Innerlike reis in ‘n vreemde land
Soms wanneer ons road trips beplan, het God innerlike reise van ‘n ander aard vir ons in gedagte. Ek sal die afgelope winter onthou. Dalene en my pad het gedurende Covid-tye onder vreemde omstandighede in Europa gekruis. Ek het so baie by haar geleer in die kort tydjie wat ek ‘n haar pad duideliker kon sien. Laat ek die storie deel.
Lente is in die lug in Mosselbaai en Dalene dink opgewonde aan hulle road trip wanneer Burger oor ʼn paar dae huis toe kom. Hy werk nou al vir 15 jaar lank as ʼn dokter in verskeie Afrika-lande. Afstand is deel van hul werklikheid, maar hierdie ses maande wat deur Covid veroorsaak is, was besonder lank.
Hy kan gelukkig vir ses weke huis toe kom. Hulle gaan rondry, elke aand braai en hy kan sy batterye herlaai in sy werkkamer waar hy so graag houtwerk doen. Dit voel of hulle vir die eerste keer kan begin asemhaal na 5-jaar se versmorende pyn veroorsaak deur Sumaré, hulle jongste dogter, se noodlottige motorongeluk as eerstejaarstudent.
Die selfoon lui en die boodskap laat Dalene in skok. Burger het ‘n erge beroerte gehad in woestynagtige Mauritanië in Afrika, sy huidige werkplek! Die telefoonoproep het hul onbeplande individuele en gesamentlike emosionele reise in Covid-tye met baie beperkende maatreëls, afgeskop.
’n Ambulans het Burger per woestynpad na die hoofstad, Nouakchott, vervoer. Vandaar het hy per ambulansvliegtuig na Frankfurt, Duitsland, gevlieg. In Frankfurt het dokters ’n noodoperasie uitgevoer om ’n deel van sy skedel te verwyder om die swelling in die brein te akkommodeer. Dalene het haar werk van 21 jaar, bedank en reëlings getref om vir ‘n onsekere en onbepaalde tydperk na Duitsland te vlieg.
Duitsland
Met haar aankoms in Frankfurt het hospitaalpersoneellede haar meegedeel dat sy weens Covid nie haar man in die ICU kon sien nie. Daaglikse terugvoer was beperk tot “kritiek maar stabiel”. Ná twee weke het die dokters hom na die neurologiese Schmieder-Kliniek in Allensbach Duitsland, oorgeplaas. Na nog drie dae se wag vir Covid-toetsuitslae, kon sy uiteindelik haar man sien. Sy kon hom egter net drie dae per week en twee uur op ‘n slag sien. Vir die res van die tyd was dit net sy en haar gedagtes in ‘n gastehuiskamer. Die omgewing het al dowwer en kouer geword namate die winter nader gekom het.
Hul familie en vriende is bekommerd en probeer uitreik na Suid-Afrikaners wat kan help om ondersteuning te bied. Ek was naby genoeg om met die trein te reis, en ons en die Prinsloo se paadjies het gekruis. Ek en Dalene het een keer per week per trein na Konstanz gereis, ‘n dorpie aan die Duitse kant naby die Switserse grens. Dit was koud buite en restaurante in Duitsland is gesluit weens Covid. Ons het oor die grens na Switserland gestap en mekaar oor ‘n warm koppie koffie in ‘n Switserse winkelsentrum leer ken.
Zürich in Switserland
Dit het van kritieke belang geword vir die dokters om die deel van Burger se skedel, wat tydelik in sy maag gestoor is, terug te sit. Weens onbeskikbare ICU-sale in Duitsland het hulle ‘n neurochirurg in Zürich geïdentifiseer. Die Switserse dokter moes op Oukersaand opereer, afhangende van die beskikbaarheid van ‘n ICU-bed. Burger sou op 23 Desember per ambulans na Zürich vervoer word, en ons sou Dalene per motor kom haal. Die ICU was nie beskikbaar nie, maar vir die eerste keer in 10 maande kon hulle op die 24ste en Kersdag onbeperkte tyd saam deurbring.
Die operasie het plaasgevind ‘n dag voordat die neurochirurg met vakansie vertrek het. Die prosedure was ‘n sukses, maar Covid-reëls was strenger. Talle reëlings, briewe en Covid-toetse later het Dalene in ’n ambulans saam met Burger na Duitsland teruggekeer. Dit was die laaste keer dat ek Dalene gesien het. Ná nog twee maande, waartydens sy hom net vir een uur per week kon sien, het sy my opgewonde meegedeel dat hulle vroeg in Maart Suid-Afrika toe vlieg vir verdere rehabilitasie daar.
Burger en Dalene se uitdagende situasie, wat hulle met soveel hoop, geloof en liefde aangepak het, het die lense waardeur ek na die lewe en voorregte kyk aansienlik beïnvloed. Covid omstandighede is moeilik vir ons almal. Daar is egter moeilikheidsgrade. Een voorbeeld hiervan is ‘n onverwagse oproep om ons in te lig dat dit tyd vir ‘n innerlike reis in plaas van ‘n road trip is.
Ter herinnering van die vreemde tye het ek ʼn foto-video gemaak.
Groete
Emsia