Browsed by
Author: emsia.kruger

As vreemdelinge vriende word

As vreemdelinge vriende word

Ons wil almal graag vriende hê, maar is nie altyd bereid om die moeite en tyd in te sit om vriendskappe te vorm nie. In ‘n nuwe land het ek gou besef hoeveel moed dit verg om na ‘n vreemdeling uit te reik. ‘n Eenvoudige gesprek is egter nodig om die proses om iemand beter te leer ken, af te skop.

Die waarde van vriendskap

Alle mense het konneksie nodig en ons vind dit in verskillende verhoudings. Vriendskap is ‘n verhouding wat ‘n belangrike rol in ons welstand speel. Gesonde en ondersteunende vriendskappe verbeter ons selfvertroue en eiewaarde. Dit help ons om ernstige lewensgebeure soos verandering of verlies te hanteer. Boonop versterk dit ons gevoel van behoort en moedig ons aan om veranderinge aan te bring wanneer nodig. Vriendskap bied ons ook die geleentheid om ‘n rol in iemand anders se lewensverhaal te speel.

Reik uit

`n Mens onderskat gereeld hoeveel iemand dit waardeer as jy na hulle toe uitreik.  Verlede jaar het een van die ma`s in Zander se graadgroep, Darja, vir my `n onverwagse boodskap gestuur.  Sy het gevra of ek kans sien om saam met haar die graadgroep ouer te wees wat kommunikasie tussen die skool en ouers hanteer.  Sy het dit as `n lekker manier om mekaar beter te leer ken ingekleur.  Ek was aanvanklik onseker of ek die regte persoon is vir die taak, maar het besluit om dit `n kans te gee.

Sy sal nooit besef watter groot guns sy my gedoen het nie.  Die positiwiteit wat ek deur haar aksie ervaar het, was ʼn aansporing vir my om meer vrymoedigheid te neem om na ander mense uit te reik. Daar is ʼn korrelasie tussen my gevoel van behoort en die aantal mense met wie ek ʼn gemaklikheid het om mee te gesels.

Raak betrokke

Ek maak die maklikste vriende deur iets saam met iemand te doen.  Dit is waarom dit so goed is om as vrywilliger by sake betrokke te raak.  Die geleentheid om saam aan `n gemeenskaplike doelwit te werk, skep ook baie geleentheid om ander mense op `n informele manier beter te leer ken en gemeenskaplike belangstellings te identifiseer. 

By die internasionale skool bly die meeste gesinne tussen 3 en 5 jaar. Die skool het baie strukture en prosesse in plek om mense te help integreer en die verandering hanteer. Die Ouervereniging reël geleenthede waar ouers saam met ander ouers as vrywilligers kan werk. Hulle koördineer ook klubs waar ouers met gemeenskaplike belangstellings aktiwiteite saam kan geniet.

Dit het baie moed geverg om my naam op die lys te sit en geleenthede vir die eerste keer by te woon. Ek het by die tennisklub en die vlugtelingkamp vrywilligersgroep aangesluit. Gelukkig het die ander mammas my tuis laat voel. Ek het baie positiwiteit ervaar in saamwees en minder alleen in my uitdagings om in ’n nuwe land aan te pas.

Belê in vriendskappe en verhoudings

Dit is maklik om so op werk, belangstellings en familie gefokus te wees dat ons nie tyd vir vriendskappe maak nie. Ek is al baie jare daaraan skuldig. Iets drasties, soos om na ‘n ander land te verhuis, het egter my oë oopgemaak.

Afstand en ’n verandering in omgewing het my genoop om anders na verhoudings te kyk en meer moeite daarmee te doen. ’n Mens moet buite die boks dink en kreatiewe maniere vind om die verhouding in stand te hou. Sommige vriende geniet dit om saam aktief te wees en ander hou daarvan om nuwe plekke te besoek. Ek doen aanlyn Bybelstudie saam met ‘n paar vriende en ek hou kontak met ander deur gereelde koffiekuiers, telefoonoproepe en briewe.

Ons moet tyd belê in die mense wat vir ons kosbaar is. Die konneksie en positiewe uitwerking daarvan is altyd die opoffering en belegging werd.

‘n Onlangse vriendskapsgeskenk

Ek het onlangs ‘n kosbare geskenk in die vorm van ‘n Afrikaanssprekende vriendin in Switserland, ontvang. Ons het soveel in gemeen dat ek weet dat Marna vir my gestuur is.

Een keer per week gaan ons op ‘n daguitstappie en verken Switserland saam. Dit is ‘n opwindende manier om die vriendskap te groei. Ek waardeer dit om ‘n vriendin in ‘n ander land te hê wat my kultuur verstaan, my taal praat en soortgelyke waardes en belangstellings het. Dit is ‘n positiewe manier om die buitelandse ervaring, vreugdes en uitdagings te deel.

As ek terugkyk op my lewenspad, kan ek sien hoe die regte mense op die regte tyd my pad gekruis het. Alhoewel op verskillende maniere en tye, het elkeen ‘n belangrike rol in my lewe gespeel. In `n vorige brief het ek meer vertel oor vriendinne wat my moederskap turbulensie help verlig het.

Ek verstaan nou dat elke vriend en vriendin ‘n geskenk is wat met `n doel aan my gegee is.

Groete

Emsia

Briewe dra woorde en emosies

Briewe dra woorde en emosies

In Switserland is die posstelsel effektief en die inwoners benut dit ten volle. Inwoners stuur uitnodigings en dankie-kaartjies per pos soos ons voorheen in Suid-Afrika gedoen het. Die Post werknemers lewer daagliks die pos in kenmerkende geel afleweringsvoertuie af. Ek het in die kleiner dorpe gesien hoe hulle die deurklokkies van die afgetrede inwoners lui en die briewe saam met vriendelike geselsies oorhandig.

Foto deur: Kyburz Switzerland

Dit is kosbaar om ‘n handgeskrewe dankie-briefie in die pos te ontvang. Dit voel of iets van die skrywer se menswees saam met die briefie arriveer. Ek is mal oor briewe en bêre almal wat ek ontvang. Toe ek tydens ons verhuising alles in bokse vir die stoorkamer moes pak, het ek tussen al die briewe en herinneringe uit die verlede verdwaal.

