Browsed by
Author: emsia.kruger

Ouerskap verander met volwasse kinders

Ouerskap verander met volwasse kinders

Ouerskap is ’n groot voorreg, maar dit bring ook ’n reuse verantwoordelikheid mee. Die manier waarop ons ons kinders grootmaak, beïnvloed nie net húlle nie, maar ook die geslagte ná hulle. Dit verg voortdurende wysheid, balans en baie liefde, veral wanneer ons kinders volwassenheid begin betree en ons rol saam met hulle verander.

Wanneer die ouerskaprol begin verander

Toe ons kinders klein was, was ons rol eenvoudig en duidelik. Ons moes voorsien, versorg, beskerm en hulle onvoorwaardelik liefhê. Selfs wanneer almal nie altyd saamgestem het nie, was daar sekerheid dat die finale besluit by ons as ouers lê.

Namate ons kinders volwassenheid betree, verander alles. Die ouer-kind verhouding word heronderhandel en beweeg van outoriteit en afhanklikheid na begeleiding langs mekaar. Elke kind beweeg op sy/haar eie manier deur hierdie oorgang en as ouers leer ons om elkeen met nuwe oë en nuwe respek te ontmoet.

Ek bid gereeld vir wysheid in my ma-rol. Dikwels ervaar ek dat God deur boeke, gesprekke of onverwagsse insigte met my praat. Ek deel graag ’n paar gedagtes uit hierdie reis — dinge waarin ek groei, waaraan ek werk en waarvoor ek dankbaar is.

Om te laat gaan

Ons moet ons kinders lief genoeg hê om hulle te laat gaan. Hoe moeilik dit ook al is, ons rol móét kleiner word sodat hulle met selfvertroue tot verantwoordelike volwassenes kan groei. Ons rol skuif van beheer na bemagtiging. Daarmee kommunikeer ons “ek glo in jou”. Volwasse kinders neem verantwoordelikheid vir hul finansies, verhoudings, groei en lewenskeuses.

Ons rol word om sagkens aan te moedig, sonder om in te meng. Soms kan ons nog as mentors dien, maar net wanneer ons uitgenóói word. Die fokus verskuif na bevestiging eerder as korreksie, na die dinge wat reeds goed en mooi is. Bevestiging bou identiteit en selfvertroue; kritiek kan maklik afbreek.

Gesonde grense wat groei bevorder

Gesonde grense gaan nie oor beheer nie — dit gaan oor respek. Dit skep veiligheid en bring helderheid vir beide ouers én kinders. Sonder grense raak rolle vaag, kinders bly afhanklik en ouers voel oorweldig. Grense sê nie: “Ek besluit namens jou” nie. Grense sê: “Ek bestuur my betrokkenheid, maar ek vertrou jou om jou besluite en gevolge te hanteer.” Só kweek ons selfstandigheid, karakter en innerlike krag.

Finansiële verantwoordelikheid en volwassenheid

’n Jongman vra eendag vir ’n ouer, wyser sakeman: “Wat verg dit om finansieel gesond en verantwoordelik te word?

Die sakeman glimlag en antwoord: “Twee woorde: goeie besluite.

Maar hoe leer mens om goeie besluite te neem?” vra die jongman.

“Een woord,” sê hy: “ervaring.”

En hoe kry ek ervaring?” dring die jongman aan.

Die ouer man het geantwoord: “Twee woorde: slegte besluite.”

Een van die belangrikste aspekte van ware volwassenheid is finansiële rentmeesterskap. Ons leer nie ons kinders deur alles namens hulle te finansier nie, maar deur verantwoordelikheid stapsgewys oor te dra. Oop gesprekke oor geld, duidelike perke vir ondersteuning en selfs die vryheid om ’n paar foute te maak — dit alles kweek wysheid. Ons doel is nie om elke krisis te keer nie, maar om hulle toe te rus om self sterk te staan.

’n Nuwe seisoen van vriendskap

Wanneer ons minder nodig is, kan dit ’n gevoel van verlies bring en dit is normaal. Dit is ook ’n uitnodiging tot persoonlike groei: tyd saam met vriende, nuwe stokperdjies, nuwe ervarings. Selfsorg is nie selfsugtig nie. Dit is noodsaaklik.

Tóg bly dit kosbaar om steeds dinge saam met ons kinders te doen. Die verhouding beweeg van hiërargie na vriendskap. Om saam te lag, nuwe herinneringe te skep, nuwe plekke te ontdek – dit hou ons naby aan mekaar.

Hul wêreld lyk anders as ons s’n

Elke generasie beleef die wêreld anders. Vandag se jong volwassenes het waardes en perspektiewe wat wesenlik van ons sʼn verskil. Hulle leef in ’n konteks wat hulle laat soek na vryheid, egtheid, betekenis en buigsaamheid. Ons generasie is gevorm is deur plig, sekuriteit, stabiliteit en lojaliteit.

Hulle glo identiteit is vloeibaar en persoonlik. Elke mens het die reg om hulself te definieer in terme van geloof, loopbaan, seksualiteit en kultuur. Werk is vir hulle bloot ’n middel tot ’n betekenisvolle, gebalanseerde lewe. Titels dra selde gewig. Hulle respekteer integriteit, bekwaamheid en geloofwaardigheid. Hulle verifieer alles aanlyn.

Digitale kommunikasie is vir hulle volwaardige kommunikasie. WhatsApp, memes en stemnotas is normaal én emosioneel eg. Ons generasie het fisiese teenwoordigheid en mondelinge gesprek gesien as die enigste “regte” manier om ’n verhouding te bou.

Hulle beskou verdraagsaamheid as ’n noodsaaklike kenmerk van liefde. Baie jongmense beleef dit as liefdeloos wanneer afkeuring oor iemand se geloof, seksualiteit of leefstyl uitgespreek word.

Soos ons eens gewens het ons ouers kon óns beter verstaan, is dit nou óns beurt. Dit vra meer luister as praat, meer nuuskierigheid as oordeel, en meer belangstelling as beheer.

My hoop vir hierdie seisoen

Mag ons ouerskap in hierdie nuwe seisoen gekenmerk wees deur sagte wysheid, innerlike rus en liefde wat vrylaat eerder as vashou.

Namate kinders volwassenheid bereik, skuif ouerskap van beheer en afhanklikheid na ’n verhouding van begeleiding, vertroue en vriendskap.

Mag ons kinders altyd weet ons probeer nie meer hul pad beheer nie. Ons stap gewillig saam as ‘n veilige tuiste, wyse reisgenote en dankbare getuies van God se werk in hul lewens.

Met liefde en diepe dankbaarheid

Emsia

Gedagtes soos wilde weghol perde

Gedagtes soos wilde weghol perde

My gedagtes is dikwels soos ’n trop wilde weghol perde, gretig om te hardloop. Partykeer neem hulle my na oop vlaktes gevul met dankbaarheid, vreugde en verbeelding. Hierdie plekke is mooi, kleurvol en vol moontlikheid. Hulle verfris my siel, vul my met nuwe energie en skep hoop wat beide my liggaam en siel voed. Hulle word metgeselle wat bemoedig, inspireer en lewenskragtige ritmes binne my skep.

Ongelukkig is nie alle ritte is so rustig en bemoedigend nie. Wanneer onsekerheid of bekommernis my beetpak, kies hierdie wilde perde koers na donker valleie en digte bosse. Hulle gaan waar hulle wil en ek kan hulle nie in toom hou nie. Die rit raak dan skrikwekkend, vol vrees en angs. My liggaam berei voor vir gevaar. My liggaamstemperatuur styg, my asem raak vlak. Meestal gebeur hierdie gevaarlike ritte snags en ek kan hoor hoe my hartklop weergalm die stilte van die nag.

Ek het onlangs die boek Switch On Your Brain deur die neuroloog dr. Caroline Leaf gelees. Die skryfster het my aan die ongelooflike krag van ons gedagtes herinner. Hulle vorm elke aspek van ons menswees – liggaam, siel en  gees.

Verstand en Brein — Wat is die Verskil?

Die Bybel leer dat God ons met ’n vrye wil geskep het. Ons het die vermoë om te dink, te kies en om die lewe vanuit verskillende perspektiewe te sien. Die brein is soos die fisiese “hardeware” van die liggaam, terwyl die verstand die “sagteware” is wat dit rig.

Al verskil sielkunde, mediese wetenskap en godsdiens in baie opsigte, stem hulle saam oor een ding: ons gedagtes is nooit neutraal nie. Hulle bepaal hoe ons voel, beïnvloed die keuses wat ons maak, raak ons gesondheid en verbind ons met ons identiteit en dieper betekenis.

Die blywende invloed van ons gedagtes

Neuroplastisiteit

Ons gedagtes is nie net ʼn prentjie in ons kop wat kom en gaan nie. Elkeen van hulle bou fisiese strukture in ons brein wat uit proteïene bestaan. Elke keer as ons dink, voel of besluit, verander ons brein. Hierdie vermoë van die brein om homself voortdurend te herorganiseer, staan bekend as neuroplastisiteit.

