Browsed by
Author: emsia.kruger

Vier die lewe se spesiale oomblikke

Vier die lewe se spesiale oomblikke

“Ons is verloof!” lees die WhatsApp-boodskap vroeg op ‘n Sondagoggend. Hierdie boodskap het ons met vreugde en opgewondenheid gevul aangesien ons Candice soos ‘n kind liefhet. Haar lewenspad was vol uitdagings, maar haar veerkragtigheid en positiwiteit het nog altyd as inspirasie gedien. Ons wou deel wees van hierdie vreugdevolle huweliksviering.

Ons het vriendskap en ‘n 21ste verjaarsdag gevier

Die troudatum van 5 Maart het die geleentheid geskep om ander spesiale oomblikke in Suid-Afrika te vier. Ons het die Switserse skool se ski-vakansie benut en sneeu vir die son verruil. Tydens ons tyd in die Wes-Kaap het ons vriendskappe en Christo se spesiale 21ste verjaardag in my geliefde Stellenbosch gevier.

Ons het kindertyd herinneringe in die Kalahari gevier

Dit was ‘n groot voorreg om tyd saam met my ma en suster in ons kinderhuis te spandeer. In Kathu het ons plekke besoek waar herinneringe ontstaan het en die impak van tyd op die dorp bespreek. Net so kon ek saam met ou skoolmaats wat nog in Kathu bly lag oor hoe tyd ons beïnvloed het.

‘n Spesiale plek is die gholfbaan met sy pragtige groot doringbome. Toe die bemarkingsbestuurder hoor ons is van Switserland, het hy vir ons gholfkarretjies aangebied om op die gholfbaan rond te ry.

Ons het die nuuskierige meerkatte en springbokke, wat hierdie lieflike plek hul tuiste gemaak het, geniet. Ons het my ma se verjaardag met ‘n groot stuk koek by die Kalahari Country Club se restaurant gevier.

Tristan en Candice

Ons het Tristan tydens hul besoek in Desember 2019 ontmoet.  Hulle was opgewonde oor die geleentheid om in Thailand skool te gee. Covid-19 het egter hul planne beïnvloed en baie uitdagings en verliese geskep. Die grootste hiervan is die verlies van Justin, Candice se geliefde broer, wat op 25-jarige die ouderdom gesterf het.

Tydens die Covid-19-inperking het Tristan en Candice by Tristan se ouers gebly en ook tyd by sy grootouers in Leeuppoort deurgebring. Tristan en Candice het baie stories oor die familie en die vriende in hul lewens gedeel.

Hierdie vriende wat hulle in hul donkerste tye ondersteun het, het opgewonde bymekaargekom om hul troue saam met hulle te vier. Om al die spesiale mense te ontmoet het bevestig hoe ons Hemelse Vader die regte mense oor ons pad stuur om ons op verskillende maniere lief te hê, te ondersteun en te versorg.

Die huwelik was ‘n vreugdesviering

Hulle troue was in Leeupoort, ʼn vakansiedorp in die Bosveld.  Die rustigheid in die wildreservaat waar sebras en vlakvarkies tussen die huise en chalets wei, was sielskos vir almal.

Zander het die week voor die troue sy skool in Zürich aanlyn bygewoon. Zander het ná sy wiskundesessie gevra of hy vir die onderwyser die sebras en vlakvarke agter hom op die skerm kan wys. “Sjoe, dit is wild!” was die verbaasde onderwyser se reaksie.

Die troue was ‘n fees van vreugde onder die groot doringbome waarin die voëls gesing het. ‘n Paar njala-bokke het nuuskierig nader gestaan om Tristan en Candice se huweliksbeloftes aan mekaar te aanskou.

Ons moet die lewe se spesiale oomblikke vier

Ek het tyd gehad vir besinning tydens die terugvlug. Die troue en verskeie vieringe het my daaraan herinner dat ons tyd moet neem om dit wat goed is in ons lewens te vier. Die volgende woorde van Khalil Gibran het by my opgekom:

Groete

Emsia

My katalisator vir groei word 21

My katalisator vir groei word 21

Die Here het my 21 jaar gelede geseën met my Christo-kind as katalisator vir persoonlike groei. Hy is gebore met baie passie, intelligensie en kreatiwiteit. Ons het hom van kleins af man-met-‘n-plan genoem omdat daar nog nooit ‘n tekort aan planne by hom was nie. As ekstrovert was daar altyd ‘n gehoor of spanlede by sy planne betrokke.

Pre-primêr

Na slegs ‘n paar maande in pre-primêre skool het sy onderwyseres ‘n vergadering met ons as ouers versoek. Sy het verduidelik dat daar ‘n groot vlam in hom brand. Sy het ook benadruk dat ons as ouers ‘n groot verantwoordelikheid het om te verseker dat Christo se vlam in die regte rigting brand.

As ek hom na werk by Pre-primêr gaan oplaai het, het hy gewoonlik gevra of ek ʼn bietjie later kan terugkom, want hy speel nog.  Hy en sy maats was altyd besig met ʼn projek op die speelgrond.

As vyfjarige het hy ‘n stalletjie buite die skool opgeslaan om sy kunswerke te verkoop. Sommige mammas het hom uit die goedheid van hul harte ondersteun. Die skool het my egter ingelig oor sy besigheidsaktiwiteite en dat dit teen die skoolreëls was.

