Browsed by
Category: Jaar 2019

Zürich deur die vliegtuig se venster

Zürich deur die vliegtuig se venster

Op 17 Julie 2019 het ek en Zander vir die eerste maal voete op Switserse grond neergesit. My eerste prentjie van ons nuwe tuiste deur die vliegtuig se venster, was die volmaan wat die nuwe dag groet in die pers-oranje skynsel van dagbreek oor die wit pieke van die Alpe. Soos wat ons die landingsvlak nader het ek opgelet hoe presies alles in rye is en hoe elke liewe stukkie aarde nuttig en netjies benut word.  My OCD was verheug, maar ek het tog gewonder: “Is ek gereed vir hierdie uitdaging?”

My eerste blik op Zürich

In die aankomssaal het Charl soos my rots daar gestaan.  Dit was so lekker om hom te sien.  Hy het amper moeër as ek en Zander gelyk van bekommer oor ons.  Ons is saam hom na sy tydelike blyplek toe.  My moeë brein kon nie al sy verduidelikings van hoe alles werk inneem nie en ek moes maar na ʼn bietjie slaap die basiese dinge self uitpluis.

Ons eerste winkel uitstappe

My en Zander se eerste uitstappie was na die plaaslike supermark, Coop, toe.  As gevolg van beperkte spasie en die feit dat jy jou aankope moet dra, gaan die mense elke dag winkel toe en koop net vir daardie dag.  Ek het gou besef my beproefde pakstoor-konsep gaan nie hier werk nie.  Sekere  soorte vrugte en groente is onbekend aan my, maar al die rooi vrugte soos bessies en kersies maak my opgewonde. 

Die reuk van daaglikse vars gebakte brode hang in die lug en die verskeidenheid soorte kase verstom my. Vleisopsies is beperk en onbekostigbaar duur. Maalvleis is tot drie maal duurder en ander snitte tot ses maal duurder as in Suid Afrika. Coop het gelukkig Prix handelsmerk produkte wat redelik bekostigbaar is, selfs in ons terme.  Zander was verheug oor sy ontdekking van Prix roomys.  Volgens Zander kan hy sien hoe ons twee nou “Bargain Hunters” gaan word.

Ons eerste inkopie uitstappie na Coop

Treine, trams en busse

Ons tweede uitdaging was om ons pad te vind tussen al die treine, trams en busse.  Ons getroue vriend Google Maps doen gelukkig steeds sy ding.  Dit wys presies watter vorm van vervoer op ‘n gegewe tyd van watter plek af vertrek.  Die bene moet ook nou ‘n groter bydrae lewer tussen al die loop, trappe klim en soms hardloop as ons bietjie laat is. 

Opstaan uit die bed is baie meer pynlik as voorheen, maar ek hoop dit werp vrugte af op die voorkoms. Aangesien plaaslike data nodig is vir Google Maps, moes ons vinnig plaaslike selfoonkontrakte kry.  Zander doen meeste van ons roete navorsing en volgens hom is hy my “Trip Advisor”. 

Ons plaaslike S18 voorstedelike trein

Ek het vir Zander al ʼn paar maal winkel toe gestuur met ʼn lysie.  Dit is ʼn paar treinstasies weg en hy het baie trots reggekom.  Die groter algemene veiligheid het ʼn positiewe impak op ons stresvlakke en gee my die gemaklikheid om vir Zander groter verantwoordelikheid te gee. Die tieners loop redelik laat in die aand nog rond besig op hulle selfone.

Taal is ‘n uitdaging

Taal is vir ons ʼn groot uitdaging en ons al drie besef ons sal so gou as moontlik Duits moet leer praat as ons wil oorleef. Google Translate word sommer gereeld ingespan. Baie mense kan darem ‘n klein bietjie Engels praat en is redelik vriendelik en behulpsaam.  Tussen grüezi (hallo), danke schön (baie dankie) en tschuss (totsiens), lyk ons darem of ons ʼn poging aanwend met die Duitse taal. As ek in die winkels regtig sukkel gooi ek sommer Afrikaans met net baie sch- en gh- klanke in. Met ʼn klein bietjie geluk werk dit soms.