Die feit dat ons brein ons hele lewe deur voortdurend verander, was vir my ʼn merkwaardige waarheid. Dit kan egter tot ons voordeel of ons nadeel werk. Die gedagtes waarop ons die meeste fokus, groei die sterkste, hetsy dit nou positief of negatief is. Dit herinner my hoe belangrik dit is om doelbewus te kies waarheen ek my aandag rig.

Ons DNA

Navorsing toon dat ons gedagtes selfs die vorm en funksie van ons DNA kan beïnvloed. Negatiewe, vreesbevange gedagtes soos my weghol perde in die nag, plaas druk op my brein en liggaam. Dankbare en hoopvolle gedagtes het nie net ʼn positiewe uitwerking op my gemoed nie, maar stuur genesende seine deur my selle, wat my gesondheid, energie en selfs my DNA positief beïnvloed.

Daar is studies wat wys dat sekere patrone van denke en ervaringe deur ons DNA oorgedra kan word na die volgende vier geslagte. Dit laat my dink aan die Bybelse verwysing na die sondes van die vaders wat ’n nalatenskap laat, maar ook aan God se belofte dat ons vry kan word. Hier kom epigenetika in as ’n hoopvolle antwoord.

Epigenetika

Epigenetika beskryf hoe ons gedagtes en keuses ’n invloed het op ons fisiese brein, liggaam, geestesgesondheid en geestelike groei. Studies in epigenetika dui daarop dat ons verskeie eienskappe — sowel positief as negatief — van ons voorouers oor geslagte heen erf. Tog is dit ons verstand wat, soos ’n sein, bepaal of hierdie gene geaktiveer of stilgemaak word.

Ons hoef nie die negatiewe patrone van ons voorouers te herhaal nie. Ons kan doelbewuste lewenskeuses maak om hierdie neigings te oorkom deur ons patrone van uitdrukking te verander. Al kan die foute van ons ouers sekere risiko’s of geneigdhede skep, bepaal dit nie ons lot nie. Dit is ons verantwoordelikheid om hierdie risiko vir vatbaarheid raak te sien, dit te evalueer, en doelbewus te kies om dit te verbreek.

Ons persepsies en lewensuitkyk maak saak

Hoe ons die lewe interpreteer, het ’n direkte invloed op ons biologie. Dink maar aan mense wat diep trauma oorleef het, soos Holocaust-oorlewendes. Hulle wys vir ons dat ons nie altyd ons omstandighede kan kies nie, maar ons kan kies hoe ons dit sien en watter betekenis ons daaraan heg. Die digter van Invictus skryf dit so mooi: “I am the master of my fate, I am the captain of my soul.

Ons moet ons gedagtes herlei en rig

Wanneer ons doelbewus ons gedagtes herlei en rig, beïnvloed dit die brein se sensoriese prosessering, sy herbedrading, neurotransmitters, genetiese uitdrukking, en selfs sellulêre funksies in ’n positiewe of negatiewe rigting. Die keuse lê by ons.

Navorsing toon dat wanneer ons doelgerig en introspektief nadink, ons die nie-bewuste prosesse van die brein meer effektief maak. Wanneer ons rus, skakel ons af van die uiterlike en word ons ons aandag na binne gerig. Hierdie nadenkende modus gee ons perspektief, wysheid, en die geleentheid om met God te verbind. Dit is waarom rustyd en om tot verhaal te kom so belangrik is. Ek kan ook die belangrikheid van Sondag as rusdag in hierdie konteks baie beter verstaan.

Wanneer ons egter nalaat om op hierdie manier te self-reflekteer en gedissiplineerd te dink, kan dit lei tot lae selfbeeld, depressie, angs en gesondheidsprobleme. Ons raak vasgevang in probleme, sukkel met korttermyngeheue, en verloor die vermoë om oplossings te sien.

’n laaste gedagte

Ons is vry om te kies waarop ons fokus, en daardie keuses beïnvloed hoe ons brein verander en funksioneer — van die chemikalieë en proteïene tot die verbindings self. Wetenskap bevestig dat die verhouding tussen ons gedagtes en ons selfbegrip, gevorm deur ons drome, hoop, oortuigings en idees, ’n diepgaande uitwerking het op breinaktiwiteit.

Die boek het my opnuut bewus gemaak van die groot invloed van my gedagtes op verskillende aspekte van my menswees. Teleurstellings, onsekerheid en pyn is deel van die lewe. Ek hoef dit nie te ontken of af te maak nie. Ek moet maniere vind om my wilde weghol gedagtes op ʼn gedissiplineerde wyse sagkens terug te lei na waarheid, dankbaarheid en hoop. Dit verg ʼn wilsbesluit, geduld met myself en oefening. Dit is egter van kardinale belang, want waarheen ons gedagtes gaan, volg die res van ons lewe.

Groete,

Emsia

Wag is ‘n uitdaging en ‘n seën

Wag is ‘n uitdaging en ‘n seën

Wag is een van daardie lewensaspekte wat ek wens ek beter kon hanteer. Ek soek antwoorde dadelik, verlang na duidelikheid onmiddellik en wens dat dinge sonder vertraging plaasvind. Tog herinner die lewe my telkens daaraan dat wag onvermydelik en soms nodig is.

Ek het oor verskillende seisoene van wag in my lewe nagedink. Ek het probeer verstaan waarom dit so moeilik vir my is en wat my gehelp het om daardeur te kom. In die proses het ek besef dat daar selfs verrassende positiewe dinge uit die wagervaring na vore gekom het.

Waarom is Wag dan so Moeilik?

As jong vrou was een van my diepste begeertes om ’n ma te word. Gedurende die eerste ses jaar van my huwelik het ek die pynlike onsekerheid ervaar of daardie droom ooit waar sou word. My interne biologiese klok het gemete aanhou tik en die vrae in my hart laat weergalm. Sou moederskap ooit deel van my storie word? Elke maand het sy eie siklus van hoop, teleurstelling en die moed bymekaar skraap om weer te probeer, gebring.

Daardie seisoen van wag het my help verstaan dat die uitdaging dikwels spruit uit die onsekerheid.  Ons smag na antwoorde, na sekerheid en na die gevoel dat alles op sy plek is. Soms moet ons egter net stilbly en vertrou dat die lewe, selfs in die wag, stilweg sy werk doen.

Wag is veral moeilik wanneer dit verweef is met ons diepste begeertes. Wanneer jy iets goeds verlang soos ’n werk, genesing, ’n verhouding, of ’n kind, kan die onsekerheid van wag jou magteloos laat voel. Wanneer daardie wag gepaardgaan met pyn, of dit nou fisiese siekte, eensaamheid of hartseer is, kan die wag amper ondraaglik voel.

Boonop beklemtoon wag ons bewustheid van die verbygaan van tyd. Dit kan nou verband hou met ’n biologiese klok, loopbaanmylpale, of bloot die indruk dat die lewe vorentoe beweeg sonder ons. Wag skep soms ’n gevoel dat ons agter raak.

Wat Help in Wagtye?

Al het ons nie beheer oor hoe lank ons wagtydperk duur nie, het ons wel ’n keuse oor hoe ons die tyd tussenin spandeer. Hier is ’n paar dinge wat my help:

Meditasie en Gebed: Wanneer ons mediteer en bid, kry wag ’n nuwe betekenis. Dit word nie meer net ’n tyd van stilte en onsekerheid nie, maar ’n seisoen van groei. In daardie stilte kweek ons geduld, ons geloof word sterker, en ons hoop kry anker. Al verkort dit nie die wag nie, verander dit hoe ons dit beleef. In plaas daarvan dat frustrasie ons verteer, kan ons die wag dra met vrede, vertroue, en selfs die sagte vreugde van God se teenwoordigheid.

Doen-aktiwiteite: Enige aktiwiteit wat my in ’n “vloei-toestand” plaas, soos skryf, verf, bak of fotografie, is voordelig. Dit fokus my gedagtes op iets positief wat ek geniet en dit verhoed  bekommernis om plek in my gedagtes op te neem.

Oomblikke van Verwondering: Verwondering lig ons bo die gewig van wag. Ek vind dit dikwels in die natuur soos ’n sonsondergang, die fyn besonderhede van ’n blom deur my kameralens, of die voëlsang vroeg in die oggend. Hierdie oomblikke herinner my dat ek ʼn spikkel in ʼn groter geheel is en dat daar baie orde in die wanorde is.

Woorde van Hoop: Ek skryf woorde wat tot my spreek neer.  Hulle dien as ankers, wanneer onsekerheid my wil rondwaai. Frases soos “Hierdie seisoen sal nie vir altyd duur nie” of “God het ʼn plan met ons lewens” help my weer asemhaal wanneer my ongeduld begin opvlam.

Watter Goed Kan Uit Wag Kom?

Nelson Mandela se lewe leer ons dat wagtyd nie vermorsde tyd is nie. Vir 27 jaar het hy in die tronk gesit, afgesny van sy familie en die saak waaraan hy sy lewe toegewy het. Tog was daardie lang seisoen van wag nie leeg nie; dit was ’n tyd van voorbereiding.

