Browsed by
Author: emsia.kruger

Die lewe se doel en betekenis vrae

Die lewe se doel en betekenis vrae

Waarom is ons hier? Wat bied ons aan? Hoe kan ons ons aanbieding op ‘n unieke manier beskikbaar maak? Simon Sinek verduidelik in ‘n gewilde TED Talk hoe die suksesvolste organisasies dink, optree en kommunikeer as hulle met die Waarom vraag begin. Daar is ooreenkomste tussen die vrae wat organisasies hulle self en ons as individue ons self afvra.

Pesoonlike doel en betekenis

Elkeen van ons kom as ‘n unieke individu op aarde om ʼn spesifieke bydrae tot ʼn beter samelewing te lewer.  Gedurende ons eerste 18 jaar help ons ouers en die gemeenskap ons voorberei vir die doel. Gedurende hierdie tyd ontdek ons ook van ons passies en talente. Dit is gewoonlik gedurende hierdie laat tienerjare wat ons onsself die Waarom, Wat en Hoe vrae begin vrae.  Om ‘n doel te hê, is ‘n belangrike aspek van ‘n vervullende en betekenisvolle lewe.

Sommige mense beantwoord hierdie groot vrae deur betekenisvolle en bevredigende werk. Vir ander lê hul doel in hul verantwoordelikhede teenoor hul familie of vriende. Sommige mense slaag daarin om hul doel in alle aspekte van hul lewens uit te leef. Daar is baie maniere waarop ons ons doel en bydrae kan uitleef.

Verandering is die enigste konstante in die lewe

Die enigste sekerheid van die lewe is dat dit voortdurend verander. Omstandighede rondom ons verander, maar lewenservarings en -fases veroorsaak dat innerlike verandering ook plaasvind. Verandering in omstandighede kan lei tot ‘n verandering in die manier waarop ons ons doel uitleef. Soms bring gevoelens van verveeldheid, ongemotiveerdheid of nutteloosheid die “Waarom?”, “Wat?” en “Hoe?” vrae op.

Die manier waarop ons ons doel uitleef en bydra, kan gedurende verskillende fases van ons lewens baie verskil. Daar is egter altyd behoeftes rondom ons wat ons kan aanspreek deur middel van ons kennis, vaardighede en ervaring. Gewoonlik vereis dit dat ons uit ons gemaksone kom.

My ervaring met doel en bydrae

Mense en persoonlike groei is onderwerpe wat my na aan die hart lê. Ek het dus jare gelede ‘n Diploma in Coaching voltooi. Tydens die opleiding moes ons ons “purpose” verwoord. Ek het gedink aan die rol wat ek deur die jare in verskillende omstandighede gespeel het en het ook my waardes oorweeg. Dit was waardevol om ook die persepsies en opinies van mense na aan my te kry. Ek het my “purpose” soos volg verwoord:

Na al die verandering en aanpassing in Switserland het ek weer die punt bereik waar myself moes konfronteer met die Waarom, Wat en Hoe vrae? Ek het besluit om weer meer te fokus op my rol as life coach. Ek wil graag die vaardighede en tegnieke wat ek geleer het saam met my lewenservaring gebruik om ander te help antwoorde vind op hulle vrae.

Kontak my asseblief as jy op die punt is waar jy dink oor jou groot lewensvrae en baat kan vind by ʼn coaching proses om jou op ʼn gestruktureerde wyse te help om die antwoorde op hierdie vrae te vind.

Groete

Emsia

Medaljes vir toewyding en opoffering

Medaljes vir toewyding en opoffering

Die onlangse Olimpiese Spele het my soos ‘n sterk seestroom ingesuig. Ek was op die kruin saam met sekere atlete, hul afrigters, familie en spanlede. Ek het egter ook trane gestort oor teleurstellings en drome wat nie uitgewerk het nie.

Die Olimpiese medalje simboliseer harde werk, toewyding, opoffering en geduld. Dit dien as ‘n motivering vir die duisende mense wat die pandemie wêreldwyd beveg.

Medal of Honour

Ons is vertroud met die VSA se Medal of Honour, die hoogste vorm van erkenning wat ‘n militêre lid kan verdien. Vir sommige dui die Medal of Honour op diepgaande dapperheid en heldhaftigheid. Vir ander simboliseer dit enorme opoffering, toewyding en diens.

Vir mense wat die medalje ontvang, is die betekenis daarvan dikwels diep persoonlik en gevul met talle emosies wat uniek is aan elke individu en hul ervaring. Dit is ‘n tasbare herinnering aan ‘n moeilike tyd in hul lewens en verteenwoordig dikwels enorme persoonlike verlies en opoffering. Hierdie gewone mense het buitengewone dinge gedoen vir ‘n beter toekoms.

In die afgelope jaar het ek verskeie mense gesien wat buitengewone dinge gedoen het vir die mense vir wie hulle lief is. Hierdie mense sal nooit ‘n medalje ontvang vir hul onbaatsugtige liefde en opoffering nie.