Ons nuwe blyplek (Ankenbüel) in ‘n landelike omgewing

Blyplek, soos alles anders hier, is ongelooflik duur.  Ons was dankbaar om te hoor dat ons, ons nuwe woonstel se sleutel ʼn week voor Julie se maandeinde kon kry.  Die nuus dat ons skip eers 9 Augustus kom was minder goed. As Suid-Afrikaners is ons gelukkig gemaklik met kamp. Met alles op die skip, was ons genoodsaak om ʼn ketel, matrasse en die nodigste eetgerei aan te skaf om vir drie weke oor die weg te kom. In Switserland kom die blyplekke ook sonder ligte en ingeboude kaste.

Ons IKEA bouprojekte

Ikea

Ons was genoodsaak om ons beperkte begrip van IKEA se prosesse uit te brei.  Met een stappie deur IKEA se uitstalruimte bereik mens sommer maklik jou 10 000 treetjies doelwit vir die dag. Tydens die proses skryf jy die meubels of huishoudelike items wat jy wil koop se nommers neer, gaan jy na ʼn stoorruimte en haal al die items van ʼn rak af in ʼn trollie en betaal daarvoor. 

Daar is spesifieke rekenaars op die vloer om groot meubels, soos ingeboude kaste, se uitleg en voorkoms aanlyn te ontwerp.  As die ontwerp gefinaliseer is druk ʼn personeellid ʼn faktuur vir al die planke en skroewe.  Ons moes die meubels self soos reuse Lego-stelle van ʼn plan af bou.  Charl het gelukkig baie vaardigheid op die terrein. My leerkurwe is steil.

Behalwe vir die feit dat ons vreeslik na ons hartsmense by die huis en Zander na sy hartskos in die vorm van Woolworths hamburgers verlang, gaan dit goed met ons en is ons tevrede met ons vordering ten opsigte van die verkenning van ons nuwe tuiste die afgelope twee weke.

Groete

Emsia

Uitdagings en wonderwerke tydens ons uittog

Uitdagings en wonderwerke tydens ons uittog

Met die trek van die Israeliete uit Egipte deur die woestyn vir veertig jaar, het die Liewe Vader geweet Hy sal hulle met ʼn groot plan moet lei anders sal hulle nooit in die beloofde land uitkom nie.  Ten einde hulle na aan Hom te hou, te laat saamstaan en help vorentoe beweeg, het Sy plan baie uitdagings en wonderwerke ingesluit.

Sedert ons Welgemoed verlaat het, het ons ook baie uitdagings, wonderwerke en engele op ons pad beleef.  Na ons uittrek uit Welgemoed, is ons vir ʼn paar dae see toe vir ʼn bietjie saamwees voor Charl weer terug Zürich toe vlieg en ek en Zander in die pad val om bietjie-vir-bietjie ons hartsmense en hartsplekke te groet.

BMW met pap wiel tussen Prieska en Griekwastad

BMW hou nie van grondpad nie!

Op pad na Kathu konsulteer ek Google Maps oor die paaie in die Noord-Kaap en vat ʼn kortpad, min wetend dis ʼn grondpad.  Die BMW hou nie van grondpad nie.  Laat Sondagoggend op ʼn klipperige pad sonder selfoonsein tussen Prieska en Griekwastad, bars die BMW se band!  

Ons is gestrand, want BMW het “run flat tyres” en geen spaarwiel nie. Net toe my paniekaanval die oorhand wou kry, verskyn daar ʼn groot trekker met 3 werkers op, soos engele uit die hemel.  Ek klim met my rekenaar, handsak en paspoorte op die trekker se een wiel en Zander op die ander.  By die plaashuis help die boer my met die plaastelefoon om ʼn nuwe band uit Prieska te bestel en ek kon my familie inlig oor ons penarie.

Swaer Andre laat weet die pad is te sleg om verder te ry.  Hy reël met ʼn boer in die Griekwastad omgewing om ons en die BMW met sy plat sleepwa te kom haal voor dit nag word.  Genadiglik kon ons daardie aand ons moeë koppe neerlê op sagte kussings in ʼn gastehuis in Griekwastad.  Al wat ek kon prewel voor ek my oë stadig toemaak was: “Dankie Vader vir al die Noord-Kaap engele wat met soveel liefde en omgee tot ons redding gekom het op hulle kosbare Sondag!”