Laerskool

Gedurende Christo se laerskooljare, het ek en Mnr Lee, verantwoordelik vir die skooldissipline, mekaar goed leer ken. Ek onthou sy eerste oproep na ‘n speletjiesdag by die skool so goed. Christo het gewonder wat sou gebeur as hy verfballe wat hy in die speelarea gekry het, in die uitlaatpyp van die motor van ’n jong onderwyser sit. Die onderwyser was woedend toe ‘n nuusdraer hom inlig oor die Christo se plan.

Ons het ooreengekom dat ek na skool agter die onderwyser sou aanry na die uitlaatstelsel winkel toe ten einde vir al die skade te vergoed.  Christo se eerste woorde toe hy langs my in die motor klim was:

“Ma, wag asseblief net tot hy sy motor aanskakel.  Ek wil so graag sien wat gaan gebeur!”

Gelukkig het die werktuigkundige almal gerus gestel dat daar nie skade is nie.

Dit was egter nie die enigste oproep van Mnr Lee nie. Ek het hartkloppings gekry as ek sien dat Mnr Lee my probeer bel. Christo was gelukkig goed in Wiskunde, en hy en Mnr Lee het ‘n spesiale verhouding gehad.

Hoërskool

Christo se beste manier van leer is om feite aan ander te verduidelik. Hy het sy geskiedenis of biologie aan my verduidelik op pad skool toe. Dit het bygedra tot my vermaak en algemene kennis.

Hy het Zander vermaak met wetenskaplike eksperimente op die tuintafel. Ek was bang vir `ʼn ontploffing. Buite sy kamer het hy Cannabis-plante gekweek en brandewyn met gefermenteerde vrugte probeer distilleer. Langs sy rekenaar was ‘n Rasberry Pie met ‘n blou lig wat flikker. Ek het my afstand gehou vêr weg van al die kabels.

Sy motorfiets het baie vryheid gebied. Ek het egter baie tyd in gebed vir sy veiligheid spandeer. Gedurende sy laaste skooljaar, net voor ons Switserland toe verhuis het, het ek en hy ooreengekom dat ek hom weer skool toe sal ry en ons in die motor kan gesels en na sy musiek luister. Ons het ook een keer per week ‘n koffie-afspraak gehad. Sy openheid en eerlikheid oor al die gebeure in sy lewe het my perspektief en begrip van baie onderwerpe verbreed.

Universiteit

Ons is Switserland toe net voor sy laaste skooleksamen. Baie mense het hom gehelp en ondersteun, maar sy afhanklikheid van sy vermoë om te beplan was deurslaggewend. Hy moes die universiteitslewe onafhanklik aanpak en het deur Covid-beperkings gesukkel.

Nou is hy al ʼn derdejaar ingenieurs student en op sy koshuis se huiskomitee, verantwoordelik vir tegnologie en gees.  Hy het ook ʼn HelsHealth applikasie vir die koshuis ontwikkel om Covid-19 in hulle Helshoogte koshuis te monitor.

Ek is baie trots op hom en dankbaar vir sy persoonlike groei ten spyte van die toename in my grys hare. As gevolg van hom het my kennis toegeneem en ek het geleer om vanuit verskillende perspektiewe na situasies te kyk. My kinders het baie bygedra tot my groei.

Ek hoop die Here seën hom ook met klein seuntjies vol passie en planne, want hy gaan ‘n uitstekende pappa wees.

Groete

Emsia

Ons almal is ambassadeurs van iets

Ons almal is ambassadeurs van iets

Zander het vroeg wakker geword en was opgewonde om skool toe te gaan. Hy moes ’n nuwe leerder van Korea by die skool ontmoet, verduidelik hoe alles werk en hom help om sy pad te vind.

“Sjoe Ma, ek onthou hoe uitgefreak ek was op my eerste dag by die nuwe skool.  Ek kan net dink hoe gestres hy moet wees.  Ek hoop ons kan mekaar se Engels verstaan.” 

ICS  Studente Ambassadeurs

Die gesinne by Zander se skool woon gemiddeld 3 tot 5 jaar in Zürich. Gevolglik is daar dikwels mense wat kom en gaan. ’n Nuwe begin in ’n nuwe land met ’n vreemde taal is oorweldigend omdat alles vreemd en anders voel. Buitelanders word boonop genoodsaak om baie leefstyl veranderinge te maak. Dit help as iemand wat deur die situasie is, geduldig verduidelik hoe alles werk en jou help om jou voete te vind.

Die Inter Community School (ICS) skool verstaan die omvang van die aanpassing wat nodig is en het gevolglik die konsep van Studente Ambassadeurs. Voordat die nuwe leerders aankom, moet die Studente-ambassadeurs die leerders en hul ouers per e-pos kontak. Zander is een van die vele ICS Zürich Studente Ambassadeurs.

Zander geniet die rol baie en is opgewonde oor elke nuwe leerder. Hy het reeds nuwe leerders van die VSA, VK en Korea verwelkom.

Ambassadeurs van ons land

Ons vorm eerste indrukke oor ‘n persoon en die plek wat hulle verteenwoordig wanneer ons hulle ontmoet. Elke persoon tree op as ‘n ambassadeur van sy land en herkoms. Ons geniet dit om na die buiteland te reis, en die mense met wie ons interaksie gehad het, het my opinies oor plekke gevorm en tot my herinneringe bygedra.