Ek heg waarde aan geskrewe woorde

Ek heg baie waarde aan woorde.  Woorde is kragtig en kan heel, motiveer en sake van die hart kommunikeer. Dit kan egter ook verwond. Briewe is die draer van woorde en gepaardgaande emosie en het nog altyd `n belangrike rol in my lewe gespeel. Met ons verhuising na Switserland het my tweeweeklikse briewe aan familie en vriende vir my `n reddingstou geword. 

Briewe is `n goeie manier om met die mense wat vir my kosbaar is kontak te hou. Dit dwing my om oor gebeure te reflekteer, sin daarvan te maak en in woorde weer te gee.

Briewe vir moeilike gesprekke

Ek het al in die verlede briewe gebruik om moeilike boodskappe oor te dra. Sommige was net ‘n goeie uitlaatklep vir opgekropte woede en frustrasie. Gelukkig het ek hulle agterna in klein stukkies opgeskeur en in die asblik gegooi.

Ná moeilike gesprekke kan ek gewoonlik aan baie ander dinge dink wat ek wens ek eerder gesê of op ’n beter manier gestel het. Woorde op papier gee my tyd om te dink en maak seker dat ek dit versigtig kies ten einde die boodskap met die regte bedoeling oor te dra. Woorde op papier is meer permanent en ek het al geleer ek moet hierdie briewe met die langtermyn in gedagte skryf.

My kinders

Ek hou daarvan om spesiale geleenthede in my kinders se lewens met briewe te erken. Daarin vertel ek vir hulle wat ek in hulle waarneem maar spreek ook my hoop vir hul lewenspad uit. Ek weet hulle lees dit soms wanneer hulle daardie plekke op die pad bereik waar hulle moedeloos voel en woorde nodig het. Selfs al is ek nie meer ‘n telefoonoproep vêr nie, weet ek my woorde sal by hulle wees.

Ek het al die briewe wat hulle tydens hul kinderjare geskryf het, gebêre. Daar is pragtige briewe met Moedersdag, verjaarsdae en briewe aan Kersvader.

Met sekere ouerskap situasies was ek meer tegemoetkomend as ander ouers, maar ek was met al my seuns streng oor ouderdomsgeskikte rekenaarspeletjies en flieks. Jare gelede was Christo se maats baie gefrustreerd met my omdat ek hom nie wou toelaat om ‘n 16-ouderdomsbeperkte rekenaarspeletjie saam met hulle te speel nie. Hulle het besluit om elkeen vir my ‘n persoonlike brief te skryf. Ek kon net glimlag toe ek die 12-jarige argumente lees. Ek beplan om daardie briewe eendag vir hom gee as self hy ‘n tiener het.

My pa en ma

As jong volwassene het ek meer bewus geword van die lewe se drake. Ek het anders na my ouers gekyk en was dankbaar vir wat hulle vir ons gedoen het ten spyte van al hul uitdagings. In ‘n brief aan my pa en ma het ek hulle bedank vir al hul opofferinge. Daar was vakansies wat hulle by die huis gebly het omdat alle beskikbare fondse na ons naskoolse opleiding moes gaan. Hulle moes vroeg opstaan, planne maak en probleme opgelos. My ma het my vertel van my pa se emosies toe hy die brief ontvang het. Ek is so dankbaar dat ek dit geskryf het, want ek het my pa kort daarna verloor.

Tydens ’n onlangse besoek het my ma vir my die briewe gewys wat my pa voor hul troue aan haar geskryf het. Hulle het in verskillende klein dorpies gewoon. Briewe was die enigste manier waarop hulle privaat oor ‘n afstand kon kommunikeer. Dit was kosbaar om my pa se handskrif op papier te sien en sy woorde so vol liefde vir haar te lees.

Ek kon iets van sy menswees in sy briewe ervaar maar ook beter insig in hul uitdagings kry. Hy moes met sy eerste motor ’n grondpad aandurf om by haar te kuier. Baie van sy probleme het met sy kar te doen gehad. Ek is seker sy briewe neem my ma vêr terug in tyd. 

Dankie dat jy my briewe lees

Groete

Emsia

`n Skatkis vol verskillende kulture

`n Skatkis vol verskillende kulture

Die Internasionale Fees is een van die jaarlikse hoogtepunte by Zander se ICS skool. Daar is gesinne van 55 lande en tydens die fees werk landgenote saam om ander meer van hul kos, klere, taal en kultuur te leer. Elke land het ‘n stalletjie waar mense tradisionele kos kan sien, koop en proe.

“Sjoe, ek geniet hierdie gevoel van patriotisme!” het Zander in sy Suid Afrikaanse hemp met ‘n glimlag opgemerk. Hy was beslis nie die enigste een nie. In elke stalletjie het mense in hul moedertaal met mekaar gesels, pragtig geklee in tradisionele klere wat hulle verenig het. Soms het hulle net vrolik gedans op hul tradisionele musiek.

Daar was ‘n paar stalletjies wat om verskillende redes my oog gevang het.

Oekraïne

Verlede jaar het die Oekraïne vir die eerste keer ‘n stalletjie by die fees gehad. Die Internasionale Fees was net ‘n paar maande ná die uitbreek van die oorlog. Ek het met deernis verby die Oekraïnse kos stalletjie gestap, want dit het my herinner aan die trauma wat baie gesinne ervaar.

Hulle het hul stalletjie met sonneblomme versier en die vroue het blomkranse op hul koppe gedra wat hulle soos engele laat lyk het. Sonneblomme is Oekraïne se nasionale blom en verskyn in die meeste van hul versierings. Sonneblomolie is ‘n beduidende uitvoerproduk en die Oekraïners het deur hul geskiedenis sonneblomme as ‘n simbool van vrede gebruik.