Ons familie kuier vir oulaas op die plaas

My Kalahari kuier was soos ‘n oase in die woestyn

Die kuier by my ma in Kathu en Ansa en Andre op die plaas was soos ʼn lower groen oase met lieflike palmbome in ʼn woestyn na weke se bokse pak en grondpad ervaring.  Ons bekers het oorgeloop van liefde, omgee en bederf en niks kon ons pla nie.  Ek is so dankbaar dat Christo en Michaela ook saam kon kom kuier.  So tussen die groot ou kameeldoringbome en die goud-oranje sonsondergange het ons heerlik gekuier, geëet, gelag en die saamwees geniet.  Die groet en wegry was baie seer.

Ek, my ma en my sus, Ansa.

Pretoria vir visas optel

Na konsultasie oor die veiligste pad na Pretoria vir visas optel, is ek deur ʼn skoolvriendin bygevoeg op ʼn paar ry-veilig WhatsApp groepies. Hulle het twee kere ongelooflik tot ons redding gekom toe ons onluste op ons beplande roetes kon vermy.  Die visa-aansoeke was ʼn groot klip wat potensieel die Switserse appelkar kon omgooi, maar genadiglik het alles daar met Switserse presisie seepglad verloop.

Kuier saam met Jacques en Candice in Parys

Na die visas het ons vir Jacques en niggie Candice in Potchefstroom opgetel en ʼn heerlike saamweestyd in Parys langs die kabbelende waters van die Vaalrivier gehad.  Jacques het ons bederf met smaaklike etes wat hy voorberei het.  As oud Kovsie het die hele Vrystaat-landskap sommer ook wonderlike herinneringe van wonderlike studentedae teruggebring.

Jacques, Zander en Candice in Parys in die Vrystaat

Oupa en Ouma Kruger in Limpopo

Jacques is saam met ons om vir Oupa en Ouma Kruger in Limpopo te groet.  Nadat ons van Jacques afskeid geneem het, is ons na nefie Justin in Sandton. Hy het vir my en Zander die liggies van Sandton gaan wys en gehelp dat ons veilig op die Gautrein kom vir ons laaste rit OR Tambo lughawe toe.

Ons dag van vertrek het aangebreek.  Al die uitdagings en wonderlike oomblikke dra ek soos juwele in my hart en het net gebid dat ons na die lang reis darem in Zürich sal uitkom.  My vrees was dat ek soos Moses nooit die beloofde land sal sien nie.  Ek het so baie drome van hoe ek met my hartsmense daar wil kuier, spesiale oomblikke beleef en herinneringe bou.

Ek is uiters dankbaar vir my reismaatjie, wat al die dinge saam met my beleef het.  Hy ken sy Ma so goed en het met soveel liefde en humor ongelooflike ondersteuning gebied.

Groete

Emsia

‘n Nuwe begin vereis om te laat gaan

‘n Nuwe begin vereis om te laat gaan

Volgens die kenners bestaan verandering uit drie definitiewe fases. Die eerste fase is die afskeid, afhandeling en klaarmaak. Dit bring verlies en verligting. Tweedens is die tussenin fase, soos die sweefstokarties in die sirkus wat laat los het aan die een kant, maar nie sekerheid het dat die sweefstok presies op die regte tyd en plek aan die ander kant gaan wees nie. Die derde fase is die nuwe begin. Dit bring gewoonlik ʼn element van opwinding mee, maar ook onsekerheid saam met die onsekerheid of jy opgewasse vir die nuwe situasie is.

Elkeen van die hierdie fases, het sy eie uitdagings en emosies wat daarmee gepaard gaan. Die eerste fase, naamlik groet en laat gaan is sommer al baie moeilik. ʼn Suksesvolle nuwe begin is afhanklik van ʼn behoorlike afsluiting en om te laat gaan.

My veilige hawe

Ek moet ons huis van twintig jaar laat gaan. Hierdie huis is my toevlugsoord wanneer die storms woed. Met my eerste uitsig oor die lieflike tuin en poppekas onder die groot koeltebome, het ek geweet dit is waar ek my kinders wil grootmaak. Hier het my kinders hul eerste treë gegee. Ons het talle verjaarsdagpartytjies gehou, ure lank op die grasperk of in die swembad gespeel en in die winter voor die kaggel opgekrul.

My tuin

In die tuin is baie monumente in die vorm van plantsteggies en saailinge wat as geskenke ontvang is. Dit gee erkenning aan almal wat bygedra het tot die kleurvolle prentjie, al is baie nie meer met ons nie.