Brasilië

Ons het die kus van Brasilië verken tydens ‘n bootvakansie. Die skip het vir ‘n paar uur by ‘n kusdorp vasgemeer, en ons wou ‘n strand besoek. Ons het Uber-vervoer gebruik en gehoop dat die tegnologie platform taalkwessies sou oorkom. Die Uber-bestuurder het sy Google vertalings applikasie gebruik om sy Portugees in Engels te vertaal en ons oortuig om na ‘n strand net buite die dorp te gaan wat ‘n gunsteling onder die plaaslike inwoners is.

Ons het besluit om die risiko te waag, maar het meer senuweeagtig geword soos wat hy verder van die boot af gery het. ’n Paar kilometer buite die dorp het hy tot ons verligting by die mooiste strand stilgehou en aangebied om vir ons te wag. Hy het gesellig gekuier met sy vriende, die eienaars van ’n strand restaurant, terwyl ons in die warm tropiese waters geswem het.

Op pad terug het hy toergids gespeel en vir ons geskiedkundige geboue gewys terwyl hy ons van die dorp se geskiedenis vertel het. Hy was ‘n voorbeeld van iemand wat vreugde en doel in sy werk vind en ‘n uitstekende ambassadeur vir sy dorp en land.

Italië

Met ‘n besoek aan die Lombardy-wyndistrik in Italië het ‘n beplanningsglipsie vir ons ‘n paar uitdagings besorg. Ons het vergeet om ons internasionale bestuurslisensie te hernu en was gevolglik van openbare vervoer afhanklik. Ons verblyf was hoog op teen ‘n berg en dit het dit moeilik gemaak om by die winkels en treinstasie in die vallei uit te kom.

Met ons aankoms het die bestuurder van die Wine Hotel in Sondrio ons by die treinstasie opgelaai. Daarna het hulle ons elke oggend met vervoerplanne gehelp. Hulle het vir ons elektriese fietse geleen en verskillende mense gevra om ons as deel van hul rit dorp toe te neem. Selfs die ma van die meisie wat haar toerisme-internskap by die hotel voltooi het, het ‘n beurt gehad. Ons wil met ons motor terugkeer en weereens dankie sê vir hul gasvryheid.

Malawi

Baie mense wat van ander Afrika-lande kom, werk in Suid-Afrika. Ons eerste tuinier was van Malawi en hy het ‘n ongelooflike positiewe indruk op ons gemaak. Na hom het ons vir Samuel aangestel, ook van Malawi. Ek en Samuel het baie goed oor die weg gekom. Hy het my vertel van sy land en sy mense en ons het steeds kontak. As gevolg van hom en sy voorganger glo ek dat mense van Malawi vriendelik, hardwerkend en eerlik is. Ek glo dit is ‘n pragtige land, al was ek nog nooit daar nie! ’n Besoek aan Malawi is op my reis wenslys.

Ons is almal ambassadeurs

Ons is almal ambassadeurs van lande, streke en organisasies. Ons dade spreek baie harder as woorde en beïnvloed mense se indrukke, opinies en ervarings. In hierdie rol laat ons soms onwetend blywende herinneringe by ander.

Groete

Emsia

Ek kyk na Suid Afrika met nuwe oë

Ek kyk na Suid Afrika met nuwe oë

Soos wat die vliegtuig besig was om te land, het ek Tafelberg aan die een kant en groen wingerde aan die ander kant gesien. Ons was tuis. Ek het die somerson op my vel geniet. Ek het agter my masker oor die grappies in Afrikaans gelag soos almal die nodige Covid papierwerk in hulle rugsakke probeer vind.

My Doane ervaring

My hart het in my keel geklop toe die Doeanebeampte na my en Zander roep. Ons sakke was vol geskenke wat ek die afgelope 30 maande versamel het as ‘n teenmiddel vir verlange. Die man het ons paspoorte geneem en ‘n vorm ingevul. “Keer jy terug huis toe vir Kersfees, Mevrou?” vra hy in sy Xhosa-aksent. Ek het geknik en genoem dat my seuns in die aankomssaal vir ons wag.

Hy het klaargemaak en my in die oë gekyk. Die man het my terug in Suid-Afrika verwelkom en die mees opregte seëninge oor ons besoek en samesyn in Afrikaans uitgespreek. Hy het ons laat gaan. Hierdie onverwagse deernis het ‘n kraak in my emosionele damwal veroorsaak.

Hierdie damwal het uiteindelik gebreek toe ek my seuns se jong manslywe styf teen my kon vasdruk. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd was woorde wat my reddingstou geword het, onnodig.

Groen landskappe

In die motor het ek my verwonder aan die groen omgewing. Ons het na Switserland verhuis tydens ʼn langdurige droogte wat die landskappe en gemoedere in Suid Afrika kleurloos gelaat het.  Suid Afrika het die afgelope tyd baie reën ontvang wat die riviere en damme laat oorloop het. Die reuk van nat grond en hope wild in die veld tydens ons Kersfees-kuier by Ansa-hulle op die plaas, was ʼn groot seën. Die dreuning en sproei van die massas water by die Augrabies watervalle was ʼn unieke ervaring.

Covid impak

Covid het sy stempel op my land en sy mense gelaat. Op ons vlug na SA het ek baie jongmense en gesinne met klein kinders opgemerk. Die meeste grootouers het nog nooit hierdie kleintjies gesien nie. Die impak van isolasie en onsekerheid op veral ouer mense het my hartseer gemaak.