In die stilte van sy opsluiting het Mandela geduld geleer en besef dat ons nie verandering kan vryspring of haas nie. Hy het insig in sy vyande se perspektiewe gekry, geleer om te vergewe, en gekies om met wysheid eerder as woede te lei. Sy tyd in die tronk het hom in staat gestel om te groei in die soort leier wat die wêreld nodig gehad het. Hy het ontwikkel in ’n leier wat kan verenig in plaas van verdeel en bitterheid in versoening kan omskep. Teen die tyd dat hy in 1990 vrygestap het, het Mandela ’n simbool van hoop, veerkragtigheid en geregtigheid geword. Sy verhaal illustreer dat selfs tydens die moeilikste seisoene van wag, waardevolle groei plaasvind.

Bybelse waarhede

Die Bybel bevestig dieselfde waarheid in die ervarings van God se mense. Abraham en Sara het jare lank gewag vir die beloofde kind. Josef se wag het sy karakter gevorm, sy geloof verdiep, en hom in posisie geplaas om nasies te red tydens ’n krisis. Teen die tyd dat Dawid koning geword het, het sy beproewings hom gevorm tot ’n leier na God se hart, wat Israel met beide krag en nederigheid kon lei. Elkeen van hierdie stories beklemtoon dat wag ’n doel het. Dit is ’n seisoen van vorming, verfyning en voorbereiding. In wag kweek God geduld, verdiep Hy ons geloof, en bring Hy ons in lyn met Sy perfekte tydsberekening.

Ek hou van die Swahili-gesegde: “Haraka haraka haina baraka” — “Haastig, haastig bring geen seën nie.” Wag mag teenstrydig lyk met alles wat ons vinnige wêreld waardeer, maar miskien dra daardie stadiger pas sy eie verborge seëninge. Wag kan ongeduld in vertroue omskep, swakheid in veerkragtigheid, en verlange in ’n dieper afhanklikheid van ons Skepper.

’n Laaste Gedagte

Wag is nooit maklik nie. Dit toets ons geduld en laat ons soms gefrustreed, angstig en alleen voel. Tog kan dit ons ook op verrassende maniere laat groei. Dit kan ons help om die seëninge raak te sien wat ons andersins sou mis. Ons leer om in geloof en vertroue te leef en help ons om volharding en emosionele weerbaarheid te ontwikkel.

Ek is beslis nog nie goed met wag nie, maar ek leer stadig maar seker dat wagperiodes nie vermors moet word nie. Al daag dit my emosioneel uit, kan dit my karakter en geloof versterk.

Groete,

Emsia

‘n Ma se perspektief op liefde en huwelik

‘n Ma se perspektief op liefde en huwelik

My twee ouer seuns is op ’n ouderdom waar baie van hul vriende begin trou. As ek terugkyk, besef ek nou dat ek te jonk was toe ek self die eerste maal getrou het. Ek het nog nie die nodige lewenservaring of kennis gehad nie. In daardie tyd was saamwoon voor die huwelik in ons gemeenskap as onaanvaarbaar beskou.

Nadat ek die pyn van egskeiding ervaar het, het ek baie oor liefde en huwelik gedink, gelees en dit deeglik bestudeer. Ek is dankbaar vir tweede kanse in liefde en die lewe. Ek dink dikwels aan die belangrikste lesse wat ek as vrou en ma aan my seuns wil oordra om hulle te help om  sterk, liefdevolle en volhoubare verhoudings te bou.

Sielsgenote Word Gemaak, Nie Gevind Nie

Toe ek jong was, het ek geglo dat daar ’n perfekte sielsgenoot daar buite vir my was. Ek het egter geleer dat so ’n verhouding iets is wat oor tyd ontwikkel. Deur saam te lag, uitdagings die hoof te bied, mekaar te vergewe en alledaagse herinneringe te bou, groei twee mense van lewensmaats na ware sielsgenote.

Waarom die Huwelik Anders Is

Huwelik is meer as net saamwoon of ’n wettige kontrak teken; dit behels ’n diepe verbintenis. Dit verweef liefde met ’n belofte. Die wettige aspek skep ’n veilige ruimte waar jy jou werklike self kan wees, terwyl liefde jou toelaat om volledig kwesbaar te wees.

Om in ’n huwelik ten volle geken en steeds liefgehê te word, weerspieël die onvoorwaardelike liefde wat God vir ons het. Hierdie soort liefde gee jou die vrymoedigheid om jou ware, self te wees. Dit leer ons ook om mekaar se swakhede en tekortkominge met genade te hanteer. Ons moet soms bereid wees om ons eie behoeftes tweede te stel vir die welstand en vreugde van ons maat.

Wat huwelik onderskei, is die belofte wat jy voor God, jou familie en jou gemeenskap maak: “Ek sal jou liefhê, getrou bly, en saam met jou deur elke seisoen van die lewe loop.” Hierdie beloftes bring stabiliteit in jou verhouding, gee dit ’n doel en skep ’n band wat nie net volhoubaar is nie, maar versterk namate julle mekaar se hoop en drome ondersteun.

Die Geheim van Volhoubare Liefde

Liefde in ’n huwelik behels meer as net passie; dit bestaan uit verskeie lae en aspekte. Die aanvanklike vonk bring julle bymekaar, intimiteit bevorder nabyheid, vriendskap vestig diep wortels in julle verhouding, maar onselfsugtige liefde voed voortdurende groei.

Gelukkige paartjies bou hul huwelike op ’n stewige fondasie van vriendskap met intensie. Hulle wys respek, geniet mekaar se geselskap, en druk liefde in die klein, alledaagse maniere uit. Wanneer julle mekaar opreg waardeer, kweek julle ’n positiewe gees wat help om julle huwelik sterk deur al die seisoene van die lewe te hou.

Gewoontes en Rituele is die Huwelik se Gom

Dit is dikwels die klein dinge—nie die groot gebare nie—wat ’n huwelik bymekaar hou. Gewoontes en rituele werk soos die stil gom wat liefde sterk hou. Eenvoudige daaglikse praktyke, soos om te vra hoe jou maat se dag was, ’n ete saam te geniet sonder afleidings, of net om “dankie” te sê, mag onbenullig lyk, maar dit skep ’n ritme van sorg en verbondenheid. Met verloop van tyd bou hierdie oomblikke diep vertroue, emosionele veiligheid en stabiliteit.

Rituele voeg nog ’n laag van krag by. Dit kan so eenvoudig wees soos ’n slaaptydroetine, ’n weeklikse koffiedatum, of selfs daardie snaakse binnegrappies wat net julle twee verstaan. Hierdie gedeelde gewoontes sê stilweg: “Ons behoort aan mekaar.” Hulle herinner julle aan die “ons” wat in die hart van julle huwelik leef.

In hierdie gewoontes en rituele word liefde meer as net ’n gevoel—dit word iets wat beide elke dag uitleef. Hulle hou julle naby, help julle om deur die uitdagings van die lewe te navigeer, en vul julle huwelik met vreugde en betekenis.

Mans en Vroue ervaar liefde soms verskillend

Een van die waardevolste dinge wat ek oor die jare geleer het, is dat mans en vroue liefde soms verskillend ervaar. Vroue verlang dikwels na emosionele nabyheid—om gehoor en verstaan te word. Mans daarenteen voel dikwels die mees geliefd wanneer hulle gerespekteer en waardeer word vir wat hulle doen.

Ons harte soek eintlik dieselfde: om veilig en waardevol te voel. Ons verskillende maniere om dit uit te druk—sy deur woorde, hy deur dade—kan mekaar aanvul as ons dit raaksien en eer. Wanneer ons leer om hierdie verskille te verstaan, groei ons liefde dieper, sterker en blywender.

Die Hart van Ware Intimiteit

Toe ek jonger was, het niemand oor intimiteit in ’n huwelik gepraat nie. Jy moes maar self uitvind. Tog is dit só ’n belangrike deel van ’n blywende verhouding. Die veiligheid van julle emosionele band vorm die grondslag van intimiteit. Hoe veilig julle by mekaar voel, bepaal die gevoel van nabyheid.

Soms kan intimiteit half afgestomp voel, meer soos om net die roetine te volg. Dit kan ʼn huweliksmaat laat voel asof hulle nie werklik gesien of waardeer word nie. Ander kere is intimiteit weer ’n bron van troos en sekerheid, waar sagte aanraking en teer gebare jou herinner dat jy geliefd en gekoester is.

Die diepste vorm van intimiteit gebeur wanneer daar sinchronie is. Dit is daardie wonderlike plek waar emosionele oopheid, sagtheid en speelse nabyheid saamvloei. In sulke tye voel julle veilig genoeg om jul harte oop te maak, jul behoeftes te deel, en julleself heeltemal te laat gaan sonder vrees. Jul aanraking en verbinding word ’n taal van liefde en een wat vreugde, nabyheid en vertroue bring.

