Browsed by
Month: Oktober 2020

Kies deur watter lens jy gaan kyk

Kies deur watter lens jy gaan kyk

Ek het ʼn paar jaar gelede ʼn kort video gesien wat ongelooflik tot my gespreek het.  In die videogreep, met die titel “Finding the right answers”, deel Dewitt Jones, ʼn fotograaf vir National Geographic, wyshede oor wat sy fotografie hom oor die lewe en besigheid geleer het. 

In uitdagende situasies moet ons keuses maak oor die lense waardeur ons kyk. Soms moet jy wyer kyk, soms moet jy dieper kyk en soms moet jy uit iemand anders se perspektief kyk.  Die Switserland situasie het my nou al ʼn paar maal gedwing om doelbewus  ʼn ander lens te kies.

Jacques kies sy lens om vir niggie Marga af te neem (Ansa van Zyl se foto)

Vlugtelingkamp in Zürich

As deel van die ICS Community Impact klub, besoek ons Vrydae ʼn vlugtelingkamp in Zürich.  Die vlugtelinge is hoofsaaklik mammas en kinders wat uit lande soos Iran, Irak, Sirië en Afganistan gevlug het. Alle Europese lande is verplig om ʼn aantal vlugtelinge te huisves om die lading eweredig te versprei. Die meeste van die vlugtelinge kom Europa binne deur Griekeland, waar die Griekse polisie hulle al redelik rof behandel het. Vandaar word hulle na verskillende lande uitgeplaas.

Hulle bly in die vlugtelingkamp vir drie maande terwyl hulle formele aansoek om amptelike vlugtelingstatus in proses is. Die vlugtelingkamp in Zürich is baie netjies met skoon geriewe vir bad en slaap en hulle kry gekookte kos.  Trauma en onsekerheid is egter duidelik op hulle gesigte sigbaar. Die vlugtelinge praat almal verskillende tale en hulle Engels is baie beperk. Hulle leer Duits praat sodra hulle Switserland binne kom.

Vlugtelingkamp in Zürich

Ons speel speletjies met die kleintjies en kommunikeer deur beperkte Duits, lyftaal, geluide, gesigsuitdrukkings en aanraking. Een dogtertjie het sommer op my skoot geklim om te teken. Terwyl ek nog so liggies oor haar ruggie vryf, het sy na my gekyk en my op die wang gesoen. As uitlanders verstaan die ICS mammas die aanpassing wat ʼn nuwe land vereis. Die groot verskil is dat die vlugtelinge in totale onsekerheid leef, min persoonlike besittings kon pak en nie weer na hulle eie land kan terugkeer nie. Die hele ervaring het ʼn groot impak op my perspektiewe op verandering en aanpassing in ʼn nuwe land.

Scooters

Met Zander se naderende verjaarsdag het hy vir ʼn “Stunt scooter”  as verjaarsdag geskenk gevra, want al die maats hier besit een.  Ons is een middag na skool na die naaste scooter-winkel toe om ons opsies beter te verstaan. Die nuwe Amerikaanse vriend, Nate, is gelukkig saam en hy gee my ʼn volledige tegniese les oor scooters. Na nog twee dae se navorsing op die internet is ek hoogs ingelig en ons reg vir koop.

Skaatspark

Hier in Switserland is baie skaatsparke waar die kinders gaan om hulle toertjies met hulle fietse, scooters en skaatsplanke te oefen. Die scooter verjaarsdag geskenk het my gedwing om ʼn ander lens ten opsigte van skaatsparke op te sit. As ek deur my huidige lens na skaatsparke kyk, sien ek graffiti, tieners met broeke wat laag hang en snaakse goed rook. Nou wil Zander vir sy verjaarsdag met sy nuwe scooter na die naaste skaatspark toe gaan! Ek moet ʼn lens kies wat raaksien dat dit moontlik ʼn goeie manier vir hom is om in te skakel terwyl dit sorg vir gesonde fisiese oefening, in plaas van voor die rekenaar sit.