Tog het ek ‘n groter begrip en deernis tussen verskillende generasies en kulture waargeneem. Christo het my waarnemings bevestig. Hy is lid van Helshoogte koshuis se Huiskomitee, en hulle werk voortdurend hul koshuisvisie en -missie by om kulturele, godsdienstige en seksuele verskille en voorkeure te akkommodeer. Hulle maak mekaar bewus en debatteer hoe samewerking in ‘n toekomstige Suid-Afrika moet lyk.

Met sy ouers ver weg, moes Christo vir lang tye saam met ander jong mans in dieselfde situasie in die koshuis bly. Hulle was mekaar se familie en het mekaar gevolglik as mense beter leer ken.

Medisyne vir die siel

As mense het ons ʼn behoefte aan balans tussen die bekende en avontuur.  Ons behoefte was groot aan bekendheid. Bekendheid saam met liefde en omgee van familie en vriende wat ons bederf en op die hande gedra het, was medisyne vir die siel.  In die Kalahari het my ma en suster en haar gesin ons op elke denkbare manier bederf.

My seuns het my soos ‘n koningin behandel. Jacques het vir heerlike en kreatiewe vegetariese disse gesorg terwyl ek kon agteroor sit. Christo het die motor bestuur en was die probleem oplosser van alledaagse uitdagings.

My en Zander se gevolgtrekking

Voor ons terugkeer het Zander by George, sy ou vriend en buurman gebly. Hulle het tot laat geswem, gespeel en grappies gemaak.

Sy gevolgtrekking daarna was in die kol. Hy het gesê:

 “Ma, dit het gevoel asof al die emosie wat in my bors vasgesit is, uiteindelik kon uitkom. Wat oorbly is ‘n gevoel van tevredenheid. Ek sien nou weer kans vir Switserland en ʼn nuwe jaar.”

Ons het al die seën en voorspoed ontvang wat die man by Doane ons toegewens het. Ek kyk met nuwe oë na die mooi van my land en sy mense. Kyk gerus deur ons oë na ons herinneringe vasgevang deur my kameralens.

Ek sien uit daarna om te help bou aan ‘n toekoms saam met die mense van Suid-Afrika nadat ons seisoen in Switserland geëindig het.

Groete

Emsia

Kersfees se sak vol emosies

Kersfees se sak vol emosies

Gedurende die feestyd is my emosionele hoogte- en laagtepunte gewoonlik intens. Die vlug beperkings het my egter amper oor die afgrond gestoot. Die onlangse opdatering van die Switserse reëls maak skielik weer ‘n SA besoek moontlik. My hart jubel!

Gevolglik kan baie gesinne wie se kinders in ander lande studeer of werk, moontlik saamwees vir Kersfees. Ek is dankbaar vir almal wat my met positiwiteit en hoop aangemoedig en ondersteun het. Ek bid saam met diegene wat nog in onsekerheid wag vir goeie nuus.

Die feesseisoen in Switserland

Die feesseisoen ervaring in Switserland is besonders, met baie tradisies en gebruike. Die Switserse Kersfees winter ervaring is anders as die Suid-Afrikaanse somer Kersfees ervaring.

Die winteraande is besonders lank en koud.  Teen 5nm is dit donker en dit raak eers weer teen 8am lig. Die stad en huise word kreatief met kersbome en liggies versier om ʼn feestelike atmosfeer te skep en die donker te verdryf. Mense kan kaasfondue of Raclette geniet in die hout chalets wat in die Advent seisoen opduik.

Op die laaste Donderdag van elke November skakel die owerhede in Zürich se liggies aan, en die Kersfees markte open. Die hele atmosfeer word warm, knus en bekoorlik. Die reuk van warm glühwine hang in die lug, en Cheestnuts, op die oop vuur gebraai, is by al die “Heisse Marroni”-stalletjies te koop.

Kersfees as ʼn kind

Samichlaus is die Duits-Switserse weergawe van Kersvader. In Desember ry die Jelmoli-trem deur Zürich, en kinders kan luister na stories deur Kersvader en sy engel helpers. Samichlaus besoek ook die kleuterskole en sommige laerskole en verskyn gedurende die eerste week van Desember by punte in die woud. Ek kan net dink hoe eg en opwindend Kersvader deur die oë van jong kinders moet wees .

Kersfees as volwassene

As ouer doen jy alles om hierdie betowering met liggies, atmosfeer en geskenke vir jou kinders te skep. Met tyd leer jy daar is ‘n buitenste feestyd met bome en ligte en ‘n innerlike feestyd in jou gemoed. Soms is hulle stemming verskillend. Jy dra ’n swaar sak vol emosies en is verlig wanneer die einde van die feestyd aanbreek.

Almal wat jy om die Kersfees tafel wil hê, is om verskillende redes nie daar nie. Covid het sy bydrae op verskeie maniere gelewer. Vele verhoudings en situasies wat jy in liefde toegedraai wou gehad het se papier is nog vol ego strepe.

Ek dink nie daar is ‘n perfekte Kersfees nie. Dit is net so perfek soos jy dit sien.

Elke persoon wat saam met jou om die Kerstafel sit, is ’n geskenk as jy mooi kyk. Covid het ons geleer om anders te kyk. As ons met dankbaarheid en liefde na hierdie feestyd kyk en die ware betekenis daarvan waardeer, sal ons innerlike feestyd vol lig en dankbaarheid wees.

