Browsed by
Month: Februarie 2025

Ma Lenie se liefde, lag en lewenslesse

Ma Lenie se liefde, lag en lewenslesse

Ons ma, Lenie vier vanjaar haar 80ste verjaardag. Oor die afgelope paar jaar het baie van ons skoolvriende hul ouers verloor. As kinders het ons dikwels by mekaar se huise gekuier, maaltye gedeel en oorgeslaap. Ons gesinne het deel van mekaar se lewens gevorm en die nuus van hierdie ouers se heengaan het ons diep geraak. In die proses het my ma ook jare lange vriendskappe verloor met al hoe minder mense wat kom kuier of gereeld bel om te verneem hoe dit gaan.

Ons wou haar verjaardag gebruik om haar te bedank vir haar rol in ons lewens. Terselfdertyd wou ons haar ook herinner aan haar bydraes en die impak wat sy op die lewens van ander en die gemeenskap gehad het. Vriende en familielede moes met staaltjies en stories help om hierdie doelwit te bereik, want stories het krag.

Almal se staaltjies en stories het ons verseker vir verskillende redes laat glimlag. Ek glo hulle was vir my en my suster net so ‘n groot geskenk soos wat dit vir my ma was. Hulle het heelwat lewenswaarhede by my tuis gebring wat ek graag wil deel.

Daar is baie verskillende weergawes van onsself in ‘n leeftyd

Die bydraes ontvang was van mense wat my ma in verskeie stadiums van haar lewe geken het.  Elke storie het ‘n weergawe van haar op ‘n spesifieke tydstip weerspieël. Oor die jare gaan ons almal deur baie verskillende weergawes van onsself. As kinders sien ons net ‘n paar weergawes van ons ouers, terwyl hulle op hul beurt elke weergawe van ons sien.

Elke weergawe het ‘n belangrike rol gespeel om rigting aan ons lewensreis te gee. Hulle almal het bygedra tot die persoon wie ons vandag is. Ons moet met eerbied en respek kyk na die wyse waarop die jonger weergawes van onsself die uitdagings en oorwinnings hanteer het. Ons het krag gevind in daardie ervarings en dit het ons gehelp om te groei, heel en floreer.

Die tydlose vreugdes wat soos ʼn goue draad deur ons lewens weef

Vriendskappe, tuinmaak, musiek en naaldwerk is die vreugdes wat soos ‘n goue draad deur my ma se staaltjies en stories geweef is. Hierdie vreugdes is vry van tyd en plek. Hulle is oral beskikbaar en sy kan hulle vind waarheen die toekomspad haar ookal mag lei.

Dit het my weereens herinner hoe noodsaaklik dit is om tyd te belê in die dinge wat vir ons vreugde bring. Ons toekomstige weergawes sal baie dankbaar vir die beleggings wees.

Ons is soms onbewus van ons impak op ander

My ma het ‘n manier gehad om ons vriende welkom in ons huis te laat voel. Sy het opreg in hul lewens belang gestel en saam hul lief en leed gelag en gehuil. ʼn Paar maal het sy selfs uitgehelp met mondelinge of breiprojekte wat nie wou klaar nie. Sy het graag haar liefde deur haar gebak, selfgekookte konfyt en etes uitgedeel. Haar terte, koeksisters en beskuit was onvergeetlik.

Sommige van ons skoolvriende het opregte woorde gedeel oor die impak van haar omgee, deernis en luisterende oor op hul lewens. Dit het my diep geraak. Hulle stories het my daaraan herinner dat mense altyd onthou hoe ons hulle laat voel het, selfs al is ons onbewus van die blywende indruk wat ons laat. Ons geduld, liefde en vriendelikheid vorm deel van die nalatenskap wat ons agterlaat.

Elkeen van ons word met ’n gawe gebore

Elkeen van ons word gebore met iets spesiaals—’n gawe wat uniek aan ons is. Dit kan ‘n talent, ‘n eienaardigheid of ‘n manier wees waarop ons na die wêreld kyk. My ma het ’n pragtige sangstem ontvang wat sy in die kerkkoor, die dorp se revue en selfs by troues, soos my eie, gedeel het.