Nepal

Ons ICS-skool het ‘n spesiale verbintenis met Nepal. In Nepal is skoolopleiding nie verpligtend nie. Daar is ‘n kosskool (SMD) vir kinders van afgeleë Himalaja-dorpies in Katmandu, Nepal. Ons skool het ‘n vennootskap met hierdie skool.

ICS bied beurse aan leerders van Nepal om graad 11 en 12 in Zürich te voltooi en vorm deel van ICS-gesinne se huishoudings gedurende hierdie twee jaar. Tydens ‘n praatjie het ek meer oor die lewe in Nepal geleer en was verstom oor die eenvoud, maar ook die sterk waardes van die mense. Sommige gesinne moet dae lank reis om by die skool uit te kom en die skool kan slegs ‘n beperkte aantal leerders akkommodeer.

Nepal is in ‘n hoë risikogebied vir aardbewings. In 2015 het die aardbewings die SMD-skoolgeboue beskadig en onbruikbaar gemaak. Die ICS-gemeenskap het finansieel tot die skool bygedra om te help met herstelwerk en herbou.

Elke jaar het Nepal ‘n stalletjie by die fees. Vrywilligers staan die Nepal leerders by met voorbereidings en verkope. Nepal se kos is ‘n mengsel van Indiese, Tibettaanse en Chinese kookkuns.

Spanje

Die Spaanse stalletjie was naby ons SA stalletjie. Die reuk van Paella wat deur die Spaanse families in ‘n groot pan voorberei is, het heeldag in die lug gehang. Kliënte kon dit saam met ‘n heerlike glas Sangria geniet.

Ek het die mooiste Spaanse rokke bewonder en dit geniet toe die mammas op Moedersdag vrolik op die musiek in die stalletjie gedans het.

Voordele om van ander kulture te leer

Die geleentheid om in ‘n ander land te woon en ons verbintenis tot die internasionale skool het my anders na kulturele diversiteit laat kyk. Ons het vriende gemaak met mense van ander kulture. Ek hou daarvan om vrae te vra en probeer om meer te leer en te verstaan.

Ek vra graag vir mense wat hulle van hul land van herkoms mis. Boonop wat hulle hier in Switserland geniet, maar ook wat hulle uitdagend vind. My antwoord sou wees dat ons die Switserse kaas en ander tradisies en gebeurtenisse wat hulle vier geniet. Ons sukkel egter soms met al die baie reëls en was al ‘n paar keer onwetend in die moeilikheid.

Kennis help ons om met groter kulturele sensitiwiteit te leef. Ons het spesifieke oortuigings oor wat ons as normaal of abnormaal beskou. Sodra ons blootstelling aan ander kulture kry, leer ons hoe mense van verskillende agtergronde die wêreld beskou. Dit leer ons om meer krities en selfs kreatief te dink.

Wanneer ons meer van ander kulture leer en verstaan, help dit ons om minder veroordelend te wees. Dit leer ons om ons verskille te respekteer en meer verdraagsaam teenoor mekaar te wees. Suid-Afrika is bekend vir sy etniese en kulturele diversiteit en ons het uit ervaring geleer hoe belangrik dit is om meer van ander kulture te leer en te verstaan.

Ek hou van die aanhaling deur John Hume oor diversiteit,

“Difference is the essence of humanity. Difference is an accident of birth and it should therefore never be the source of hatred or conflict. The answer to difference is to respect it. Therein lies a most fundamental principle of peace: respect for diversity.”

Groete

Emsia

Tweede kanse in liefde en die lewe

Tweede kanse in liefde en die lewe

Net soos 17 jaar gelede het ek ook vanjaar se Paasnaweek saam met my ma en seuns gevier. Die vorige keer in 2006, was my omstandighede baie anders. Ek het rus en vrede gevind in die samesyn en die skoonheid van die natuur na uitdagende twee jare van enkelma wees en kop bo water te hou. Dit was ook die einde van die tydperk wat ek myself baie alleentyd toegelaat het om die ware ek tussen die as te vind.

Voordat ons teruggekeer het huis toe, het ek my ma gevra om my twee seuntjies dop te hou sodat ek op die meer kon gaan roei. Alles was stil, en die water was soos ‘n spieël.

Ek het hardop gebid en God gevra vir ‘n tweede kans.

Here, ek is nou gereed om aan te gaan

Sal U asseblief die regte weg baan

Stuur vir my ’n metgesel vir die pad

`n Man wat my hand sal vat

en sielsdinge met my kan deel

Iemand wat my hart sal steel

wat vir my en my kinders lief sal wees

maar bo alles, wat wandel in U Gees.

Tweede kanse ontvang

Ek en Charl het hierdie April ons 16de huweliksherdenking gevier. Vir ons was dit ‘n viering van dankbaarheid vir tweede kanse. In ons geval was dit ‘n tweede kans op ‘n huweliksverhouding.

Tweede kanse kom egter in verskillende gedaantes en areas van ons lewens. Tweede kanse verskil in baie opsigte van eerste kanse.

Eerste kanse gee ons meer ervaring.

Eerste kanse is uitstekende leermeesters, maar ons besef dit eers mettertyd. Ons leer vinnig deur ervaring, want die terugvoer is hard en duidelik en ons ervaar dit eerstehands. Dit verbreed ons verwysingsraamwerk en leer ons om minder veroordelend te wees, aangesien ons gewoonlik ander mense se oordeel deur mislukte eerste kanse ervaar het. Dit gee ons meer insig, deernis en perspektief.

Eerste kanse leer ons perspektief.

Wanneer ons die eerste keer in situasies instap, het ons gewoonlik baie verwagtinge. Sonder om dit te besef, fokus ons op die voordeel wat dit vir ons inhou. Met tweede kanse het ons geleer om ons fokus te verskuif na wat ons na ‘n situasie of verhouding kan bring in plaas van wat ons daaruit sal kry.

Soms neem ons aan dat ons geregtig is op alle lewenservarings. Ons sien iets eers as ‘n voorreg wanneer ons besef dat dit nie vir ons beskore is nie of as ons dit verloor het. Voorregte het verskillende prioriteite in ons lewens. Ons benader hulle met meer respek en doen meer moeite met hulle.