Kalahari Kersfees

Ons hoop vir ‘n somer Kersfees in die Kalahari hierdie jaar. Ek sien uit daarna om saam met die mense na aan my hart te wees. In my denkbeeldige prentjie sal die sterre in die lug ons Kersliggies wees. Almal se bekende stemme gaan ons Kersfees musiek wees. Ons samesyn en liefde vir mekaar sal ons grootste geskenk aan mekaar wees.

Tydens al hierdie onsekerheid moet ek myself voortdurend daaraan herinner dat die Kersfees in my hart die bepalende een is, ongeag die plek, seisoen of mense saam met my. Ek moet dus hard werk aan die gedagtes wat my innerlike feestyd beïnvloed. Mag die manier waarop ek na Kersfees kyk, my geskenk aan myself wees.

Mag dit ‘n geseënde feestyd vir jou en jou geliefdes wees, waar jy ook al is.

Groete

Emsia

‘n Sneeukombers bring rustigheid

‘n Sneeukombers bring rustigheid

Ek het my seuns en familie twee jaar laas gesien. Ons beplande SA besoek hou gevolglik my kop en hart besig. Dit is die vyfde maal wat ons na SA probeer vlieg en ek was hoopvol. Die slegte nuus oor Omicron en vlugbeperkings, was soos ʼn nagmerrie.  Elke nuusberig wou my versmoor en ek het gesukkel om te slaap en my emosies in bedwang te hou.  Ek het gebid en gesmeek. Die sneeu het saggies gekom en my vertroostend in ʼn wit kombers toegevou.

Betowerende eerste sneeu

Sneeu, veral die eerste sneeu, is betowerend. Die gekleurde landskap word monochroom wanneer sneeuvlokkies liggies soos vere op die grond val. Die stilte wat saam met die ongerepte spierwit landskap kom, is heilig. Sneeuval skep aanvanklik ‘n gevoel van kalmte en dan opwinding. Kinders lag, en volwassenes praat. Gesinne bou sneeumanne en spog met hul skeppings.

Zander en sy vriende geniet die sneeu met hul sleë na skool en oor naweke. In die aande is hy honger, koud en moeg. Dit verg goeie beplanning om sy sneeubaadjie, broek en handskoene weer droog te kry voor die volgende dag. Ek en Charl geniet dit om in die sneeu te stap. Vars sneeu knars onder jou skoene.

Voorbereidings vir die sneeu

Gedurende November begin voorbereidings vir die verwagte sneeu. Die boere ploeg die lande, en die munisipaliteit plant rooi paaltjies om die paaie in die wit landskap aan te dui. Ligte en Kersversierings maak hul verskyning en gee ‘n sprokiesagtige gevoel.

Veiligheid in die sneeu

Na ʼn sneeuval skraap padskrapers, met hulle oranje waarskuwingsligte, reeds van vroegoggend af die paaie, sypaadjies en treinstasies sodat almal kan voortgaan met hulle daaglikse aktiwiteite.  Sodra die sneeu begin smelt, veroorsaak die nagtemperature dat dit vries tot ʼn gladde yslaag wat baie gevaarlik is om op te loop. Daar is ‘n groot voorkoms van knieë, heup en pols insidente in hierdie toestande. Ons verstaan nou die nodigheid van warm waterdigte skoene met dik sole.

Voertuie in Switserland het ʼn stel bande vir somer en ʼn afsonderlike stel bande vir winter. Sodra ʼn voertuig in sneeu of ys moet ry, is kettings nodig om die vastrapbeheer te verhoog. Die gladde oppervlaktes verhoog die voorkoms van ongelukke. Selfs die treine gly soms op hulle spore as gevolg van die sneeu of ys.

Sneeu bring vir my rustigheid

Gedurende ons eerste Desember in Switserland, was my kinders se kuier my grootste kersgeskenk.  Die eerste sneeu het begin val die dag na hulle aankoms.  Net voor slaaptyd het die eerste sneeuvlokkies hulle verskyning gemaak. As Suid Afrikaners is ons nie eintlik aan sneeu gewoond nie. Dit was spesiaal dat ons hierdie eerste sneeuervaring kon deel!  Ons het soos kinders buite gespeel en die sneeu op ons gesigte en tonge laat val.

Hierdie jaar se sneeu is dus vir my meer as net wit vlokkies.  Die wit kombers het my gehelp om rustig te raak.  Ek ervaar ʼn innerlike vrede en wete dat alles ten goede sal meewerk.  Daar is nie waarborge nie, maar ek het hoop en vir nou is dit vir my genoeg.

Ek hoop jy kry ook jou teken van hoop wat vir jou rustigheid en vreugde vir die feesseisoen sal bring.

Groete

Emsia

 

Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het

Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het

Gedurende die afgelope twee jaar het Kreatiwiteit hom aan my voorgestel. Ek het baie genot en waarde uit die verhouding geput. My verhouding met Kreatiwiteit was ‘n perfekte voorbeeld van die uitdrukking – “when the student is ready, the teacher will appear“.

Aangesien ek nie myself as ʼn kreatiewe persoon beskou nie, spreek die volgende woorde deur die skrywer Kurt Vonnegut tot my.

“Practice any art, music, singing, dancing, acting, drawing, painting, sculpting, poetry, fiction, essays, reportage, no matter how well or badly, not to get money and fame, but to experience becoming, to find out what’s inside you, to make your soul grow. I do not think being good at things is the point of doing them.  I think you got all these wonderful experiences with different skills, and that all teach you things and makes you an interesting person, no matter how well you do them.”