Ek het vir sy verjaarsdag kolwyntjies gebak en skool toe gestuur saam met servette met mooi Afrikaans gedrukte woorde op. Die Hollandse kinders is baie ingenome dat hulle sommige van die Afrikaanse woorde kon verstaan.

Lens van vertroue

Ek is nog besig om aan my lens van vertroue te werk, maar ʼn onlangse insident het darem gehelp.  In Switserland is dit verpligtend vir alle kinders onder 14 jaar wat fiets of scooter ry, om ʼn helmet te dra. My OCD was so ingenome toe Zander se turkoois helmet presies dieselfde kleur as sy nuwe scooter is. Zander se blink trane in sy oë een middag na skool, het my dadelik laat besef dat daar iewers groot fout is. Die helmet het op die trein se sitplek agtergebly en die trein se deure het voor hom toegemaak om verder te ry toe hy daarvan onthou.

Uit desperaatheid het ek besluit om die sisteme te toets en het die helmet as ʼn verlore item op die trein se webwerf registreer. Ek word sowaar ʼn week later in kennis gestel dat die helmet gevind is en dat ons dit by Stadelhofen treinstasie kan gaan haal. Ek kon ons geluk nie glo nie! By die skool is dit net Zander Goosen se scooter wat met ʼn slot gesluit is in opdrag van sy ma.  Al is die fietsparkering aan die straatkant van die skool, is geen ander kind se fiets of scooter gesluit nie.

Ek terg heel gereeld my huisgenote wie se glase half leeg mag lyk, dat hulle hul brilglase moet skoonmaak en weer na ʼn situasie moet kyk. Switserland dwing my om soms ʼn heel nuwe bril op te sit.

Groete

Emsia

Terug skool toe na ‘n internasionale skool

Terug skool toe na ‘n internasionale skool

Hierdie dag is met angstigheid en opgewondenheid ingewag.  Die skole het vir die nuwe skooljaar begin na die Europese somervakansie wat vir ons ʼn winter- en somervakansie kombo was. Hope vryheid om jou tyd te spandeer net soos jy wil, klink soos utopie totdat jy dit het en so stilletjies begin verlang na orde en struktuur en om weer in ʼn roetine te kom.

Zander se nuwe Skool

Oriënteringsdag

Die aand voor die Inter-Community School (ICS) se oriënteringsdag, het Zander se opgewondenheid geen keer gehad nie.  Ek vermoed sy fokus was meer op die maats, want na ʼn ruk begin mens sosiale kontak mis, al is dit dan in jou tweede taal. Die oggend toe ons by ICS se groot glasdeure inloop, sê Zander: “Ma, dink jy dit is okay om gestres te voel, want ek is nou uitgefreak!”.  Aan die agterkant van my opgeplakte kalmgesiggie het ek presies dieselfde gevoel.

Al die nuwe kinders van graad 1 tot Graad 10 en hulle ouers, met dieselfde opgeplakte kalmgesiggies as myne, het die saal vol gesit.  Die diploma studente (graad 11 en 12) was afsonderlik in hulle eie gebou hanteer. Ek het my oë oor die volgepakte saal laat gaan.  Tussen die familie voor met hulle goties geklede tienerseun en ʼn jonger ma wat  ʼn baba probeer borsvoed het agter in die saal, was ek baie dankbaar vir my 10-jarige.  Hy is net oud en net jonk genoeg!

ICS Oriënteringsdag

Zander se graad-5 klas

Zander is in een van drie graad-5 klasse, by Mrs. Hill van Britse afkoms.  Hulle is sestien kinders in die klas, waarvan vyf nuwelinge is.  Die hele skool is daarop ingestel en ingerig om hierdie strome nuwe kinders wat aanland en bestaande leerders wat groet en weer wegtrek te hanteer. 

Ek kon dadelik agterkom dat die skool heelwat prosesse in plek het om die leerders en die ouers te help die verandering hanteer en inskakel.  ʼn Groot groep mense is van Britse of Amerikaanse afkoms, maar baie van hulle het nou pas van ʼn ander land soos Singapoer of Dubai verhuis waar hulle ook net drie of vier jaar gewoon het.