Eerste kanse leer ons dat niemand perfek is nie en dat mense dikwels nie hul beste weergawe vertoon nie.

In die meeste gevalle gaan ander se gedrag meer oor hulself as oor ons en leer ons om na ander te kyk deur lense van liefde, begrip en verdraagsaamheid. Die moeilikste deel vir my was om te leer om deur hierdie lense na myself te kyk.

Tweede kanse gee

Soms bereik jy ‘n plek waar jy moet besluit of jy ‘n ander persoon ‘n tweede kans moet gee. Die vermoë om mekaar tweede kanse te gee is een van die mensdom se bomenslike kragte en ons moet dit wys gebruik.

Om tweede kanse te gee is ook ‘n kans wat jy moet kies om aan te gryp of nie. Wanneer jy daardie besluit moet neem, is dit van kritieke belang dat jy besluit vanuit ‘n plek van liefde vir die ander persoon en jouself eerder as vrees of pyn. Jy moet dit ook net doen wanneer jy voel dat jy en die ander party bereid is om die moeite en tyd in te sit om dit weer te laat werk.

Die lewe bestaan uit kanse

As ek terugkyk op my lewenspad, besef ek dat die lewe vir ons verskillende kanse of geleenthede bied in verskeie aspekte van ons lewens. Voor elke geleentheid besluit ons of ons dit wil waag of nie en hierdie besluit bepaal hoe die volgende hoofstuk in ons lewensboek gaan lyk. Wanneer ons ‘n kans waag, is daar altyd die risiko dat ons iets kan verloor, wat pynlik is. Die vrees vir pyn maan ons dikwels om tweede kanse te waag omdat ons die pyn ervaar het. Dit is egter ook waar dat ons nooit iets sal wen as ons nie onsself oopstel vir eerste of tweede kanse nie.

In Engels praat hulle van “The 3 C`s of Life”

Groete

Emsia

Die krag van onverwagse deernis en omgee

Die krag van onverwagse deernis en omgee

Met my onlangse besoek aan Suid Afrika het ek ‘n paar spesifieke doelwitte gehad. Bowenal wou ek tyd saam met my ma en seuns spandeer. Ek het egter ook administratiewe take gehad, soos om my bestuurslisensie en bankkaarte wat op die punt was om te verval, te hernu. Boonop moes ons ook ‘n paar aksies voltooi voordat Christo die wettige eienaar kon wees van ‘n tweedehandse motor wat ons vir hom gekoop het.

Met beurtkrag weens die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika, het ek lang toue en gefrustreerde mense verwag. Ek het egter nuwe respek vir die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van die mense van Suid-Afrika gekry. Die deernis en omgee wat ek ervaar het in my interaksies met mede-Suid-Afrikaners, het my met trots en hoop vir die toekoms gevul.  Ek het na `n vorige besoek ook geskryf oor hoe ek met nuwe oë na Suid Afrika kyk.

Ons het op die D’Aria-wynplaas in Durbanville gebly. D’Aria het hul huisies toegerus met beurtkraglampe en ons elke dag met tuisgebakte beskuit en ‘n bottel wyn bederf. My ma het tussen wingerde grootgeword, en ons oggendkoffie en beskuitjies in die herfskleurige wynlande het vir haar goeie herinneringe en rustigheid vir ons gebring.

Met my aankoms het Jacques die beurtkrag-app op my foon gelaai. Hy het beurtkrag benut om vir ons te kom kuier en vir ‘n wandeling tussen die wingerde te gaan Hy het ook vir ons van sy koeke gebring om na die tyd te geniet.

Onverwagte deernis en omgee

Tydens my besoek het ek deernis en omgee op onverwagte plekke ervaar.

Terwyl ek in ‘n ry gewag het

Ek het die beurtkragskedule geraadpleeg en vroegoggend in die ry geval vir die hernuwing van my rybewys. Ek en die vrou agter my het ‘n gesprek begin oor ons vrees vir die oogtoets. Later het ons so lekker gesels dat ons nie eers agtergekom het hoe vinnig die ry korter word nie. Ek was verbaas toe sy my agterna by die uitgang inwag om my “net behoorlik te groet en my voorspoed op my pad toe te wens”.

Tydens ‘n installasie

Ons moes vir versekeringsdoeleindes ‘n alarmstelsel in Christo se motor installeer. Die tegnikus het verduidelik dat die installasie ‘n paar uur sou neem en toe hy ma sien, het hy aangebied om ons na die naaste winkelsentrum te neem en ons weer op te laai. Hy het Afrikaans gepraat ter wille van my ma nadat sy hom ingelig het Engels in die Kalahari as ‘n vreemde taal beskou word. Ons kon rustig ‘n Spur-ontbyt geniet en lekker gesels terwyl hy my gereeld op hoogte van hul vordering gehou het.

Opsoek na parkering

Ek het altyd gedroom oor my seuns as studente aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek het uitgesien na my middagetes saam met hulle by die Katjiepiering-restaurant in die Universiteit se Botaniese Tuin en het vir my ‘n besoekerskaart gekoop. Jacques het egter by ‘n ander Universiteit beland en tydens Christo se studentejare op Stellenbosch, het ons in Zürich gewoon en Covid het die wêreld besoek.

Gelukkig het my Botaniese Tuin geleentheid tydens my onlangse besoek gekom en my ma kon saam met ons kuier. Ek wou ter wille van my ma naby die hek parkeer, maar soos op enige kampus was parkering ’n probleem. ’n US-sekuriteitsbeampte het my dilemma waargeneem, deernis gehad en onverwags ’n privaat parkeerplek naby die hek vir my beskikbaar gestel. Met sy positiewe ingesteldheid het hy my gehelp om na sewe jaar uiteindelik my Botaniese Tuin-besoekerskaart saam met my gesin te gebruik!

Toe ek ‘n fout gemaak het

’n Dag voor my terugkeer moes ek my nuwe bankkaart gaan haal en die pin by die OTM verander. Ek het egter ‘n fout gemaak, en my nuwe kaart is geblok! Verleë en hoed in die hand het ek teruggekeer na die toonbank en om verskoning gevra. Die dame het deernisvol geglimlag.