Nog ‘n paar van haar gawes het duidelik geword deur die stories en herinneringe wat ander gedeel het. Sy het ʼn vermoë om die positiewe in elke situasie raak te sien. Ek dink aan haar met ‘n stralende glimlag wat kuiltjies in haar wange vorm. Sy het ‘n manier gehad om ander te help om ‘n spatsel kleur in die lewe se grys oomblikke te vind. Met eindelose geduld het sy na mense se stories geluister wanneer hulle dit nodig gehad het om gehoor te word.

Ons woorde refrein soms in ander se gedagtes

My ma het ‘n paar uitdrukkings gehad wat in my gedagtes opduik tydens die lewe se oomblikke. Een wat gereeld na my toe kom, is: “Wag net totdat jy eendag self ‘n ma is, dan sal jy verstaan.” Sy het dit gewoonlik gesê terwyl sy deur my slaapvenster angstig die straat dopgehou en gewag het dat my suster huis toe kom. In my tienerwysheid sou ek opmerk: “Ma hou op worry en gaan slaap.” In my rol as ouer refrein haar woorde gereeld wanneer ek oor my kinders bekommerd is.

My kind, hou die kroon op jou man se kop.” My ma het dit self baie goed uitgeleef. Haar liefde vir my pa was sigbaar en sy het hom alle opsigte ondersteun en aangemoedig. Hierdie was vir my nodig om te hoor nadat ek nie meer met die pa van my kinders getroud was nie. Ek het die wysheid verander na “Hou die kroon op die pa van jou kinders se kop” en is na al die jare dankbaar vir ma se stem wat in my gedagtes refrein het.

Wat is ons nalatenskap?

Die positiewe woorde oor my ma se impak op ander mense was lekker om the hoor op haar 80ste verjaardag.  Dit is goed om uit daardie perspektief na ons eie lewens te kyk, want dit help ons om meer vreesloos te lewe en met die wete ons daaglikse optrede  ʼn impak op ander het. 

Dit is nie die groot prestasies wat saakmaak nie. Hoe ons mense laat voel het en daar vir hulle was as hulle ʼn luisterende oor of liefdevolle aanmoediging nodig gehad het, is wat ʼn impak het.

Groete

Emsia

Stokperdjies en persoonlike projekte

Stokperdjies en persoonlike projekte

Die lang koue wintermaande het ons motiveer om stokperdjies en persoonlike projekte aan te pak. Dit bied uitstekende ontvlugting as werksdruk of die roetine van alledaagse take te veel word.

In Suid-Afrika het Charl altyd een of ander huis of tuin projek gehad wat positiewe energie geskep het. Hier in Switserland is spasie beperk en het hy hom tot Lego gewend. Sy kantoor staan al vol verskillende bouprojekte wat soms interessante gesprekke uitlok.

Wat is ‘n persoonlike projek?

Persoonlike projekte gaan oor die bevrediging van jou nuuskierigheid en om meer van iets te leer en nie noodwending oor die uitset nie. Hulle fokus op verkenning en genot. Dit laat ruimte vir eksplorasie, eksperimentering en kreatiewe groei sonder die druk om iemand te beïndruk.

‘n Persoonlike projek kan basies enige iets wees waarin jy jou idees of belangstellings uitdruk en hoe lank dit neem hang van die projek af.  Sekere persoonlike projekte kan jare neem.

Zander se skool leer hulle die waarde van persoonlike projekte

By Zander se skool moes hulle as deel van hulle graad 10 jaar ‘n persoonlike projek doen. Hulle kon enige iets in lyn met hulle belangstelling kies. Die doel van die projek is om meer te leer oor ‘n onderwerp wat hulle interesseer en ‘n produk te lewer wat wys wat hulle geleer het. Hulle moes rekord hou van hulle beplanning en vordering en aan die einde van die projek ‘n verslag oor die hele proses skryf.

Zander het besluit om ’n braille sleutelbord te bou wat blinde mense in staat stel om ‘n rekenaar te gebruik. In die proses moes hy meer oor braille leer.  Hy moes ook die sleutelbord knoppies op ‘n sagteware applikasie ontwerp voordat dit by die skool op ‘n 3D drukker gedruk is. In die proses het hy sy vaardighede uitgebrei, maar ook die belangrikheid van ‘n projekplan en die waarde van insette van ander partye geleer.