Burger en Dalene Prinsloo

In ‘n vorige brief het ek meer oor Burger en Dalene se innerlike reis in ‘n vreemde land gedeel. Burger het ná sy ernstige beroerte op 18 Augustus 2020 ses maande in hospitale in Duitsland en die laaste ses maande in Suid-Afrikaanse rehabilitasiesentrums deurgebring. Dalene het uit haar werk bedank en Burger op elke moontlike manier ondersteun. Hulle het ’n hele span terapeute, familie en vriende wat hulle ook ondersteun. Ek kan egter ’n hele boek skryf oor al hul uitdagings die afgelope jaar. Hulle het onder andere beide Covid-19 gekry.

Hulle is tans in Johannesburg by hulle dogter om terapie vir Burger moontlik te maak. Dalene laat weet in haar onlangse terugvoer:

Ons is gesond en Burger vorder goed.  Hy kan al amper 100 tree op ‘n slag stap.  Sy spiere is maar styf en hy ervaar pyn met die skielike oefening na 10 maande in die hospitaalbed. Volgens die terapeute klink dit of ons nog ʼn verder 10 maande hier moet bly voordat ons huis toe kan gaan.  Ons pak die reis dag vir dag in geloof aan en ons weet die wenstreep wag!

Die pandemie

Die pandemie het baie trauma en verlies veroorsaak, en baie gesinne het geliefdes verloor. Ander het hul werk of bronne van inkomste en sekuriteit verloor. Dit verg dapperheid om soggens uit die bed op te staan en jou verantwoordelikhede na te kom. Bomenslike krag word vereis om met jou pyn te sit, vir eksamens te studeer en met take by die huis te help omdat ma of pa nie meer daar is nie.

My hart bloei toe ek in ʼn brief van ʼn jong meisie wat onlangs beide haar ouers verloor het, die volgende woorde lees.

Ek wil Sondag na kerk weer gaan buns koop en ʼn warm bun uit die sak steel en op pad huis toe in die kar eet.  Ek wil in die chaos instap waar jy mamma se huiskos ruik. Ek wil gou hardloop om ander klere aan trek.  Ek sal vinnig my kamer deur toemaak want my bed is deurmekaar en my kerkklere lê nog op die grond. Ek weet mamma raas nie Sondae nie. Ek wil net weer tyd kan terug draai en by die HUIS wees.

Ek wil graag vir al hierdie gewone mense, soos Burger en Dalene, wat buitengewone dinge doen sê:

“Julle ingesteldheid en deursettingsvermoë, ten spyte van vele uitdagings, gee vir my en ander hoop en dien as aanmoediging en inspirasie!”

Groete

Emsia

Die lewe bestaan uit kleurvolle oomblikke

Die lewe bestaan uit kleurvolle oomblikke

Die lewe bestaan uit oomblikke.  Oomblikke is soos foto’s wat in die geheue-album gebêre word om weer stadig deur te blaai vir onthou.

Verlede jaar was ʼn mylpaalverjaarsdag vir CharlMylpaal verjaarsdae dwing ons om terug te kyk op die onthou oomblikke van die lewe. Charl se liefde vir legkaarte en myne vir foto’s was die boublokke vir sy geskenk idee.  By die bekende verskaffer van legkaarte, Ravensburger in Duitsland, kan ʼn mens jou legkaart ontwerp met jou eie foto’s.  Ek het die ontwerp van die legkaart en Charl die bou daarvan ewe veel geniet.

Ons lewe is soos een groot legkaart

Ons lewe is soos ‘n groot legkaart wat bestaan uit oomblikke wat die prent vorm en inkleur. Daar is tye waartydens ons net kan fokus op die stukkies uitgepak op die tafel wat soos ‘n deurmekaarspul lyk.

In tye wat oorweldigend voel, help dit om ʼn kreatiewe en terapeutiese projek aan te pak, want dit gee ons onderbewussyn kans om sin te maak uit die warboel van gedagtes. Ons kry kans om holisties na ons lewe te kyk en al die stukkies as uitdagings of geleenthede eerder as onmoontlikhede te sien. Dit help om te verstaan hoe hierdie legkaartstukke in mekaar pas om ‘n groter prent te skep.

Ons prente bestaan uit gekleurde maar ook swart en grys stukkies. Die swart en grys stukke help ons om meer waardering te hê vir die gekleurde stukke. Dit is die kontraste wat die prent uniek maak.

Ons moet onthou oomblikke skep

Dit is belangrik om geleenthede vir onthou-oomblikke te skep. Ek het al vir jare die gebruik om Desembermaande deur my jaar se foto’s te gaan en hulle te sorteer. Dit is deel van my manier om oor die jaar te reflekteer, maar dit dien ook as waardevolle aanmoediging om oop te wees vir nuwe idees en geleenthede.

Hier is Switserland is my lewe minder gejaagd en fokus ek doelbewus daarop om die gewone oomblikke net te geniet. Ek moet teenwoordig wees om waar te neem.  My saamwees oomblikke met Zander, as ons laatlam, is besig om vinnig minder te word. Hierdie gewaarwording dwing my om teenwoordig te wees terwyl ons gesels oor ons oggend koffie in die bed.