Op die een kamerdeur is daar nog kunswerke deur `ʼn driejarige Christo ‘n permanente merkpen geteken, ’n Stuk van die blinder in die tienerkamer was steeds vermis. Die verduideliking vir die verdwyning, deur ‘n wysneus tiener, was “die spontane disintegrasie van vaste stof”. Na jare se wonder het ek egter die raaisel opgelos. ‘n Krieketbal het van koers gegaan terwyl hulle onwettig daarmee in die motorhuis gespeel het.

Onthou oomblikke in elke vertrek

In elke vertrek is herinneringe van oomblikke wat deel is van my lewe en verlede. Ek dink met ‘n glimlag hoe ons gespeel het perdry in die sitkamer met die kleintjies op my rug. Later het hulle oorslaappartytjies saam met hul vriende gehou, en ons het pizza geëet, legkaarte gebou of bordspeletjies voor die kaggel gespeel.

Zander moet sy buurmaatjie George groet

Ons is gelukkig om wonderlik bure te hê, met George as ʼn maatjie vir Zander as ʼn bonus. Ons het vir Aletta en Fritz in die straat ontmoet en dadelik geweet ons is op dieselfde program met ons stootwaentjies en klein bondeltjies.  My visie van lekker speel en oorslaap het presies so gerealiseer. 

Die boom net langs die muur het baie gerieflike toegang gebied vir maklike heen en weer oorklim. George se vrees vir die groot boeties met die “ysters” (draadjies) op hulle tande, het hom aanvanklik huiwerig gemaak om te kom kuier! Hy het gelukkig die vrees gou ontgroei en die twee maats se afskeidsgroet het ons almal se harte gebreek.

Die huis is nou nog steeds in die mark en wag op die regte nuwe eienaar. Hierdie ruimte wat vir my ʼn veilige hawe vir twintig jaar gebied het, is nou gereed om iemand anders s’n te word. Soos met alles hier op aarde is dit net tydelik aan my geleen en nou is dit tyd vir my om aan te beweeg. Dit is nou iemand anders se beurt om van die plek ʼn veilige hawe te maak en mooi herinneringe te bou.

Groete

Emsia

My tweede tameletjie met taal

My tweede tameletjie met taal

As ek terugkyk op my lewe, dan besef ek daar is heelwat geleenthede en mense oor my pad gestuur wat wonderlike leermeesters kon wees as ek net die geleenthede aangegryp het. My pa was ʼn meester op tegniese gebied en uitstekend met herstelwerk. As ek meer opgelet het, sou ek baie beter planne kon maak om my instandhoudingsprobleme aan te spreek. Ek sou ook heelwat minder flopse en brandoffers as jong getroude vroutjie gehad het, as ek my ma meer in die kombuis gehelp het.

As Kalahari kind het ek nooit behoorlik leer Engels praat nie!

Ek kan baie voorbeelde noem, maar een ding wat my nou weer vir ʼn tweede maal kom besoek, is my taalvaardigheid.  As Kalahari-kind het ek nooit moeite gedoen om behoorlik Engels te leer praat nie. Engelse boeke lees is gesien as ʼn lastigheid wat met my kosbare sosiale tyd ingemeng het. Ons het doerie-tyd in elk geval selfs in die Engelse klas Afrikaans gepraat, so waarom sou ek moeite doen? As ek toe maar net  ʼn vinnige toekomsblik kon hê, sou ek beslis my ingesteldheid verander het!

London Embankment

Dinge op die taalfront het vir ʼn tyd lank seepglad geloop. Na skool is ek na ʼn Afrikaanse universiteit en het daarna by ʼn Afrikaanse kantoor met Afrikaanse kliënte begin werk. Soos ʼn dief in die nag kom die Londen geleentheid my bekruip.  Manlief wil sy Meestersgraad by die London Business School voltooi en ek doen by die PwC kantoor in Londen aansoek vir werk.

My eerste internasionale vlug

Volgens ons is alles gereël en ons klim op die vliegtuig vir my eerste internasionale vlug.  Ons reis baie lig met net ʼn handjievol besittings vir twee jaar se studeer en werk in Londen.  Met ons aankoms maak ons ʼn draai by die Londen kantoor om dinge vir my inval te finaliseer.  Ek kry die skok van my lewe toe hulle my op ʼn baie professionele Britse wyse meedeel dat daar nie ʼn manier is dat hulle my aan hulle kliënte kan blootstel met sulke swak Engels nie!

