Afrika-kuns is funksioneel en sosiaal

Afrika-kuns is funksioneel en sosiaal

Elke keer as ek en Zander op Kaapstad se lughawe land, draai hy met ‘n glimlag na my en sê: “Ma, ek is mal oor die vrolike atmosfeer wat ek hoor en voel.” Daar is ‘n energie in die lug. Mense lag, gesels en roep na mekaar van oorkant die vertrek. Dit is ‘n wêreld weg van die stilte van Switserland waar stilte gerespekteer en selfs wetlik gehandhaaf word. Gewoonlik drink ons na aankoms ‘n koffie om die atmosfeer te geniet en by die stad se hartklop in te skakel.

Alhoewel my voorouers waarskynlik eeue gelede in Europa gewoon het, loop Afrika-bloed deur my are. Die afgelope ses maande het ek twee kunsuitstallings met `n fokus op Afrika kuns bygewoon, albei op uitnodiging van Duitse vriendinne. Die kunswerke se lewendige kleure, vreugdevolle energie en egtheid het diep by my aanklank gevind en ‘n verlange na Suid-Afrika aangewakker.

Esther Mahlangu                                     

Die eerste uitstalling wat ek bygewoon het, was van Esther Mahlangu se werk by die Iziko-museum in Kaapstad in Junie 2024 saam met my vriendin Ulrike. Mahlangu, ‘n legendariese Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar, is bekend vir haar helderkleurige muurskilderye met tradisionele Ndebele-patrone. Hierdie uitstalling het haar byna sewe-dekade lange bydrae tot kontemporêre kuns gevier. Daar was meer as 100 noukeurig saamgestelde stukke uit gesogte internasionale versamelings.

In die Suidelike Ndebele-kultuur is dit ‘n tradisie dat vroue die buitekant van hul huise met hierdie ingewikkelde patrone verf. Esther het hierdie vaardigheid op die ouderdom van tien by haar ma en ouma geleer. In 2018, op 83-jarige ouderdom, is dr Mahlangu met twee eredoktorsgrade vereer om erkenning aan haar enorme bydrae tot die kunswêreld te gee.

Samewerking met groot handelsmerke

Haar baanbrekers werk het gelei tot ikoniese wêreldwye samewerking met handelsmerke en name soos Rolls-Royce, BMW, Fiat, South African Airways, John Legend, Belvedere Vodka, The Smithsonian Museum, Freshpak Rooibos, en vele meer. Sy het gesê:

Through my art, I have seen the world. In turn, the world learned about my Ndebele heritage.  I speak isiNdebele, I walk isiNdebele, and I wear isiNdebele.

Esther Mahlangu het internasionale bekendheid verwerf deur ‘n ikoniese BMW-advertensieveldtog. Ek het die voorreg gehad om die legendariese BMW 525i Art Car te sien, wat vir die eerste keer in meer as 30 jaar na Suid-Afrika teruggekeer het.

Sy was ook die eerste kunstenaar ter wêreld wat opdrag gegee is om ‘n kunswerk te skep vir die eksklusiewe “galery” van ‘n nuwe Rolls-Royce Phantom. Hulle het dit  ‘The Mahlangu’ ter ere van haar genoem.

Afrika kuns in Basel, Switserland

My Duitse vriendin, Darja, het my genooi na ‘n Afrika-kunsuitstalling in Basel. Die tema was “When We See Us.” Dit was betekenisvol om te verneem dat die Zeitz Mocaa Museum van Kontemporêre Kuns Afrika in Kaapstad die uitstalling saamgestel en georganiseer het, aangesien ek reg oorkant daardie indrukwekkende museum gewerk het.

Die kunswerke is volgens temas gegroepeer, elk vergesel van ‘n beskrywing. Temas, soos Alledaagse lewe, Vreugde en Spiritualiteit, het my geraak en my ervarings met Afrika-kulture weerspieël. Die uitstalling het ook die konflik tussen die wêreld se verwagtinge van Afrika en die visie wat Afrika streef om te wees kragtig vasgevang.

Alledaagse lewe

Daar is skoonheid verweef in ons alledaagse lewe. Soms vind ons dit in speletjies, in dieper werk, of in oomblikke van rus. Kunstenaars herinner ons daaraan dat tuiste nie noodwendig ’n plek is nie, maar ’n gevoel gewortel in die warmte van gemeenskap. Dit lê in die saam lag in agterplase, geselsies op die voorstoep, die versorging van tuine, en die saamkoms om etenstafels. Hier deel die ouer mense hulle wysheid en ervaar ons die liefde van familie, of ons nou deur bloed verbind is of nie. Almal is ’n Tannie of ’n Oom.

Al is daar dalk min materiële dinge, is daar ’n oorvloed van saamwees. Ons vind vreugde in die gewone ritmes van water aandra, lees, hardloop, brei, bier drink, of hare vleg. Saam vier ons die rykdom van die lewe en koester ons die eenvoudige plesier om net te wees.

Spiritualiteit

Ons spiritualiteit is deel van ons alledaagse lewe, onafskeidbaar van wie ons is. Dit is ryk en kompleks, ons manier om die heelal te verstaan en ons lewe beter te maak. Ons is trots op ons driedubbele erfenis van inheemse kulture, Christendom en Islam. Dit is ‘n plek vir rituele, seremonies en storievertelling. Deur rituele dans styg ons bo die hede uit en die krag van heilige tekste en gebede uit verskeie tradisies reinig en vernuwe ons. In hierdie mengsel van ou wysheid en moderne geloof vind ons vrede en betekenis.

Vreugde

Die lewe is daar om geniet te word, en niemand vier soos ons nie. Of dit nou by ’n vriend se byeenkoms is of in die hart van ’n straatfees, ons koester die warmte van vreugde. Ons weet hoe om enige oomblik in ’n viering te verander, want elke geleentheid roep vir sang en dans. Ons het die stemme en ons het die bewegings. Terwyl ons floreer in die energie van saam feesvier, waardeer ons ook die stil oomblikke van rus en alleenwees. Ons geniet die lewe in al sy ritmes.

My liefde vir Afrika en sy mense

Ek is dankbaar vir my Duitse vriendinne wat saam met my die Afrika kuns geniet het. Vir my was die uitstallings `n kleurvolle opsomming en herbevestiging van my diepe liefde vir Afrika en sy mense wat die kuns van in-die-oomblik-leef bemeester.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Afrika-kuns is funksioneel en sosiaal

  1. Afrika kuns vrolik darem net dadelik enige plek op en bring ‘n gevoel van warmte en tuiskoms.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui