Browsed by
Month: April 2024

‘n Ausie se Switserse uitruilervaring

‘n Ausie se Switserse uitruilervaring

Ons het die geleentheid gekry om weer na Switserland deur die oë van iemand wat dit vir die eerste keer ervaar, te kyk.

Die boodskap van Campbell se ouers om te laat weet hulle is oppad lughawe toe, het ons met baie deernis gevul. Dit was hulle beurt om as ouers om te laat gaan.

‘n Lang vlug vanaf Perth na Dubai en dan daarvandaan na Zurich om sy 6 weke in Switzerland as deel van die uitruilprogram deur te bring, het voorgelê. As 15-jarige moes hy hierdie reis op sy eie aanpak. Doeane beamptes in Perth het as veiligheidsmaatreël dadelik Campbell se pa gebel om te bevestig dat hy kennis van hierdie jong man se vlug uit sy tuisland dra.

Vlug van Perth na Zurich

Vroeg Saterdagoggend het sy ma laat weet dat reissiekte die eerste been van die vlug moeilik gemaak het. Campbell het agterna vertel hoe sorgsaam die Emirates vlugpersoneel na hom tydens die vlug omgesien het.  ‘n Mediese dokter het hom in Dubai ingewag en met die regte medikasie vir die vlug na Zurich uitgehelp.

Na sy aankoms in Zurich, het hy die aand sommer vroeg aan die slaap geraak, maar wees tydsverskille was hy die volgende oggend vieruur helder wakker. Dit het hom `n ruk geneem om aan te pas. Sondag het ons saam met hom in die woud gaan stap en Zander het vir hom die dorpie waarin ons woon asook die skool gaan wys. 

Deel van ons gesin

Campbell het sommer dadelik in ons harte ingekruip. Hy het moeite gedoen om raakpunte met elkeen van ons te vind. Hy is nuuskierig en vra vrae om sin van sy nuwe omgewing te maak. Die jong man is respekvol en dit was dadelik duidelik dat hy uit ‘n liefdevolle huis kom.  Sedert hul uitruil goedgekeur is, het hy en Zander reeds begin kommunikeer. Hulle was dus nie vreemdelinge vir mekaar nie. Hulle het hul waarnemings bespreek en infrastruktuur, wetgewing en landskappe tussen die onderskeie lande vergelyk.

Campbell het drie wense gehad vir sy tyd in Switserland.  Hy wou graag sneeu ervaar, Kaasfondue proe en homself te verdiep in die klanke van Frans wat deur moedertaalsprekers gepraat word. Ons het vir Sondagmiddagete saam met hom Kaasfondue geniet en een van sy wense vervul. 

Die kaas was baie sterkter as wat hy verwag het, maar hy het dit tog geniet. Ons het die volgende naweek hom aan Raclette bekend gestel.  Hy het dit baie geniet en gevra of ons die ervaring kan herhaal.

ICSZ Skool

Campbell wat aan skooluniform gewoond is, was opgewonde om vir ses weke in gewone klere skool te kon bywoon. Die skool het hom goed verwelkom en ek dink die feit dat beide die uitruilonderwyser en die skoolhoof van Australië kom, het ‘n ekstra positiewe bydrae gelewer.

Aangesien hy in ‘n seunskool is, was dit ook ‘n nuwe ervaring om die meisies in die klas by hulle te hê. Hy het die ander studente as verwelkomend ervaar. Campbell is baie goed in Wiskunde en ons was dankbaar dat hy en Zander saam vir hulle Wiskundetoets kon voorberei en op die ou end baie goeie punte gekry het.

Gedurende sy tyd in Switserland het die skool ook ‘n TEDx aangebied met ICS-studente as sprekers. Dit was die eerste keer dat ons almal so ‘n geleentheid bygewoon het.

Zürichmeer

Een van Zander se groot wense was om vir Campbell Zurich se ou stad te gaan wys en in die meer te swem.  Ek kon maar net lag vir die twee 15-jariges wat van koue gebibber het terwyl hulle al hulle moed bymekaar skraap om die 12-grade meerwater aan te durf. ‘n Warm sjokolade drankie langs die meer moes help om hulle na die tyd op te warm.