Sonder werk in Londen

Hier sit ons in Londen, manlief moet begin studeer en ek het nie werk nie!  Ek kry nou nog nagmerrie terugflitse van myself sopnat in ʼn tipiese rooi Londense telefoonhokkie gesweet.  Ek hoor nog die ponde en pennies soos water deur die betaalfoon stroom, terwyl ek die een na die ander personeelagentskap, in my beperkte Engels en erg Afrikaanse aksent, van my finansiële kennis en vaardighede probeer oortuig.

Rooi Londen bus en telefoonhokkie

Die Liewe Vader daar Bo het my sekerlik jammer gekry en ʼn span engele gestuur om te help.  Met my selfbeeld aan flarde, het ʼn onverwagse boodskap van PwC laat weet dat hulle my weer ʼn onderhoud, maar hierdie keer vir ʼn interne rol, sal toestaan. Intern kan hulle dalk nog ʼn plan maak, solank ek net nie naam by hulle hoog Britse kliënte weggooi nie.

My onderhoudvoerder was genadiglik ʼn Suid Afrikaner wat jammer vir my gevoel het. Ek het opgeëindig in ʼn span wat ouditsagteware, wat ons alreeds in Suid Afrika gebruik het, uitrol. Die span het uit heelwat mense van ander lande soos Kanada, Australië en Nieu Seeland bestaan.

Tower Bridge

Taal is ‘n stryd

Ek en my kollegas het aanvanklik vreeslik gesukkel om mekaar te verstaan. Vir al my sondes eindig ek op in ʼn rol waar ek klaskameropleiding oor die gebruik van die ouditsagteware moet gee. As deel van die rol moet ek ook mense oor die telefoon as deel van ʼn hulplyn met hulle sagtewareprobleme help.

My eerste opleidingsessie het maar beroerd gegaan en die evalueringsterugvoer het my reeds gekneusde ego geknak. Die mense wat inbel hulplyn toe, het later “for the French girl” gevra, omdat my Engels so onverstaanbaar is. Daar is geen kans vir tou opgooi nie en my Engels het stadig maar seker verbeter. Ek het geweet dinge het omgedraai toe ek een aand voor ek gaan slaap skielik in Engels begin bid.

Ek is dankbaar vir die pynlike leerervaring

Met my eerste Engelse aanbieding terug in Suid Afrika, het die verbasing op my baas se gesig my ego goed gedoen.  Ek is agterna al baie dankbaar vir hierdie pynlike leerervaring waarin ek gedwing is. Die wêreld het vinnig verander sedert my skooldae en ek sou nie vordering in my loopbaan sonder dié Engelse taalvaardigheid kon maak nie. Ek het só gehoop en bid ek tel sommer die Britse aksent op, maar ongelukkig is die Kalahari te veel in my bloed.

Charl het nou uiteindelik sy visa gekry, en ek en Zander kon aansoek vir die Switserse verblyfvisa doen.  Daar kom loer die dief in die nag so wraggies weer vir my toe ek op die visa aansoek lees dat Duitse, Franse of Italiaanse taalvaardigheid ʼn voorvereiste vir die Switserse visa is.  Aangesien die voorvereiste eers Januarie 2019 ingestel is, sal hulle nuwe aansoekers ʼn jaar kans gee, maar daarna moet hulle ʼn A1-taaltoets slaag ten einde die visa te verleng. Ag vrek, dit voel soos déjà vu!

My nuwe stryd met Duits

Hoe kan ek aan hulle verduidelik dat my taal-brein van die heel begin af onderontwikkeld is!  Ek sit nou daagliks en Duits leer.  My graad 8 Duitse juffrou, Mev. Saaiman sal lekker in haar binneste lag as sy van my dilemma sou verneem. Ek het vir my Duitse kinderboekies van die internet afgelaai en lees van die “Osterhase Harry” (Paashasie Harry) en “Wenn es Sterne regnet” (Wanneer dit sterre reën).

Ek gaan my toegegroeide taal-breinpaadjies moet skoonmaak.  Dit is seker die rede vir my hoofpyne na ‘n Duitse leersessie.  Ek kies maar om dit te sien as een van vele uitdagings wat my nie gaan onderkry nie.  As julle my weer sien, “dann werde ich sehr gut deutsch sprechen”!

