Die Duitse benadering tot welstand
Ek het in ’n land ryk aan verskeidenheid van natuurervarings, grootgeword. Daar is groot verskille tussen see, berg, bos, woestyn en woud, maar elke streek bring sy eie ritme van genesing en rustigheid – fisies, emosioneel én geestelik.
As kind het ek met my kaalvoete in die rooi Kalahari-sand grootgeword. Daar is ruimte. Daar is stilte. In die afwesigheid van geraas leer mens om te luister — na die wind, die voëls, en na jouself. As die son sak, ontvou een van die helderste sterrehemels op aarde. In die Kalahari het ek geleer welstand beteken wees stil, luister en leef stadig.
Later, het ek as jong werkende, in die skaduwee van Tafelberg begin woon.

My hart het in ritme met die see begin klop en die oseaan het my natuurlike terapeut geword. Met my voete in die koel wit sand het ek gevoel hoe die wêreld se gewig saam met elke golf wegspoel. Die sout lug, swaar van negatiewe ione en die reuk van kelp, is soos ’n tonikum vir liggaam en gees. Dit reinig, verfris en herinner mens om weer dieper asem te haal.
Die Duitse weg tot welstand
Nuwe ontdekkings het op ons in Europa gewag. In die Duitssprekende lande — Switserland, Duitsland en Oostenryk — het ons ’n ander benadering tot welstand leer ken. Hierdie benadering is diep gewortel in eeue van tradisie en pas perfek by die natuurlike omgewing en klimaat. Hier het ons kennis gemaak met die Kurhotel, oftewel die “genesingshotel”.

’n Kurhotel is veel meer as ’n luukse spa. Dis ’n plek waar mense heen kom om liggaam en gees te herstel, onder die sorg van kundiges en met die natuur as bondgenoot. Hier vloei mediese sorg, natuur en ontspanning saam tot ’n unieke ervaring van balans.
Die hotelle lê in erkende kuuroorde, waar die lug kristalhelder is, die water minerale dra, en die ritme van die lewe stadiger klop. Binne wag dokters, fisioterapeute en welstandspesialiste wat elke gas se behoeftes verstaan. Daar word alles aangebied — van hidroterapie, massering en joga, tot saunas, bewustheidswerksessies en eenvoudige, gesonde kos.

Wat my veral beïndruk het, is dat in Duitsland sommige van hierdie Kur-verblywe deur mediese fondse gedek word. Dit wys hoe die Duitsers welstand as deel van gesondheid beskou — nie as ’n luuksheid nie, maar as ’n noodsaaklikheid vir volhoubare lewenskwaliteit.
Die genesende gees van Bad Wörishofen
Ons het onlangs die lieflike kuuroorddorp Bad Wörishofen besoek. Dit is ’n plek wat tot vandag toe asemhaal in die gees van Sebastian Kneipp. Ek was diep geraak deur sy lewensverhaal en die blywende invloed wat hy op hierdie dorpie gehad het. In die dorp verwys hulle sommer na Kneippstadt.
Ek het eers in Europa met Kneipp se produkte kennis gemaak en gebruik dit graag as geskenke vir familie en vriende wanneer ek Suid-Afrika toe reis. Om meer oor sy denke te leer, het my waardering vir sy produkte verdiep.

Sabastian Kneipp, die Beierse priester
Kneipp (1821–1897) was ’n Beierse priester wat geglo het dat die natuur self die grootste geneser is. Nadat hy homself van tuberkulose genees het deur in die koue Donau te bad, het hy ’n holistiese gesondheidstelsel ontwikkel wat mense wêreldwyd steeds inspireer.
Sy benadering berus op vyf eenvoudige, maar kragtige pilare:
- Waterterapie – warm en koue baddens wat die bloedsomloop stimuleer.
- Kruiegeneeskunde – natuurlike middels en tees vir innerlike herstel.
- Beweging – die genesende waarde van daaglikse stap en vars lug.
- Voeding – eenvoudige, plantgebaseerde kos wat voed eerder as vul.
- Balans – rus, stilte en geestelike vrede as deel van gesondheid.
Toe hy in 1855 die pastoor van Wörishofen geword het, was dit ’n klein, nederige dorpie. Onder sy leiding het dit verander in ’n oord van genesing en hoop. Mense van regoor Europa het gekom om deur hom behandel te word — nie net om siekte te oorwin nie, maar om hul lewensenergie en balans terug te vind.

Vandag leef sy nalatenskap voort. Bad Wörishofen bied steeds Kneipp-wandelpaaie, kaalvoetroetes en watertrapbaddens, en die dorp se Kurhotelle eer sy vyf pilare van welstand. In 2021 het UNESCO die Kneipp-Kuur as Ontasbare Kulturele Erfenis erken — ’n welverdiende eer vir ’n eenvoudige priester wat geglo het dat water en geloof saam kan genees.
Bad Wolishofen Therme
Die Bad Wörishofen-termiese spa het ons asem weggeslaan. Die hoofswembadarea, bekend as “Thermenparadies,” is pragtig ontwerp, met regte palmbome wat ’n eksotiese, tropiese atmosfeer skep. Dit bied areas wat jou lyf met lugborrels masseer en selfs ʼn swembadkroeg. Dit is die perfek om in die warm water te ontspan en kuier.

Die spa maak gebruik van staat-gesertifiseerde termale geneeswater wat uit ’n diepte van 1 100 meter kom. Daar is verskeie mineraalryke baddens, elk met unieke genesende eienskappe: soutwater, swael, jodium-selenium en kalsium-litium. Die watertemperatuur wissel tussen 34 en 38 °C, wat heerlik ontspannend is. Die Vitality Bath & Sauna-area bied ’n groot verskeidenheid van 15 temasaunas en stoomkamers om te verken.

Die spa word omring deur uitgestrekte tuine van 163 000 vierkante meter, waar jy kan stap, rus of op jou gemak kaalvoet rondwandel. Die tuine bevat afdelings vir kruie, geurplante en medisinale plante—’n ware vreugde vir enigiemand wat Kneipp-terapie waardeer. Daar is ook ’n 1 500 meter lange “barfußweg” (kaalvoetpad) wat jou uitnooi om oor verskillende natuurlike oppervlaktes te stap en die natuur met elke tree te beleef.
Ware welstand begin in die natuur
Daar is ʼn goue draad wat loop tussen die verskillende plekke waar ek gewoon het. Die stil rooi Kalahari sandduine, die koue Atlantiese golwe van Kaapstad, en die warm minerale baddens van Europa is verskillend, maar tog diep verbind.
Al hierdie plekke fluister dieselfde waarheid: ware welstand begin in die natuur.

Dit lê in stilte en asemhaling, in sonlig en water, in eenvoudige rituele van rus en teenwoordigheid. Mag ons almal weer leer om stadig te leef — om kaalvoet in die sand te loop, die see se sout te ruik, diep asem te haal, en die natuur toe te laat om ons te herstel.
Groete
Emsia























