Sneeu ervaring

Campbell se heel grootste wens was om vir die eerste maal in sy lewe sneeu te ervaar.  Aangesien dit sommer vinnig na sy aankoms warm geword het, het ons hom die eerste naweek Alpe toe geneem. Daar was gelukkig nog genoeg sneeu in Arosa sodat hy en Zander teen die berge met die ski lifts op kon ry en met die slees af kon afgly.  Campbell se opgewonde reaksie oor die sneeu het die uitstappie vir ons genotvol en bevredigend gemaak.

Hierdie opwinding het nuwe hoogtes bereik toe dit onverwags in April begin sneeu. Hy kon nie wag om buite te kom en die sneeu te ervaar nie.  By die skool het van die onderwysers hom toegelaat om tydens klastyd buitentoe te gaan en hy kon tydens middagete aan sneeugevegte met die ander seuns deelneem

Switserse kultuur ervaring

Tydens Campbell se tyd in Switserland was dit die lentefees, ‘n eeue oue tradisie wat ‘n aanskoulike kulturele ervaring is. Mense in geskiedkundige kostuums, musiekensembles en perde wat in blomme en vlae versier is, kom rondom die Böögg, wat soos `n sneeuman lyk en winter simboliseer, bymekaar. Om 18:00, word die brandstapel wat die Böögg bo-op dra, aan die brand gesteek.

Volgens volksoorlewerings voorspel die spoed waarteen die vuur die sneeumanfiguur verswelg en sy kop, gevul met klappers laat ontplof, die kwaliteit van die naderende somer. Daar was egter ‘n stormsterkte wind en vir die rede kon hulle vir die eerste keer in die geskiedenis nie die sneeuman aan die brand steek nie.

Die Franse streek in Switserland

Campbell neem Frans as tweede taal in die skool en wou baie graag Frans in ‘n Franse streek hoor en bepaal hoeveel hy kon verstaan.  Ons het dus met die trein die Romandie streek besoek. Dit is  ‘n drie-uur lange rit wat die dag kort maak. Daar was soveel om hom te wys maar het die Olimpiese Museum in Laussane besoek, vanaf Montreaux al langs die meer na die Chatau die Chillion gestap en sjokolade crepes in Vevey gaan eet. 

Hy was ingenome toe hy die taal kon verstaan en hy het alles wat hy kon lees vir ons vertaal en ook in Frans met die mense in winkels gesels. Ons beplan om saam met hom die langnaweek in Mei Parys te besoek om sy Franse ervaring verder uit te brei.

Hieronder is ‘n musiekvideo met meer foto`s van die eerste twee weke se ervaringe.

Daar is natuurlik nog baie dinge wat ons vir hom wil wys en ervaringe wat ons met hom wil deel in die tyd wat hy nog in Switserland is voordat hy en Zander Perth toe vlieg.

Groete

Emsia

‘n Lewensverhaal in metafore uitgedruk

‘n Lewensverhaal in metafore uitgedruk

Metafore is kragtig en dien as waardevolle hulpmiddels wanneer ons ‘n komplekse gedagte moet verduidelik en nie die regte woorde daarvoor kan vind nie. As ons metafore in gesprekke of in die geskrewe vorm gebruik, aktiveer dit die verbeelding en maak dit makliker om emosies en indrukke oor te dra. Die gebruik van metafore dien as waardevolle hulpmiddels wanneer dit nodig is dat mense ‘n ou idee op ‘n nuwe en lewendige manier moet sien. Hulle verander op ‘n onbewustelike vlak die manier waarop ons aan ‘n konsep dink.

Ek het onlangs aan ‘n oefening deelgeneem wat ons uitgedaag het om aspekte van ons lewensreise met behulp van simbole en metafore te vertel. Ons was beperk tot vyf metafore. Dit was ‘n interessante ervaring en het my in gedwing om op ‘n ander manier te dink.  

Ek deel hieronder meer oor die vyf metafore wat ek gekies het om aspekte van my lewensverhaal voor te stel.

Metafoor 1 – Kameeldoringpeul

Die eerste simbool wat ek gekies het, is die peul van ‘n kameeldoringboom. My wortels spoor terug na Kathu in die Kalahari, geleë in ‘n Kameeldoringwoud. Hierdie peul simboliseer die sekuriteit en koesterende omgewing wat ek in my ouerhuis en gemeenskap gedurende my vormingsjare gevind het. Ons lewenstyl was nederig en ons het na aan die aarde geleef.

