Browsed by
Month: Januarie 2024

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Ons eerste ski vakansie in Livigno, Italië

Dit is ons vyfde winter in Switserland en ons kan steeds nie ski nie. Ons het lankal vrede gemaak met die feit dat ons die sneeu op ander maniere as ski kan geniet. Aangesien al Zander se vriende gedurende die wintermaande ski, was dit nodig dat ons hom die geleentheid gee om te leer.

Livigno, klein Tibet van die Alpe

Ons het op Livigno in Italië besluit.  Dit is gerieflik naby aan ons veral met die trein wat motors saam met die insittendes deur die Alpe vervoer. Livigno word ook soms die Tibet van die Alpe genoem, hoofsaaklik as gevolg van sy hoogte bo seespieël en klimaat.  Die streek beleef lang en koue winters wat gekenmerk word deur aansienlike sneeuval. Gedurende hierdie seisoen vries die strome en mere in die vallei, wat bydra tot die skilderagtige winterlandskap.

Die omgewing bied vele geleenthede om die sneeu te geniet. Berge aan weerskante van die dorp spog met verskeie ski hellings maar ook pragtig ingerigte sneeuparke. Tydens ons besoek was dit duidelik dat voorbereidings in Livigno vir snowboard- en freestyle kompetisies vir die Milaan-Cortina 2026 Winter Olimpiese Spele aan die gang was.  Tydens ons besoek het ons nooit nodig gehad om met ons motor te ry nie. Die middel van die dorp is `n motorvrye area en gratis busvervoer is in die ski seisoen vir besoekers beskikbaar.

Die dorp is in die feestyd pragtig versier en en het uitstekende geleenthede vir belastingvrye inkopies gebied. Boonop het die Kersdorpie bekoorlike houtstalletjies met ‘n verskeidenheid handgemaakte geskenke gehad. Ons het naby ‘n bakkery gebly, en ek het dit geniet om elke oggend deur die sneeu te stap vir varsgebakte Italiaanse brood.

Baie Suid Afrikaners

Livigno geniet gewildheid onder Suid-Afrikaners. Ons het talle Afrikaanse gesprekke op straat gehoor. Ek en Charl het geglimlag toe ons hoor hoe ‘n man aan sy vrou in Afrikaans erken, “Ek besef nou dat ek heeltemal te oorgewig en onfiks vir hierdie tipe aktiwiteit is.”

Ek het Livigno as ‘n jong volwassene saam met ‘n groep Suid-Afrikaners vir ‘n ski-vakansie besoek. Vordering was stadig aan my kant. Dit het my vier dae geneem voor ek op die ski’s kon navigeer, draaie uitvoer en stop sonder om te val. Nietemin het die bevrediging om ‘n nuwe vaardigheid te bemeester ‘n blywende indruk gelaat.

Zander leer ski

Zander het die ski-skool in die oggende baie geniet en gou reggekom. Dit help as jy op 15 jaar, die jongste in jou groep is en risiko’s net iets is waaroor ouer mense hulle bekommer.  Ek het my verstom oor hoe vinnig die ski instrukteurs die klein kindertjies leer om te ski.  Hulle is absoluut vreesloos en is sommer gou gereed om van bo af met uitstekende tegniek teen die ski-hellings af te ski.

Na middagete het Zander sy nuutgevonde vaardighede op die ski-hange naby ons huis geoefen. Ek en Charl het verskillende kabelkarre teen die berge op gevat en verskeie roetes verken. Daar is ‘n bevredigende gevoel wanneer jou stewels knars op die vars versorgde sneeu en jy kan afkyk na die dorpie met sy sneeubedekte dakke en bevrore meer.

Elke sport het sy beserings en ons het ongelukkig heelwat ski ongelukke aanskou.  Die nooddienste is baie goed opgelei en het die beseerdes vinnig tot hulp gesnel. My hart het amper gaan staan toe Zander  op dag 3 noem dat hy `n swart roete uitprobeer het.

‘n Vriendin het gewaarsku, “In reisversekering se fynskrif staan hulle dek nie ongelukke op swart roetes nie.  As jy seerkry neem hulle jou na die naaste hospitaal in St. Moritz in Switserland.  Soos jy self weet is dit een van die oudste en duurste ski-oorde in Switserland. Ons het altyd gespot as jy daar op `n swart roete seerkry moet jy hoop iemand dink daaraan om jou na `n blou of rooi roete te sleep. Anders sal jy jou huis moet verkoop om die mediese kostes te dek!”