Soms het sekere aspekte uitdagings geskep. Die bevrediging op sy gesig toe hy uiteindelik vir ons die werkende sleutelbord wys, was al die tyd en moeite werd.

My eie persoonlike projekte

My ma het self ons klere gemaak en van haar naaldwerkvaardighede aan my as jongmeisie oorgedra. Ek kan nog my frustrasie en soms uitbarstings onthou as sy my gedwing het om die nate wat ek verkeerd vasgewerk het, los te torring. Daar was wel ʼn kosbare lewensles daarin opgesluit. Hoe gouer jy ‘n fout regmaak of probleem oplos, hoe minder is die verdere negatiewe impak.

Gedurende skool en universiteit vakansies het my persoonlike projekte gewoonlik uit die ontwerp en maak van kledingstukke bestaan.  Toe my seuns nog klein was, het ek onderneem om die prins en soldaat se univorms vir die Aspoestertjie kleuterskool konsert te maak.  Dit het lang nagte en bloedsweet gekos as ek vele nate moes lostorring. Die proses van iets skep, was egter geweldig bevredigend.

Hier in Switserland het ek begin skryf as terapie.  My eerste persoonlike projek was om my skryfwerk oor ons ervarings in Switserland in ‘n blog te versamel.  Ek was op my eie aangewese en moes baie oor die tegnologie en prosesse leer. Die projek verskaf my nog steeds vreugde en dien as waardevolle platform om in kontak met vriende en familie te bly.

Verder bied dit my die geleentheid om my passie vir fotografie aan te wend. Na vyf jaar het ek my skryfwerk in ‘n e-boek met foto’s op Amazon gepubliseer. Dit het weer nuwe uitdagings en leerervaring meegebring.  Met persoonlike projekte lê die bevrediging in die skep eerder as die uitkoms.

Familielede se persoonlike projekte

My pa het ‘n passie vir motors en meganika gehad. Hy het eenmaal ‘n ou motor gekoop en dit heeltemaal meganies en visueel vernuwe. Ek en my suster was gereeld handlangers in sy projekte en het ‘n bietjie meganiese kennis opgedoen. Ons het dit geniet om te sien hoe sy projekte vordering maak.  As kleuters het hy as ’n persoonlike projek vir ons ‘n swaai gebou. Sy handewerk staan nog steeds in my ma se tuin. Al het hy nooit die voorreg gehad om te sy eie kleinkinders ontmoet nie, kon hulle darem die voordele van sy handewerk geniet.

My seun Christo het terwyl hy op skool was, tuinmeubels uit houtpalette gemaak. Die tegniese tekenininge wat hy as vak geneem het, het hom in die proses gehelp. Tydens die viering van sy 18de verjaardag het hy hierdie tuinmeubels in ons tuin gerangskik. Saam met al die liggies in die bome het dit ‘n baie feestelike atmosfeer geskep.

Jacques het op universiteit entrepreneurs met foto’s en videos vir sosiale media bemarkingsdoeleindes gehelp. Hy het nuwe vriende gemaak en baie in die proses geleer. Hierdie vaardighede was nuttig en waardevol toe hy sy eie besigheid, ‘n bakkery met die naam The Cinnamon Club begin het.

Voordele van stokperdjies en persoonlike projekte

Ek het baat by die aanpak van stokperdjies en persoonlike projekte gevind. Ek het nuwe dinge ontdek maar ook meer oor myself in die proses geleer. In Switserland het dit iets betekenisvol geskep om op te fokus gedurende die Europese wintermaande en positief tot my geestelike welstand bygedra. Dikwels het nuwe vaardighede handig in toekomstige situasies te pas gekom. Ek het nuwe vriende gemaak met mense wat soortgelyke belangstellings en passies deel.

Om ‘n projek te voltooi, veral waar ek myself uitdaag of met ander saamwerk, bring geweldige bevrediging en verhoog my selfvertroue. Dis ‘n aangename en tevrede gevoel wanneer ek ‘n gewenste uitkoms bereik.

As jy bereid is om te deel, sal ek graag meer wil hoor oor stokperdjies of persoonlike projekte wat vir jou bevrediging en vreugde verskaf het.

Groete

Emsia