Die peul verteenwoordig ook veeldoeligheid. Behalwe om nuwe boompies te kweek, het ons dit ook versamel vir veevoer en om as kole in ‘n vuur te gebruik. Die lewe in die Kalahari het ons probleemoplossingsvaardighede en die kuns van innovasie geleer. Ons ouers het ‘n sterk werksetiek ingeskerp en verwag dat ons tot huishoudelike take bydra. Gevolglik het ons verskeie basiese vaardighede bemeester wat ons regdeur ons lewens bygebly het.

Metafoor 2 – Sakrekenaar

Die sakrekenaar simboliseer die berekende manier waarop ek my jong volwasse lewe benader het. Ek het spesifieke idees gekoester oor die trajek van my lewe, veral as ‘n vrou, met die vooruitsig hoe my loopbaan, huwelik en gesin sou harmoniseer. Net soos die verwerking deur ‘n sakrekenaar, het ek outomatiese uitkomste vir hierdie aspekte in my lewe verwag.

Verder beliggaam die sakrekenaar my loopbaan in die finansiële sektor. Ek het by ‘n oudit- en rekenmeestersfirma gewerk en organisasies gehelp om te verseker dat hul finansiële state hul finansiële gesondheid weerspieël. Ek het egter gou besef dat terwyl ek in die sakewêreld floreer, ek bevrediging gevind het in die interaksies met kliënte en kollegas eerder as die take self. Die uitkomste in my beroep het aansienlik afgewyk van my aanvanklike verwagtinge. Die situasie in my huwelik was soortgelyk.

Metafoor 3 – Gieter

Tuinmaak was nog altyd ‘n terapeutiese uitlaatklep, wat waardevolle lesse vir my bied. Ek het onder andere gesien hoe ‘n sukkelende plant in een deel van my tuin in ‘n ander omgewing met voeding en genoeg water kan floreer. Hierdie metafoor het diep met my resoneer. Deur die versorging van my tuin, het ek beter begin verstaan dat my lewensdoel soos dié van ‘n gieter lyk. Dit is `n instrument in God se hande om met liefde en sorg by te dra tot ander se groei.

My veranderingsreis het begin met ‘n belegging in my eie persoonlike in die vorm van`n Life Coaching kursus. Die nuutgevonde kennis en insig het my beter toegerus om my rol as instrument in ander se groei te vervul. My eerste fokus was my kinders.  Nadat ek my persepsie van my rol aan my baas by die werk verduidelik het, het hy ‘n verandeirng in my rol by die werk gefasiliteer. In my nuwe rol kon ek aktief tot die persoonlike ontwikkeling van ander bydra. Hierdie verskuiwing het vir my geweldige persoonlike vervulling gebring.

Metafoor 4 – Pen

Ek het vroeg in my lewe die waarde van skryf ontdek. Skryf is ‘n waardevolle manier om die emosies wat dreig om my te oorweldig, te hanteer. Dit help my om sin te maak van wat ek voel. Die papier of rekenaarskerm gee nie raad nie, maar luister sonder onderbreking en help my om perspektief en antwoorde te kry. Terwyl ons die lewe in Switserland navigeer, help my tweeweeklikse briewe my om sin te maak van gebeure, in verbinding met my hartsmense te bly en herinneringe te bewaar.

Ek het besef dat skryf my ook in staat stel om ander mense se lewens met woorde te beïnvloed. Ek beplan om in die volgende paar maande ‘n e-boek met die titel Briewe Huis Toe te publiseer. Daarin sal ek die dieptes van ons interne en eksterne ervarings en groei as ‘n Suid-Afrikaanse gesin wat in ‘n vreemde land woon, deel.

Metafoor 5 – Horlosie

‘n Horlosie sou my metafoor vir ons tyd in Switserland wees.  Die omgewing is baie ordelik, stiptelik en alles gebeur met Switserse presisie op tyd.

Die aanvanklike vyftig jaar van my lewe het soos ‘n ewige wedloop teen tyd gevoel. Met ons verhuising na Switserland het die situasie verander. Ek het die een ding waarna ek nog altyd gesmag het ontvang – tyd. Met die fokus op my welstand en groei, het ek dinge oorweeg wat my hart en siel voed. Ek het gedink aan maniere om gesond te bly en die kennis en vaardighede oorweeg wat ek wou uitbrei. Die proses het ‘n reis van selfontdekking en doelbewuste lewe geword.