Ek het in die verlede nie te veel op kreatiewe aktiwiteite gefokus nie. Ek het dit geblameer op ‘n gebrek aan tyd en kreatiewe vermoëns. Die Covid grendeltyd het my gedwing om iets te vind om te doen. Ek het meer begin fokus op fotografie, skryf, eksperimenteer met nuwe resepte en verf met akrielverf.

Fotografie

Met fotografie besluit ek op ‘n onderwerp en probeer dit dan deur my lens van verskillende hoeke vasvang. Soms is dit ‘n seisoen, plek, geleentheid of tyd van die dag of jaar. Ek probeer verskeie tegnieke wat my dwing om anders na alledaagse voorwerpe te kyk. ’n Vlak van detail wat ek nog nooit opgemerk het nie, word skielik vir my sigbaar. Dit maak my opgewonde om die kleur, ontwerp en patrone van dinge in die natuur wat voortdurend verander, waar te neem. Ek deel meer daaroor in my brief met die titel Fotografie is ‘n leermeester van waarneming.

Bak en Kook

Aangesien ek elke dag moet kook, het ek besluit om meer kreatiwiteit te inkorporeer. Die vars produkte op die winkelrakke is seisoenaal en verander voortdurend. Sodra iets nuuts verskyn, probeer ek resepte kry om dit uit te toets. Die Switserse het byvoorbeeld Spätzli, wat amper soos pasta is, met seisoenale groente. Ek probeer ook gereeld nuwe variasies met Gnocchi en Risotto.

My oudste seun, Jacques, het ʼn Vegan Bakkery met die naam The Cinnamon Club wat die mooiste koeke bak.  Ek staan telkemale verstom oor die kreatiwiteit.  Ek deel meer daaroor in by brief oor Kosmaak met liefde geïnspireer deur my seun.

Verf

My skilderpogings is steeds op graad 1-vlak. Ons het Paint-by-Numbers as ‘n wintermaand-vermaakprojek begin. Ek het dit so geniet dat ek verf, kwaste en papier aangeskaf het. Die uitkomste is nog nie iets wat ek bereid is om te wys nie, maar ek vind die proses aangenaam. My nuutste prente is meer van ‘n abstrakte aard en ontwikkel soos ek aangaan. Ek geniet abstrakte kunswerke meer aangesien daar minder ruimte is vir sigbare foute.

Genot in kreatiwiteit

Ek is nog in baie opsigte ‘n beginner, maar die genot en positiwiteit wat ek ervaar wanneer ek dit doen, is van onskatbare waarde! Daar is baie persoonlike bevrediging daarin om iets nuuts te probeer en te sien hoe jy vorder. Dit is ook baie ontspannend en verplaas my na ‘n ander wêreld. Ek moes aanvaar dat ek dit bloot vir die genot daarvan doen en moes my innerlike kritikus so ver moontlik wegstuur.

Ek hou van Albert Einstein se uitdrukking, “Creativity is intelligence having fun“. Kreatiwiteit help my om op nuwe maniere na die wêreld en voorwerpe om my te kyk. Ek vind skielik korrelasies tussen dinge wat ek nooit voorheen opgemerk het nie. Ek is meer bewus van en vind vreugde in die alledaagse dinge rondom my.

Ek kan beslis Kreatiwiteit as vriend aanbeveel.

Groete

Emsia

Boedapest was ‘n fees vir ons sintuie

Boedapest was ‘n fees vir ons sintuie

Ek verkies ervarings as geskenke. Dit is in ons geheue verewig en kan nie gebreek of gesteel word nie. Hierdie jaar was ‘n besoek aan Boedapest my verjaardaggeskenk en een wat ek kon deel. Ons het met die oornagtrein deur Oostenryk na Boedapest gereis.

Boedapest is bekend vir sy historiese plekke soos Chain Bridge, wat Buda en Pest aan weerskante van die Donaurivier verbind. Die sentrale deel van Boedapest langs die Donau is tot ‘n wêrelderfenis gebied verklaar. Die stad het ‘n enorme termiese grondwaterstelsel met ongeveer 80 termiese bronne. Hongarye is een van die meer bekostigbare lande in Europa omdat dit nog nie deel van die Eurosone is nie. Hul geldeenheid is die Forint.

Oornagtrein ervaring

Die oornagtrein-ervaring was ‘n eerste vir my. Weens die hoë volume besprekings het ek in ‘n ander slaapkajuit as Charl en Zander beland. Ek het die 4-persoon slaapkajuit met drie jong Duitse vrouens gedeel. Gelukkig kon een van hulle goed Engels praat en het my gehelp met inligting. Die volgende oggend het ek die geleentheid gehad om Melanie beter te leer ken terwyl ek koffie gedrink het. Sy is ‘n reisblogger en eienaar van die blog goodmorningworld. Gevolglik kon sy vir my baie reiswenke oor Boedapest gee.

Met ons aankoms by die pragtige Boedapest-treinstasie het sy my meegedeel dat maskers in Hongarye nie verpligtend is nie.

Great Market Hall en Hongaarse kos

Ons eerste stop was by die Groot Marksaal, wat uit drie verdiepings bestaan. Handelaars verkoop varsprodukte, geskenke, klere, rugsakke en Hongaarse straatkos. Baie stalletjies verkoop Paprika wat tradisioneel in agt verskillende geure kom. Daar is kantborduurwerk en Russiese poppe ook.