Ek het nou begin om aktiwiteite in die omgewing asook veranderinge in die natuur meer bewustelik waar te neem as ek winkel toe stap. Ek maak oogkontak en glimlag as ek die mense wat verby my stap groet en ervaar dit as ʼn gedeelde oomblik wat deel van mekaar se dag vorm.

Ons moet mekaar onthou oomblikke gun

Soos my seuns groter word en hulle eie lewens begin leef, verstaan ek ook al hoe meer die belangrikheid daarvan om vir mekaar onthou-oomblikke te gun. In elke gesin het elke individu sy eie passies en gunsteling plekke en mense.

Kahlil Gibran druk dit so mooi uit in die volgende stuk wat hy geskryf het met ʼn huweliksverhouding in gedagte. Dit is egter net so waar met ander nabyverhoudings:

Gedeelde oomblikke al is ons vêr van mekaar

Covid tye dwing ons om kreatief te wees in ons pogings om gedeelde oomblikke ten spyte van afstand te êrvaar. Ons het as familie en vriende reg oor die wêreld elkeen ʼn kreatiewe projek aangepak. Die kreatiewe projekte het gewissel tussen paint-by-numbers, diamond-dot-painting, akrielverf op canvas en lego en ander bouprojekte.

Ons het ons vordering met mekaar gedeel deur middel van foto’s en so samesyn ervaar.

Groete

Emsia

Woorde het my reddingstou geword

Woorde het my reddingstou geword

Ek was nog nooit een vir baie woorde nie.  Ek geniet diep en insiggewende gesprekke, maar is gewoonlik beter met luister as met praat. Die afgelope twee jaar is woorde egter my enigste vorm van kontak met ander mense. 

Die woorde wat ek hoor en praat

Telefoongesprekke het my voorheen angstig gemaak. Deesdae het ’n telefoonoproep my nuwe geskenk geword. Ek sien uit daarna om iemand se stem te hoor. My weeklikse oproep met my ma is soos ‘n konstante waaraan ek vasklou. Ek is dankbaar vir die voorreg om haar stem te hoor. Nadat ons inligting oor die welstand van familie en vriende gedeel het, gesels ons oor ons passies en belangstellings. Ons verlustig ons ook in die kosbare oomblikke en positiewe herinneringe van die verlede. Dit is altyd spesiaal om my ma te hoor lag.

My seuns hou ook nie van telefoongesprekke nie, maar deesdae gesels ons vir ure oor die foon. Ons het voorheen ons liefde vir mekaar uitgedruk deur tyd saam te spandeer en aktiwiteite saam te doen. Dikwels het dit in stilte geskied, omdat mekaar se teenwoordigheid genoeg was.  Ons het mekaar met take gehelp of met klein geskenkies verras.  Aanraking, as ʼn uitdrukking van omgee, het terloops in die verbygaan gebeur. Woorde is nou al wat ons het.

Die woorde wat ek skryf en lees

Ek ervaar skryf as ‘n waardevolle manier om van die emosies wat my wil oorweldig, ontslae te raak.  Dit help my om sin te maak van wat ek voel.  Die papier gee nie raad nie, luister geduldig en gee vir my perspektief en antwoorde. Gedurende my egskeiding het ek my emosies in digvorm neergepen. Met ons trek Switserland toe, help my briewe elke twee weke my om sin te maak van gebeure, kontak te hou en herinneringe op papier te lewendig te hou.

Ek lees graag en vind dikwels antwoorde op my vrae in geskrewe vorm. Soms vind ek selfs bemoediging in geskrewe stukke, gedigte en wyse woorde van mense op sosiale media. Ek het geleer om selektief te wees met die aard en die bron van die inligting wat ek lees. Woorde het ʼn groot impak op my gedagtes, wat oorspoel na my gevoelens en het ʼn impak op my aksies.

Woorde is kragtig

Woorde is ʼn draer van inligting en emosies. Dit het ʼn impak op ander mense.  As woorde ʼn mens se enigste vorm van konneksie word, moet jy hulle versigtig kies.  Dit is belangrik vir die een wat dit spreek maar ook vir die een wat dit hoor. Woorde kan opbou, inspireer, motiveer, erkenning gee en liefde oordra.  Dit kan egter ook afkraak, ontmoedig en twyfel en onsekerheid saai. 

Ons woorde is ‘n bevestiging vir die wêreld van hoe ons ander, ons lewens en onsself sien. Wanneer ons iets hardop sê, word hierdie woorde ʼn waarheid vir onsself, maar ook vir almal wat dit hoor.  Dit is baie belangrik dat ons waak oor ons woorde en seker maak hulle is waar en positief.  Woorde kan nie terug getrek word nie.