Ons tyd hier in Switserland, net soos ons tyd op aarde, is geleende tyd, want dit kan enige tyd tot ‘n einde kom.

Die metafoor oefening het my gehelp om oor my lewensverhaal in prentjies te dink. As as jy aan die oefening moes deelneem, watter items wat voldoende betekenis as metafore dra om belangrike aspekte van jou lewe op te som, sou jy kies? 

As ‘n prentjie duisend woorde werd is, is ‘n metafoor duisend prente werd.

Groete

Emsia

Laat gaan is deel van ouerskap

Laat gaan is deel van ouerskap

As ‘n ma van twee jong volwasse mans, moes ek meer voorbereid op Zanders se versoek gewees het. Tog het sy voorstel, in ‘n behoefte om homself uit te daag, my steeds onkant gevang. Ek moes my jongste 15-jarige seun, se behoeftes objektief evalueer. Dit het gehelp om na te dink oor my volwasse seuns se behoeftes, optrede en ontwikkeling toe hulle ongeveer dieselfde ouderdom was.

Jacques

Die eerste versoek van my oudste seun wat my onkant betrap het, het gedurende sy graad 11-jaar gekom. Jacques wou saam met sy beste vriend en maats op ‘n tienervakansie gaan. Die vriend se broer wat op daardie stadium`n student was, sou die motor die 400km tot in Hartenbos en terug bestuur. Dit was die eerste maal dat `n versoek van die aard my pad kruis. Alarms van potensiële risiko’s het my gedagtes gevul. Ek het egter ‘n vinnige besluit geneem en nee gesê.

Die vriend se ma het haar kundigheid as sielkundige gebruik en my in ‘n boodskap gerusgestel. Sy het erkenning daaraan gegee dat dit algemeen is dat ouers veral met hul oudste kind so voel en reageer. Sy het my verseker dat al die betrokke jongmense verantwoordelik is. Dit is goed as hulle stappe in die rigting van onafhanklikheid te neem. Sy het uit ervaring bevestig dat ‘n ma dié tipe situasies heel anders sien en benader teen die tyd wat dit by haar tweede en derde kind kom.

Voordat ek ‘n finale besluit geneem het, moes egter myself eers met my eie analitiese bendering oortuig. My versoek was Jacques se eerste betekenisvolle les in die die konsep van risiko’s en beheermaatreëls. Ek het hom gevra om ‘n lys saam te stel van al die bekommernisse wat ek oor beplande vakansie mag hê. Vir elkeen van hierdie risiko`s moes hy ook met iets wat my meer gemoedsrus daaroor sou gee, opkom. Jacques baie moeite gedoen met my versoek en oplossings gegenereer vir potensiële bekommernisse bo wat ek verwag het.

Benewens die genot van ‘n onvergeetlike vakansie, het Jacques ook op ‘n heel ander onverwags manier by sy pogings baat gevind. ‘n Vraag in die Engelse graad 12-eindeksamenvraestel het vereis dat studente ‘n motiveringsbrief skryf wat ouers oorreed om hulle toe te laat om saam met vriende op ‘n graad 12-vakansie te gaan.

Christo

Christo, het ‘n bedrywige sosiale lewe gehad.  Ons moes hom oral rondry en in `n behoefte aan  onafhanklikheid het hy`n motorfiets as oplossing voorgestel. Daardie motorfiets het tot my voortydige  veroudering gelei. Toe hy een aand nie op die afgespreekte tyd by die huis was nie, het ek al die ongeluk in my gedagtes sien afspeel.

My paniek het vir Charl ook uit die slaap gehou en my man het aangebied om my te help om die noodeenhede van verskeie hospitale te kontak. Die eerste hospitaal wat ons bereik het, het pas ‘n ongeval van ‘n motorfietsongeluk opgeneem. Toe ek egter verneem dat die pasiënt Engels praat, het ek besef dit was nie Christo nie. Dit het baie selfbeheersing gekos om tot die volgende dag te wag voordat ek in ‘n beter emosionele toestand was om my ervaring en perspektief van die situasie met hom te deel.

Gedurende sy graad 11-jaar het Christo my genader met ‘n versoek om aan ‘n uitreikprogram na Zambië deel te neem. Die feit dat die uitreik deur die skool georganiseer was, het my meer op my gemak laat voel om my kind na Afrika te stuur. Dit was ‘n ongelooflike geleentheid om sy perspektief op die wêreld te verbreed.