Groete

Emsia

Ons waardeer die kosbaarheid van vriendskap

Ons waardeer die kosbaarheid van vriendskap

Zander begin uitsien na die Switserse ervaring, maar die gedagte aan maats groet, druk swaar op hom. Daar is ʼn paar van hulle wat ʼn snoesige plekkie in sy en my hart uitgegrawe het.

Abby

Sy spesiale meisie-maatjie is Abby. Daar is altyd ʼn glimlaggie in haar ondeunde blou oë en dié jaar het hy vir haar met Valentynsdag ʼn sjokolade skool toe geneem. Abby het net soos Zander ook twee groot boeties. Sy verstaan dus van videospeletjies, tienermusiek, -taal en -optrede. 

Op vierjarige ouderdom het hulle Graad 0 saam by Welgemoed Pre-Primêr aangepak. Met ons aankom by die nuwe skool was alles vreemd en trane het begin blink. Abby het soos ʼn engel net verskyn, sy handjie gevat en gevra of hy saam met haar wil speel. Hulle vriendskap het op ʼn brose oomblik vir ons beide begin.  Hulle het intussen van die sandput na videospeletjies en ysskaats verskuif, maar Abby bly steeds sy spesiale meisie-maatjie.

Abby en Zander swem

George

ʼn Mens kan jouself uiters gelukkig ag as jy ʼn buurmaatjie soos George het. Hulle deel ouderdom,  is in dieselfde klas en druk saam voor in die rugbyskrum. George en Zander kuier amper daagliks, behalwe eksamentye waartydens ek en Aletta beide hoop en bid ons kan mekaar nie hoor nie.  Hulle jaag saam baie kreatiewe kattekwaad aan. 

Een Saterdagoggend het hulle brandende klappers in die toilet gegooi en die onderste stuk van die toilet weggeskiet. By George-hulle leer Zander van bou, braaivleis en sussies. Die geboorte van Roxy se dierbaarste klein babahondjies was ʼn hoogtepunt. By ons leer George van grootboetie-dinge en tegnologie.

George en Zander braai

Kosbaarheid van vriendskap

Weggaan dwing mens om aan die kosbaarheid van al die spesiale vriendskappe en verhoudings in jou lewe te dink. Die kwaliteit van ons persoonlike verhoudings het ʼn groot impak op ons emosionele welsyn. Ek koester oomblikke waar ek gevoel het daar is ʼn sielskonneksie en iemand my hart verstaan. Dit is die genot van saamwees en lekker lag wat ons laste in uitdagende tye ʼn bietjie ligter maak.

Ons beplan ʼn plesierige afskeidspartytjie, sodat Zander en sy maats vir oulaas sommer net heerlik in ons tuin kan baljaar. Ek gaan op my eie manier rustig van elkeen van my vriende oor ʼn koppie koffie of glas wyn afskeid neem. Die moeilikste groet is as ek en Zander vir oulaas my familie in die Kalahari en Jacques in Potchefstroom moet groet voordat ons in Johannesburg op die vliegtuig Switserland toe klim.

Laaste groet oor ‘n glas wyn met Tafelberg as uitsig

Nuwe vriendskappe

As ek vorentoe kyk is vriendskappe en verhoudings een van die dinge waaroor ek die meeste bekommerd is met ons weggaan. Aan die een kant gaan ek, ten spyte van die afstand, kreatiewe maniere moet vind om my huidige kosbare verhoudings in stand te hou. Aan die ander kant gaan ek maniere moet vind om nuwe vriendskappe, met mense wat anders as ek grootgeword het, te vestig.

Dit is amper weer soos om na ʼn egskeiding te probeer uitgaan. As introvert is dit vir my makliker gesê as gedaan.  Charl sal hopelik in sy werksituasie en Zander by die skool vriende ontmoet. Ek sal egter moet moeite doen en myself dwing om deel van geleenthede te wees waar ek ander mense kan ontmoet.

Ek verstaan die Switsers is redelik privaat. Die Duits is natuurlik nog ʼn redelike hoë hekkie waaroor ek sal moet kom voordat ek Switserse vriende kan oorweeg. Ek sal aanvanklik maar na ander ouers by Zander se nuwe skool moet uitreik. Ons is immers almal in dieselfde bootjie.

Groete

Emsia

Vereenvoudig en verminder al die goed!

