Browsed by
Author: emsia.kruger

Ons waardeer die kosbaarheid van vriendskap

Ons waardeer die kosbaarheid van vriendskap

Zander begin uitsien na die Switserse ervaring, maar die gedagte aan maats groet, druk swaar op hom. Daar is ʼn paar van hulle wat ʼn snoesige plekkie in sy en my hart uitgegrawe het.

Abby

Sy spesiale meisie-maatjie is Abby. Daar is altyd ʼn glimlaggie in haar ondeunde blou oë en dié jaar het hy vir haar met Valentynsdag ʼn sjokolade skool toe geneem. Abby het net soos Zander ook twee groot boeties. Sy verstaan dus van videospeletjies, tienermusiek, -taal en -optrede. 

Op vierjarige ouderdom het hulle Graad 0 saam by Welgemoed Pre-Primêr aangepak. Met ons aankom by die nuwe skool was alles vreemd en trane het begin blink. Abby het soos ʼn engel net verskyn, sy handjie gevat en gevra of hy saam met haar wil speel. Hulle vriendskap het op ʼn brose oomblik vir ons beide begin.  Hulle het intussen van die sandput na videospeletjies en ysskaats verskuif, maar Abby bly steeds sy spesiale meisie-maatjie.

Abby en Zander swem

George

ʼn Mens kan jouself uiters gelukkig ag as jy ʼn buurmaatjie soos George het. Hulle deel ouderdom,  is in dieselfde klas en druk saam voor in die rugbyskrum. George en Zander kuier amper daagliks, behalwe eksamentye waartydens ek en Aletta beide hoop en bid ons kan mekaar nie hoor nie.  Hulle jaag saam baie kreatiewe kattekwaad aan. 

Een Saterdagoggend het hulle brandende klappers in die toilet gegooi en die onderste stuk van die toilet weggeskiet. By George-hulle leer Zander van bou, braaivleis en sussies. Die geboorte van Roxy se dierbaarste klein babahondjies was ʼn hoogtepunt. By ons leer George van grootboetie-dinge en tegnologie.

George en Zander braai

Kosbaarheid van vriendskap

Weggaan dwing mens om aan die kosbaarheid van al die spesiale vriendskappe en verhoudings in jou lewe te dink. Die kwaliteit van ons persoonlike verhoudings het ʼn groot impak op ons emosionele welsyn. Ek koester oomblikke waar ek gevoel het daar is ʼn sielskonneksie en iemand my hart verstaan. Dit is die genot van saamwees en lekker lag wat ons laste in uitdagende tye ʼn bietjie ligter maak.

Ons beplan ʼn plesierige afskeidspartytjie, sodat Zander en sy maats vir oulaas sommer net heerlik in ons tuin kan baljaar. Ek gaan op my eie manier rustig van elkeen van my vriende oor ʼn koppie koffie of glas wyn afskeid neem. Die moeilikste groet is as ek en Zander vir oulaas my familie in die Kalahari en Jacques in Potchefstroom moet groet voordat ons in Johannesburg op die vliegtuig Switserland toe klim.

Laaste groet oor ‘n glas wyn met Tafelberg as uitsig

Nuwe vriendskappe

As ek vorentoe kyk is vriendskappe en verhoudings een van die dinge waaroor ek die meeste bekommerd is met ons weggaan. Aan die een kant gaan ek, ten spyte van die afstand, kreatiewe maniere moet vind om my huidige kosbare verhoudings in stand te hou. Aan die ander kant gaan ek maniere moet vind om nuwe vriendskappe, met mense wat anders as ek grootgeword het, te vestig.

Dit is amper weer soos om na ʼn egskeiding te probeer uitgaan. As introvert is dit vir my makliker gesê as gedaan.  Charl sal hopelik in sy werksituasie en Zander by die skool vriende ontmoet. Ek sal egter moet moeite doen en myself dwing om deel van geleenthede te wees waar ek ander mense kan ontmoet.

Ek verstaan die Switsers is redelik privaat. Die Duits is natuurlik nog ʼn redelike hoë hekkie waaroor ek sal moet kom voordat ek Switserse vriende kan oorweeg. Ek sal aanvanklik maar na ander ouers by Zander se nuwe skool moet uitreik. Ons is immers almal in dieselfde bootjie.

Groete

Emsia

Vereenvoudig en verminder al die goed!