Gedeelde mag en gesamentlike besluitneming

’n Sterk huwelik bestaan uit ʼn vennootskap en nie ’n hiërargie waar een bo die ander staan nie. Albei maats het ’n stem in besluite en ontvang mekaar se menings en perspektiewe met respek. In sulke huwelike voel albei geliefdes gerespekteer, waardeer en deel van die span. Dit gee nie net balans aan die verhouding nie, maar bou ook vertroue, gelykwaardigheid en ’n gesonde gevoel van saamhorigheid.

Konflik in die huwelik

Geen twee mense is presies dieselfde nie en verskille in persoonlikheid, prioriteite of verwagtinge lei natuurlik tot meningsverskille. Wat regtig saak maak, is hoe julle konflik hanteer, nie of dit gebeur nie. Elke paartjie gaan anders met konflik om. Sommige vermy gesprekke en ander baklei gereeld. Ander kry dit reg om kalm oor hul verskille te praat en kompromieë te vind sonder om hulle stemme te verhoog. Die sleutel is om ’n manier te vind wat vir albei werk.

Een uitdaging om bewus van te wees, is wat ons “emotional flooding” noem. Dit gebeur wanneer een of albei maats emosioneel oorweldig raak tydens ’n argument. Jou brein gaan dan in “veg, vlug of vries”-modus en intense gevoelens soos woede, vrees of frustrasie neem oor. ’n Maat wat flooding ervaar, kan lelike dinge kwytraak, onttrek of sukkel om helder te dink, wat effektiewe kommunikasie amper onmoontlik maak. Flooding is ’n natuurlike reaksie. Indien paartjies dit herken, is die beste om en ’n kort pouse neem. Hulle kan daarna kalm terugkeer na die gesprek, beter kommunikeer en probleme oplos sonder om die verhouding te beskadig.

Daar is geen enkele “regte” manier om konflik te hanteer nie. Die gesondste paartjies respekteer mekaar se perspektiewe, bly emosioneel verbind en werk saam om probleme op te los eerder as om te kompeteer of te onttrek. Om konflik met sorg te navigeer bou vertroue en hou liefde steeds in die hart van jou huwelik.

Ter afsluiting

Uiteindelik is ’n huwelik nie ’n perfekte sprokie nie. Dit is eerder ’n reis van twee mense wat kies om elke dag saam te bou, saam te leer en saam lief te hê. Wanneer daardie liefde geanker is in God se voorbeeld, word dit nie net volhoubaar nie, maar ’n bron van vreugde en krag vir elke seisoen van die lewe.

Groete

Emsia

Die Paradoks van Orde Binne Wanorde

Die Paradoks van Orde Binne Wanorde

Elke lid van my gesin is op ’n unieke pad vol onsekerheid en struikelblokke. As ma en vrou streef ek daarna om hulle te ondersteun en te bemoedig. Tog is daar oomblikke wanneer die onsekerheid oorweldigend voel en angs stadig insluip. Intussen staan Geloof buite—kalm, geduldig en betroubaar—en wag dat ek die deur oopmaak en Hom innooi.

Daarom het ek besluit om Geloof te omhels en Hom harder te laat praat as die fluisteringe van Onsekerheid en Angs. Ek vind my sleutel in boeke vol wysheid en in die gesprekke met my Skepper, wanneer ek in die woud gaan stap. In die stilte hoor ek Sy stem duideliker.

Eendag, oppad deur die landerye na die woud, het ek ’n sonneblom raakgesien. Die natuur het die sade in ’n perfekte Fibonacci-spiraal gerangskik, iets waarvan Zander my al vertel het. Hierdie wiskundige patroon, so vol orde en doeltreffendheid, het my herinner dat die skepping self ’n taal praat. Dit was asof die natuur, met sy ritmes en stille sekerhede, vir my fluister: “Daar ís ’n groter plan; vind jou rus daarin.”

Patrone in die Natuur

Selfs wanneer die wêreld deurmekaar lyk, ontdek ek telkens hoe die natuur sy eie orde dra. Onder die oppervlak van chaos ontstaan daar patrone wat nie toevallig is nie, maar wat openbaar hoe God ons wêreld volgens wysheid en ritme geskep en georganiseer het.

Ek sien dit in die spiraal van ’n sonneblom, in die lae van ’n pynappel, en selfs in die rangskikking van blomblare – alles gevorm volgens die Fibonacci-patroon wat die plant help om lig en water optimaal te benut. Ek sien dit ook in die seshoekige heuningkoeke van bye, ’n eenvoudige maar doeltreffende manier om kos te stoor sonder vermorsing.

Hierdie patrone is oral. Die vertakking van bloedvate lyk soos weerlig, omdat beide energie op die mees effektiewe manier versprei. Die spiraal van ’n sterrestelsel weerkaats die draai van ’n orkaan; albei gehoorsaam dieselfde vloeibaarheidswette. Selfs die fraktale patroon van ’n varing lyk soos ’n rivierdelta, omdat albei hul ruimte op die beste moontlike manier vul.

Chaos-teorie

Die Chaos-teorie is een van die mees fassinerende konsepte in die wetenskap. Dit wys hoe die natuur onvoorspelbaar kan wees, terwyl dit steeds aan verborge reëls gehoorsaam. Dit toon dat klein veranderinge in aanvanklike toestande, bekend as die “vlindereffek”, later groot verskille kan veroorsaak.

’n Klein verskuiwing in lugdruk of temperatuur op een plek kan uiteindelik bydra tot ’n storm of tornado elders. Klein veranderinge in geboortes of sterftes van ’n spesie kan soos golwe deur ’n ekosisteem beweeg. ’n Enkele klein vuur of die val van ’n boom kan lig en voedingstowwe verander, wat die groei van plante en die paaie van wilde diere hervorm. Met verloop van tyd kan hierdie klein veranderinge ’n hele woud omskep.

Chaos is nie ons vyand nie. Dit is ’n leermeester wat veerkragtigheid, aanpasbaarheid en nuwe moontlikhede kweek. Wanneer ons leer om hierdie verborge patrone raak te sien, kan ons selfs te midde van onstuimigheid ritme, betekenis en skoonheid ontdek.

Chaos en Orde is dansmaats

Hoe langer ek na die natuur kyk, hoe duideliker word dit vir my dat Chaos en Orde nie opponente is nie, maar dansmaats. Chaos bring verandering, beweging en veerkragtigheid. Orde bring stabiliteit, ritme en voorspelbaarheid. Saam skep hulle balans en lewe.

Ek sien dit in die ekosisteme rondom my: storms wat die lug suiwer en balans herstel, en brande wat ou groei wegneem om plek te maak vir die nuwe. Selfs in die menslike samelewing geld hierdie paradoks. Wanorde dra dikwels die saad van vernuwing, terwyl orde die rus skep waarin nuwe dinge kan groei.

Persoonlike Lesse uit die Paradoks

Uit hierdie dans tussen Chaos en Orde leer ek waardevolle lewenslesse:

Omarm onsekerheid. ’n Rivier kies nooit ’n reguit pad nie. Sy kronkel en draai, soms vinnig, soms stadig, en nou en dan stort sy oor ’n waterval. Tog bereik sy altyd die see. Ek hoef nie elke draai te verstaan nie. Die stroom dra my steeds vorentoe.

Sien patrone binne chaos raak. Die maan verander elke nag – vol, sekel, donker, lig – maar haar siklus keer altyd getrou terug. Verandering self is die konstante.

Vind balans tussen roetine en buigsaamheid. ’n Boom staan stewig gewortel in die grond, maar sy takke dans saam met die wind. Só oorleef hy storms. Met my wortels diep geplant in die ritmes van sorg en gebed, kan ek ook buigsaam bly in die lewensstorms.

Laat groei uit wanorde kom. ’n Bosbrand kan alles swart en stil laat, maar dit bring voedingstowwe terug in die grond en laat nuwe lewe ontspruit. Fynbos en proteas leef juis van hierdie siklus.

Sien skoonheid in onvolmaaktheid. Berge is nie reguit of simmetries nie – hul kranse is ongelyk, hul valleie oneweredig. En dit is juis wat hulle majestueus maak.

Aan die einde van die dag

Orde en Chaos, soos Geloof en Angs, is nie altyd in stryd nie. Soms werk hulle saam om nuwe moontlikhede te bring. Wanneer ek leer om hierdie paradoks te omhels, kom daar ’n stilte in my tot rus. Selfs binne wanorde begin patrone sigbaar word. Wat seker is, word liggies vasgehou, terwyl dit wat nie beheer kan word nie, geleidelik gelos word. Skoonheid verskyn in onvolmaaktheid, ritme kom uit chaos, en betekenis word gevind in elke draai van die pad.

Ek moet nie teen die ritme van die heelal te veg nie. Dit is beter as ek leer om saam te dans.

Groete

Emsia

Vakansie bied tyd vir konneksie en refleksie

Vakansie bied tyd vir konneksie en refleksie

Ons somervakansie het my weer opnuut laat besef hoe nodig vakansies en wegbreek naweke is. Soos die jaar vorder, neem die druk en verpligtinge toe, maar ons energie en vreugde raak al hoe minder. In ons huis raak meer van ons gesprekke gefokus op take wat afgehandel moet word, uitdagings wat ons moet aanspreek en oplossings vir probleme.