Vereenvoudig en verminder al die goed!

Ons is geneig om oor ‘n leeftyd baie goed bymekaar te maak. Hierdie items verdwyn gerieflik agter geslote deure, en ons vergeet daarvan. Soos ‘n uitgestelde afspraak wag ons besittings vir ons. ‘n Verhuising na Switserland wat ons gedwing het om te vereenvoudig, het egter gouer opgedaag as wat ons gedink of gehoop het.

Jacques en Christo help met die swaar items

Jacques se entrepreneursvaardighede was nuttig

Jacques het sy entrepreneursvaardighede vir die groot items benut. Hy het die items aanlyn geadverteer en sy potensiële klante op ‘n baie professionele en oortuigende manier hanteer. As hy onseker was oor hoe om die elektriese toestelle te gebruik, het hy sy navorsings- en tegniese vaardighede gebruik om dit uit te vind.

Ek glimlag steeds as ek dink aan die verkoop van ‘n koffiemasjien, wat Jacques nie betyds aan die gang kon kry nie. Jacques het oop kaarte oor sy penarie met die potensiële koper gespeel. Gelukkig was die koper geduldig en het hy en Jacques dit kruisbeen op die vloer saam uitgepluis. Glimlaggende gesigte en ‘n high-five ‘n halfuur later, was my teken dat hulle ʼn werkende koffiemasjien het. Die koper het weggestap met ‘n afslag en ‘n pakkie koffiebone vir sy geduld.

Ons het wonderlike mense in die proses ontmoet

Die wonderlikste mense het opgedaag. Hulle het persoonlike stories gedeel oor hoekom hulle op soek was na ‘n spesifieke item. Die middeljarige man wat die roeiboot gekoop het, wou dit vir sy eerste vakansie saam met sy nuwe vrou en haar seuns hê. Die vriendelike man wat die fiets gekoop het, het beplan om saam met sy vrou te begin oefen. Ons afslag was ons vorm van ondersteuning vir hierdie belangrike saak.

Ons berei voor vir die tweedehandse verkope mark

Tweedehandse verkope mark

Ons het die tweedehandse verkoopsmark vir kleiner items betree. Ons het, voorbereid met ‘n bottel koffie en ‘n pakkie beskuit, Saterdagoggend seweuur by die vlooimark opgedaag. Van die mense het ernstig onderhandel omdat elke sent saak maak. Ander het ‘n tweede keer teruggekeer en ons vertel hoe hulle of hul kinders die items wat hulle die eerste keer gekoop het, geniet het. Dit was ‘n verrykende en onvergeetlike ervaring.

Zander help met die verkope

Sommige items was moeiliker om te verkoop as gevolg van die emosionele waarde en die stories wat ek in my hart dra. ’n Voorbeeld hiervan was Christo se blou tas met ’n stel plastiektreine en rooi spore waarvoor hy mal was. Toe ’n driejarige seuntjie langs my kom sit en met die treine begin speel, was ek reg om dit te laat gaan.

Nuwe grootouers het die Kersboom met al die liggies en versierings gekoop vir hul nuwe kleinkind se eerste Kersfees. Baie grootouers het Lego-stelle en legkaarte as Kersgeskenke vir hul kleinkinders gekoop. Hulle het gehoop die nuwe generasie sou hul skerms vir behoorlike speelgoed verruil.

Aandete tussen die markitems wat rondstaan

‘n Goeie begin is gemaak

Die proses was ‘n goeie begin in ons missie om ons lewens te vereenvoudig. In die toekoms wil ons net iets koop wanneer ons dit nodig het. As ons nie ‘n item gebruik nie, moet ons dit weggee. Ons wil fokus op ervarings eerder as besittings.

Die volgende stellings druk dit goed uit:

Ons bereik perfeksie, nie wanneer daar niks meer is om by te voeg nie, maar wanneer daar niks oor is om weg te neem nie” en “Die vermoë om te vereenvoudig beteken om die onnodige uit te skakel sodat die nodige tot hul reg kan kom ”.

Groete

Emsia

Die lewe se groot, moeilike besluite

Die lewe se groot, moeilike besluite

30 Oktober 2018

Groot, moeilike besluite kruis dikwels onverwags jou lewenspad. Hulle veroorsaak koersaanpassings. Hulle impak op jou is beduidend, maar so ook op die mense na aan jou. Die groot, moeilike besluite veroorsaak nagte se wakker lê en ure se lysies om voor- en nadele te analiseer.  Die besluit word uiteindelik geneem op grond van ‘n wete diep binne-in jou. Die woorde van hierdie wete is beperk, wat dit uitdagend maak om die besluit te verduidelik.