Onderwysers verwelkom leerders voor skool

ICS Parent Association

Die skool het ʼn baie aktiewe ouervereniging en een van hulle hoofdoelwitte is om die nuwe families te help integreer.  Daar word veral op die mammas gefokus, want pappa gaan werk toe en het so baie aanpassing om te doen dat hy maar min tuis is.  Boetie en sussie gaan skool toe en fokus in die middae op sosialisering met hulle nuwe vriende. Na duisende bokse eers in en na die trek weer uitpak is en almal se verlore goed gevind is, bereik die mammas ʼn punt waar die gesinslede hulle goed en roetine het en die mammas hulself dan afvra: “Wat nou?”

Inter-Community School Zurich

Dit is dan wat enige mamma wat graag ʼn voorsitter van ʼn klub wil wees, een stig by ICS en ouers nooi om deel van die klub te wees.  Die wat net deel wil wees om te sien hoe alles werk, skryf dadelik hulle naam op ʼn Google Form lys om iewers in te skakel en mense te leer ken.  Daar is hope klubs.  Vir diegene wat aktief wil wees, is daar tennis, stap, ski, hardloop, joga en vir die wat sosiaal wil wees, is daar sing, borrels, boekklub ens.

Eerste nuwe vriend

Aan die einde van die eerste skooldag het ek met groot afwagting vir Zander net buite die skool gewag om al die eerste-skooldag stories te hoor.  Sy eerste woorde was: “Hallo Ma, is dit reg as ek en my nuwe vriend vanmiddag met ons fietse na Badi Juch (die dorp se swembad) gaan?” Wat kan ‘n ma nou sê, want mens moet besluit waarvoor jy nou eintlik wens. 

Ek het die vriend wat net so lank soos Zander is en ook pas 11 geword het met sy erg Amerikaanse uitrusting, skaatsplank en aksent net so gekyk en met ʼn oop gemoed gehoop en bid vir die beste.  Hy het ʼn paar punte by my gewen toe hy na die swem op die ooreengekome tyd eers saam met Zander huis toe kom en verduidelik dat hy ongelukkig nie kan inkom nie aangesien sy ma kook en hom verwag vir ete.  Ek het intussen Nate se ma, Ellen, ook ontmoet en het haar sommer volgende week vir koffie genooi.

Zander en Nate

My bokse is almal uitgepak, en ek is opgewonde om te sien wat die klubs behels. Ek het ingeskryf vir die Tennis en “Community Impact” klub. Ek het al twaalf jaar laas tennis gespeel en hoop ek maak nie my naam krater nie.

Groete

Emsia

Ons skip met ons aardse besittings het gekom!

Ons skip met ons aardse besittings het gekom!

Ons beker van vreugde en verligting het oorgeloop toe ons krat met ons paar aardse besittings na 53 dae in Zumikon aangekom het. Die reuse krat is per vragmotor van Welgemoed na die Kaapse hawe, per vragskip na Port Elizabeth voor dit uiteindelik by Rotterdam in Nederland aangekom het.  Daarna het dit op ʼn plat boot stroom-op in die Rynrivier gevaar vir 1 200 kilometer tot by Basel in Switserland waar dit deur doeane is en daarna per vragmotor tot voor ons blyplek.  Ek het nuwe respek vir logistieke beplanning!

Ons kan weer fietsry

Drie weke se kamp in ʼn leë woonstel

Ons was meer verheug oor die bekendheid as die gerief van ons goed. Die drie weke se kamp in ʼn leë woonstel het bewys dat ons eintlik met baie min goed oor die weg kan kom.  Kinders se vernislagies is mos heelwat dunner as volwassenes sin en  Zander se reaksie was aandoenlik.  Sy blydskap was sonder grense by die aanskoue van ons goed.  Die aand toe hy so ʼn bietjie saam met ons in ons bed lê, sê hy: “Sjoe Mamma, die komberse ruik lekker.  Dit ruik na julle, na jou en Pappa.” Dit het dit eintlik opgesom.