Vakansies en wegbreek naweke het ʼn baie belangriker rol as bloot net ontspanning. Hulle help met balans in ons lewens.

Verhoudings word versterk

Weg van werk, huispligte en skerms, kry ons weer volle aandag vir mekaar. Sonder die gejaagdheid van alledaagse lewe, kan ons langer en ongedwonge sommer maar net gesels. In ’n ontspanne omgewing is dit makliker om selfs moeilike onderwerpe te bespreek. Dit breek die siklus van gejaagde dae en herinner ons weer aan die redes hoekom ons mekaar as lewensmaats gekies het.

Ons sien ook die groei van ons kinders raak, leer hulle beter ken en ervaar saam nuwe avonture.

Nuwe plekke en avonture skep gesamentlike stories wat ons later kan onthou en oor kan lag. Sulke ervarings word later dié dinge waarna ons terugverwys as spesiale oomblikke. Dit wys ook soms nuwe kante van mekaar soos avontuurlustigheid, humor, of geduld.

Stimulering vir nuwe idees

Nuwe plekke, kosse en mense help met perspektief en dien as stimulering vir nuwe idees. Ons sintuie word wakker gemaak en ons kyk met vars oë na die wêreld. Dit help ons om buigsaam en oop te bly vir verandering en maniere van doen.

Miskien is die grootste geskenk van vakansies die mense wat ons ontmoet. Nuwe vriendskappe, spontane geselsies met vreemdelinge, of selfs die manier waarop plaaslike inwoners hul kultuur en leefstyl deel, kan ons diep inspireer.  

Vakansies en kort wegbreke is soos ’n knoppie wat ons brein en liggaam uit “outo-pilot” haal en ons daaraan herinner dat daar meer kleure in die lewe is as net dié wat jy elke dag sien.

Perspektief en insigte

Afstand (fisies en geestelik) laat ons daaglikse probleme kleiner lyk, help met perspektief op uitdagende situasies en bring nuwe insigte. Dit gee ook waardevolle tyd vir refleksie.  Is ek waar ek wil wees en doen ek wat ek graag wil doen? Is ek tevrede met die verloop van my lewe? Hoe sien ek my toekoms en wat hoop ek vir myself?

Vakansies herinner ons daaraan dat die lewe vol moontlikhede is en moedig ons aan om buite ons gewone grense te dink en te groei. Mense kom dikwels terug van vakansies met vars insigte, ’n nuwe passie of selfs ’n nuwe rigting in die lewe.

As ek terugkyk op my lewe, besef ek hoe ek van my grootste lewensbesluite tydens vakansies geneem het. Ek deel ’n paar van ons vakanse ervarings en insigte.

Ouderdom en aftrede

Ons afgelope vakansie se bootvaart na Ysland is ideaal vir mense wat weens ouderdom of gesondheid nie baie beweeglik is nie. Die boot vaar in pragtige fjorde en jy kan al die skoonheid van die dek geniet. Die meeste passassiers was ouer. Heelwat persone het looprame of mobility scooters, wat sommer gedurende die nag in die gange se elektriese punte herlaai is, gebruik.

Op die boonste vloer, aan die voorkant van die boot was die Crows Nest met groot klasvensters. Passasiers het van vroegoggend af met ʼn lekker koppie koffie die asemrowende landskappe geniet. In hierdie vetrek was daar ook ʼn groot verskeidenheid bordspeletjies en legkaarte beskikbaar.  Passasiers het dit as geleentheid gebruik om nuwe mense te leer ken en mekaar se samesyn op ʼn ontspanne manier te geniet.

Ek en Charl het die vele interaktiewe speletjies geniet. Ons het baie sleg gevaar in die vasvrae wat gerig was op musiek uit verskeie dekades. Ons het dadelik die liedjies herken maar kon glad nie die name onthou nie!! Die vasvrae oor sport, wetenskap en kos het ons effens beter oor onsself laat voel.

In die aande was daar geleentheid vir mense om ballroom dancing te doen. Ek het my verstom aan die grasiuse bewegings en vaardigheid van baie van die ouer paartjies. Hulle was so “in tune” met mekaar en dit was duidelik dat hulle al lank ʼn lewenspad met mekaar stap.

Ons begin nou die aftreehoofstuk nader en het baie gewonder oor wat die toekoms mag inhou. Die mense op die boot was ’n inspirasie en het ons laat opgewonde voel oor wat voorlê.

Taal

Op vakansie bote is die voertaal van die passassiers asook die afkondigings gewoonlik die taal van die omgewing. In Europa en selfs op die vakansiebote is ons verstaan van gesprekke en situasies maar min. Op die Holland America boot was al die afkondigings in Hollands en Engels gedoen. Die Cruise Direktor was van Belgie en met sy Flaamse agtergrond het sy Hollands vir ons net soos Afrikaans geklink. 

Dit was wonderlik om sommer alles te kon verstaan.  Dit het selfs vir ons dit moontlik gemaak om met van die ander passasiers te kon gesels en kon beter die inligting oor die verskeie bestemmings verstaan.  Om ons eie tale te hoor en te praat het ons baie meer ontspanne laat voel. Dit was ’n bietjie soos om jou mees gemaklike skoene te dra terwyl jy êrens nuut gaan stap. Jy ervaar steeds die opwinding van ontdekking, maar sonder die ongemak van onsekerheid met elke tree.

Wonderwerke en geloof

Die Cruise Director het moeite gedoen om inligting en stories oor die plekke wat ons besoek het, te deel. Iets in die vissersdorpie Ålesund in Noorweë se geskiedenis het my diep aangegryp.

Toe die groot brand van 1904 deur Ålesund vee, het dit 850 houtgeboue vernietig en 10 000 mense dakloos gelaat. Tog, op ’n heuwel in die oostelike distrik, het een klein houthuis ongedeerd gebly — Waldehuset, die “huis wat nie gebrand het nie.”

Volgens plaaslike oorlewering het die eienaar, prediker Waldemar Anderssen, die dag van die brand besoek van ’n engel ontvang. Die engel het beloof dat sy huis gespaar sou word, en die prediker het tydens die brand in sy huis gebly. Toe die vlamme uiteindelik bedaar, het sy huis ongeskonde gestaan terwyl die hele dorpie in puin gelê het.

Slegs drie jaar later is die stad heeltemaal in die pragtige Art Nouveau-styl herbou, en was dit een van die modernste dorpe ter wêreld. Vandag is Waldehuset ’n klein museum en kafee waar besoekers kan instap. Dit het ʼn simbool van geloof en genade geword. Ek wil die komende jaar meer gefokus wees op die wonderwerke en genade in my lewe.

Ten slotte

As ons aan die lewe soos ’n lang staptog dink, is vakansies en naweke weg die rusplekke. Hulle gee ons water, skaduwee, en ’n kans om rond te kyk.  Dit help dat ons met hernude energie kan aanhou stap en die lewensreis meer geniet.

Die rusplekke is meer as net pouses – dit is ook plekke waar ons herinner word waarom ons stap. Daar, ver van die gejaag, hoor ons weer ons eie gedagtes en sien ons die klein wonders langs die pad raak. Só word die reis ’n ryk ervaring vol stories, mense en oomblikke wat ons siel voed. Wanneer ons weer opstaan om die res van die pad aan te pak, dra ons iets van daardie rus saam. Dit word ’n stille krag wat ons help om elke tree met dankbaarheid te neem.

Groete

Emsia

Ontsag vir die natuur se grootheid en krag

Ontsag vir die natuur se grootheid en krag

As ek ‘n tema vir ons afgelope somervakansie moes kies , sou dit beslis “krag van die natuur” wees. Ons het plekke besoek wat hemelsbreed verskil van dit wat ons ken – van vuur en lawa tot sand- en seestorms. Elke bestemming het ons herinner hoe klein en magteloos ons eintlik teenoor Moeder Natuur is.

Ysland – Land van Vuur en Ys

Charl se droom om Ysland te sien het hierdie jaar waar geword. Ons hou van bootvakansies. Dit bied vir ons ’n sorgvrye vakansie en skep die geleentheid om baie plekke te sien sonder om gedurig in- en uit te pak.

Ons het met ’n Holland America-skip vanaf Rotterdam vertrek en koers gekies na Reykjavik, Ysland se hoofstad.

Ons eerste stop was die pragtige  Ålesund in Noorweë. Vandaar het ons Ysland se asemrowende fjords, met hul klein vissersdorpe en stil natuurskoon, verken. Game of Thrones verfilming het in sommige van hierdie plekke plaasgevind.

Ons het lank uitgesien na ons besoek aan die Blue Lagoon, een van Ysland se grootste trekpleisters. Enkele dae voor ons aankoms, breek ’n vulkaan naby die lagoon uit! Die spa moes sluit omdat die lawa paaie onbegaanbaar gemaak het. Ek het die situasie op sosiale media dopgehou en gelees hoe owerhede deur die nag gewerk het om paaie weer vir besoekers toeganklik te maak.

