Browsed by
Category: Duitse lande

Die Duitse benadering tot welstand

Die Duitse benadering tot welstand

Ek het in ’n land ryk aan verskeidenheid van natuurervarings, grootgeword. Daar is groot verskille tussen see, berg, bos, woestyn en woud, maar elke streek bring sy eie ritme van genesing en rustigheid – fisies, emosioneel én geestelik.

As kind het ek met my kaalvoete in die rooi Kalahari-sand grootgeword. Daar is ruimte. Daar is stilte. In die afwesigheid van geraas leer mens om te luister — na die wind, die voëls, en na jouself. As die son sak, ontvou een van die helderste sterrehemels op aarde. In die Kalahari het ek geleer welstand beteken wees stil, luister en leef stadig.

Later, het ek as jong werkende, in die skaduwee van Tafelberg begin woon.

My hart het in ritme met die see begin klop en die oseaan het my natuurlike terapeut geword. Met my voete in die koel wit sand het ek gevoel hoe die wêreld se gewig saam met elke golf wegspoel. Die sout lug, swaar van negatiewe ione en die reuk van kelp,  is soos ’n tonikum vir liggaam en gees. Dit reinig, verfris en herinner mens om weer dieper asem te haal.

Die Duitse weg tot welstand

Nuwe ontdekkings het op ons in Europa gewag. In die Duitssprekende lande — Switserland, Duitsland en Oostenryk — het ons ’n ander benadering tot welstand leer ken. Hierdie benadering is diep gewortel in eeue van tradisie en pas perfek by die natuurlike omgewing en klimaat. Hier het ons kennis gemaak met die Kurhotel, oftewel die “genesingshotel”.

’n Kurhotel is veel meer as ’n luukse spa. Dis ’n plek waar mense heen kom om liggaam en gees te herstel, onder die sorg van kundiges en met die natuur as bondgenoot. Hier vloei mediese sorg, natuur en ontspanning saam tot ’n unieke ervaring van balans.

Die hotelle lê in erkende kuuroorde, waar die lug kristalhelder is, die water minerale dra, en die ritme van die lewe stadiger klop. Binne wag dokters, fisioterapeute en welstandspesialiste wat elke gas se behoeftes verstaan. Daar word alles aangebied — van hidroterapie, massering en joga, tot saunas, bewustheidswerksessies en eenvoudige, gesonde kos.

Wat my veral beïndruk het, is dat in Duitsland sommige van hierdie Kur-verblywe deur mediese fondse gedek word. Dit wys hoe die Duitsers welstand as deel van gesondheid beskou — nie as ’n luuksheid nie, maar as ’n noodsaaklikheid vir volhoubare lewenskwaliteit.

Die genesende gees van Bad Wörishofen

Ons het onlangs die lieflike kuuroorddorp Bad Wörishofen besoek. Dit is ’n plek wat tot vandag toe asemhaal in die gees van Sebastian Kneipp. Ek was diep geraak deur sy lewensverhaal en die blywende invloed wat hy op hierdie dorpie gehad het. In die dorp verwys hulle sommer na Kneippstadt.

Ek het eers in Europa met Kneipp se produkte kennis gemaak en gebruik dit graag as geskenke vir familie en vriende wanneer ek Suid-Afrika toe reis. Om meer oor sy denke te leer, het my waardering vir sy produkte verdiep.

Sabastian Kneipp, die Beierse priester

Kneipp (1821–1897) was ’n Beierse priester wat geglo het dat die natuur self die grootste geneser is. Nadat hy homself van tuberkulose genees het deur in die koue Donau te bad, het hy ’n holistiese gesondheidstelsel ontwikkel wat mense wêreldwyd steeds inspireer.

Sy benadering berus op vyf eenvoudige, maar kragtige pilare:

  • Waterterapie – warm en koue baddens wat die bloedsomloop stimuleer.
  • Kruiegeneeskunde – natuurlike middels en tees vir innerlike herstel.
  • Beweging – die genesende waarde van daaglikse stap en vars lug.
  • Voeding – eenvoudige, plantgebaseerde kos wat voed eerder as vul.
  • Balans – rus, stilte en geestelike vrede as deel van gesondheid.