Ons trek in

Ons oorleef met ons staalpakkies

Baie dinge is vir ons anders en vreemd.  In die oggend trek mens jou staalpakkie aan, sit jou glimlag op en kyk die drake in die oë.  In die aand voel mens tevrede, want jy voel jy het ʼn paar nuwe dinge geleer en nuwe terreine verken. As jy egter tuis kom, soek jy ʼn veilige hawe en dan is jou eie goed en jou eie mense kosbaar, bekende skaafplekke, krapmerke en al.  In jou veilige hawe kan jy jou wonde lek. Hier kan jy so bietjie vir jouself en mekaar lag oor die dag se flopse en frustrasies.

Ons woonstel

Ons woon in ‘n plattelandse omgewing

Ons geniet ons nuwe tuiste.  Dit is nuut en lekker lig en in ʼn plattelandse omgewing tussen boerdery bedrywighede.  Dit is ongelukkig vêr van Charl se werk af en dit neem hom ongeveer een uur om met ʼn bus, trein en tram by die werk te kom. Zander is so vyftien minute met die trein weg van sy skool af. 

Al die toebehore in die blyplek is nuut en dit het my ʼn ruk geneem met die hulp van my Clicks-brille en die Google vertaler te bepaal hoe die magnetiese induksie-stoof, die hoogs tegnologiese oond wat ook ʼn stoomfunksie het en die wasmasjien en tuimeldroeër, met Duitse aanwysings, werk.

Temperatuur regulering

Aan die begin was dit vir ons vreemd om soos almal hier ons skoene by die deur uit te trek as ons inkom.  Die hele huis het blindings, maar dit sit aan die buitekant van die huis.  As dit baie warm raak, is toe blindings die enigste manier om die plek koel hou.  Ons lees op Google daar is blykbaar ʼn verbod op lugverkoeling in terme van die EU F-gas regulasie om die osoonlaag te beskerm.  Volgens Charl kan jy enige iets behalwe jouself op Google vind!

Die woud naby aan ons huis en Zander by Zurich meer

Herwinning

Herwinning is ook op ʼn ander vlak.  Die hele Switserland is vol herwinningspunte met ʼn drom vir elke soort materiaal insluitend aluminium, plastiek, verskillende kleure glas, PET plastiek, karton, komposmateriaal tot selfs ʼn yskas vir afgestorwe troeteldiere.  Ons herwinningspunt is naby aan Zander se skool en ons is al fiks gestap soontoe met ons hope kartonne waarin ons nuwe kaste, wat ons self moes bou, verpak was. 

Die enigste goed wat jy in jou vullisdrom tuis mag gooi, is goed soos vuil verpakkingsmateriaal en dit moet in ʼn spesiale sak gaan waarvoor jy ʼn plakker teen R25 ʼn sak by die munisipaliteit moet gaan koop om jou aan te moedig om so veel as moontlik te herwin.

Gesondheidsbewustheid

Die Switsers is baie gesondheidsbewus.  Kitskoswinkels is skaars.  Ek verstom my as die mammas vir die kleuters wortel- en komkommerstokkies uithaal as peuselkos en die kleuters dit met genot eet asof dit ʼn draairoomys is.  Oral sien jy mense draf of fietsry en ek het nog glad nie vet Switsers gesien nie.  As iemand effe dik in die boud is, weet jy sommer dit is ʼn toeris.  Ons werk ook nog aan ons eie boude wat nou effe dik geword het van al die roomyse en tjoklits wat moet help vir die wonde wat die vreemde drake ons toedien!

Omgewing om ons huis

Sondae

Sondag is ʼn propperse sewende rusdag soos wat dit bedoel was. Alle winkels is gesluit en die mense spandeer die dag met hulle gesinne in die buitelug.  Hulle stap graag in een van die baie woude of staproetes langs die meer.  Selfs die ou kleintjies ry saam met mamma of pappa op ʼn fiets of ry in hulle stootkarretjies met wortelstokkies in die een en ʼn bottel water in die ander hand. 