Aktiewe vulkaan

Ons huurmotorrit na die lagoon was ’n ervaring op sy eie. Die landskap, gevorm deur ’n uitbarsting meer as 800 jaar gelede, was iets om te aanskou. Soos ons nader beweeg, kon ons sien waar die vars lawa oor paaie gespoel het. Dit het soos swart modder gelyk. Hulle het keerwalle gebou en nuwe paaie gemaak om verkeer toe te laat. Mense het langs die pad gestop om foto’s en drone-videos te neem. En ja, ons kon self die vulkaan sien uitbars – van ’n veilige afstand af natuurlik. Dit was ongelooflik! Ons het skielik so klein gevoel teen die grootheid van die skouspel wat ons kon aanskou

Ons het tydens ons vaart die arktiese sirkel oorgesteek en ook Ysland se Middernagson, met byna 24 uur se daglig ervaar. Hierdie unieke daglig-siklus is een van Ysland se vele wonders. Winter bring korter dae met net ’n paar ure sonlig.  Dit maak dit dan weer moontlik vir besoekers om die Noorderligte te sien, want in die donker wintermaande is die nag lank genoeg sodat die aurora helder in die lug kan dans. Ek hoop ek het eendag die voorreg om dit ook te sien!

Geotermiese Blue Lagoon

Gelukkig kon ons darem steeds die Blue Lagoon besoek. Hierdie geotermiese spa is uniek – die warm, mineraalryke water het ’n sagte blou kleur en is bekend vir sy gesondheidsvoordele. Die water kom van  2000 meter diep in die aarde uit en bly lekker warm – tussen 37°C en 40°C – ongeag van die buitetemperatuur.

Die Blou Lagoon het toevallig ontstaan nadat stoom wat deur die geotermiese kragstasie by Svartsengi vrygestel is, gekondenseer het. Aanvanklik het hulle gedink die water sou in die lavaveld insypel, maar oor tyd het sediment die lava dig gemaak en die lagoon het bly groei.

By die spa is daar ’n masker-kroeg! Jy kon kies tussen silika-modder, alge, minerale of selfs ’n lavascrub. Ná die tyd het ons velle sag gevoel en ons was lekker ontspanne – reg vir die volgende avontuur.

Sandstorm in La Goulette, Tunisië

La Goulette, ‘n hawestad in Tunisie het dadelik soos Afrika gevoel. Die mense was gasvry, warm en verwelkomend en die markte vol speserye, lapwerk, keramiek en tradisionele kunswerk. Die dag met ons besoek was bloedig warm. Na ons rondloop in die ou stad en markte, is ons vroeg terug boot toe om in die swembad af te koel.

Terug in die kajuit kon ek aanvoel die lug verander. Ek het ons nat swemklere van die balkon af ingebring – net betyds! ’n Sandstorm het oor ons getrek, die lug het oranje geword en toe hoor ons iets breek. Dit was die swembadstort se glas. Swembad dekstoele en mense se klere het deur die lug die see in gewaai. Ons kajuit was op die 11de vloer en een van stoele het ’n merk op ons balkon se houtreëling gelaat.

Dit is blykbaar nie iets wat elke dag gebeur nie, maar dis deel van die lewe in ’n streek wat deur die Sahara beïnvloed word. Vir meeste inwoners is dit maar net ’n tydelike ongemak, maar vir ons was dit ’n skrikwekkende en unieke ervaring.

Seestorm en brand in Marseille, Frankryk

Toe ons Marseille se hawe nader, het ek gevoel die skip veg teen die elemente. Die see was onstuimig en vol wit skuimkoppe, amper soos die Kaapse Suid-Ooster op ’n dol dag! Die kaptein het dit reggekry om die skip veilig in die hawe te bring, met hulp van twee baggerbote wat die skip die hele dag in posisie moes hou. Ons stappie na die hawe shuttlebus toe was uitdagend en het ons windverwaaid gelaat.

Later die dag het ons rook opgemerk en gesien hoe ’n geel vliegtuigie kort-kort water skep en dit in die rigting van ’n bosbrand laat val. Skielik het almal op die skip se selfone begin vibreer en ’n onaardige geluid gemaak.  In rooi letters kon ons sien dit is ’n Veiligheidswaarskuwing. Almal wat aan die Marseille selfoontoring gekoppel was, het dit ontvang. Die brand het veroorsaak dat sommige busse met passasiers op ’n daguistappie, nie betyds terug kon kom nie. Die skip het later as beplan vertrek, maar ons was veilig.

Dankbaarheid en Respek

Na elke seestorm, elke rookwolk, elke sandstorm en vulkaanuitbarsting, het ons met nuwe oë na die wêreld begin kyk. Hierdie vakansie het ons nie net verstom met natuurskoon nie, dit het ons ook gewys hoe ongelooflik kragtig die natuur is en hoe klein ons eintlik is.

Ons is dankbaar om weer veilig by die huis te wees, met herinneringe wat ons vir altyd sal dra en ‘n nuwe respek vir die aarde se kragte.

Groete

Emsia

Vriendskap en nuwe insigte in Nepal

Vriendskap en nuwe insigte in Nepal

Zander het ’n wonderlike geleentheid gehad om Kathmandu in Nepal as deel van ’n skooluitstappie te besoek. Zander se skool, ICS in Zürich, het ‘n vennootskap met Shree Mangal Dvip (SMD) in Nepal. Die vennootskap is toegewyd aan opregte interkulturele uitruiling, wêreldburgerskap en transformerende onderwys. Oor die afgelope twee dekades het ICS studente van SMD verwelkom om hul IB-diplomas te voltooi.  Die ICS-skoolgemeenskap staan ook saam om fondse in te samel vir die verbetering van SMD se fasiliteite en onderrig.

Ons as ouers het ’n opgewonde groep graad 10 leerders op die lughawe afgesien. Die res van hierdie brief is my weergawe van hul reis, saamgestel uit boodskappe, foto’s en Google navorsing. Dit was ’n vreugde om hul avontuur van ’n afstand te volg. Ek hoop hierdie terugskouing vang ten minste ’n klein deeltjie vas van die opwinding en groei wat hulle beleef het.

ʼn Warm verwelkoming by SMD in Kathmandu

By die SMD skool in Kathmandu het hoof het hulle met ’n koppie tee verwelkom, gevolg deur ’n begeleide toer van die skool. Zander het laat weet: “Die skool het my aan ons laerskool in Suid Afrika herinner. Die leerders is aangenaam, vriendelik en vrolik. Dit was lekker om die ander SMD graad 10’s te ontmoet en mekaar beter te leer ken.”

Aan die einde van die skooldag het hul nuwe vriende saam met hulle ’n besoek gebring aan die Boudha Stupa, ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Die vorm van die Stupa simboliseer die Boeddha, gekroon en sittende in ’n meditatiewe houding op ’n leeutroon. In die Boeddhisme is ’n Stupa ’n koepelvormige, halfsirkelvormige struktuur wat verskeie soorte heilige relieke huisves.

Op hul tweede dag in Nepal het die groep ’n unieke geleentheid gehad om Saka Dawa, een van die heiligste vieringe in Tibetaanse Boeddhisme, mee te maak. Hierdie heilige dag herdenk die geboorte, verligting en parinirvana (heengaan) van Gautama Boeddha.

Zander het gedeel: “Na die viering het ons sport soos basketbal en sokker saam met ons nuwe vriende gespeel. Na tien minute se speel hier was ek heeltemal uitasem. Ek dink dis weens ’n kombinasie van die hoë hoogte en die lugbesoedeling. Later het die meisies ons in ’n saal bymekaargebring en vir ons ’n paar tradisionele Nepalese danse geleer.”

Verskillende wêrelde, dieselfde drome

Zander se terugvoer oor die klimaat en koservaringe: “Die klimaat in Nepal is warm en tropies. Die 30 grade hier voel nie soos 30 grade in Switserland of Suid-Afrika nie. Dit is baie meer humied. Gedurende die dag skyn die son helder, maar teen 6-uur in die aand is daar donderstorms met swaar reën. Ek geniet die kos, veral die Nepalese momo’s en Indiese kerrie.”

Hy het ook insigte oor voorregte gedeel: “Die Nepalese kinders het dieselfde belangstellings as ons. Ons luister na dieselfde musiek en praat op soortgelyke maniere. Ons is almal maar net gewone tieners. Hulle werklikhede is egter anders. Die seun wat ek ontmoet het, moet elke keer vyf dae per bus reis en dan ver in die berge stap om sy ouers te sien. Sy gesin het skaars geld vir die skool. Hy is die enigste in sy hele familie wat kan lees en skryf. Sy ouers offer alles op sodat hy ’n opvoeding kan kry.”

