Die krag van onverwagse deernis en omgee
Met my onlangse besoek aan Suid Afrika het ek ‘n paar spesifieke doelwitte gehad. Bowenal wou ek tyd saam met my ma en seuns spandeer. Ek het egter ook administratiewe take gehad, soos om my bestuurslisensie en bankkaarte wat op die punt was om te verval, te hernu. Boonop moes ons ook ‘n paar aksies voltooi voordat Christo die wettige eienaar kon wees van ‘n tweedehandse motor wat ons vir hom gekoop het.
Met beurtkrag weens die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika, het ek lang toue en gefrustreerde mense verwag. Ek het egter nuwe respek vir die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van die mense van Suid-Afrika gekry. Die deernis en omgee wat ek ervaar het in my interaksies met mede-Suid-Afrikaners, het my met trots en hoop vir die toekoms gevul. Ek het na `n vorige besoek ook geskryf oor hoe ek met nuwe oë na Suid Afrika kyk.
Ons het op die D’Aria-wynplaas in Durbanville gebly. D’Aria het hul huisies toegerus met beurtkraglampe en ons elke dag met tuisgebakte beskuit en ‘n bottel wyn bederf. My ma het tussen wingerde grootgeword, en ons oggendkoffie en beskuitjies in die herfskleurige wynlande het vir haar goeie herinneringe en rustigheid vir ons gebring.
Met my aankoms het Jacques die beurtkrag-app op my foon gelaai. Hy het beurtkrag benut om vir ons te kom kuier en vir ‘n wandeling tussen die wingerde te gaan Hy het ook vir ons van sy koeke gebring om na die tyd te geniet.
Onverwagte deernis en omgee
Tydens my besoek het ek deernis en omgee op onverwagte plekke ervaar.
Terwyl ek in ‘n ry gewag het
Ek het die beurtkragskedule geraadpleeg en vroegoggend in die ry geval vir die hernuwing van my rybewys. Ek en die vrou agter my het ‘n gesprek begin oor ons vrees vir die oogtoets. Later het ons so lekker gesels dat ons nie eers agtergekom het hoe vinnig die ry korter word nie. Ek was verbaas toe sy my agterna by die uitgang inwag om my “net behoorlik te groet en my voorspoed op my pad toe te wens”.
Tydens ‘n installasie
Ons moes vir versekeringsdoeleindes ‘n alarmstelsel in Christo se motor installeer. Die tegnikus het verduidelik dat die installasie ‘n paar uur sou neem en toe hy ma sien, het hy aangebied om ons na die naaste winkelsentrum te neem en ons weer op te laai. Hy het Afrikaans gepraat ter wille van my ma nadat sy hom ingelig het Engels in die Kalahari as ‘n vreemde taal beskou word. Ons kon rustig ‘n Spur-ontbyt geniet en lekker gesels terwyl hy my gereeld op hoogte van hul vordering gehou het.
Opsoek na parkering
Ek het altyd gedroom oor my seuns as studente aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek het uitgesien na my middagetes saam met hulle by die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit se Botaniese Tuin en het vir my ‘n besoekerskaart gekoop. Jacques het egter by ‘n ander Universiteit beland en tydens Christo se studentejare op Stellenbosch, het ons in Zürich gewoon en Covid het die wêreld besoek.
Gelukkig het my Botaniese Tuin geleentheid tydens my onlangse besoek gekom en my ma kon saam met ons kuier. Ek wou ter wille van my ma naby die hek parkeer, maar soos op enige kampus was parkering ’n probleem. ’n US-sekuriteitsbeampte het my dilemma waargeneem, deernis gehad en onverwags ’n privaat parkeerplek naby die hek vir my beskikbaar gestel. Met sy positiewe ingesteldheid het hy my gehelp om na sewe jaar uiteindelik my Botaniese Tuin-besoekerskaart saam met my gesin te gebruik!
Toe ek ‘n fout gemaak het
’n Dag voor my terugkeer moes ek my nuwe bankkaart gaan haal en die pin by die OTM verander. Ek het egter ‘n fout gemaak, en my nuwe kaart is geblok! Verleë en hoed in die hand het ek teruggekeer na die toonbank en om verskoning gevra. Die dame het deernisvol geglimlag.
“O mevrou, ons maak almal soms foute. Ek kan net dink jou kop is seker op ‘n ander plek met die vlug na Switserland môre.”
Op die vlug het ek die volgende stelling gelees wat bevestig het dat die mense van Suid-Afrika die regte harte het om die verandering wat in ons land vereis word, teweeg te bring.
Groete
Emsia