Toe hy in 1855 die pastoor van Wörishofen geword het, was dit ’n klein, nederige dorpie. Onder sy leiding het dit verander in ’n oord van genesing en hoop. Mense van regoor Europa het gekom om deur hom behandel te word — nie net om siekte te oorwin nie, maar om hul lewensenergie en balans terug te vind.

Vandag leef sy nalatenskap voort. Bad Wörishofen bied steeds Kneipp-wandelpaaie, kaalvoetroetes en watertrapbaddens, en die dorp se Kurhotelle eer sy vyf pilare van welstand. In 2021 het UNESCO die Kneipp-Kuur as Ontasbare Kulturele Erfenis erken — ’n welverdiende eer vir ’n eenvoudige priester wat geglo het dat water en geloof saam kan genees.

Bad Wolishofen Therme

Die Bad Wörishofen-termiese spa het ons asem weggeslaan. Die hoofswembadarea, bekend as “Thermenparadies,” is pragtig ontwerp, met regte palmbome wat ’n eksotiese, tropiese atmosfeer skep. Dit bied areas wat jou lyf met lugborrels masseer en selfs ʼn swembadkroeg. Dit is die perfek om in die warm water te ontspan en kuier.

Die spa maak gebruik van staat-gesertifiseerde termale geneeswater wat uit ’n diepte van 1 100 meter kom. Daar is verskeie mineraalryke baddens, elk met unieke genesende eienskappe: soutwater, swael, jodium-selenium en kalsium-litium. Die watertemperatuur wissel tussen 34 en 38 °C, wat heerlik ontspannend is. Die Vitality Bath & Sauna-area bied ’n groot verskeidenheid van 15 temasaunas en stoomkamers om te verken.

Die spa word omring deur uitgestrekte tuine van 163 000 vierkante meter, waar jy kan stap, rus of op jou gemak kaalvoet rondwandel. Die tuine bevat afdelings vir kruie, geurplante en medisinale plante—’n ware vreugde vir enigiemand wat Kneipp-terapie waardeer. Daar is ook ’n 1 500 meter lange “barfußweg” (kaalvoetpad) wat jou uitnooi om oor verskillende natuurlike oppervlaktes te stap en die natuur met elke tree te beleef.

Ware welstand begin in die natuur

Daar is ʼn goue draad wat loop tussen die verskillende plekke waar ek gewoon het. Die stil rooi Kalahari sandduine, die koue Atlantiese golwe van Kaapstad, en die warm minerale baddens van Europa is verskillend, maar tog diep verbind.

Al hierdie plekke fluister dieselfde waarheid: ware welstand begin in die natuur.

Dit lê in stilte en asemhaling, in sonlig en water, in eenvoudige rituele van rus en teenwoordigheid. Mag ons almal weer leer om stadig te leef — om kaalvoet in die sand te loop, die see se sout te ruik, diep asem te haal, en die natuur toe te laat om ons te herstel.

Groete

Emsia

München – veel meer as Oktoberfest

München – veel meer as Oktoberfest

Aangesien ek in Oktober verjaar, mag ek elke jaar ons herfswegbreek bestemming kies. Ek kies gewoonlik lande oos van Switserland, want die herfskleure is pragtig. In die verlede het ek Boedapest in Hongarye en Tirol in Oostenryk gekies. Hierdie jaar het ek my visier op München, Duitsland gerig.

München, die hoofstad van Bavaria, is bekend vir sy besonderse bier. Terwyl baie mense dit ken as die tuiste van Oktoberfest, die wêreld se grootste bierfees, was ons besoek net ná die feesvieringe. Ons het vinnig agtergekom dat München baie meer bied as bier en feesvieringe. Die stad het pragtige parke, ‘n ryk geskiedenis en verrykende ervarings.

Tuisdorp van BMW

München is die geboortedorp van my gunsteling motorhandelsmerk, BMW. Dit staan ​​vir Bavariaanse Motor Werke. Tydens ons besoek het ons in BMW se geskiedenis gedelf en gesien hoe dit van sy nederige begin tot die motorreus ontwikkel het.

Die indrukwekkende argitektuur van die BMW Welt-geboue weerspieël die handelsmerk se innovasie en elegansie. Binne het ons verskeie areas verken, insluitend die ontvangsgeriewe en die ruimte waar hulle die sleutels van splinternuwe voertuie aan hul opgewonde eienaars oorhandig.