“O mevrou, ons maak almal soms foute. Ek kan net dink jou kop is seker op ‘n ander plek met die vlug na Switserland môre.”

Op die vlug het ek die volgende stelling gelees wat bevestig het dat die mense van Suid-Afrika die regte harte het om die verandering wat in ons land vereis word, teweeg te bring.

Groete

Emsia

My gebed vir my land Suid Afrika

My gebed vir my land Suid Afrika

Die woorde uit die Stem van Suid-Afrika, die volkslied voor 1997, het onlangs weer my pad gekruis.

Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe –
Ons vir jou, Suid-Afrika.

Ek het diep besin oor die implikasie van daardie woorde vir Suid-Afrika in 2023.

Vandat ek kan onthou, het Suid-Afrikaners met baie uitdagings geworstel. Gedurende my skooljare is alle manlike skoolverlaters vir militêre diens opgeroep en moes hulle ons land teen die “Kommunistiese Gevaar” beskerm. Baie jong manne wat op die grens geveg het, het nooit teruggekeer huis toe nie en diegene wat dit wel terug gemaak het, was nooit dieselfde nie. Was dit wat die woorde van die Stem beteken het?

In 1997 het die “nuwe” Suid-Afrika ‘n nuwe volkslied gekry. Nkosi Sikelel’ iAfrika bestaan uit 5 van die 11 amptelike tale. Ons vra God om Afrika en ons as haar kinders te seën en om oorloë en onderdrukking te beëindig. Dit versoek alle Suid-Afrikaners om verenig te staan en na vryheid te streef. Dit is ‘n edele strewe, maar so ‘n moeilike pad om om te loop.

Verandering is ‘n pynlike proses.

As ek terugkyk oor die afgelope 30 jaar, is ek verstom oor die omvang van die veranderinge wat geïmplementeer is. Nuwe regulasies moes transformasie in die werkplek verseker. Die doel was om die rasse-, geslags- en ekonomiese status van die werkplek te verander ten einde die Suid-Afrikaanse bevolkings demografie te weerspieël.

Verandering is ’n pynlike proses, en elke Suid-Afrikaner het op een of ander manier pyn ervaar. Ek het gehelp om transformasie in die werkplek te bestuur en het met deernis geluister na emosionele stories oor onreg in die verlede.

Beroepsgeleenthede in Suid-Afrika het egter aansienlik verander. Baie mense moes oorsee trek om kos op die tafel te sit. Om in ‘n ander land te werk en te woon is ‘n geleentheid en ‘n avontuur, maar dit verg baie leefstylveranderinge. Jy sal altyd ‘n buitestander wees en jou mense, taal en kultuur mis. Die weerstoestande verskil en die lang koue winters in die noordelike halfrond is uitdagend.

Mense in Suid-Afrika moet met baie uitdagings en frustrasies worstel. Die infrastruktuur gaan vinnig agteruit. Hulle moet rondom beurtkrag beplan en die slaggate in die paaie probeer vermy. Korrupsie vier hoogty, sekuriteit is ‘n probleem, en openbare dienslewering is dikwels swak en onbetroubaar.

Verandering neem tyd

Ek leef lank genoeg om uit ondervinding te weet dat verandering pynlik is en tyd neem. Ons is gewoonlik bereid om geduldig te wag vir dit wat vir ons kosbaar is. Suid-Afrika het pragtige, diverse landskappe, warm en vriendelike mense, en ryk tradisies. Ons is lief vir ons land en is bereid om al die pyn te verduur om dit ‘n plek te maak wat ons met trots huis noem.

Ek glo in God se plan vir Suid Afrika

Suid Afrikaners is oor die algemeen baie gelowig, omdat ons ons afhanklikheid van God so goed verstaan. Ten spyte van verskille in godsdiens beoefening, het ons die gemaklikheid om vir mekaar te vra om vir ons te bid as dit moeilik gaan.  Solank ons in God glo, kan Hy in ons harte werk.

Ek huil vir my geliefde land, maar ek het ‘n onwrikbare geloof dat God ‘n groter plan met Suid-Afrika het. Hierdie plan sal egter geduld, verdraagsaamheid en samewerking verg van elke Suid-Afrikaner wat in of buite Suid-Afrika woon. Al lyk dit vir elke burger anders, sal ons antwoord op Suid-Afrika se roepstem en opoffering wat sy vra.

My gebed vir Suid Afrika – Nkosi Sikelel’ iAfrika

Ek bid die woorde van ons veeltalige volkslied – Nkosi Sikelel’ iAfrika, waarin ons God vra om ons te beskerm en ons help om saam te staan.

https://youtu.be/MkyHN1_28q0
Language: isiXhosa and isiZulu
Nkosi Sikelel' iAfrika (God Bless Africa)
Maluphakanyisw' uphondo lwayo, (Raise high Her glory)
Yizwa imithandazo yethu, (Hear our Prayers)
Nkosi sikelela, thina lusapho lwayo (God bless us, we her children)
Language: Sesotho
Morena boloka setjhaba sa heso, (God protect our nation)
O fedise dintwa le matshwenyeho, (End all wars and tribulations)
O se boloke, O se boloke setjhaba sa heso, (Protect us, protect our nation)
Setjhaba sa South Afrika - South Afrika. (Our nation South Africa - South Africa)
Language: Afrikaans
Uit die blou van onse hemel, (Ringing out from our blue heavens)
Uit die diepte van ons see, (From the depth of our seas)
Oor ons ewige gebergtes, (Over our everlasting mountains)
Waar die kranse antwoord gee, (Where the echoing crags resound)
Language: English
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom,
In South Africa our land.

Groete

Emsia

Zürich bloeisels en lente blomme

Zürich bloeisels en lente blomme

Ons is amper deur ons vierde winter in Switserland en ek moet bieg dat ek sukkel om deur die laaste paar weke van die winter te kom. Gelukkig begin die eerste tekens van lente hul verskyning maak. Die lente in Zürich het mylpale in die vorm van bloeisels en blomme wat my opgewonde maak en my verseker dat die son, warmte en kleur op pad is.