Ek geniet die mooi klanke van die kerkklokke wat mens oral hoor. Alle belangrike Christelike dae is publieke vakansie dae, selfs Hemelvaart en die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is. Vrouedag op 9 Augustus was snaaks genoeg nie ʼn vakansiedag nie.  Ek verstaan die stryd om gelyke regte vir vroue word hier in Switserland nog hard gestry.

Volgende week begin die skole en Maandag word toegewy aan alle nuwelinge en hulle ouers.  Ons sal ons staalpakkies aantrek, ons glimlagte opsit en in my volgende brief vertel hoe dit gegaan het.

Groete

Emsia

Zürich deur die vliegtuig se venster

Zürich deur die vliegtuig se venster

Op 17 Julie 2019 het ek en Zander vir die eerste maal voete op Switserse grond neergesit. My eerste prentjie van ons nuwe tuiste deur die vliegtuig se venster, was die volmaan wat die nuwe dag groet in die pers-oranje skynsel van dagbreek oor die wit pieke van die Alpe. Soos wat ons die landingsvlak nader het ek opgelet hoe presies alles in rye is en hoe elke liewe stukkie aarde nuttig en netjies benut word.  My OCD was verheug, maar ek het tog gewonder: “Is ek gereed vir hierdie uitdaging?”

My eerste blik op Zürich

In die aankomssaal het Charl soos my rots daar gestaan.  Dit was so lekker om hom te sien.  Hy het amper moeër as ek en Zander gelyk van bekommer oor ons.  Ons is saam hom na sy tydelike blyplek toe.  My moeë brein kon nie al sy verduidelikings van hoe alles werk inneem nie en ek moes maar na ʼn bietjie slaap die basiese dinge self uitpluis.

Ons eerste winkel uitstappe

My en Zander se eerste uitstappie was na die plaaslike supermark, Coop, toe.  As gevolg van beperkte spasie en die feit dat jy jou aankope moet dra, gaan die mense elke dag winkel toe en koop net vir daardie dag.  Ek het gou besef my beproefde pakstoor-konsep gaan nie hier werk nie.  Sekere  soorte vrugte en groente is onbekend aan my, maar al die rooi vrugte soos bessies en kersies maak my opgewonde. 

Die reuk van daaglikse vars gebakte brode hang in die lug en die verskeidenheid soorte kase verstom my. Vleisopsies is beperk en onbekostigbaar duur. Maalvleis is tot drie maal duurder en ander snitte tot ses maal duurder as in Suid Afrika. Coop het gelukkig Prix handelsmerk produkte wat redelik bekostigbaar is, selfs in ons terme.  Zander was verheug oor sy ontdekking van Prix roomys.  Volgens Zander kan hy sien hoe ons twee nou “Bargain Hunters” gaan word.

Ons eerste inkopie uitstappie na Coop

Treine, trams en busse

Ons tweede uitdaging was om ons pad te vind tussen al die treine, trams en busse.  Ons getroue vriend Google Maps doen gelukkig steeds sy ding.  Dit wys presies watter vorm van vervoer op ‘n gegewe tyd van watter plek af vertrek.  Die bene moet ook nou ‘n groter bydrae lewer tussen al die loop, trappe klim en soms hardloop as ons bietjie laat is. 

Opstaan uit die bed is baie meer pynlik as voorheen, maar ek hoop dit werp vrugte af op die voorkoms. Aangesien plaaslike data nodig is vir Google Maps, moes ons vinnig plaaslike selfoonkontrakte kry.  Zander doen meeste van ons roete navorsing en volgens hom is hy my “Trip Advisor”. 

Ons plaaslike S18 voorstedelike trein

Ek het vir Zander al ʼn paar maal winkel toe gestuur met ʼn lysie.  Dit is ʼn paar treinstasies weg en hy het baie trots reggekom.  Die groter algemene veiligheid het ʼn positiewe impak op ons stresvlakke en gee my die gemaklikheid om vir Zander groter verantwoordelikheid te gee. Die tieners loop redelik laat in die aand nog rond besig op hulle selfone.