Centrale ski skool

Dinsdagaand het die ski-instrukteurs van die Centrale Ski skool, waar Zander ingeskryf was, ‘n vertoning op die ski-hange aangebied. Ek het ook 25 jaar gelede dieselfde skool bygewoon en kan die Oujaarsaandvertoning met die sagte vallende sneeu helder onthou. In die onlangse aanbieding het hulle in die geskiedenis van ski gedelf en verskeie sneeuaktiwiteite gedemonstreer. Daarbenewens het hulle die lande van herkoms van die kursusgangers erken. Ons opgewondenheid het die hoogte ingeskiet toe hulle Suid-Afrika erken het. Entoesiasties het ons saam met mede-Suid-Afrikaners ons tuisland toegejuig.

Baie sneeu

Ons het die grootste deel van ons vakansie pragtige sonskyn beleef. ‘n Paar dae voor Kersfees het dit egter begin sneeu, wat die dorp in ‘n wit kombers toegevou het. Gelukkig was die munisipaliteit goed voorbereid en het stootskrapers ontplooi om die strate skoon te maak en vragmotors om aansienlike sneeumassas te verwyder.

Bewus van die gevare wat smelt en vriesende sneeu in die koue weer inhou, het hulle die paaie ywerig met sout bedek om gladde toestande te voorkom. Ons het begin bekommerd raak oor die pad huis toe. Ons het nie kettings vir ons motor se bande nie en daarom is dit nie vir die sneeu ingerig is nie. Om ons risiko te bestuur het ons besluit om ‘n dag vroeër huiswaarts te keer. Dit was ‘n goeie besluit want die rit terug deur die Alpe was al uitdagend.

Livigno waarborg ‘n uitsonderlike ervaring wat ek van harte aanbeveel. Zander is verheug dat hy ‘n nuwe vaardigheid aangeleer het en sien uit na toekomstige ski-avonture saam met sy vriende.

Groete

Emsia

Genade kom in verskillende vorme

Genade kom in verskillende vorme

Met my aankoms vir ‘n kort besoek aan Suid-Afrika, het my voormalige Wiskunde-onderwyseres, Elsa van Rensburg, my en my ma na haar plaas genooi. Vergesel deur verskeie vroue wat belangrike rolle in my kinderjare gespeel het, het ons Kersliedere gesing en persoonlike staaltjies gedeel wat die genade in ons lewens onderstreep.

Groot genade kom dikwels in die vorm van mense, geleenthede en situasies in uitdagende tye.

Elsa se storie van genade onbeskryflik groot

Elsa se storie van ontsaglike genade het my getref. Haar plaas het op tragiese wyse kort voor ons besoek afgebrand. Sy was nie tuis tydens die brand nie. Talle mense het op verskeie maniere hulp aangebied. Merkwaardig genoeg het net die hektaar grond wat haar plaashuis en plaaswerkers se huise huisves, onaangeraak deur die vlamme gebly. Sy het haar man aan kanker verloor en haar plaashuis dra stories en herinneringe van `n leeftyd saam met hom. Hierdie gedeelde stories het die fokus van my gedagtes oor die genade in my lewe gevorm.

My ma

Omstandighede het my die voorreg gegee om tyd saam met my ma deur te bring. Ouderdom het ‘n eienaardige manier om die verganklikheid van die lewe en die genade wat gevind word in oomblikke saam met ‘n mens se ouers uit te lig. Om al die strukture wat my pa gebou het by die huis waar ons grootgeword het te sien, het hierdie besef vir my beklemtoon. Hy het onverwags 25 jaar gelede twee dae na Kersfees aan `n hartaanval gesterf.

Onder die kameeldoringboom in my ma se tuin het ons teruggedink aan staaltjies uit die verlede. Ek is dankbaar vir my vreugdevolle kinderjare in die Kalahari. Jy kan nie jou ouers of die plek van jou opvoeding kies nie. Daar is dus enorme genade in ‘n gelukkige kinderjare.

