Covid-19 vryheid met verantwoordelikheid

Covid-19 vryheid met verantwoordelikheid

30 April 2020

Soos wat die Covid hekke aan die buitekant oopgaan voel dit of die kleure aan die binnekant ook verhelder. Ek raak opgewonde oor dinge en voorregte wat ek voorheen bloot as van selfsprekend aanvaar het. Vryheid beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Dit waarna elkeen van ons die meeste smag, is uniek aan elkeen van ons as individue. Met baie reëls wêreldwyd in plek kan ons steeds nog nie alles doen wat volkome vryheid ons sou toelaat, soos om Suid Afrika toe te vlieg, nie. Ons gaan egter elke geleentheid aangryp met die beperkte vryheid wat ons wel het.

Irisse in Belvoir park

Toe my Covid-hok se deurtjie wat oopmaak, was my eerste uitstappie na ʼn park waar verskillende soorte blomme en bloeisels ʼn skouspel vorm gedurende verskillende tye in die lenteseisoen. Mei-maand is dit die Irisse se beurt en ek wou nog die laaste daarvan sien. Die groen grasperke en verskeidenheid Irisse in Belvoir park was pragtig, maar die mooiste van alles was die ruimte.

Zürich meer

Zander se grootste wens is om in water te wees. Ons mis die see baie.  Ons mis die wit skuim branders op die blou en soms groen water, die soutreuk wat in die lug hang en dan natuurlik die verfrissende gevoel van koue water wat jou lyf spoel. Ons naaste water is nou die Zürich-meer wat ironies genoeg “Zürich See” in Duits genoem word. Die meer se water is nog baie koud, maar ek kon sien aan die glimlag op Zander se gesig, elke ysige druppel was die moeite werd. Op pad terug het ons vir hom ʼn lekker “cookie-dough” roomys gekoop, want swem en roomys is mos gelyk aan vakansie-gevoel.

Luzern

Charl se grootste wens is om vir ʼn rukkie iewers anders sonder verantwoordelikhede te wees.  Ons het op die eerste trein na Luzern geklim. Luzern is ʼn tipiese toeriste stad en gewoonlik gepak met Chinese toeriste gewapen met hulle kameras. Wat ʼn vreemde gesig om niemand langs die meer te sien nie! Die uitsondering was een gemaskerde verdwaalde siel met haar hele lyf en rugsak bedek met plastiek. Gelukkig was die Chapel Bridge oor die Reussrivier net so pragtig soos altyd, dalk nog mooier sonder al die toeriste.

Na ʼn eerste jaar van verandering en aanpassing het ons opgewonde uitgesien na ons eerste Europese somervakansie. Tipies Goosen-styl het ons  ʼn komplekse vakansie geboek met baie kaartjies en booking.com transaksies. Al was die skrif aan die muur gesien, was dit nog steeds ʼn ontnugtering toe die bootkansellasie tussen Denemarke en Rusland en die vlugkansellasies een vir een deurkom. Die staat se aanbeveling is dat inwoners hulle somervakansie in Switserland deurbring.

In Switserland is die aanbeveling dat ons moet probeer leef ten spyte van Covid-19 en sonder paniek. Dit is ʼn uitdaging om moraal hoog te hou en gees te skep in enige land met so baie sosiale afstand reëls. Ons het die naweek aan ‘n nasionale pretdraf deelgeneem as gees-bou aktiwiteit.

Mense moes oor die naweek 10 km aflê op hulle eie tyd en roete en dit dan registreer op ʼn webtuiste. Ons het die 10 km in die woud hier naby aan ons afgelê. Om my eie moraal hoog te hou het ek my eerste plantjies in Switserland geplant in twee potte wat ek saamgebring het. Die bloupers Laventel en bloedrooi Malva laat my na my lieflike tuin in Welgemoed verlang.

Groete

Emsia

Comments are closed.