Taal is ‘n uitdaging

Taal is vir ons ʼn groot uitdaging en ons al drie besef ons sal so gou as moontlik Duits moet leer praat as ons wil oorleef. Google Translate word sommer gereeld ingespan. Baie mense kan darem ‘n klein bietjie Engels praat en is redelik vriendelik en behulpsaam.  Tussen grüezi (hallo), danke schön (baie dankie) en tschuss (totsiens), lyk ons darem of ons ʼn poging aanwend met die Duitse taal. As ek in die winkels regtig sukkel gooi ek sommer Afrikaans met net baie sch- en gh- klanke in. Met ʼn klein bietjie geluk werk dit soms.

Ons nuwe blyplek (Ankenbüel) in ‘n landelike omgewing

Blyplek, soos alles anders hier, is ongelooflik duur.  Ons was dankbaar om te hoor dat ons, ons nuwe woonstel se sleutel ʼn week voor Julie se maandeinde kon kry.  Die nuus dat ons skip eers 9 Augustus kom was minder goed. As Suid-Afrikaners is ons gelukkig gemaklik met kamp. Met alles op die skip, was ons genoodsaak om ʼn ketel, matrasse en die nodigste eetgerei aan te skaf om vir drie weke oor die weg te kom. In Switserland kom die blyplekke ook sonder ligte en ingeboude kaste.

Ons IKEA bouprojekte

Ikea

Ons was genoodsaak om ons beperkte begrip van IKEA se prosesse uit te brei.  Met een stappie deur IKEA se uitstalruimte bereik mens sommer maklik jou 10 000 treetjies doelwit vir die dag. Tydens die proses skryf jy die meubels of huishoudelike items wat jy wil koop se nommers neer, gaan jy na ʼn stoorruimte en haal al die items van ʼn rak af in ʼn trollie en betaal daarvoor. 

Daar is spesifieke rekenaars op die vloer om groot meubels, soos ingeboude kaste, se uitleg en voorkoms aanlyn te ontwerp.  As die ontwerp gefinaliseer is druk ʼn personeellid ʼn faktuur vir al die planke en skroewe.  Ons moes die meubels self soos reuse Lego-stelle van ʼn plan af bou.  Charl het gelukkig baie vaardigheid op die terrein. My leerkurwe is steil.

Behalwe vir die feit dat ons vreeslik na ons hartsmense by die huis en Zander na sy hartskos in die vorm van Woolworths hamburgers verlang, gaan dit goed met ons en is ons tevrede met ons vordering ten opsigte van die verkenning van ons nuwe tuiste die afgelope twee weke.

Groete

Emsia

Uitdagings en wonderwerke tydens ons uittog

Uitdagings en wonderwerke tydens ons uittog

Met die trek van die Israeliete uit Egipte deur die woestyn vir veertig jaar, het die Liewe Vader geweet Hy sal hulle met ʼn groot plan moet lei anders sal hulle nooit in die beloofde land uitkom nie.  Ten einde hulle na aan Hom te hou, te laat saamstaan en help vorentoe beweeg, het Sy plan baie uitdagings en wonderwerke ingesluit.

Sedert ons Welgemoed verlaat het, het ons ook baie uitdagings, wonderwerke en engele op ons pad beleef.  Na ons uittrek uit Welgemoed, is ons vir ʼn paar dae see toe vir ʼn bietjie saamwees voor Charl weer terug Zürich toe vlieg en ek en Zander in die pad val om bietjie-vir-bietjie ons hartsmense en hartsplekke te groet.

BMW met pap wiel tussen Prieska en Griekwastad

BMW hou nie van grondpad nie!

Op pad na Kathu konsulteer ek Google Maps oor die paaie in die Noord-Kaap en vat ʼn kortpad, min wetend dis ʼn grondpad.  Die BMW hou nie van grondpad nie.  Laat Sondagoggend op ʼn klipperige pad sonder selfoonsein tussen Prieska en Griekwastad, bars die BMW se band!  