Vereenvoudig en verminder al die goed!

Ons is geneig om oor ‘n leeftyd baie goed bymekaar te maak. Hierdie items verdwyn gerieflik agter geslote deure, en ons vergeet daarvan. Soos ‘n uitgestelde afspraak wag ons besittings vir ons. ‘n Verhuising na Switserland wat ons gedwing het om te vereenvoudig, het egter gouer opgedaag as wat ons gedink of gehoop het.

Jacques en Christo help met die swaar items

Jacques se entrepreneursvaardighede was nuttig

Jacques het sy entrepreneursvaardighede vir die groot items benut. Hy het die items aanlyn geadverteer en sy potensiële klante op ‘n baie professionele en oortuigende manier hanteer. As hy onseker was oor hoe om die elektriese toestelle te gebruik, het hy sy navorsings- en tegniese vaardighede gebruik om dit uit te vind.

Ek glimlag steeds as ek dink aan die verkoop van ‘n koffiemasjien, wat Jacques nie betyds aan die gang kon kry nie. Jacques het oop kaarte oor sy penarie met die potensiële koper gespeel. Gelukkig was die koper geduldig en het hy en Jacques dit kruisbeen op die vloer saam uitgepluis. Glimlaggende gesigte en ‘n high-five ‘n halfuur later, was my teken dat hulle ʼn werkende koffiemasjien het. Die koper het weggestap met ‘n afslag en ‘n pakkie koffiebone vir sy geduld.

Ons het wonderlike mense in die proses ontmoet

Die wonderlikste mense het opgedaag. Hulle het persoonlike stories gedeel oor hoekom hulle op soek was na ‘n spesifieke item. Die middeljarige man wat die roeiboot gekoop het, wou dit vir sy eerste vakansie saam met sy nuwe vrou en haar seuns hê. Die vriendelike man wat die fiets gekoop het, het beplan om saam met sy vrou te begin oefen. Ons afslag was ons vorm van ondersteuning vir hierdie belangrike saak.

Ons berei voor vir die tweedehandse verkope mark

Tweedehandse verkope mark

Ons het die tweedehandse verkoopsmark vir kleiner items betree. Ons het, voorbereid met ‘n bottel koffie en ‘n pakkie beskuit, Saterdagoggend seweuur by die vlooimark opgedaag. Van die mense het ernstig onderhandel omdat elke sent saak maak. Ander het ‘n tweede keer teruggekeer en ons vertel hoe hulle of hul kinders die items wat hulle die eerste keer gekoop het, geniet het. Dit was ‘n verrykende en onvergeetlike ervaring.

Zander help met die verkope

Sommige items was moeiliker om te verkoop as gevolg van die emosionele waarde en die stories wat ek in my hart dra. ’n Voorbeeld hiervan was Christo se blou tas met ’n stel plastiektreine en rooi spore waarvoor hy mal was. Toe ’n driejarige seuntjie langs my kom sit en met die treine begin speel, was ek reg om dit te laat gaan.

Nuwe grootouers het die Kersboom met al die liggies en versierings gekoop vir hul nuwe kleinkind se eerste Kersfees. Baie grootouers het Lego-stelle en legkaarte as Kersgeskenke vir hul kleinkinders gekoop. Hulle het gehoop die nuwe generasie sou hul skerms vir behoorlike speelgoed verruil.

Aandete tussen die markitems wat rondstaan

‘n Goeie begin is gemaak

Die proses was ‘n goeie begin in ons missie om ons lewens te vereenvoudig. In die toekoms wil ons net iets koop wanneer ons dit nodig het. As ons nie ‘n item gebruik nie, moet ons dit weggee. Ons wil fokus op ervarings eerder as besittings.

Die volgende stellings druk dit goed uit:

Ons bereik perfeksie, nie wanneer daar niks meer is om by te voeg nie, maar wanneer daar niks oor is om weg te neem nie” en “Die vermoë om te vereenvoudig beteken om die onnodige uit te skakel sodat die nodige tot hul reg kan kom ”.

Groete

Emsia

Die lewe se groot, moeilike besluite

Die lewe se groot, moeilike besluite

30 Oktober 2018

Groot, moeilike besluite kruis dikwels onverwags jou lewenspad. Hulle veroorsaak koersaanpassings. Hulle impak op jou is beduidend, maar so ook op die mense na aan jou. Die groot, moeilike besluite veroorsaak nagte se wakker lê en ure se lysies om voor- en nadele te analiseer.  Die besluit word uiteindelik geneem op grond van ‘n wete diep binne-in jou. Die woorde van hierdie wete is beperk, wat dit uitdagend maak om die besluit te verduidelik.