Ek deel meer oor die soorte bloeisels en lenteblomme in Zürich.

Sneeuklokkies en Krokusse

Die heel eerste blomme wat hul verskyning maak, is sneeuklokkies. Hulle verskyn reeds gedurende Februarie en Maart en in baie gevalle, terwyl daar nog sneeu op die grond is. Hulle is spierwit en lyk delikaat en broos maar is baie geharde blommetjies.

Gedurende Maart kleur die krokusse die grasperke in. Die krokusse behoort aan die iris familie en is inheems aan die Alpe. Hulle kom in tipiese paaseier kleure van pers, geel, room en wit voor.

Affodille

Die goudgeel affodille begin gewoonlik teen middel Maart hul verskyning maak. In die Duitse lande word hulle Osterglocke (Paasklokke) genoem omdat hulle gedurende Paasfees blom. Ek het hier eers besef hoe baie verskillende soorte affodilvariëteite daar is.

Magnolias

Die Magnolia-bloeisels verstom my elke jaar. Hulle lyk soos skoenlappers wat uit hul papies ontvou. Hulle begin ook in die middel van Maart blom. Danksy die soet, romerige en ligte blommegeur word magnolias al eeue lank in parfuum gebruik.

Kersiebloeisels

Die kersiebloeisels tussen middel April en vroeg in Mei is vir my ’n hoogtepunt. Naby Frick en Zug is daar kersiebloeisel-staproetes wat die geleentheid bied om deur die kersieboorde te stap.

Tulpe

Vanaf middel April begin die Tulpe ook in mense se tuine verskyn. Een jaar was ons gelukkig genoeg om die tulpefees by Morges, ‘n dorpie langs die Genevemeer, by te woon. Die beste plek om tulpe te geniet is Mainau blomme eiland, net oor die grens in Konstanz, Duitsland, sowat ‘n uur se ry vanaf Zürich.

In Switserland kan die publiek hul blomme by uitgesoekte blomplase pluk. Ek het die foto in Forch geneem, stapafstand van ons huis af. Charl het my bederf en vir ons huweliksherdenking kon ek my gunsteling tulpe kies.

Canola

Gedurende April begin die Canola-lande die wêreld goudgeel inkleur. Die reuk van Canola hang in die lug. Ons ry graag met ons fietse tussen hierdie Canola-lande. Hulle beoefen wisselbou en aan die begin van die seisoen sien ek nuuskierig om te sien watter areas geel gaan word.

Wisteria en Irisse in Belvoir Park

Vroeg in Mei begin die Wisteria blom. Ek sien dit in mense se tuine, maar die mooiste voorbeeld is in Belvoir Park, waar daar koepels is waarteen hulle oprank. Hulle kom in wit en pers voor.

Middel Mei begin die mooiste iris variëteite en kleurkombinasies in Belvoir Park blom.

Rhododendrons

Gedurende Mei blom die Rhododendrons.  Dit is groot struikagtige plante en familie van die kleiner Azalia plante. So 30 minute buite Zürich is die Seleger Moor Park waar baie van hulle groei.  Ek het verlede jaar die park besoek en dit was verseker die moeite werd want ek kon Peonies in blom ook te siene kry.

Gedurende lente is daar `n vrolikheid in die lug. Ek hoop jy het die vreugde van lente in Zürich deur my lens geniet.

Groete

Emsia

Vegan en glutenvrye uitdagings aanvaar

Vegan en glutenvrye uitdagings aanvaar

Toe my oudste seun Jacques in sy tienerjare onder my dak in Kaapstad gewoon het, kon ek nie byhou met die eiers en vleisaankope nie. Baie dinge het egter verander. Ek woon in Zürich, en hy volg ‘n plant-gebaseerde en glutenvrye dieet. Gevolglik het ons verskeie ontdekkings gehad om te deel tydens sy onlangse besoek.

Covid het tot Jacques se dieet kennis en fokus bygedra

Jacques is ’n gebore entrepreneur en het ná skool ’n graad in besigheidsbestuur verwerf. Covid het ‘n totale wending in sy aanvanklike loopbaan planne veroorsaak. Tydens Covid het hy as student in die Kruger-huishouding gewoon. Sy bydrae was om gebalanseerde etes voor te berei vir die gesin en dit moes vir verskeie voedsel allergieë voorsiening maak. Hy het sy voedselkennis verbreed en vinnig besef dat ‘n plantgebaseerde dieet baie gesondheids- en omgewingsdoelwitte bereik.

Jacques het ‘n bakkery, The Cinnamon Club, in Februarie 2021 begin. Sy gebak is plantaardig (vegan) en maak voorsiening vir voedselintoleransies soos gluten, laktose of suiker. Ek was verstom oor die kreatiewe aanbieding van sy gebak en sy besigheid se bemarking en dienslewering. Die Cinnamon Club groei en dit is hartverblydend om die terugvoer en boodskappe van waardering van bestaande en nuwe kliënte te lees.

Plantgebasseerde dieet

Wêreldwyd groei die aantal mense wat kies om ‘n plantgebaseerde dieet te volg. Sommige mense doen dit om gesondheidsredes en ander om die omgewing of dierewelsyn te beskerm. Hierdie tendens het ‘n beduidende impak op die voedselbedryf. Daar is baie nuwe veganistiese produkte op die mark. Restaurante en die kitskos bedryf stel ook meer plantgebaseerde opsies beskikbaar.

Veganuary is ’n inisiatief wat bewusmaking skep en mense aanmoedig om gedurende Januarie ’n plantgebaseerde dieet te volg. In Zürich was daar baie bemarking en bewusmaking vir Veganuary. Jacques was ‘n uitstekende ambassadeur en het my gehelp om my kennis oor die onderwerp uit te brei.

Ek het eers gedink dit is hoofsaaklik jong mense wat veganistiese diëte volg. Na baie gaste by ons huis die afgelope tyd, kan ek aflei dat baie mense van alle generasies hul dieet om verskillende redes aanpas.