Die pen is magtiger as die swaard

Ek het waardering vir die idioom wat lui, “Die pen is magtiger as die swaard”. Geskrewe woorde kan ander oortuig, opvoed, inlig en meer verandering te weeg bring as wat geweld of misbruik van mag ooit kan doen. Dit gee ander die geleentheid om die woorde te oordink, emosionele reaksie te ervaar en aksie te neem uit eie wil.

Woorde het my reddingstou geword en ek is dankbaar vir elkeen wat my met die uitruil van woorde help om kop bo water te hou.

Liefdegroete

Emsia

Braai is ‘n Suid Afrikaanse tradisie

Braai is ‘n Suid Afrikaanse tradisie

Die liefde vir braai is een van die min dinge wat alle Suid Afrikaners ongeag ras, taal of kultuur, deel. Braai is ʼn Suid Afrikaanse tradisie. Daarom staan Erfenisdag in Suid Afrika ook bekend as Braaidag.

Braai en BBQ is nie dieselfde nie

As ek braai aan my nie-Suid Afrikaanse vriende moet verduidelik, sal ek dit as volg doen. Alhoewel braai losweg beteken dat kos oor die kole gaargemaak word, is braai nie sinoniem met barbeque (BBQ) nie.  Braai kan enige tyd van die dag en seisoen plaasvind.  Suid Afrikaners maak selfs koffie en ontbyt op kole as ons kamp.  Daar kan gebraai word vir weeksaand-etes en daar word selfs soms na ʼn aand uit gebraai.

Switserland het ʼn BBQ seisoen

In Switserland is daar ʼn definitiewe BBQ seisoen gedurende die somer.  Gedurende Mei-maand begin die winkels toebehore en voedsel items wat duidelik BBQ gemerk is, uitpak.  BBQ items is net tot na die somervakansie beskikbaar.  Gedurende September maak al die BBQ-items weer plek vir Fondue en Raclette kaas wat die Switsers se tradisionele manier is om gesellig saam te kuier. 

Hier in die buiteland, kyk ons met nuwe oë na braai. Dit is soos ʼn naelstring wat jou aan jou mense, kultuur en tradisie vasbind. Met Charl as vegetariër, het ons nie in Suid Afrika so gereeld soos die meeste ander mense gebraai nie. In Switserland het ons die situasie reggestel en braai is nou hoog op ons agenda.

BBQ opsies in Switserland

In vergelyking met Suid Afrika is die vleisopsies vir braai baie beperk en ongelooflik duur.  Opsies bestaan hoofsaaklik uit varkwors, gemarineerde varkvleis, hoender en hamburger patties.  Daar is gelukkig ʼn groot verskeidenheid vegetariese braai opsies.  Daar is verskillende soorte kase asook ander vegetariese plaasvervangers vir vleis.  Ons probeer nou stelselmatig die interessante produkte uit.

Ons het ons braaitradisie in Switserland ingewy met ʼn weggooibare braai, wat ʼn gewilde vorm van braai in die somer langs die meer is.  Ons woon op die eerste vloer van ʼn woonstel kompleks en het die weggooibare braai op die tafel op ons stoep uit probeer.  Die reuk en smaak saam met Zander se opgewondenheid was genoeg motivering om ʼn weber braai, wat met charcoal werk, te gaan koop.

Dit het ons ʼn rukkie geneem om op spoed te kom. Hier is byvoorbeeld nie vuuraanstekers nie, maar ons het plaasvervangers gekry en in die proses nuwe Weber verwante produkte ontdek.

Ons braaiery het probleme veroorsaak

Een Sondagmiddag het iemand ons voordeurklokkie gelui. Dit was ons Switserse buurvrou in haar rolstoel. Gelukkig het Charl die deur oopgemaak, en ek het vanuit die kamer geluister. Toe sy haar sin begin met: “Ek hou nie daarvan om te kla nie, maar …” het ek my asem opgehou. Sy het gekla oor die braai en die rook wat by haar huis inkom. Sy het ook die woonstelkompleks se huurooreenkoms saamgebring om te wys dat net gasbraaiers toegelaat word. Ons het nog nooit die fynskrif in Duits gelees nie.

Ons het maar weer die huurkontrak op die rekenaar gesoek, die reëls vertaal vanuit Duits net om te sien dat sy reg is.  Dit was ʼn bitter pil, maar ons was verplig om met ons hoed in ons hand terug te gaan.  ʼn Jammer briefie en ʼn pakkie rooibostee moes help om die krapperige situasie agter ons te sit.

Gasbraai tel nie as braai in Suid Afrika nie

In Suid Afrika word gas-braai nie eintlik as braai getel nie.  Die Engelse uitdrukking lui “beggars can’t be choosers” en Charl het ‘n gasbraaier bestel.  Om die Weber gasbraaier aanmekaar te sit was ʼn hele Saterdagprojek op sy eie.  Gelukkig het Charl nou al goeie ervaring met hierdie tipe van bouprojekte. 

Ons het nou al ʼn paar maal ons nuwe gasbraaier uit probeer. Dit werk heel goed en bied ons geleentheid om met verskillende items te eksperimenteer. Ons het al tuisgemaakte pizzas probeer, maar die proses het nog ruimte vir verbetering.