My sus en haar kinders

Toe my suster se dogter, Marga, van my Kaapse besoek vroeg in Desember hoor, het sy besluit om haar Matriekbaai-kaartjie te verkoop. Sy het ’n week saam met skoolvriende ingeruil vir tyd saam met familie. Ons almal mis ons jaarlikse saamkuiertradisie in die Kaap. Vir `n week kon ek en Ansa en haar kinders ons verantwoordelihede en bekommernisse opsy skuif en die Kaapse son en see geniet.

Vanaf Blouberg het ons ons verwonder aan die ikoniese uitsig oor Tafelberg. Jacques het Marga en Altus aangemoedig om die koue Atlantiese waters te trotseer. In die V&A Waterfront, het ons die tradisionele en kleurvolle Suid-Afrikaanse kersversierings en danse bewonder.

Ons het ook natuurlik die geleentheid gebruik om Christo se studente kuierplekke en die pragtig versierde koeke van Jacques se besigheid, The Cinnamon Club, te geniet.

Jacques

Jacques het sy studentjare voltooi en was gereed om te begin werk tydens die pandemie.  As entrepreneur het hy besluit om die Cinnamon Club, ‘n bakkery wat fokus op veganistiese en glutenvrye gebak, te begin. Ten spyte van vele ekonomiese en elektrisiteits uitdagings in Suid Afrika, het die besigheid goed gevaar. Jacques is nou gereed om uit te brei na ‘n besigheidsperseel by Woodstock Exchange. Ek is dankbaar dat ek die oomblik wat hy die sleutel tot die perseel ontvang het, met hom kon deel. Hy het soveel genade in sy besigheid ontvang en ek wens hom voortgesette sukses toe.

Christo

Christo was halfpad deur sy 12de graad toe ons Switserland toe verhuis het. Slegs twee maande nadat hy sy universiteitsreis begin het, het die Covid-pandemie die wêreld getref. Sy studentejare was besonder uitdagend. Die bywoning van sy gradeplegtigheid het my met dankbaarheid en emosie vervul. Hierdie prestasie sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van baie mense in sy lewe nie. Ek sien baie genade in die individue wat hierdie reis met hom gedeel het. Hy het die liefde, ondersteuning en aanmoediging van sy meisie, Simone, gehad. Boonop het hy ondersteunende ingenieurstudentevriende wat die akademiese eise verlig het met humor en sosiale afleidings.

Ek is dankbaar vir die vennote in ouerskap en dat ek die geleentheid saam met Christo se pa en sy gesin kon vier.

Vennote in Ouerskap

Ons as Jacques en Christo se ouers het jare gelede besluit om ons paaie in verskillende rigtings te laat loop. Tog het ons ooreengekom om steeds vennote in ouerskap te wees. Ons vennootskap het gegroei na vier persone. Soos met enige vennootskap was dit soms moeilik en uitdagend, want ons is vier individue met unieke persoonlikhede, sienings en realititeite. Tog glo ek dat die situasie met vier ouers die seuns se lewens en perspektiewe in baie opsigte verryk het. Ek is opreg dankbaar teenoor Charl vir sy rasionaliteit, maar ook insig en wysheid in die grootmaak van die seuns.

Jacques het tydens die pandemie vir `n lang tyd by Gert en Denise gewoon.  Ek glo dat Denise se wysheid en Gert se kennis en ervaring as entrepreneur en besigheidsman vir Jacques as mens en sy loopbaan rigting en duidelikheid gegee. 

Christo het die volgende erkenning in sy skripsie gegee.  To my parents, Emsia and Gert, and their partners, Denise and Charl, thank you for providing me with the opportunity to be able to write this acknowledgement as I prepare myself for the final submission of my undergraduate degree. Thank you Dad for always keeping me on my toes and thinking critically. Thank you Mom for always being available when I want to phone, and helping me with life’s problems as I become an adult.

`n Nuwe jaar

Ons almal stap `n nuwe jaar met `n skoon bladsy binne. Net soos ander jare gaan hierdie jaar ook uitdagings meebring. Ons weet net nie die aard en die omvang daarvan nie. Ek stap dit egter met gerustheid binne, want ek weet dat die genade wat ek in my lewe ontvang het nog altyd meer as die uitdagings was.

Mag dit `n mooi nuwe jaar vol genade wees.

Groete

Emsia