Glutenvrye dieet

Baie mense ontwikkel mettertyd ‘n gluten intoleransie en moet gevolglik om gesondheidsredes gluten uit hul dieet sny. Hulle vermy dus voedsel wat van meel gemaak is. Gluten is ‘n familie van proteïene wat in koring, gars en rog voorkom. Dit gee die meel ’n taai tekstuur wanneer dit met water gemeng word en gee brood die vermoë om te rys wanneer dit gebak word.

My nuwe koskennis en -ontdekkings

As gevolg van Jacques se besoek het ek ‘n paar waardevolle ontdekkings gemaak. Ek deel meer oor die bestanddele wat ons gebruik het in die voorbereiding van glutenvrye en vegan maaltye.

Kekerertjiemeel (grammeel) en Aquafaba

Ek bak elke week `n saadbroodjie wat proteïenryk en vullend is en het die broodjie aangepas deur die broodmeel met `n glutenvrye mengsel van kekerertjiemeel, amandelmeel en hawermout, te vervang.  Ek het die jogurt en melk met soja opsies vervang en selfs Jacques het gedink die vegan en glutenvrye broodjie is heerlik.

Ons het ook die grammeel saam met maizena gebruik om glutenvrye tortillas te maak.

Die water van geblikte kekerertjies (Aquafaba) word ook as plaasvervanger vir eierwit in vegan geregte gebruik.  Ek was verstom toe Jacques my vertel hoe hy sy meringue vir sy pragtig versierde koeke hiervan maak. Aquafaba word ook gebruik om vegan mayonaise te maak.

Lensies

`n Paar van my maklike en vinnige aandetes bevat maalvleis.  Ek het geleer om eerder lensies te gebruik wat ook ʼn redelike hoë proteïeninhoud het.  Ek gebruik ook al hoe meer verskillende kleure lensies in groentesoppe om dit meer vullend te maak vir die groeiende tiener in my huis wat gedurig honger is.

Quinua

Quinua was ‘n veelsydige ontdekking en ‘n opsie wat ek nog nooit voorheen in my geregte gebruik het nie. Dit is beskikbaar in swart, rooi en wit of ‘n mengsel van die drie. Quinoa is ryk aan proteïene en ‘n goeie bron van voedingstowwe soos mangaan, magnesium en koper. Ons het die heerlikste Vegan Burrito Bowl met Quinoa en `n proteïenryke en veelkleurige Groente Quinoa Slaai gemaak.

Sojajogurt, Sojamelk en Kokosmelk

Baie van my resepte vra vir room, melk of jogurt om dit romeriger te maak. Ek het nou sojajogurt, sojamelk, klappermelk en -room ontdek, wat plantgebaseerde maniere is om dieselfde doel te bereik.

Dit was wonderlik om my kinders weer onder my dak te hê. Ek is ook dankbaar dat Jacques se besoek my geïnspireer het om die veganistiese en glutenvrye uitdaging in Januarie te aanvaar, meer oor plantgebaseerde kos te leer en anders daaroor te begin dink.

Groete

Emsia

Al my kinders weer onder my dak

Al my kinders weer onder my dak

Ek was so opgewonde om al my kinders weer onder my dak te hê. Januarie was gevolglik ‘n vreugdevolle manier om 2023 af te skop. Hulle moes binne een dag van uiterste somertemperature in Suid-Afrika na uiterste wintertemperature in Switserland aanpas. ’n Sprokiesagtige sneeu-ervaring het die ysige weer egter die moeite werd gemaak.

Jacques

Jacques het vroeg in Januarie aangekom. Sy bakkery, The Cinnamon Club, het ‘n besige groeijaar beleef en hy het gevolglik uitgesien na ontspanningstyd in die natuur en inspirasie vir nuwe idees en kreatiwiteit. Net soos die Switsers glo Jacques ook in die positiewe uitwerking van koue winterbaddens op liggaam, siel en gees. Hy het die pragtige natuurlike plekke in die woud geniet waar hy sy winterbad kon neem.

Hy volg ‘n plantgebasseerde en glutenvrye dieet. Die situasie het my aangemoedig om my dieetkennis uit te brei. Sy besoek het mooi saamgeval met Veganuary, wat daarop gemik is om bewustheid te skep oor die gesondheids- en omgewingsvoordele van plantgebaseerde diëte. Ons het lekker saam gekook en kos idees uitgeruil. Ek het in ‘n vorige brief meer gedeel oor hoe Jacques my kosmaak met liefde geïnspireer het.

Al my kinders saam

Christo en sy meisie Simone het ‘n week later opgedaag. Die tienermanewales van my volwasse seuns het uitgekom die oomblik toe hulle saam was. Zander het sy simpel broers geniet. Ek kon net glimlag vir die plaaslike inwoners se vraende kyke na die jong mans se kaalvoete en Crocks in temperature onder vriespunt.

Dit was kosbaar om weer familietyd om ons houttafel deur te bring. Ons het hulle blootgestel aan die Switserse winterkosspesialiteite, Raclette en Fondue. Die verskillende vorme van Switserse kaas skep ‘n aangename geselligheid om die tafel in die ysige wintermaande.

House of Lindt was eerste op ons Zürich-reisplan en ons het ons bestemming per boot op die Zürichmeer bereik. Jacques maak self sy vegan sjokolade en het die inligting oor die kakaoproduksieproses en geskiedenis van sjokoladeverbruik baie interessant gevind. Die res van ons het meer gefokus op Lindt se vele geleenthede om die verskillende soorte sjokolade te proe. Dit was ook die perfekte plek vir geskenke vir Simone se familie in Suid-Afrika.

Die sneeu het ‘n dag voor Jacques se vertrek begin val, en ek was dankbaar om die wonder van die eerste sneeu met hulle te kon deel.

Christo en Simone

Terwyl die sneeu liggies geval het, het ons saam met Christo en Simone Flumserberg toe gery. Dit is ons naaste ski-oord, wat ook verskeie geleenthede bied om in die sneeu te stap. Met ons aankoms was dit -9 grade. Ons het met ‘n skilift hoër op teen die berg gegaan en in die sagte wit sneeu afgestap terwyl ons gekyk het hoe gesinne ski, snowboard en in slees ry.