Samewerking oor Kulture heen by SMD

Gedurende die eerste week het Zander se groep saam met die SMD-leerders klasse bygewoon en aan groepsprojekte gewerk. Hulle het nie net sáám met die SMD-studente geleer nie, maar ook van hulle geleer. ICS- en SMD-studente het spanne gevorm om navorsing te doen oor volhoubare ontwikkelingsoplossings vir bergagtige, landgeslote lande soos Switserland en Nepal. Aan die einde van die week het die spanne hul idees aan die Graad 9-leerders en skoolpersoneel voorgelê.

Verkenning van Kathmandu

Gedurende die tweede week het Zander se groep op ’n kulturele uitstappie gegaan wat besoeke aan Patan Durbar-plein, ’n vroeëoggend-groentemark, Kathmandu Durbar-plein en die Swayambhunath-tempel ingesluit het.  Die tempel bied ’n asemrowende uitsig oor die stad. Volgens terugvoer was die hoogtepunt vir baie die verkenning van die lewendige Thamel-distrik, waar studente vrye tyd gehad het om rond te dwaal, aandenkings te koop en geskenke uit te soek.

Shivapuri-bergpiek Staptoer

Gedurende die naweek het ICS- en SMD-studente ’n staptoer aangepak na die piek van die Shivapuri-berg, wat geleë is in die nasionale park aan die noordelike rand van die Kathmandu-vallei. Die 10-kilometer klim, met ’n hoogteverskil van byna 1 100 meter, het sowat vier uur geneem om te voltooi. Langs die pad het hulle takbokke en ’n trop makaak-ape ( macaques) in die digte tropiese reënwoud gesien. Ongelukkig het hulle nie ’n kykie gekry van die skaars “clouded leopards” of Himalaja-swartbere wat ook in die gebied voorkom nie.

By die piek het die groep in ’n sirkel gerus, versnaperinge gedeel en hul energie herlaai vir die afdraand. Hulle het ’n ander, korter maar baie steiler roete vir die terugtog gekies. Die 6-kilometer-afdraand, wat honderde trappe ingesluit het, het ongeveer twee uur geneem. Ná so ’n fisiek veeleisende dag was hul sagte beddens veral welkom.

Rustigheid by Namo Buddha-klooster

Die groep het ’n oornagervaring by die Namo Buddha-klooster gehad. Ek het gelees dat Namo Buddha, vanuit ’n Boeddhistiese perspektief, een van die heiligste godsdienstige plekke in Nepal is. Saam met die Boudha Stupa en die Swayambhunath Stupa vorm dit drie van die belangrikste Boeddhistiese pelgrimsoorde in die land.

Volgens Zander is Namo Buddha nie net geestelik betekenisvol nie, maar ook asemrowend mooi en diep vreedsaam. Die omgewing is stil, skoon en vry van besoedeling, met koel, vars lug. Dit is die ideale plek vir meditasie en stil refleksie. In die vroeë oggend groet ’n pragtige sonsopkoms besoekers, terwyl die aande ewe betowerende sonsondergange bied. In die verte verskyn die sneeubedekte pieke van die Himalajas, wat ’n gevoel van suiwerheid en grootheid uitstraal.

Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee

Ek sluit af met die woorde van een van die onderwysers wat deel was van die reis: “Dit was ’n wonderlike twee weke – ’n ervaring wat geen van ons ooit sal vergeet nie. Ek glo die lesse wat ons uit die Boeddhisme, die SMD-leerders, die Nepalse kultuur en hul leefwyse geleer het, sal op verskillende maniere in elk van ons na vore kom. Hierdie insigte sal oor die komende dae, weke, maande en selfs jare op verskillende tye en plekke in ons lewens verskyn.”

Ek is opreg dankbaar teenoor Zander se skool en onderwysers wat hierdie onvergeetlike ervaring moontlik gemaak het. ’n Reis soos hierdie verruim jou horisonne, verander jou kyk op die wêreld en sy mense, en laat jou die dinge in die lewe wat regtig saakmaak, waardeer. Reis is ’n geskenk wat aanhou gee.

Sien meer foto’s in die fotovideo.

Groete

Emsia

Ons leef volgens ongeskrewe sosiale reëls

Ons leef volgens ongeskrewe sosiale reëls

Ons leer sekere idees en maniere van dink aan by die mense om ons, soos ons familie, vriende en die mense met wie ons tyd spandeer. Hierdie idees staan bekend as  “sosiale konstruksies”. Hulle help ons om te verstaan hoe die wêreld funksioneer en vorm ons persepsies van wat as reg of verkeerd, sowel as konvensioneel of ongewoon beskou word. Hierdie idees word op ons oorgedra deur verskeie invloede soos taal, kultuur, familie, vriende en selfs die media (soos TV en sosiale media). Sosiale konstruksies help mense om die wêreld te navigeer. Hulle is egter nie permanent nie en kan verander en ontwikkel soos mense en samelewings groei.

Ongeskrewe reëls en waarhede

Mense raak gewoond aan hoe hulle dinge doen en dink, en glo dan dat hulle perspektief die enigste of korrete een is. Vir hulle is dit hul “waarheid”. Wanneer ons egter ander plekke of lande besoek, besef ons vinnig dat mense heel anders kan dink en leef. Sulke ervaringe leer ons dat daar meer as een  “waarheid” kan wees.

Ek het dit die eerste keer besef toe ek van die huis af weg is om Universiteit toe te gaan. Daar het ek mense van diverse agtergronde ontmoet wat situasies op ‘n ander maniere as ek waargeneem en beskryf het. Ek onthou die eerste keer wat ’n oulike studentevriend by my ouerhuis kom kuier het. Sommige van sy gedrag het gebots met my ma se verwagtinge en haar lyftaal het alles gesê! Die vriend het later grappenderwys opgemerk: Dit voel of julle huis vol ongeskrewe reëls is en ek oortree hulle almal. Ek wens iemand wil vir my ’n lys gee!

Switserland

Met ons gesin se verhuising na Switserland, het ek ook gewens dat iemand vir ons ’n lys van al die ongeskrewes reëls kon gee. Mense neem dit op hulself om vir jou uit te wys as jy iets oortree.

Die Switsers heg groot waarde aan tyd, wat weerspieël word in stiptelikheid. Om stiptelik te wees, word beskou as ‘n teken van respek, betroubaarheid en professionaliteit. Om laat te wees, word dikwels as onbeskof of onbedagsaam beskou. Openbare vervoer, soos treine en busse, loop amper altyd presies volgens skedule, wat die verwagting versterk dat almal hul tyd goed moet bestuur. Stiptelikheid gaan verder as om net betyds te wees; dit weerspieël jou integriteit. Dit wys dat jy jou verpligtinge nakom, verantwoordelikhede respekteer en ander se tyd waardeer.

In teenstelling hiermee is houdings teenoor tyd en stiptelikheid in Suid-Afrika dikwels meer ontspanne. Mense verwys tong-in-die-kies na  “Afrika-tyd”, wat beteken dit is aanvaarbaar om ‘n bietjie laat te arriveer. Dit word nie noodwendig as oneerbiedig beskou word nie. Beide ek en Charl kom uit huise waar stiptelikheid belangrik geag is en daarom stem die Switserse perspektief op tyd goed met ons waardes ooreen.

Gesinne en families

Gesinne en families het ‘n groot invloed op hoe kinders dink oor wat aanvaarbaar of wenslik is. Baie van wat mense oor die wêreld glo, begin by die huis. Dit word dikwels deur daaglikse roetines en interaksies geleer, soms sonder dat enigiemand dit eers besef. Die manier waarop familielede met mekaar kommunikeer, die verwagtinge wat by die huis gestel word, en die waardes wat oorgedra word, beïnvloed alles ‘n kind se perspektief.

Een belangrike konsep wat gesinne help definieer, is wat dit beteken om “suksesvol” te wees, en dit kan baie van een huishouding tot ‘n ander verskil. Sommige ouers mag sê: “Jy moet kollege toe gaan en ‘n goeie werk kry,” terwyl ander dalk beklemtoon: “As jy hard werk in die familiebesigheid of ‘n sorgsame ouer word, doen jy goed.” Wat kinders oor sukses begin glo, word dikwels gevorm deur hul waarnemings en ervarings by die huis. Hierdie oortuigings kan hul toekomstige besluite beïnvloed en diepgaande vorm gee aan hoe hulle hulself en hul prestasies beskou.

Taal

Taal speel ‘n sleutelrol in die vorming van hoe mense dink, optree en met mekaar omgaan. In Suid-Afrika, met sy 11 amptelike tale en diverse kulture, beïnvloed taal hoe mense konsepte soos geslagsrolle (wat van mans en vroue verwag word), respek, familie en identiteit verstaan.

In sommige Suid-Afrikaanse kulture is dit belangrik om respek aan ouer mense te toon. Jy spreek ouer individue nie op hul voorname aan nie. Daar is spesifieke terme en maniere van praat wat respek oordra. Die taal self leer mense oor rolle en hiërargie binne die familie en gemeenskap en help om kulturele tradisies te bewaar.