Charl diep in gedagte

Ons groot en moeilike besluit

So ‘n groot en moeilike besluit het nou oor ons pad gekom. ‘n Geleentheid het hom voorgedoen vir Charl om vir ‘n paar jaar in Switserland te werk. Die impak hiervan is groot. Die grootste is vir seker op Jacques en Christo. Jacques het darem sy voete gevind as student aan die Noordwes-Universiteit, maar Christo moet sy finale skooljaar voltooi en dan met sy studentejare aan die Universiteit Stellenbosch begin. My seuns is onafhanklike jong mans, maar my moederhart bloei vir hulle.

Impak op my familie

Die impak op my ma en suster, Ansa, is ook groot. Met hulle wat in die Kalahari woon en ons in die Wes-Kaap, is afstand nie ‘n vreemdeling nie. Ons jaarlikse byeenkomste, soms in die Kaap en soms in die Kalahari, is my jaarlikse hoogtepunt. Dit is die week wat ons vergeet van ons verantwoordelikhede, pret hê, onophoudelik gesels, lag en gemmertee in die tuin drink. Daardie week leer Ansa se plaaskinders meer van die stadslewe, of my stadskinders leer van die plaaslewe, afhangend van waar ons kuier.

Selfoontegnologie stel ons in staat om in kontak te bly. Ons beplan om by ons ritme te hou om een keer per jaar in Suid-Afrika te kuier, en hopelik kan hulle ons een keer in Switserland besoek. Ons skuif skep ‘n uitstekende geleentheid vir ons familie om ‘n internasionale vlug en ‘n Europese ervaring te hê.

Ons kuier op die plaas in die Kalahari

Charl is baie opgewonde oor die werksgeleentheid. Zander is hartseer om afskeid te neem van sy vriende en rugby. Ek is bekommerd oor sy aanpasbaarheid as Afrikaanse seun in ‘n internasionale skool. Ek weet egter dat kinders baie meer aanpasbaar is as wat ons dink. Charl sal vroeg in die nuwe jaar in Zürich begin werk, maar ek en Zander sal heelwat later by hom aansluit sodat ek die grootste deel van sy laaste skooljaar by Christo kan wees.

Dit maak my hartseer om my familie en wonderlike vriende agter te laat. Ons het die afgelope twintig jaar kosbare vriendskappe opgebou rondom die sportveld en na kerk op Sondae. Hoe neem ek afskeid van ons huis en sy lieflike tuin waar my kinders grootgeword het?

Oktobermaand

My pa het altyd gesê: “Oktober is die mooiste maand van almal!”. Ek het eers gedink dit is as gevolg van die lente, maar ek verstaan nou beter. Dit was die dertiende tjek maand by die werk. Oktober was ook vir my ‘n rooiletter maand. Op ’n laat Donderdagmiddag in Oktober het my lewensreis begin. Die Switserse geleentheid het in Oktober aan ons deur kom klop, en volgende Oktober gaan ek heel waarskynlik my vyftigste verjaardag in Switserland vier.

Dit is ‘n moeilike besluit, maar ons moet die geleentheid aangryp. Ek is jammer oor die impak op die mense vir wie ek lief is. Hulle het nie eens ‘n keuse in die saak nie. Ons weet nie hoe dit gaan uitdraai nie, maar ons weet dat so ‘n ervaring sal bydra tot ons persoonlike groei en perspektief op ‘n veranderende wêreld.

Besluite

My beste vorm van verandering verwerk, is om daaroor te skryf.  Ek het dit reeds vyf-en-twintig jaar gelede uitgevind toe ons die twee jaar in Londen gewerk het en dit my enigste bekostigbare manier was om kontak te hou. Daardie tyd was dit nog gewone briewe in ʼn koevert met ʼn posseël op. Ons kon nog op die Suid Afrikaanse posdiens staatmaak.

Ek belowe om gereeld vir die mense wie ek omgee te skryf en almal so op hoogte te hou van ons innerlike en uiterlike reis. Hierdie is die eerste van baie briewe.

Groete                                                   

Emsia