Weens die erge koue het ons vir die res van die week binnenshuise aktiwiteite gekies. Ons het Zürich se kunsmuseum besoek en oorspronklike werke deur Van Gogh, Monet en Picasso bewonder. Ek het ‘n moderne uitstalling deur Pipilotti Rist geniet. Dit is ‘n pixelwoud wat van kleur verander met die mooiste dromerige musiek as agtergrond. Die kreatiwiteit het ons geïnspireer om vir ‘n dag tuis te bly en te verf terwyl ons na ontspannende musiek luister.

Op die laaste dag voor hul vertrek terug na Suid-Afrika het ons na Konstanz, net anderkant die Duitse grens, gery. Ek wou ‘n Europese spa-ervaring met hulle deel. Ons het na Konstanz Therme gegaan en met ‘n uitsig oor die Bodenmeer in die warm water ontspan. Simone se wens om ‘n Duitse Bratwurst te eet, het ons middagete in die hawe geïnspireer.

My hart was seer maar tevrede toe ek hulle by die lughawe moes afsien. Almal het nuwe energie vir die jaar wat voorlê. Jacques het baie idees vir sy bakkery en Christo moet fokus op die finale jaar en tesis vir sy ingenieurstudies en besluite oor die toekoms.

Ek is dankbaar vir kosbare herinneringe.

Groete

Emsia

In die middel van die vuur

In die middel van die vuur

Familielede is ondersteuners en getuies van ons unieke lewensreise.  Dit is egter pynlik om as ondersteuner en getuie die mense vir wie jy lief is te sien swaarkry. Januarie was ʼn swaarkry maand vir my familie in die Kalahari.  Hulle het in die middel van die vuur gestaan.

Foto deur Altus van Zyl

Januarie 2023

My enigste suster en beste vriendin, Ansa, het Januarie met gemengde emosies ingewag. Vanjaar is die laaste skooljaar vir Marga voordat sy die nes verlaat. Vir Altus is dit egter sy eerste jaar van hoërskool en koshuis in Upington, sowat twee ure weg van hul plaas in die Kalahari. Dit is dus ‘n jaar van verandering vir hul gesin.

Ansa het in die week wat die skole geopen het, in Upington oorgebly om haar kinders te ondersteun waar nodig. Met temperature vêr bo 40 grade, is Upington bekend vir sy uiterste hitte. Sonder lugversorging as gevolg van beurtkrag in Suid-Afrika, is Upington se hitte byna ondraaglik. Tydens Hoërskool Upington se inlywingsprogram vir die graad 8-“botsels”, het die leerlingraad verseker dat die nuwe leerders elke uur water drink om dehidrasie te voorkom.

Wanneer die vuur om jou brand

’n Benoude telefoonoproep het Ansa ingelig dat Andre haar ondersteuning op die plaas ook nodig het. Veldbrande in die omgewing was besig om hul plaas te vernietig. Andre moes die paniek in sy beeste en wild aanskou terwyl hulle verward tussen die swart rookwolke hardloop.

Boere en mense in die omgewing het deur die nag saamgestaan om die brande onder beheer te probeer kry. Meer as die helfte van hul plaas het afgebrand. Ansa het aanvanklik besluit om haar kinders teen die ontstellende nuus te beskerm, maar met sosiale media was dit onmoontlik.

Foto deur Andre van Zyl

Al wat hulle kon doen, was om vir reën te bid. Verlig na `n uitdagende week maar ook met hartseer het hulle die naweek huis toe gekom. Teen die agtergrond van die velde bedek met as, het pragtige wolke in die lug gevorm met tekens van weerlig. Die volgende oomblik het hulle weer rook gesien en besef dat ‘n weerligstraal die veld weer aan die brand gesteek het. Andre en Altus het die hele Saterdagaand probeer om die brand onder beheer te kry. Die 13-jarige “botsel” moes oornag die realiteite van ‘n man in die gesig staar.

Hulp en ondersteuning

’n Plaas met beeste sonder weiding was skielik ’n groot probleem. Gelukkig werk ons Hemelse Vader in ander mense se harte om ons te help en by te staan wanneer ons nie meer kan nie. Andre het uit die bloute ‘n paar oproepe ontvang van mense wat sy nood verstaan het. Een boer het aangebied om beeste met kalwers by hom te koop en ‘n ander boer het gratis weiding op sy plaas aangebied. Daar was ook voerskenkings.

Instansies soos Droogtehulp en Hendrik van Wyk Vervoer het saamgestaan om voer vir boere in nood aan te ry. My trane het sommer geloop toe Ansa die aangehegte video op Facebook met my deel.  https://fb.watch/inskAVmOGC/

Foto deur Hendrik van Wyk Vervoer

`n Gesin wat saamstaan

Ons het nie beheer oor wat met ons gebeur nie, maar ons het ‘n keuse oor hoe ons dit hanteer. Andre se positiewe hantering van die situasie het my verstom. Die kalmte in sy stem tydens sy terugvoerboodskappe het ons ook rustiger laat voel. Hy het vertel hoe warrelwinde soms rook na die lug gestuur het en dat dit pragtig was om te sien. Die swart polle gebrande gras wys weer tekens van lewe en die nuwe groen gee hom hoop.

Ansa en haar kinders het alles moontlik gedoen om hom te help en te ondersteun, want hulle is ‘n gesin wat altyd saamstaan, ook wanneer die uitdagings kom. Hulle help, bemoedig en motiveer mekaar.

Ek het twee jaar gelede `n brief geskryf met die titel  Simbool van hoop in die natuur of in mense nadat die Kalahari gebukkend gegaan het onder `n langdurige droogte. Die sluise van die hemel het oopgegaan en die Kalahari was lowergroen.  Ek bid vir nog so `n wonderwerk.

Dit is gewoonlik wanneer ons in die middel van die vuur staan, wat ons God se stem en liefde die duidelikste kan sien, hoor en ervaar.

Groete

Emsia