnamon Club, te geniet.

Jacques

Jacques het sy studentjare voltooi en was gereed om te begin werk tydens die pandemie.  As entrepreneur het hy besluit om die Cinnamon Club, ‘n bakkery wat fokus op veganistiese en glutenvrye gebak, te begin. Ten spyte van vele ekonomiese en elektrisiteits uitdagings in Suid Afrika, het die besigheid goed gevaar. Jacques is nou gereed om uit te brei na ‘n besigheidsperseel by Woodstock Exchange. Ek is dankbaar dat ek die oomblik wat hy die sleutel tot die perseel ontvang het, met hom kon deel. Hy het soveel genade in sy besigheid ontvang en ek wens hom voortgesette sukses toe.

Christo

Christo was halfpad deur sy 12de graad toe ons Switserland toe verhuis het. Slegs twee maande nadat hy sy universiteitsreis begin het, het die Covid-pandemie die wêreld getref. Sy studentejare was besonder uitdagend. Die bywoning van sy gradeplegtigheid het my met dankbaarheid en emosie vervul. Hierdie prestasie sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van baie mense in sy lewe nie. Ek sien baie genade in die individue wat hierdie reis met hom gedeel het. Hy het die liefde, ondersteuning en aanmoediging van sy meisie, Simone, gehad. Boonop het hy ondersteunende ingenieurstudentevriende wat die akademiese eise verlig het met humor en sosiale afleidings.

Ek is dankbaar vir die vennote in ouerskap en dat ek die geleentheid saam met Christo se pa en sy gesin kon vier.

Vennote in Ouerskap

Ons as Jacques en Christo se ouers het jare gelede besluit om ons paaie in verskillende rigtings te laat loop. Tog het ons ooreengekom om steeds vennote in ouerskap te wees. Ons vennootskap het gegroei na vier persone. Soos met enige vennootskap was dit soms moeilik en uitdagend, want ons is vier individue met unieke persoonlikhede, sienings en realititeite. Tog glo ek dat die situasie met vier ouers die seuns se lewens en perspektiewe in baie opsigte verryk het. Ek is opreg dankbaar teenoor Charl vir sy rasionaliteit, maar ook insig en wysheid in die grootmaak van die seuns.

Jacques het tydens die pandemie vir `n lang tyd by Gert en Denise gewoon.  Ek glo dat Denise se wysheid en Gert se kennis en ervaring as entrepreneur en besigheidsman vir Jacques as mens en sy loopbaan rigting en duidelikheid gegee. 

Christo het die volgende erkenning in sy skripsie gegee.  To my parents, Emsia and Gert, and their partners, Denise and Charl, thank you for providing me with the opportunity to be able to write this acknowledgement as I prepare myself for the final submission of my undergraduate degree. Thank you Dad for always keeping me on my toes and thinking critically. Thank you Mom for always being available when I want to phone, and helping me with life’s problems as I become an adult.

`n Nuwe jaar

Ons almal stap `n nuwe jaar met `n skoon bladsy binne. Net soos ander jare gaan hierdie jaar ook uitdagings meebring. Ons weet net nie die aard en die omvang daarvan nie. Ek stap dit egter met gerustheid binne, want ek weet dat die genade wat ek in my lewe ontvang het nog altyd meer as die uitdagings was.

Mag dit `n mooi nuwe jaar vol genade wees.

Groete

Emsia