Terwyl hulle daar was, het die jong deelnemers by Zambiese gesinne gebly en hulself in die plaaslike kultuur verdiep. Christo het stories vertel hoe hy saam met die gesin se kinders ‘n hoender vir aandete gevang het en die vere gepluk het voordat hulle dit in die pot gaargemaak het. Ten spyte van beperkte hulpbronne, het die Zambiese gashere hul besoekers met die grootste gasvryheid behandel. Hulle het vir hulle die vleis aangebied terwyl hulle net mieliepap saam met die vleissous geëet het. Hierdie ervaring het my tienerseun se deernisvolle hart diep geraak.

Zander

Zander se onlangse versoek was om aan ‘n uitruilprogram wat deur die Round Square-organisasie by sy skool aangebied word, deel te neem. Die reëling stel ‘n student van ‘n ander land in staat gestel om vir ses weke by ons tuis te gaan en saam met Zander skool by te woon. Daarna besoek Zander weer vir ses weke die student se tuisland, gaan by sy gesin tuis en woon saam met hom sy skool by. Zander mis die see en wou baie graag na `n skool naby die see gaan. Dit het dus uitstekend vir hom uitgwerk toe die uitruil met `n student Zander se ouderdom in Perth is.

Die idee om my 15-jarige seun alleen op ‘n vliegtuig na Australië te stuur om vir ses weke by vreemdelinge te gaan woon, was skrikwekkend. Ons het dadelik ‘n aanlynvergadering met die gesin gereël. Na ons virtuele ontmoeting het ek baie meer rustig gevoel. Daar was vinnig  ʼn gemaklikheid met mekaar en hulle lewenswyse het bekend gevoel.

Ons sien gretig uit na Campbell se aankoms in Zürich net na die Paasnaweek. Hy is opgewonde om sneeu vir die eerste keer te ervaar en wil sy Frans, wat hy as Addisionele Taal op skool neem, oefen. Ons het belowe om hom na die Alpe te neem om in die sneeu te stap of te slee en om ‘n Franssprekende gebied in Switserland te besoek. Campbell was verheug om te hoor ons het treinkaartjies bespreek vir ‘n langnaweek besoek aan Parys.

Scotch College, Perth

Zander en Campbell vlieg saam na Perth op 17 Mei. Zander gaan saam met Campbell Scotch College Boys’ School bywoon. Hy sal die skooldrag dra en een keer per week by die Kapeldiens aansluit. Daarbenewens sal Zander op Vrydae aan die saalbyeenkoms deelneem en die seuns aanskou wat in huisgroepe marsjeer op die maat van die College Pipe Band. Bekend vir sy uitnemendheid, tree die College Pipe Band gereeld by Internasionale Tattoos op.

Daarbenewens sal Zander aan die skool se verpligte sport- en gemeenskapsdiensprogramme deelneem. Laasgenoemde bied aan studente ‘n kans om hul Christelike waardes op tasbare wyse in die praktyk uit te druk. Scotch College werk saam met verskeie organisasies, insluitend Disabled Surfing, Second Bite (wat kos herverdeel), Salvation Army, en People Who Care, onder andere.

Om ons kinders te laat gaan is ‘n daad van liefde

Ek is bly dat my kinders hulself uitdaag. In die proses daag hulle my ook uit en help my om deur hul ervarings te groei en die wêreld te ontdek.

Ons uitdaging, as ouers, is om te erken dat terwyl vashou gerusstellend kan voel, dit ‘n diep liefdesdaad is om ons kinders toe te laat om te groei en te floreer. Ons moet hul toenemende onafhanklikheid ondersteun en vier. Wanneer hulle vertroue in hul vermoë om op hul eie voete te staan het, sal hulle terugkeer en ons band sal een van liefdevolle interafhanklikheid wees.

As ouers moet ons ons kinders se groeiende onafhanklikheid fasiliteer, ondersteun en vier, al is dit moeilik. Om te laat gaan is ‘n daad van liefde. Wanneer hulle vertroue in hul vermoë om op hul eie voete te staan het, sal hulle terugkeer en ons band sal een van liefdevolle interafhanklikheid wees.

Groete

Emsia