Charl diep in gedagte

Ons groot en moeilike besluit

So ‘n groot en moeilike besluit het nou oor ons pad gekom. ‘n Geleentheid het hom voorgedoen vir Charl om vir ‘n paar jaar in Switserland te werk. Die impak hiervan is groot. Die grootste is vir seker op Jacques en Christo. Jacques het darem sy voete gevind as student aan die Noordwes-Universiteit, maar Christo moet sy finale skooljaar voltooi en dan met sy studentejare aan die Universiteit Stellenbosch begin. My seuns is onafhanklike jong mans, maar my moederhart bloei vir hulle.

Impak op my familie

Die impak op my ma en suster, Ansa, is ook groot. Met hulle wat in die Kalahari woon en ons in die Wes-Kaap, is afstand nie ‘n vreemdeling nie. Ons jaarlikse byeenkomste, soms in die Kaap en soms in die Kalahari, is my jaarlikse hoogtepunt. Dit is die week wat ons vergeet van ons verantwoordelikhede, pret hê, onophoudelik gesels, lag en gemmertee in die tuin drink. Daardie week leer Ansa se plaaskinders meer van die stadslewe, of my stadskinders leer van die plaaslewe, afhangend van waar ons kuier.

Selfoontegnologie stel ons in staat om in kontak te bly. Ons beplan om by ons ritme te hou om een keer per jaar in Suid-Afrika te kuier, en hopelik kan hulle ons een keer in Switserland besoek. Ons skuif skep ‘n uitstekende geleentheid vir ons familie om ‘n internasionale vlug en ‘n Europese ervaring te hê.

Ons kuier op die plaas in die Kalahari

Charl is baie opgewonde oor die werksgeleentheid. Zander is hartseer om afskeid te neem van sy vriende en rugby. Ek is bekommerd oor sy aanpasbaarheid as Afrikaanse seun in ‘n internasionale skool. Ek weet egter dat kinders baie meer aanpasbaar is as wat ons dink. Charl sal vroeg in die nuwe jaar in Zürich begin werk, maar ek en Zander sal heelwat later by hom aansluit sodat ek die grootste deel van sy laaste skooljaar by Christo kan wees.

Dit maak my hartseer om my familie en wonderlike vriende agter te laat. Ons het die afgelope twintig jaar kosbare vriendskappe opgebou rondom die sportveld en na kerk op Sondae. Hoe neem ek afskeid van ons huis en sy lieflike tuin waar my kinders grootgeword het?

Oktobermaand

My pa het altyd gesê: “Oktober is die mooiste maand van almal!”. Ek het eers gedink dit is as gevolg van die lente, maar ek verstaan nou beter. Dit was die dertiende tjek maand by die werk. Oktober was ook vir my ‘n rooiletter maand. Op ’n laat Donderdagmiddag in Oktober het my lewensreis begin. Die Switserse geleentheid het in Oktober aan ons deur kom klop, en volgende Oktober gaan ek heel waarskynlik my vyftigste verjaardag in Switserland vier.

Dit is ‘n moeilike besluit, maar ons moet die geleentheid aangryp. Ek is jammer oor die impak op die mense vir wie ek lief is. Hulle het nie eens ‘n keuse in die saak nie. Ons weet nie hoe dit gaan uitdraai nie, maar ons weet dat so ‘n ervaring sal bydra tot ons persoonlike groei en perspektief op ‘n veranderende wêreld.

Besluite

My beste vorm van verandering verwerk, is om daaroor te skryf.  Ek het dit reeds vyf-en-twintig jaar gelede uitgevind toe ons die twee jaar in Londen gewerk het en dit my enigste bekostigbare manier was om kontak te hou. Daardie tyd was dit nog gewone briewe in ʼn koevert met ʼn posseël op. Ons kon nog op die Suid Afrikaanse posdiens staatmaak.

Ek belowe om gereeld vir die mense wie ek omgee te skryf en almal so op hoogte te hou van ons innerlike en uiterlike reis. Hierdie is die eerste van baie briewe.

Groete                                                   

Emsia