Groete

Emsia

My man geniet sy e-fiets meer as stap

My man geniet sy e-fiets meer as stap

My man hou nie van stap nie. Hy het hierdie feit baie duidelik aan my gemaak terwyl ons nog uitgegaan het. Hy het ‘n paar punte in my boeke verloor omdat ek daarvan hou om te stap. Charl se onlangse elektriese fietsvoorstel het hom egter ’n paar bonuspunte besorg.

Zander is nou op daardie ouderdom waar hy sy vriende se geselskap en aktiwiteite bo sy ouers verkies. Sy ouers moes dus iets kry om hulself besig oor naweke mee besig te hou.

E-fietse is gewild in Switserland

E-fietse word al hoe meer gewild in Switserland, met een uit elke sewe fietse wat elektriese fietse is. Die e-fiets stel fietsryers in staat om meer veeleisende roetes en groter afstande op hul fietse aan te pak as wat hulle op ‘n padfiets sou kon doen.

Dit is ‘n bonus wanneer die fiets se elektriese motor inskop en jy hulp het om ‘n heuwel uit te klim. Die fietsryers wat gewone fietse ry raak geïrriteerd wanneer ’n e-fiets by hulle verbyry. Ons het geleer om meer respekvol te wees en agter hulle te bly op die opdraande gedeeltes.

Switserland is goed ingerig vir fietsry

Switserland maak baie goed voorsiening vir fietsryers. Daar is toegewyde fietspaadjies, asook fietsstaanders oral beskikbaar. Die Kamoot App op my selfoon wys al die fietsry- en staproetes. Hierdie fietsroetes neem fietsryers deur die mooiste landelike dele en verseker dat hulle van die hoofpaaie af bly.

Charl ry werk toe met sy fiets

Die verkeer in Zürich is swaar, soos in die meeste stede. Fietsry is een van die beste maniere om deur die stad te kom. Charl het begin om met die fiets werk toe te ry en vorm deel van ‘n weeklikse oefenroetine. Fietsry is ‘n goeie manier om in ‘n omgewingsbewuste land te reis.

Ons verken die omgewing op ons fietse

Fietsry is ‘n lekker manier om Switserland se pragtige landskappe te ervaar en die rustigheid van die platteland te geniet. Ons gunsteling is die pad na Rapperswil, ‘n Middeleeuse dorpie aan die onderkant van die Zürich meer. Ons geniet dit om deur die woud al langs die meer te ry om daar te kom. Op ons reis sien en ruik ons die perde, beeste en geel kanolalande. In Rapperswil geniet ons ʼn Egg Mcmuffen en koffie langs die meer, voor ons die opdraand terug huis toe aanpak.

Fietsrytoerisme

Fiets-toerisme is deesdae ʼn gewilde manier om vakansie te hou.  Dit behels dat jy die omgewing verken deur met jou fiets van een dorp na ʼn volgende te ry.  As alternatief kan jy op een plek bly en daguitstappies met jou fiets maak.  Daar is ʼn fietsryroete rondom die Bodenmeer wat ons baie graag wil doen.  Die pad neem jou deur Duitsland, Oostenryk en Switserland met asemrowende uitsigte oor die meer en die Alpe.

Ek is mal oor spoed en het al 60km/h op my fiets bereik. Charl het my egter gewaarsku dat as ek val of ‘n spoedboete kry, ek ‘n paar punte in sy boeke sal verloor!

Groete

Emsia

Zug verras ons met kersies en ‘n scooter

Zug verras ons met kersies en ‘n scooter

Groot was my vreugde toe ek kersies in die Switserse winkels begin sien.  Ek vind uit dat Zug, wat naby aan ons geleë is, bekend staan as ʼn kersiestad. Kersies is meer as 1800 jaar gelede deur die Romeine in Switserland gevestig. Daar word al die afgelope 400 jaar, jaarliks ʼn kersiemark in Zug gehou. Zug is ook bekend vir sy kersietert en sy kersiebrandewyn (Kirsch).

Ons uitstappie na Zug het ons verwagtinge oortref. By die mark was daar baie soorte kersies, ander rooi vrugte en verwante produkte. Ons het met ‘n hele boks vol soet kersies en kersiekonfyt weggestap.

Kersies herroep kosbare herinneringe

Helderrooi, sonryp kersies verlei my. Ek is mal oor hul vorm, kleur en tekstuur en die smaak is hemels. In Suid-Afrika het hul skaarsheid bygedra tot die aanloklikheid. Ek het kosbare herinneringe gehad aan die pluk van kersies in Ceres saam met die familie tydens ‘n Kersvakansie. Ons is huis toe met moeë kinders en sakke vol kersies.

Kersies was daardie jaar se Kersete-tema. Met almal se kreatiewe voorstelle het al die disse op die Kersspyskaart kersies bevat. Daar was kersiekonfyt by die potbrood, ‘n kersie-en-brandewynsous by die steak en ‘n vrugteslaai met kersies. Die ete is afgerond met ‘n sneeuwit pavlova met helderrooi kersies as nagereg. Na Kersfees is ons almal vir ‘n jaar van kersies genees!