Ons het die Hongaarse Langos vir middagete gehad en was mal daaroor. Dit is deeg wat in olie gebraai is en smaak net soos Suid-Afrikaanse vetkoek. Bo-op die plat vetkoek is roomkaas, gerasperde kaas en enige ander bolaag van keuse. Ek het ook die goulash-sop probeer, wat my laat dink het aan my ma se sop met stukkies vleis.

Castle Hill

Ons het laatmiddag by Castle Hill besoek, waar ons die mooiste uitsigte oor die stad gehad het. Dit is ‘n UNESCO wêrelderfenisgebied en bevat Middeleeuse monumente en museums. Die 13de-eeuse koninklike paleis is indrukwekkend. Ons het ongelukkig die “Changing of the Guards” seremonie gemis, maar het ten minste twee mans in koninklike uitrustings op hul perde gesien.

Parlement gebou en Joodse skoene monument

Ek het die simmetrie en detail van Boedapest se parlementsgebou op die oewer van die Donau-rivier bewonder. Dit is die derde grootste parlementsgebou ter wêreld en is baie indrukwekkend.

Naby die Parlementsgebou is ‘n gedenkteken van skoene wat my geweldig geroer het. Dit is ter nagedagtenis aan die Jode wat hul lewens tydens die Tweede Wêreldoorlog verloor het. Die Jode moes hul skoene uittrek voordat hulle op die rivieroewer geskiet is.

Szechenyi Spa Baths

Hongarye is bekend vir sy termiese baddens, en die Romeinse setlaars het die eerste baddens gebou. Die Szechenyi baddens en die pragtig versierde paleis bestaan al meer as 100 jaar. Daar is 18 swembaddens gevul met mineraalryke natuurlike warmwaterbronne en tien saunas en stoomkamers.

Die energie in die lug was gelukkig en ontspannend. In een swembad is daar selfs skaakborde vir besoekers om skaak te speel terwyl hulle in die water ontspan.

Zander het die spa-baddens as ‘n hoogtepunt ervaar, en dit was vir ons ‘n ontspannende manier om ons Boedapest-besoek af te sluit.

Groete

Emsia

Die mislaag wat my gemoed wil vertroebel

Die mislaag wat my gemoed wil vertroebel

Gedurende November is Zürich byna permanent in ‘n mislaag gehul. Wanneer ons soggens die gordyne oopmaak, lyk dit soos ‘n wit muur aan die buitekant. Soms bly die mis heeldag. Op ander dae word die donker silhoeëtte van geboue en bome meer sigbaar soos die son opkom.

Die Switsers het ons van die begin af oor die mis gewaarsku. Die mislaag het ‘n neerdrukkende impak omdat dit donker is, en jy voel vasgevang. Oor naweke besoek baie mense hul huise in die berge om die sonlig te geniet en tydelik uit die mis te ontsnap.

My Eglisau les

Die herfskleure in Switserland is vanjaar besonders. Ek was opgewonde oor ‘n sonnige dag, want ek wou foto’s neem in die dorpie Eglisau met mooi wingerde langs die Rheinrivier.. My teleurstelling was groot toe die hele dorp in mis gehul was. Ek het besluit om te bly in die hoop dat die waas sou opklaar.

Na ‘n rukkie het ek besef hoe mooi en geheimsinnig alles in die mis vertoon en dat ek dinge moet waardeer net soos dit is en moet ophou om aan my prentjie vas te klou. Ek kry hierdie boodskap gereeld maar sukkel nog soms daarmee.

Wêreldwye mislaag

Om na nuwe plekke en kulture te reis is een van die dinge wat ek en Charl geniet om saam te doen. Ons was baie opgewonde oor die geleentheid om vir ‘n paar jaar in Switserland te woon, want dit het die moontlikheid geskep om Europa te verken sonder lang vlugte en ‘n Schengen visumaansoek. Covid het egter soos ‘n dik laag mis om ons almal geval.

Die land se grense was lank gesluit en het eers onlangs weer oopgemaak. Die Covid-situasie het ons gedwing om Switserland te ontdek. Ons het baie mooi plekke besoek en ervarings gehad wat ons sou gemis het as Europa oop was. Wêreldwyd het die beperkings mense gedwing om met nuwe oë na die skoonheid van hul eie land en omgewing te kyk. In die proses het baie mense juwele ontdek wat hulle voorheen misgekyk het.

In die mis het ek my eie familie duideliker gesien

Kerstyd is sinoniem met gesinstyd. Kersmarkte en vieringe sorg vir groot opwinding. Verlede jaar was daar net een groot stilte. Weens al die streng reëls het ons die Kersvakansie binne ons woonstel deurgebring. Ons het kreatiewe projekte aanlyn bestel en onsself besig gehou. Ons het al drie later erken dat dit ‘n kosbare en rustige tyd was en dat ons mekaar se geselskap geniet het.

Ons het van die begin af beplan om Suid-Afrika en my seuns Switserland een keer per jaar te besoek. Ná hul eerste besoek in Desember 2019 kon ons mekaar nie weer sien nie. Dit was vir my ‘n besonderse digte mis. Die afstand en situasie het ons aangemoedig om meer gereeld kontak te maak en op ‘n dieper vlak betrokke te raak. Ek het gevolglik my seuns anders leer ken. Ek skryf meer hieroor in my brief oor woorde het my reddingstou geword.