Ons is gestrand, want BMW het “run flat tyres” en geen spaarwiel nie. Net toe my paniekaanval die oorhand wou kry, verskyn daar ʼn groot trekker met 3 werkers op, soos engele uit die hemel.  Ek klim met my rekenaar, handsak en paspoorte op die trekker se een wiel en Zander op die ander.  By die plaashuis help die boer my met die plaastelefoon om ʼn nuwe band uit Prieska te bestel en ek kon my familie inlig oor ons penarie.

Swaer Andre laat weet die pad is te sleg om verder te ry.  Hy reël met ʼn boer in die Griekwastad omgewing om ons en die BMW met sy plat sleepwa te kom haal voor dit nag word.  Genadiglik kon ons daardie aand ons moeë koppe neerlê op sagte kussings in ʼn gastehuis in Griekwastad.  Al wat ek kon prewel voor ek my oë stadig toemaak was: “Dankie Vader vir al die Noord-Kaap engele wat met soveel liefde en omgee tot ons redding gekom het op hulle kosbare Sondag!”

Ons familie kuier vir oulaas op die plaas

My Kalahari kuier was soos ‘n oase in die woestyn

Die kuier by my ma in Kathu en Ansa en Andre op die plaas was soos ʼn lower groen oase met lieflike palmbome in ʼn woestyn na weke se bokse pak en grondpad ervaring.  Ons bekers het oorgeloop van liefde, omgee en bederf en niks kon ons pla nie.  Ek is so dankbaar dat Christo en Michaela ook saam kon kom kuier.  So tussen die groot ou kameeldoringbome en die goud-oranje sonsondergange het ons heerlik gekuier, geëet, gelag en die saamwees geniet.  Die groet en wegry was baie seer.

Ek, my ma en my sus, Ansa.

Pretoria vir visas optel

Na konsultasie oor die veiligste pad na Pretoria vir visas optel, is ek deur ʼn skoolvriendin bygevoeg op ʼn paar ry-veilig WhatsApp groepies. Hulle het twee kere ongelooflik tot ons redding gekom toe ons onluste op ons beplande roetes kon vermy.  Die visa-aansoeke was ʼn groot klip wat potensieel die Switserse appelkar kon omgooi, maar genadiglik het alles daar met Switserse presisie seepglad verloop.

Kuier saam met Jacques en Candice in Parys

Na die visas het ons vir Jacques en niggie Candice in Potchefstroom opgetel en ʼn heerlike saamweestyd in Parys langs die kabbelende waters van die Vaalrivier gehad.  Jacques het ons bederf met smaaklike etes wat hy voorberei het.  As oud Kovsie het die hele Vrystaat-landskap sommer ook wonderlike herinneringe van wonderlike studentedae teruggebring.

Jacques, Zander en Candice in Parys in die Vrystaat

Oupa en Ouma Kruger in Limpopo

Jacques is saam met ons om vir Oupa en Ouma Kruger in Limpopo te groet.  Nadat ons van Jacques afskeid geneem het, is ons na nefie Justin in Sandton. Hy het vir my en Zander die liggies van Sandton gaan wys en gehelp dat ons veilig op die Gautrein kom vir ons laaste rit OR Tambo lughawe toe.

Ons dag van vertrek het aangebreek.  Al die uitdagings en wonderlike oomblikke dra ek soos juwele in my hart en het net gebid dat ons na die lang reis darem in Zürich sal uitkom.  My vrees was dat ek soos Moses nooit die beloofde land sal sien nie.  Ek het so baie drome van hoe ek met my hartsmense daar wil kuier, spesiale oomblikke beleef en herinneringe bou.

Ek is uiters dankbaar vir my reismaatjie, wat al die dinge saam met my beleef het.  Hy ken sy Ma so goed en het met soveel liefde en humor ongelooflike ondersteuning gebied.

Groete

Emsia