Baie buitelanders woon in Zug

Zug is ‘n pragtige dorpie langs ‘n turkoois meer. In Switserland het elke kanton sy eie belastingkoerse. Zug is die kanton met die laagste belastingkoers. Dit is dus gewild onder buitelanders en het ‘n internasionale skool. Zug het ’n Switserse atmosfeer, maar meer mense praat Engels as in die ander dorpe.

Zug, wat al 800 jaar bestaan, het ‘n pragtige ou stad met paaie uit klip en historiese geboue. Musikante met ‘n trekklavier voor ‘n restaurant het bygedra tot die atmosfeer. Hulle het hul gaste met musiek en drankies verwelkom. Ons het die dag met bier en pizza by ‘n Italiaanse restaurant langs die meer gevier. Uiteet in Switserland is ‘n luukse.

Zugersee verras vir Zander met ʼn scooter

Zander het voorbereid in sy swembroek gegaan. Met ons aankoms het ons op die rotse langs die meer gaan sit om al die eende en hul donsige baba eendjies dop te hou. Zander het die ysige water aangedurf en genoeg aangepas om te kon rondswem.

Die volgende oomblik sien hy iets wat hom opgewonde maak – ’n scooter wat net soos sy scooter gelyk het. Nadat hy ingeduik het, het hy die scooter, bedek met groen mos, langs die meer neergesit. Hy was van plan om die scooter skoon te maak en huis toe te neem.

Zug het baie meer opgelewer as waarvoor ons gehoop.  Die pragtige dorp het al ons verwagting oortref.

Kersiegroete

Emsia

Pret in die golwende heuwels van Heidiland

Pret in die golwende heuwels van Heidiland

Verskillende tale, kulture en landskappe in Switserland bied ‘n verskeidenheid ervarings. Ons besoek aan die oostelike deel van Switserland was besonders. Die besoek het die bykomende voordeel gehad dat ons die naburige Oostenryk, Duitsland en Liechtenstein in een dag besoek het.

Appenzell

Groen golwende heuwels kenmerk die Appenzell-landskap. Ons kon ons voorstel hoe Heidi en Peter tussen die bokke lag. Ons het ‘n kabelkar gevat tot by Ebenalp, die noordelikste piek van die Appenzeller Alpe. Baie mense valskermsweef vanaf die top van die berg. Hulle het ons senuwees getoets met hul opgewonde en senuweeagtige gille toe hulle van die rand af gespring het om die 770m af te vlieg.

Ons eet soos Heidi kaas in ‘n houthuisie

Ons besoek aan die bekende Appenzeller-kaasfabriek was ‘n aangename ervaring. Ons was verstom deur die verskeidenheid kase wat gemaak is met verskeie kombinasies van gemengde kruie. Ons het onsself bederf met fondue en ‘n kaasbord vergesel van tuisgebakte brood en vrugteblatjang vir middagete. Die restaurant het soos ‘n Heidi-huisie in die berge gelyk, met alles van hout.

Ons het Appenzeller kruielikeur gekoop. Dit word steeds volgens ’n ou familieresep gemaak en bevat 42 soorte kruie.

Heidiland

Die Heidiland-streek het die Heidi-tema vir toerismedoeleindes benut met ‘n Heidi-huis in Maienfeld en Heidi-staproetes. Een van Switserland se bekende natuurlike warmwaterbronne, Bad Ragaz, is ook in die streek. Ons het die Tamina-fonteine besoek wat Bad Ragaz voed.

Die stoom van die warm water het ‘n mistieke atmosfeer geskep. Ons het betyds so klein gevoel toe ons lees dat mense hierdie fonteine al in 1240 ontdek het. Mense het ver gereis en tot tien dae lank in die water gesit met groot geloof in die genesende krag van die water. Die sketse van die baddens wat van klip gebou is, het my laat dink aan die baddens in die Bybelse tyd wat die siekes gereeld besoek het.

Oostenryk en Duitsland

Ons was baie naby aan die grens en kon nie die versoeking weerstaan om deur Oostenryk en Duitsland te ry nie. In Oostenryk het ons ‘n pragtige natuurreservaat verken. Die watervalle tussen die herfskleurige bome het ons asem weggeslaan.

In Duitsland het ons gaan inkopies doen. Baie items is baie goedkoper in Duitsland as in Switserland. Naweke oorstroom die Switsers die Duitse dorpe naby die grens. Hulle trek voordeel uit die laer pryse en die 19% BTW-vrystelling.

Lichtenstein

Op pad huis toe het ons Vaduz, Lichtenstein se hoofstad, besoek om na die kasteel te kyk. Dit is in die 12de eeu gebou en is die amptelike woning van die Prins van Liechtenstein. Lichtenstein is die sesde kleinste land ter wêreld en ‘n monargie.