Die mis leer my om die nou te geniet

Die mis het vir my ‘n metafoor geword en herinner my om die huidige situasie te geniet. Ek moet ophou om so styf aan my prentjie van “perfek” vas te klou dat ek die skoonheid om my miskyk.

In die mis lyk ons gewone bekende omgewing geheimsinnig. Die mis verdof die agtergrond en laat die mees kritieke items uitstaan. Dit help ons om te fokus op die elemente wat wel sigbaar is. Die mislaag is nie permanent nie. Dit sal opklaar, en die son sal weer skyn.

Groete

Emsia

 

Vriendinne wat ‘n ma se turbulensies verlig

Vriendinne wat ‘n ma se turbulensies verlig

Baie van my vriende se jongste kinders skryf hul eindeksamen. November is ‘n stresvolle maand, en binnekort sal hulle moet aanpas by ‘n leë huis. Hulle ervaar die afsluiting van ‘n betekenisvolle hoofstuk in hul lewensboek.

Die turbulensies van moederskap

Elke ma kyk terug en dink met ‘n glimlag oor die onstuimigheid van moederskap. Ek weet ek sou nooit oorleef het sonder die insette en hulp van vriende nie. Ek glo dat God hierdie vriende vir my uitgekies het. Daar is geen toeval in die keuse of tydsberekening van mense wat ons pad kruis nie.Ek skryf meer hieroor in toe-val-lig in plaas van toevallig.

Vriende sien jou behoefte en help sonder dat jy vra. Hulle bemoedig en gee eerlike menings. Hulle daag jou uit om nuwe dinge te probeer of om situasies op nuwe maniere te sien. Soms kan hulle humor raaksien of skep wanneer jy op die rand van wanhoop is.

Klein seuntjies

Ek en Jackie het paaie gekruis toe ons seuntjies klein was. Sy het ná haar man se hartoorplanting in Kaapstad beland. Dit was op dieselfde tyd as wat ek deur ‘n egskeiding gegaan het. Ten spyte van haar uitdagings was sy altyd gereed om te help. Baie keer het sy my seuns na skool saam met haar huis toe geneem. Dit het my toegelaat om my werk klaar te maak en dan ‘n glasie wyn op haar stoep te geniet terwyl ons na die sonsondergang-uitsig van Tafelberg gekyk het. Soms het sy ons ook bederf met heerlike, gekookte kos.

Sy was saam met my opgewonde toe Charl in my lewe opdaag. Ek het weer liefde gevind maar kort voor ons troue het haar man gesterf. Met baie rou emosie en verlies het sy moedig en alleen ons troue bygewoon. Dit was ons beurt om te help en ondersteun waar ons kon.

Sy het gelukkig ook weer liefde gevind. Ons beide het verstaan van die uitdagings om tienerseuns groot te maak met die hulp van ʼn pa wat nie hulle eie is nie. Ons seuns is nou jong mans, maar ons is dankbaar oor die rol wat ons in mekaar se lewens kon speel.

Jong mans

In Christo se laaste skooljaar het hy verlief geraak. Net voor ons na Zürich verhuis het, het ek en sy meisie se ma, Ronel, ‘n koppie koffie gaan drink om mekaar te leer ken. Ons het mekaar se geselskap geniet, en ons kon nie ophou praat nie. Min het ek geweet watter kritieke rol Ronel in my lewe sou speel.

Ek het nie geweet daar is ‘n pandemie op pad en dat Ronel se huis vir amper 18 maande my kind se huis sou word nie. Sy het hom by die koshuis afgelaai en hom gereeld met lekkernye bederf. Niks was vir haar te veel moeite nie en sy het my op hoogte gehou met foto’s en boodskappe. Sy het die situasie goed verstaan ​​aangesien haar ouers ook verhuis het om in die buiteland te gaan werk nadat sy skool voltooi het, terwyl sy in Suid-Afrika agtergebly het vir haar studies.

Ons kinders se verhouding het ongelukkig nie Covid-19 oorleef nie, maar ek en Ronel het besluit ons vriendskap sal voortduur. Ná ons eenmalige ontmoeting het ons vriendskap gegroei deur oproepe, boodskappe en briewe. Met haar liefde vir reis, hoop ons dat sy vir my in Switserland kan kom kuier.

My suster, my vriendin

Ek is baie geseënd dat een van my vriende ook my suster is. Ons verskil vier jaar, en ek het haar vir die eerste twintig jaar nie in die vriendskapskategorie geplaas nie. In my tienerjare het sy en haar vriendinne my soms mal gemaak. Hulle het een middag in ’n groot kameeldoringboom langs die skool se rugbyveld weggekruip en soos jakkalse gehuil terwyl die rugbyspan geoefen het. Dit was ‘n groot verleentheid, want ek was verlief op een van daardie spelers.

Ek het nooit gedink sy sou my 911 wees as ek raad en perspektief as ‘n ma nodig het nie. Ons het ons tienerjare baie anders benader, en haar perspektief op sekere situasies is waardevol. Daar was tye wat ek haar soggens met ‘n swaar hart gebel het op pad werk toe. Ek het egter baie ligter by die werk aangekom met perspektief en motivering. Sy het ook ‘n goeie sin vir humor, en haar lagterapie werk altyd.

Vriende is geskenke van God, elkeen toegedraai in hul unieke verpakking. Hulle stap die pad van die lewe saam met ons, verskaf ondersteuning, aanmoediging, perspektief en dade van liefde en omgee.

Dankie aan almal wat saam met my die pad stap en daar is vir my.

Groete

Emsia