Hierdie konsep is soortgelyk aan hoe mense in sommige Europese tale soos Frans of Duits tussen formele en informele “jy” onderskei – soos “vous vs. tu” of “Sie vs. du” In Suid-Afrika gaan dit selfs verder en is dit dikwels deel van die kultuur self.

Ek neem dit in my eie familie waar. My kinders, wat in die stad grootgeword het, noem my suster en haar man op hul voorname. In teenstelling hiermee verwys my suster se kinders, wat op die platteland grootgeword het, steeds na my as “Tannie Emsia”. Dit is vir hulle ‘n teken van respek.

Kultuur

In baie Afrika-kulture beklemtoon die konsep van Ubuntu die belangrikheid van gemeenskap en wedersydse ondersteuning. Ubuntu kan opgesom word as: “Ek is wie ek is, omdat ons mekaar het.” Dit beklemtoon die belangrikheid van omgee vir ander, saamstaan ​​en ons interafhanklikheid van mekaar. Dit gaan nie oor individualisme nie.

Jou identiteit word gevorm deur beide jouself en jou verbintenisse met ander. Wanneer ‘n familielid suksesvol word, is daar dikwels ‘n verwagting dat hulle teruggee en hul geliefdes ondersteun eerder as om slegs persoonlike doelwitte of rykdom na te streef. Dit kontrasteer met perspektiewe uit ander gebiede, wat dikwels onafhanklikheid en individuele sukses die hoogste waardeer.

Ek het gesien hoe hierdie kulturele verskil in die werkplek afspeel. Jong individue van Afrika-kulture het gedeel dat hulle dikwels nie aan sosiale uitstappies met kollegas kan deelneem nie, omdat hulle ‘n beduidende gedeelte van hul inkomste huis toe stuur om hul gesinne te onderhou. Hierdie voorbeeld illustreer hoe kulturele waardes steeds die daaglikse lewe en individuele keuses beïnvloed.

Verstaan ander mense se perspektiewe

Die idees wat ons het oor wat “normaal” of aanvaarbaar is, word dikwels gevorm deur sosiale konstrukte. Taal, kultuur, familie en opvoeding speel almal ‘n rol in die vorming van hierdie ongeskrewe reëls. Hulle beïnvloed ons gedagtes, gedrag en persepsies van die wêreld rondom ons.

Wanneer ons daarna streef om ander mense se perspektiewe en hul weergawes van die “waarheid” te verstaan, verhoog ons die waarskynlikheid van wedersydse respek en harmonie, selfs wanneer ons nie saamstem nie.

Groete

Emsia

Vroue swyg oor menopouse struwelinge

Vroue swyg oor menopouse struwelinge

Ons het kort voor my 50ste verjaarsdag na ‘n nuwe land verhuis. Twee van my seuns moes in Suid-Afrika agterbly om hul studies voort te sit. My jongste seun en man moes aanpas by ‘n nuwe skool- en werksomgewing in ‘n vreemde land. Ek moes ook aanpas by baie veranderinge, insluitend ‘n amper leë nes. Ten minste kon ek hieroor praat.

Ek het dit egter baie moeiliker gevind om te praat oor wat binne my eie liggaam aan die gebeur was. Ek was besig om menopouse te betree, en dit het gevoel asof ek in iemand anders se vel leef.

Daarom het ek besluit om openlik te praat oor ‘n onderwerp en ‘n lewensfase waarvoor ek glo te veel vroue onvoorbereid is. Hierdie onderwerp is menopouse, hoe ons dit ervaar en die dikwels oor die hoof gesiene risiko van afhanklikheid wat daarmee gepaard kan gaan.

Die Middeljare val saam met ander uitdagtings

Hierdie lewensfase val dikwels saam met ander stresveroorsakende oorgange. Kinders wat die huis verlaat, kan gevoelens van verlies en leegheid veroorsaak. Terselfdertyd kan ons bejaarde ouers siek word of toenemend afhanklik van ons word. Dit voeg ‘n verdere laag emosionele verantwoordelikheid by. Boonop nader ons lewensmaats aftrede en verskeie onsekerhede verhoog angs. Daar is vrae soos: “Is ons finansies voldoende? Waar gaan ons aftree en wat gaan ons doen met ons tyd?”

Menopouse bring ‘n wye reeks fisiese en emosionele simptome. Ek het warm gloede, nagsweet, slaapversteurings en buierigheid verwag. Ek was egter onvoorbereid op die depressie, angs en oorweldigende gevoel van doelloosheid wat gevolg het. Die fisiese veranderinge het my ook onkant gevang. Hierdie vetrol om my maag, veldroogheid en liggaamspyne het my laat voel asof ek nie in my eie liggaam tuishoort nie.

Ons praat dikwels openlik oor adolessensie en die uitwerking van hormone op tieners. Tog erken ons selde die groot hormonale impak wat vroue tydens menopause ervaar en die emosionele tol wat dit kan eis.

Die risko van negatiewe hanteringsmeganismes

Gedurende hierdie lewensfase staar baie vroue ’n ander ernstige risiko in die gesig. Daar is ’n groeiende afhanklikheid van middels en gedrag wat slegs tydelike verligting bring. Dit sluit dinge in soos alkohol, pynstillers en slaappille, asook gewoontes soos oormatige gebruik van sosiale media of kompulsiewe inkopies.

Alkohol is só genormaliseer en ingeburger in ons sosiale kultuur dat dit maklik is om ’n gebruikspatroon te ontwikkel sonder om die gepaardgaande gevare raak te sien. Sosiale druk speel ook ’n groot rol en moedig dikwels drink en die gebruik van ander stowwe aan. Aangesien daar soveel “ontvlugtingsopsies” beskikbaar is, soek baie vroue troos daarin. Hierdie afhanklikheid kan vroue op verskillende maniere bewustelik of onbewustelik benadeel.

By ouer vroue word die skadelike gevolge van hierdie middels dikwels misken of verkeerdelik gediagnoseer as ander toestande, soos depressie of selfs demensie. Skaamte of ontkenning kan veroorsaak dat vroue huiwer om hulp te soek, wat die probleem verder vererger.

Dit is belangrik om te besef dat vroue alkohol anders as mans metaboliseer. Dit maak ons meer vatbaar maak vir langtermyn skade, soos lewerskade en kognitiewe agteruitgang. Navorsing toon ook dat alkoholgebruik tydens menopouse simptome kan vererger en die risiko vir ernstige gesondheidsprobleme, soos hartsiektes en osteoporose, kan verhoog.

Hoe die brein plesier in hunkering verander

Ek het dit fassinerend gevind om te leer dat die brein alle vorme van plesier op dieselfde manier verwerk. Dit kan ‘n drankie, ‘n finansiële beloning, ‘n seksuele ervaring of ‘n heerlike maaltyd wees. In elke geval stel die brein ‘n neurotransmitter genaamd dopamien vry in ‘n area wat bekend staan ​​as die brein se plesiersentrum.

Die waarskynlikheid dat ‘n middel of aktiwiteit tot ‘n problematiese verhouding sal lei, hang van drie faktore af. Dit is hoe vinnig dit dopamienvrystelling veroorsaak, hoe intens daardie vrystelling is, en hoe konsekwent dit plaasvind. Selfs die wyse hoe ʼn persoon ‘n middel inneem, wat lei tot hoe vinnig dit die bloedstroom binnedring, kan die potensiaal vir verslawing beïnvloed.

Die Rol van Dopamien

Dopamien doen meer as om net gevoelens van plesier te skep. Dit speel ook ‘n belangrike rol in leer en geheue. Hierdie funksies kan iets wat jy geniet, omskep in iets waarna jy hunker, wat jou aanspoor om dit te soek.

Met verloop van tyd pas die brein aan by herhaalde dopamien-stygings. Hierdie aanpassing lei tot toleransie, wat beteken dat dieselfde middel of aktiwiteit nie meer dieselfde vlak van plesier lewer nie. Mense vind dikwels dat wat hulle eens ‘n bevredigende “high” gegee het, nou dof voel, tensy hulle die hoeveelheid of frekwensie verhoog.

Selfs nadat iemand hul verhouding met ‘n middel of gedrag beëindig het, kan die hunkering na die plesier wat dit eens verskaf het, soms jare lank voortduur.

Ons moet mekaar ondersteun

Dit is belangrik dat ons as vrouens mekaar ondersteun deur hierdie lewensfase. Om bloot met iemand te praat wat werklik luister, kan ‘n wêreldse verskil maak. ‘n Paar vriendelike woorde of bemoedigende boodskappe kan baie beteken. Dit het veral ʼn groot impak wanneer iemand neerslagtig voel, belangstelling verloor in aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het, of sukkel met selfbeeld.

Ons moet na ander vroue uitreik en hulle nooi om aan verskillende aktiwiteite deel te neem of met ander mense kontak te hê. Dit skep geleenthede vir hulle om weer goed oor hulle self te voel.

Ek sal altyd dankbaar wees teenoor die vroue wat na my uitgereik het toe ek dit die nodigste gehad het. Deur hul ondersteuning het ek wonderlike nuwe vriendskappe gebou wat my lewe verryk.

Groete

Emsia