Liechtenstein het ekonomies een van die hoogste BBP per capita ter wêreld. Dit het ‘n beduidende finansiële sektor in Vaduz. Terwyl ons by die kasteel gestaan het, het ‘n blink swart motor deur die hekke gery en ons verbeelding aan die raai gehou.

Dit is ‘n groot voorreg om Switserland beter te leer ken. Ons gebruik ons geleentheid om die verskillende dinge te ontdek wat elke area en elke seisoen bied. Ek deel in ‘n vorige brief meer oor ons ervaring van die Franse en Italiaanse dele van Switserland in die somer.

Groete

Emsia

Switserland se Franse en Italiaanse streke

Switserland se Franse en Italiaanse streke

Nadat ons ‘n paar waarskuwingsligte by ons almal sien brand het na ‘n uitdagende jaar, het ons besef dat ons ‘n doeltreffende pitstop-vakansie nodig het ondanks maskers, reëls en verblyf- en vervoerkansellasies wat ingestroom het weens Covid-19-beperkings.

Ons het die geleentheid gehad om die verskillende streke van Switserland te verken en te ervaar. Zürich, waar ons woon, is in die oostelike Duitssprekende streek. Ons wou die Wes-Franse kantons en die Suid-Italiaanse kanton Switserland sien en besoek. Elke area het sy skoonheid en bekoring.

Die Franse streek van Switserland

Die Franse deel van Switserland staan bekend as Romandy. Valais, Vaud en Geneva is drie van die grootste wynproduserende streke in Switserland. Die groen wingerde langs die oewer van die blou waters van die Genèvemeer skep ‘n pragtige prentjie. Ons het baie ooreenkomste tussen die Franse en Suid-Afrikaners ervaar, soos passie en sterk wil. Charl werk saam met die Franse. Hy sê al kan hy nie hul taal verstaan nie, is daar iets in hul wese wat hy mee kan identifiseer.

Ons het in die Rhônevallei gebly. Die Rhône-gletser het hierdie vallei gevorm, maar het weens klimaatsverandering gesmelt. Die Rhônerivier is ‘n melkerige groen kleur, en die wingerde is in rye wat hoog op die berg strek. Ons het een oggend oor ‘n brug gestap wat oor ‘n 950m hoë rotsskeur gebou is. Ons het op ‘n staproete tussen die wingerde af na ‘n Middeleeuse dorpie gestap en yskoue appelsap as ‘n verversing in die hitte geniet.

Die Italiaanse streek van Switserland

Ticino is die Italiaanssprekende streek in die suide van Switserland. Die naburige Italië het die argitektuur, kos en kultuur geïnspireer. In Bellinzona, die hoofstad van Ticino, het ons pragtige Middeleeuse kastele besoek. Ons het in Lugano gebly, wat ‘n vakansiedorp-atmosfeer het. Dit is reg langs ‘n blougroen gletsermeer met ‘n lieflike waterfront-promenade.

Ons het in die meer geswem, trapbote gehuur en op Zander se versoek probeer Stand Up Paddling (SUP) doen. Ons het die berg met die kabelbaan opgeklim om die wêreld van bo af te sien. Op my aanbeveling het ons afgestap. Met die hitte en al die klagtes was dit duidelik dat ek nie in aanmerking kom vir die spanlid van die week-toekenning nie. Ek het gevolglik pizza en gelato roomys as ‘n vredeoffer voorgestel. Covid-19-beperkings het gelei tot minder toeriste en kort toue.

Como in Italië

Ons het ʼn kans gewaag in Covid tye en met die trein oor die grens gery na Como in Italië. ‘n Hittegolf het saam met ons in Italië arriveer. Die Italianers is passievolle en gasvrye mense wat die mooi en lekker dinge in die lewe geniet en waardeer.  Ek kon nie ophou kyk na al die mooi ou geboue en villas met kleurvolle en goedversorgde tuine nie.  Hulle is deur die rykes in die Romeinse tyd gebou en dien deesdae as toeristeverblyf.

Vroegaand as die son begin sak en die lug koeler word, kom almal uit hulle leefareas met die mooiste klere en geure.  Die meisies is pragtig in hulle kleurvolle en vroulike rokke en rooi lippe. Die jong mans vertoon hulle mooi bruingebrande en geoefende lywe in hulle wit katoenhempde.  Hulle kuier gesellig tot laataand met mooi musiek verskaf deur straatmusikante. Vroegoggend hang die reuk van varsgemaalde koffie by al die straatkafeetjies en die mossies staan astrant nader vir hulle daaglikse brood.

My vergelyking tussen Switserland en Italie

Op pad terug huis toe het ek probeer om die verskil in ervaring tussen Switserland en Italië uit te klaar. Switserland is soos daardie baie georganiseerde gesinne of vriende wat jy besoek. Alles is ordelik en gestruktureerd. Die tuin word goed onderhou, en die meubels is duursaam. Etenstye is op ‘n vasgestelde tyd. Die etes is gesond en gebalanseerd.