My pa was passievol oor meganiese ingenieurswese en was saam met my toe ek my eerste BMW getoetsbestuur het. Ek wens ek kon hierdie BMW-ervaring in München met hom deel.

Wetenskap en Tegnologie Museum

Duitsland is lank reeds die middelpunt van wetenskaplike briljantheid. Die land het van die mees invloedryke geeste in fisika, wiskunde, chemie en ingenieurswese voortgebring. Dit het dus gepas gevoel om die ikoniese Deutsches Museum te besoek.  Dit is een van die grootste museums gewy aan tegnologie en wetenskap, ter wêreld.

Die groot verskeidenheid uitstallings was verbysterend. Vriende het ons aangeraai om op ‘n paar temas te fokus aangesien die museum veels te groot is om alles op een dag te verken. Ons het besluit om op Optika, Elektronika en Wiskunde te konsentreer. Later het ons ook na die modeltrein- en brugbou-uitstallings gaan kyk.

Die uitstallings is interaktief en nooi jou uit om met jou sintuie te ontdek. Die museum is enorm, en jy kan maklik in sy nimmereindigende gange verdwaal.

Duitse Kultuur en die Ou Stad

Marienplatz is al eeue lank die hart van München. Dit het eens gedien as die stad se bedrywige mark waar handelaars eiers, meel, wyn en vis verkoop het. Vandag is dit ‘n plek waar plaaslike inwoners en toeriste bymekaarkom, veral tydens geleenthede soos die Kersmark wat die plein elke winter met feestelike vrolikheid vul.

Klokkespel

Die Nuwe Stadsaal oorheers die noordekant van die plein. Sy gotiese argitektuur is indrukwekkend, maar die hoofattraksie is die historiese klokkekspel wat twee keer per dag lui. Met 43 klokke is dit een van die grootstes in Europa. Tydens die klokkespel voer beeldjies tonele uit München se verlede op.

Viktualienmarkt

Ons het ook die Viktualienmarkt besoek wat vroeër ‘n boeremark was. Deesdae is daar sowat 100 stalletjies wat alles van vrugte en groente, vis en vleis tot brood, speserye en lekkernye verkoop, asook lieflike geskenke en aandenkings.

Daar is ook ʼn groot biertuin waar almal sit en gesels en alles dophou. In Switserland en Duitsland is dit wettig om reeds van die ouderdom 16 af al bier te drink.  Hulle verkoop biere in halfliters of volliters.  Ons het toe maar in eg Duitse tradisie ingeval met ‘n bier en Bratwurst met sauerkraut.

Bavariaanse gees in Hofbräuhaus

Vir my verjaardag wou ek regte Bavariaanse kos en gees ervaar. Die aanvanklike plan was om na die legendariese Hofbräuhaus te gaan. Ons het binnegestap en die indrukwekkende plek ervaar, maar dit was so vol dat ons op ‘n kleiner soortgelyke plek met minder toeriste besluit het.

Die Duitse musiek en die plek se dekor het `n gasvrye atmosfeer geskep om die tradisionele Duitse kos in te geniet.  Ons het sit en kyk hoe hulle elke nou en dan `n nuwe biervat bring om die glase uit vol te maak.

Nymphenburg Palace

Die Numphenburg Paleis was die somerwoning van die Bavariaanse heersers gedurende die sewentiende en agtiende eeu.  Ek het veral die tuine van die Nymphenburg Paleis in herfskleure getooi, baie geniet. Dit word baie goed instand gehou en bied  ʼn pragtige agtergrond vir troufoto’s.

München is die rivierbranderplankry hoofstad van die wêreld

Ons het ontdek dat die wêreld se grootste stedelike branderplankryplek in München is. Die stad se Eisbach-rivier, ‘n 2-kilometer stuk met mensgemaakte golwe, lok branderplankryers van oor die hele wêreld. Die naam “Eisbach” beteken letterlik “ysspruit”, wat gepas is. Plaaslike inwoners en toeriste kom  bymekaar om te kyk hoe waaghalsige branderplankryers in die rivier se stygende getye balanseer.

München se kombinasie van kultuur, geskiedenis en hartlike kos maak dit  ʼn goeie bestemming vir ‘n herfsuitstappie.

Groete

Emsia