Italië is soos spontane familie of vriende. Daar is baie vryheid om te kom en gaan soos jy wil. Die huis is vol kunswerke en detail. Die besoek is vermaaklik, en etes word gemaak met beskikbare bestanddele wanneer almal honger is.

Die een besoek is nie noodwendig beter as die ander nie. Dit is net anders.

Ciao

Emsia

Mense wat liefhet en omgee soos familie

Mense wat liefhet en omgee soos familie

Familie is nie altyd bloed nie. Familie verteenwoordig daardie mense wat kies om jou in hul lewens te hê. Hulle aanvaar jou net soos jy is. Hierdie mense sal enigiets doen om jou te sien glimlag en deur dik en dun by jou te staan. Soms kruis hulle ons paaie op onverwagte maniere. Hulle is geskenke van Bo.

Bettie wie my tradisionele Kaapse kos leer kook het

As jong getroude vrou met beperkte kookvaardighede en tyd het Bettie my pad as huishulp gekruis. Bettie het vir ons huishouding gesorg en die heerlikste etes gekook. Paasnaweke het Bettie ons bederf met ‘n tradisionele Kaapse Paasfees spesialiteit, ingelegte kerrievis afkomstig van die Kaapse Maleise kookkuns. Sy en Abraham het hul lewe lank op ‘n wynplaas gewerk, en Abraham het later ons tuinier geword.

Ons gesinne het mekaar goed leer ken en het baie wedersydse respek gehad. Ons het Bettie ondersteun ná Abraham se dood en tydens die dwelmverslawing van ‘n familielid. Sy het my deur my egskeiding gehelp en by Charl en my troue by die hooftafel gesit. Toe sy aan kanker dood is, was my hartseer dieselfde as dié van ’n familielid. Sy was soos ‘n ma vir my en ‘n inspirasie in baie opsigte.

Au pairs wat my kinders se lewens verryk het

Met Zander se geboorte kon ek nie meer al die balle in die lug hou nie. Ek het besluit om die hulp van ‘n au pair in te roep. Inspirerende jong vroue het my pad gekruis. Elkeen van hulle was uniek met unieke belangstellings en het op verskillende maniere tot ons gesin bygedra. Hulle vaardighede het ook my vaardighede en kreatiwiteit aangevul waar dit ontbreek het, soos met koek en partytjieversierings. Baie van hulle is nou mammas wat met hul kinders geseën is.

Hulle afskeidsbriewe het bevestig dat die gedeelde tyd saam met ons ook vir hulle betekenisvol was. Binne ‘n week nadat ons laaste au pair by ons aangesluit het, het haar jarelange liefdesverhouding met haar kêrel, ook met die naam Zander, geëindig. Sy het haar passie vir tegnologie gebruik om haar seer met videospeletjies saam met klein Zander weg te speel . Sy was sy computer gamer vriendin. Sy het in haar afskeidsbrief geskryf, “Een Zander het my hart gebreek, maar nog ‘n klein Zander is oor my pad gestuur om dit te genees.”

Oupa Frikkie, my man se eks-skoonpa

Oupa Frikkie het my pad deur Charl gekruis. Hy is Charl se skoonpa uit sy eerste huwelik. Hul band was buitengewoon, en albei het besluit dat hul verhouding ná Charl se egskeiding sou voortduur. Oupa Frikkie het ons troue bygewoon ten spyte van sy eie emosies.

Sy rol in ons lewens het stadig maar seker vorm aangeneem.  Dit het ʼn permanente plek gekry met Zander se geboorte, want ons het ooreengekom dat hy Zander se Oupa Frikkie kan wees.  Oupa Frikkie was by Zander se doop en het elke verjaarsdagpartytjie bygewoon.  Een keer ʼn maand het hy op ʼn Saterdagoggend by Zander kom speel sodat ek en Charl saam kon gaan ontbyt eet. Ons was verstom oor die projekte wat hulle aangepak het en speletjies wat hulle gespeel het.

Die afskeid van Oupa Frikkie met ons trek Switserland toe was baie swaar.  Hy hou kontak met elkeen van ons en deel nuus vanuit Suid Afrika. 

Oupa Frikkie is op hoogte van tegnologie. Hulle woon in ‘n aftreeoord, en hy gebruik al sy kennis en vaardighede om ander te help. Hy het ‘n kardinale rol gespeel om die inwoners by te staan met aanlyn Covid-inenting registrasies. Hy het my genooi om by ‘n aanlyn Bybelstudie aan te sluit, wat ek as positief en leersaam ervaar het. Ek geniet die wysheid en stories wat hy deel.

My pa is kort ná my dertigste verjaarsdag hemel toe. Oupa Frikkie is die naaste aan ‘n aardse pa wat ek het. Ek is dankbaar dat ek iemand het wat soos ’n pa voel, al is hy my man se eks-skoonpa.

Engele hier op aarde

Mense wat soos familie voel, is daardie mense wat ons ondersteun, help groei, aanmoedig en daar vir ons sal wees wanneer ons dit nodig het. God het hulle versigtig gekies om ons engele hier op aarde te wees.

Groete

Emsia